Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 8/15 bl. 3-4
  • Die misbruik van mag—Sal dit ooit ophou?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die misbruik van mag—Sal dit ooit ophou?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer het dit begin?
  • Waarom die misbruik van mag gewis sal ophou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Gelukkig is die wat mag reg gebruik!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Voorkom molestering by die huis
    Ontwaak!—1993
  • Waak teen die misbruik van mag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 8/15 bl. 3-4

Die misbruik van mag​—Sal dit ooit ophou?

EEN van die maniere waarop onvolmaakte mense verraai hoe selfsugtig hulle is, is in hulle begeerte na mag. Die welbekende Britse skrywer Malcolm Muggeridge het getoon dat mense mag liefhet “omdat [hulle] nie besef dat liefde die fondament van die menslike lewe is nie . . . Maar wesenlik is die drang na mag baie gevaarlik. Dit is ’n begeerte wat Jesus Christus van die hand gewys het.”

Omdat hierdie begeerte na mag so algemeen is, en soveel skade kan aanrig, het die Stigtersvaders van die Verenigde State ’n grondwet opgestel wat regeringsmagte in drie dele verdeel het: uitvoerend, wetgewend en regterlik. Hierdie dele moes kontrole uitoefen sodat daar geen magsmisbruik sou wees nie.

Ten spyte van die Stigters se edele voornemens was daar wydverspreide magsmisbruik in daardie land. Maar jy weet dalk uit persoonlike ondervinding en waarneming dat magsmisbruik in alle dele van die wêreld voorkom. Die geskiedenis is vol verslae van mense wat mag tot hulle eie verheerliking en tot nadeel van hulle medemens misbruik het. Dink byvoorbeeld aan Alexander die Grote, Karel die Grote, Napoleon en Hitler.

Wanneer het dit begin?

Jy het wel goeie rede om te vra: Wanneer het al hierdie magsmisbruik begin? ’n Betroubare antwoord is beskikbaar in die boek van die mens se vroegste geskiedenis, die Bybel. Daar kan jy lees van gebeurtenisse in die tuin van Eden. Satan die Duiwel, wat die Bybel toon ’n werklike skepsel is, was magsugtig. Hy het die mensdom versoek sodat hulle die weg van sonde ingeslaan het. Een manifestasie van sonde is die mens se algemene begeerte na en misbruik van mag (Genesis 3:1-19; Romeine 5:12). Satan het lank gelede die nasies onder sy beheer laat kom, sodat dit vir hom moontlik was om vir Jesus Christus heerskappy oor hulle aan te bied (Mattheüs 4:8-10). Die Duiwel het byna alle mense mislei, sodat daar gesê kan word dat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê”.​—1 Johannes 5:19; Openbaring 12:9.

Hier is ’n gedagte wat jou kan verras: Die voorbokke onder diegene wat die Duiwel se planne bevorder het, was baie godsdiensleiers. Hoe dan so? Wel, hulle het hulle mag misbruik deur mense valse leerstellings te leer en daardeur slawe van hulle gemaak. Valsegodsdiensleiers het ook hulle mag misbruik deur God se ware knegte te vervolg. Stefanus, die eerste Christenmartelaar, het na die treurige geskiedenis van Israel se geestelike leiers verwys: “Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore . . . Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het.”​—Handelinge 7:51, 52.

Stefanus was een van die eerstes van die lang lys getroue Christene wat vervolg is. Die apostel Paulus se woorde is inderdaad waar bewys: “Almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” (2 Timotheüs 3:12). Die geskiedenis van Jehovah se Getuies in hedendaagse tye bevestig dit. Selfs nou gaan hierdie Christene in sowat 40 lande onder magsmisbruik gebuk omdat hulle bediening deur die owerheid aan bande gelê word.

En hoeveel ander misbruike van mag is daar tog nie! Net waar ons kyk, sien ons mense sug as gevolg daarvan. Misbruik deur werkgewers het die arbeidsbeweging voortgebring. Maar dit is vandag duidelik dat sommige leiers in die georganiseerde arbeid ook skuldig is aan magsmisbruik. Etniese minderheidsgroepe kry swaar as gevolg van magsmisbruik deur die meerderheid. ’n Ander vorm van misbruik is die deur mans in bestuursposisies wat hulleself vryhede veroorloof met vrouewerkers, wat weer gedwonge kan voel om daaraan toe te gee uit vrees dat hulle hulle werk sal verloor. Een ambisieuse ballerina is byvoorbeeld ’n hoofrol in ’n balletopvoering aangebied as sy saam met die regisseur sou slaap.

Ja, die wêreld is vol mense wat hulle mag misbruik. Almal wat selfsugtig so doen, bewys dat hulle nie die vrees van God het nie. Hoe so? Want, soos God se Woord sê: “Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is” (Spreuke 8:13; Psalm 97:10). Die misbruik van mag is inderdaad iets slegs, maar sodanige misbruik sal nie altyd bestaan nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel