‘Saai oorvloedig, maai oorvloedig’
“Wie spaarsaam saai, sal ook spaarsaam maai, en wie oorvloedig saai, sal ook oorvloedig maai.”—2 KORINTHIËRS 9:6, NW.
1. Waarom is Jehovah God die gelukkigste individu in die heelal?
ONS God Jehovah is “die gelukkige God”. Een rede is ongetwyfeld dat hy so ’n milddadige Gewer is. Sy Seun, Jesus Christus, het verduidelik: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (1 Timotheüs 1:11, NW; Handelinge 20:35). Niemand het meer gegee as Jehovah nie—van die skepping van sy eniggebore Seun, die Logos, tot vandag toe. Hy is dus sonder twyfel die gelukkigste individu in die ganse heelal.
2, 3. (a) In watter opsigte het God oorvloedig gesaai? (b) Waarom kan daar gesê word dat Jehovah oorvloedig gemaai het en nog oorvloedig sal maai?
2 ’n Soortgelyke beginsel word in 2 Korinthiërs 9:6 (NW) uiteengesit: “Wie spaarsaam saai, sal ook spaarsaam maai, en wie oorvloedig saai, sal ook oorvloedig maai.” Hoe oorvloedig het Jehovah God tog ten opsigte van sy skeppingswerke gesaai! Sy Woord vertel van honderdmiljoene geesskepsele (Openbaring 5:11). Let ook op die tallose melkweë in die sterrehemel, wat elkeen uit duisendmiljoene sterre bestaan. En wat die aarde betref, wat ’n oneindige verskeidenheid dinge, lewend en leweloos, het Jehovah God tog geskep! Waarlik, ‘die aarde is vol van sy skeppingswerke’ (Psalm 104:24). Hoe oorvloedig het hy ons boonop toegerus wat ons verstand, ons sinne en ons liggaam betref! Ons is werklik “wonderbaar”.—Psalm 139:14.
3 Dit ly geen twyfel nie, Jehovah God het oorvloedig gesaai. Dit is nie net die geval in sy skeppingswerke nie, maar ook in sy handelinge met sy aardse skepsele. Maar het hy oorvloedig gemaai? Hy het inderdaad! In watter opsig? In sover dat hy so baie intelligente skepsele gehad het, nou het en nog sal hê wat hom uit liefde dien. Deur dit te doen, maak hulle Jehovah se hart bly, veral omdat dit die tartende Duiwel ’n leuenaar bewys.—Spreuke 27:11.
4. Hoe het die beginsel van 2 Korinthiërs 9:6 te alle tye, met inbegrip van ons tyd, gegeld?
4 Die Bybel bevat volop getuienis dat talle getroue knegte van Jehovah God, waarvan die Logos die eerste was, eweneens oorvloedig gesaai en oorvloedig gemaai het. Dit is hoe dit moet wees, aangesien Jehovah se beginsels te alle tye en op alle individue van toepassing is. Die beginsel ten opsigte van saaiery kan dus in jou lewe van krag wees.
5, 6. (a) Watter vyande maak dit vir ons moeilik om oorvloedig te saai? (b) Wat moet ons bereid wees om te doen, en in watter aspekte van ons heilige diens?
5 Hoewel die Skrif vol is van redes en voorbeelde vir ons om oorvloedig te saai, is dit geensins maklik om dit te doen nie. Waarom nie? Omdat ons drie vyande het wat ons kragtig daarin teenstaan. Ten eerste is daar ons oorgeërfde neiging tot selfsug. Ons lees in Genesis 8:21: “Die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af.” God se Woord deel ons ook mee dat die mensehart bedrieglik en desperaat is (Jeremia 17:9, vgl. NW). Ten tweede het ons te kampe met druk van die goddelose wêreld, wat in die mag van die Bose lê (1 Johannes 5:19). Ten derde is die Duiwel self gereed om ons te verslind as ons nie op ons hoede is nie.—1 Petrus 5:8.
6 Is jy altyd op jou hoede teen daardie drie vyande? As gevolg van hierdie teenstanders moet ons gretig wees om ‘na raad te luister en tug aan te neem, sodat ons in die vervolg wys kan wees’ (Spreuke 19:20). Trouens, ons moet doen wat die apostel Paulus gedoen het, ‘ons liggaam kasty en dit diensbaar maak’, sodat ons nie op die ou end ondergaan nie (1 Korinthiërs 9:27). Die beginsel dat ons oorvloedig sal maai as ons oorvloedig saai, is van toepassing op al die verskillende aspekte van die heilige diens waaraan alle Christengetuies van Jehovah deelneem. Ja, ons vind dat hierdie beginsel oral van toepassing is: op ons persoonlike studie, op ons vergaderingbywoning, op ons gebede, op ons formele en informele getuienis en op ons gesinsverhoudinge.
Saai oorvloedig wat Bybelstudie betref
7, 8. (a) Wat moet ons hê om oorvloedig te saai wat ons persoonlike Bybelstudie betref? (b) Watter doelwitte moet ons stel, en hoe kan ons hulle bereik?
7 As ons vrugbare bedienaars van Jehovah God wil wees, moet ons eerstens oorvloedig saai wat ons persoonlike Bybelstudie betref. Ons moet ’n gesonde geestelike aptyt wil hê en besef dat ons nie van materiële dinge alleen lewe nie. Weens die druk wat al die sorge en bedrywighede van die daaglikse lewe meebring, verg dit doelbewuste inspanning om intens bewus te wees van ons geestelike behoefte (Mattheüs 13:19). Dit sal gewis vir ons goed wees om die waardering vir God se Woord te hê wat die psalmis gehad het toe hy geskryf het: “Oor u woord is ek so bly soos iemand wat ’n groot skat in die hande gekry het.”—Psalm 119:162, NAV.
8 As ons ag slaan op die raad om ‘op te pas dat ons nie as onwyse nie, maar as wyse wandel, en die tyd uitkoop’, sal dit ons beslis hiermee help (Efesiërs 5:15, 16). Dalk wil jy jou selfs in hierdie opsig ondersoek. Vra: Reël ek my sake sodat ek tyd inruim om elke Wagtoring en Ontwaak! te lees wanneer ek dit ontvang? Wat van die Yearbook, asook die gebonde boeke en ander lektuur wat ons by byeenkomste kry? Ons kan miskien nie altyd ’n uur of twee vind om hulle te lees nie, maar as ons waaksaam is, kan ons hier en daar ’n paar minute afsonder om ’n Bybelhoofstuk of ’n tydskrifartikel te lees. Talle Christene staan elke dag 10 of 15 minute vroeër op sodat hulle kan lees wanneer hulle die wakkerste is. Ander vind dat hulle baie kan lees terwyl hulle met openbare vervoer reis. Wat van jou?
9. Hoe kan ons oorvloedig maai wat ons persoonlike Bybelstudie betref?
9 As ons op hierdie maniere oorvloedig saai, kan ons ook verwag om oorvloedig te maai. Hoe? Deurdat ons sterker geloof, ’n helderder hoop en ’n gelukkige en positiewe gemoedstemming sal hê. Daarbenewens sal ons beter toegerus wees om vir ander te getuig. Ons sal aan heilsame gesprekke kan deelneem en ons broers kan help wanneer die geleentheid hom voordoen. Let op wat die uiteinde volgens 1 Timotheüs 4:15, 16 kan wees.
Saai oorvloedig wat vergaderingbywoning betref
10. Wat moet ons gesindheid ten opsigte van ons vergaderinge wees?
10 Jy vra dalk: Is hierdie beginsel dat ons oorvloedig maai as ons oorvloedig saai ook van toepassing op ons bywoning van gemeentevergaderinge? Baie beslis! Ons moet soos die psalmis Dawid voel toe hy gesê het: “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die Here gaan!” Ja, ons moet gretig wees om saam met ons broers te vergader.—Psalm 122:1.
11, 12. Hoe kan ons oorvloedig saai en maai wat ons vergaderingbywoning betref?
11 Wat verg dit van ons? Dit beteken dat ons ons vyf weeklikse vergaderinge gereeld en getrou bywoon en nie toelaat dat ’n bietjie slegte weer of ’n geringe fisiese ongesteldheid as verskoning dien om tuis te bly nie. Hoe dikwels vind ons dat die weer—warm of koud, nat of droog—op vergaderingbywoning inbreuk maak? En tog, hoe meer hindernisse ons te bowe moet kom om dit by te woon, hoe groter is die seën wat Jehovah skynbaar op ons uitstort. Ons kan ook oorvloedig saai deur vroeg te kom om opbouende geselskap voor die vergaderinge te geniet, en dan agterna met dieselfde doel vertoef. Hoe vaar jy in hierdie opsig? Moet jy probeer om oorvloediger te saai? Dit sluit ook goeie voorbereiding vir die Wagtoringstudie en die ander vergaderinge in. Die rede hiervoor is dat ons oorvloedig kan saai deur kommentaar te lewer soos die geleentheid hom voordoen.
12 In watter opsigte kan ons hoop om hieruit oorvloedig te maai? Ons kan nie ’n aanmoedigende kommentaar lewer sonder om self aangemoedig te word nie; ons kan nie ’n neerslagtige siel moed inpraat sonder om self bemoedig te word nie. Ja, ons kan nie ’n kommentaar by vergaderinge lewer sonder om ons eie geloof in die waarhede wat ons uiter te versterk nie. Dit is eenvoudig: “Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf.”—Spreuke 11:25.
Saai oorvloedig wat ons gebede betref
13, 14. Hoe kan ons ten opsigte van ons gebede (a) oorvloedig saai, (b) oorvloedig maai?
13 Die Skriftuurlike beginsel van oorvloedige saaiery is ook op ons persoonlike gebede van toepassing. Is ons gebede stereotiep, meganies, herhalend, of kom hulle werklik uit die hart? Sluit hulle nie net versoeke nie, maar ook hartgrondige lof en danksegging, en soms smeking in? Neem ons die kosbare voorreg van gebed werklik ernstig op? Praat ons ons hart uit teenoor ons hemelse Vader? Of haas ons ons deur ons gebede, en is ons soms selfs te besig om te bid? Die Christelike Griekse Skrifte toon dat gebed ’n vername plek in die lewe van Jesus Christus en die apostel Paulus ingeneem het.—Lukas 6:12, 13; Johannes 17:1-26; Mattheüs 26:36-44; Filippense 1:9-11; Kolossense 1:9-12.
14 In die mate wat ons oorvloedig saai wat ons gebede betref, dermate kan ons hoop om oorvloedig te maai deurdat Jehovah hulle verhoor en ons ’n goeie verhouding met hom het. Gesinsgebede bring die lede nader aan die een wat die gebed doen. Laat ons ook Jesus se woorde in Mattheüs 7:7 in gedagte hou: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.”
Saai oorvloedig wat ons bediening betref
15. Waar in die besonder kan ons oorvloedig saai en maai?
15 Ons tema blyk moontlik nêrens duideliker as in verband met ons getuieniswerk nie. Dit spreek vanself dat hoe meer tyd ons daaraan kan bestee, hoe waarskynliker is dit dat ons sal maai ten opsigte van interessante ondervindings, vrugbare herbesoeke en produktiewe tuisbybelstudies wat tot lewende aanbevelingsbriewe lei.—2 Korinthiërs 3:2.
16, 17. (a) Wat verg dit van ons om oorvloedig te saai wat die velddiens betref? (b) Watter resultate kan ons verwag as ons dit doen?
16 Om ten opsigte van die veldbediening oorvloedig te saai, is egter nie ’n saak van net getal nie, maar ook van gehalte. Ons wil “vurig van gees” wees wanneer ons aan die bediening deelneem (Romeine 12:11). Ons moet mense met vrymoedigheid, met ’n hartlike, vriendelike glimlag nader. Dit geld of ons van huis tot huis gaan of straatgetuieniswerk doen. As dit in ons taal beskikbaar is, behoort ons nuwe getuienishulpmiddel Redenering uit die Skrif ons almal te help om bekwamer, en sodoende produktiewer, te word en meer te maai uit die tyd en energie wat ons aan die bediening bestee.
17 En beteken dit nie ook dat ons nougeset verslag moet hou van waar ons belangstelling gevind het as ons oorvloedig wil saai wat ons veldbediening betref nie? Dit beteken ook dat ons die verpligting aanvaar om terug te gaanen voort te bou op daardie belangstelling totdat ’n tuisbybelstudie begin kan word, indien moontlik. Daarbenewens moet ons daarop let dat ons met vuurvaste materiale bou. Dit beteken dat ons met oortuiging leer, dog met empatie en oordeelkundigheid, en die Bybelstudente bekwaam oor hulle beskouing van Bybelbeginsels uitlok. Dit is slegs deur in hierdie opsigte oorvloedig te saai dat ons kan hoop om Christenpersoonlikhede voort te bring wat die aanvalle van Satan en sy stelsel sal kan weerstaan.—1 Korinthiërs 3:12-15.
Saai oorvloedig wat gesinsverhoudinge betref
18. Watter raad moet ons in gedagte hou in verband met ons gesinsverhoudinge?
18 Die teokratiese beginsel dat ons maai volgens die manier waarop ons saai, is eweneens in die gesinskring van toepassing. Hier kan ons Jesus se woorde in Lukas 6:38 in gedagte hou: “Gee en aan julle sal gegee word. Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.”
19. Hoe kan mans en vrouens oorvloedig saai en daarby baat vind?
19 Daar is so baie geleenthede waar mans en vrouens oorvloedig kan saai deur liefderyke bedagsaamheid en onselfsugtigheid! Die apostel Paulus gee uitstekende raad in Efesiërs 5:22-33. Lees asseblief hierdie verse terwyl jy dink aan hoe jy oorvloediger kan saai. In die mate waarin ’n Christenvrou waarlik onderdanig, samewerkend en ondersteunend is, dermate sal sy waarskynlik oorvloedig maai. In watter opsigte? Deur die vurige liefde en waardering van haar man, daar hy beweeg word om haar soos sy eie liggaam lief te hê. In die mate waarin ’n Christenman hom inspan om die bedagsaamheid te betoon waarop 1 Petrus 3:7 nadruk lê en die onselfsugtige liefde wat in Efesiërs 5:28, 29 beklemtoon word, dermate kan hy eweneens hoop om te maai wat sy vrou se onderdanigheid en lojale ondersteuning betref.
20. Hoe kan daar oorvloedig gesaai word ten opsigte van die grootmaak van kinders, en met watter resultate?
20 Ons moet ook nie ons verantwoordelikheid oor die hoof sien om ons kinders in die tug en vermaning van Jehovah groot te maak nie (Efesiërs 6:4). Dit is eintlik belangriker as ander teokratiese pligte en voorregte. Ongelukkig is dit ’n beginsel wat sommige Christenouers oor die hoof gesien het. Ouers moet enersyds bereid wees om genietinge en geriewe prys te gee ter wille van hulle kinders se emosionele en geestelike welsyn deur ’n redelike hoeveelheid tyd met hulle deur te bring en liefde op hulle uit te stort. Ouers moet andersyds ferm wees. Hulle word gemaan: “Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf.” Saai in hierdie opsigte, en jy sal heel waarskynlik oorvloedig maai deur onkreukbare kinders te hê wat jou respekteer en na aan jou voel.—Spreuke 29:17.
Maai voordele!
21, 22. Op watter verskillende maniere kan ons oorvloedig saai en maai wat ons heilige diens en ons gesinsverhoudinge betref?
21 Ons sien derhalwe dat die beginsel dat ons maai volgens die manier waarop ons saai op alle aspekte van die Christelike godsdiens van toepassing is. As ons oorvloedig saai wat ons persoonlike Bybelstudie betref, sal ons sterk geloof, ’n helder hoop en voorbereidheid vir ons bediening maai. As ons oorvloedig saai wat ons vergaderinge betref, sal ons eie geloof versterk word en sal ons die geloof van ander versterk. As ons oorvloedig saai wat ons gebede betref, sal ons ’n goeie verhouding met ons hemelse Vader maai en sal ons gebede verhoor word. En as ons oorvloedig saai wat ons getuieniswerk betref, sal ons persoonlik daarby baat vind, en kan ons hoop om aanbevelingsbriewe te hê as bewys van ons pogings.
22 Laat ons insgelyks nooit vergeet dat hierdie beginsel op ons gesinsverhoudinge van toepassing is nie. Deur oorvloedig te saai ten opsigte van liefdevolle bedagsaamheid en onselfsugtige dade, kan ons as mans, vrouens, ouers of kinders hoop om ’n gesinslewe te maai wat oorvloedig is in lonende omgang en ondervindinge. Dit sal ook ’n goeie getuienis wees vir diegene buite en ons lewenswyse aanbeveel.
23. Op watter raad kan ons gerus ag slaan?
23 Laat elke Christengetuie van Jehovah hom of haar dus afvra: Kan ek oorvloediger saai? Paulus se woorde in 1 Thessalonicense 4:1 is baie gepas: “Verder dan, broeders, vra en vermaan ons julle in die Here Jesus dat julle, soos julle van ons geleer het hoe julle moet wandel en God behaag, nog oorvloediger mag wees.” Ja, laat ons almal inderdaad probeer om oorvloediger te saai sodat ons oorvloediger kan maai, tot eer van Jehovah en tot seën van onsself en ons broers.
Gedagtes ter hersiening
◻ Hoe lig Jehovah God die waarheid van 2 Korinthiërs 9:6 toe?
◻ Hoe kan jy oorvloediger maai ten opsigte van Bybelstudie en Christenvergaderinge?
◻ Hoe kan jy oorvloediger saai en maai wat die velddiens betref?
◻ Watter praktiese stappe kan jou gesin help om oorvloediger te saai en te maai?