Saai jy oorvloedig?
1 Daar kan gesê word: “Hoe meer jy jou inspan, hoe beter is die resultate.” Dit is veral waar wat ons aanbidding betref. Hoe meer tyd ons daaraan bestee en hoe meer ons ons inspan om vir vergaderinge voor te berei, die Koninkryksboodskap te verkondig en liefde teenoor ons broers te betoon, des te meer sal ons geestelik groei. Die teenoorgestelde is ook waar. As ons laks of halfhartig is in wat ons doen, kan ons tog nie werklik bevredigende resultate verwag nie, of hoe?
2 In 2 Korinthiërs 9:6 het die apostel Paulus dié beginsel goed uiteengesit: “Wie spaarsaam saai, sal ook spaarsaam maai; en wie oorvloedig saai, sal ook oorvloedig maai” (NW). Saai jy oorvloedig?
3 Persoonlike Bybelstudie: As ons produktiewe bedienaars wil wees, moet ons eerstens oorvloedig saai wat ons persoonlike studie betref. Ons moet ’n gesonde geestelike aptyt hê (Ps. 119:97, 105; Matt. 5:3, NW). Weens die druk wat al die sorge van die daaglikse lewe op ons plaas, verg dit doelbewuste inspanning om ’n ware bewustheid van ons geestelike behoefte te ontwikkel. Vir die meeste van ons beteken dit dat ons ‘die tyd moet uitkoop’ (Ef. 5:16). Sommige staan sekere dae vroeër op om persoonlike studie te doen. Ander het sekere aande vir daardie doel opsygesit. Hoe maai ons oorvloedig? Ons verkry ’n sterker geloof, ’n helderder hoop sowel as ’n gelukkiger en positiewer gemoedstemming.—Rom. 10:17; 15:4; 1 Pet. 1:13.
4 Gemeentelike vergaderinge:
Dawid het in Psalm 122:1 gesê: “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die HERE gaan!” Voel jy dieselfde? As ons oorvloedig wil saai, beteken dit dat ons ons vyf weeklikse vergaderinge gereeld moet bywoon. Neem jou voor dat jy nie gaan toelaat dat onplesierige weer op jou vergaderingbywoning inbreuk maak nie. Hoe meer hindernisse ons te bowe kom, hoe groter is ons seëninge gewoonlik.
5 Kom vroeg en vertoef ná die tyd ’n rukkie om opbouende geselskap met jou broers te geniet. Brei jou omgang uit om soveel verskillende broers as moontlik in te sluit. Berei goed vir die Wagtoring-studie en ander vergaderinge voor sodat jy oorvloedig kan saai deur kommentaar te lewer soos die geleentheid hom voordoen. As ons ander vryelik by vergaderinge “laaf”, sal ons ook vryelik “gelaaf” word.—Spr. 11:25, NW.
6 Die veldbediening: Hierdie beginsel dat ons oorvloedig moet saai, is miskien nêrens so goed van toepassing soos op die veldbediening nie. Hoe meer tyd ons daaraan bestee, hoe waarskynliker is dit dat ons interessante ondervindinge, vrugbare herbesoeke en produktiewe Bybelstudies sal maai.
7 Om oorvloedig in die veldbediening te saai, behels kwaliteit sowel as kwantiteit. ’n Uitstekende hulpmiddel om ons te help om die kwaliteit van ons bediening te verbeter, is die Redenering-boek. Op bladsye 9-15 is daar meer as 40 inleidings wat oor 18 onderwerpe handel om belangstelling by die deure te help wek. As jy belangstelling vind, moet jy seker maak dat jy daarvan verslag hou sodat jy kan teruggaan en die vrugte van jou saaiwerk kan pluk. Jou pogings sal hopelik tot ’n Bybelstudie lei en dan kan jy iemand anders leer hoe om oorvloedig te saai.
8 As ons oorvloedig saai, kan ons verwag om groter seëninge van Jehovah te ontvang.—Mal. 3:10.