Vrae van lesers
▪ Hoe kan ’n Christen onderskei tussen omkopery (wat deur die Bybel verbied word) en die gee van ’n “fooitjie” of “geskenk” vir gelewerde diens?
Ons moet onthou dat gebruike van plek tot plek wissel. Wat in party lande aanvaar word, kan elders aanstootlik of onbehoorlik wees. In een land sal mense byvoorbeeld vir ’n hoogwaardigheidsbekleër buig, maar in ’n ander land sal dit as afgodediens beskou word.a Net so kan ‘fooigeëry’ wat in een land aanvaarbaar is in ’n ander land skokkend of onwettig wees. Hoewel hulle sulke verskille in gedagte moet hou, moet alle Christene God se raad teen omkopery toepas.
Wat is omkopery, en wat sê die Bybel daaroor? The World Book Encyclopedia verduidelik: “Omkopery beteken dat iemand in ’n vertrouenspos iets van waarde gegee of aangebied word, waarna die persoon sy of haar plig of die wet skend om die gewer te bevoordeel.” Dit is dus omkopery om geld (of ’n geskenk) aan ’n regter te gee om sy beslissing te beïnvloed en die reg te verdraai. Dit is ook omkopery om iemand geld aan te bied om die wet te omseil, soos om ’n bou- of motorinspekteur te vra om ’n oortreding te ignoreer.
God veroordeel omkopery en het Israelitiese regters beveel: “Jy mag die reg nie verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het.” (Deuteronomium 16:19; vergelyk Spreuke 17:23; Jesaja 1:23; 5:23; 1 Samuel 8:3-5.) Jehovah stel self die standaard, want by hom “is geen onreg of partydigheid of aanneming van geskenke nie” (2 Kronieke 19:7; Deuteronomium 10:17). Christene wat God se goedkeuring wil geniet, maak hulle nie aan omkopery skuldig nie.—Vergelyk Handelinge 24:26.
Ofskoon mense wêreldwyd omkopery afkeur en wette daarteen het, kom baie mense te staan voor die probleem wat in die vraag hierbo weerspieël word. Hulle weet dat dit ’n “geskenk” of “fooitjie” kos om mindere amptenare in hulle land sover te kry om hulle werk te doen of dit onpartydig te doen. The Wall Street Journal het byvoorbeeld die volgende gesê van een land met ’n hoë inflasiekoers: “Staatsamptenare wend hulle tot kleinskaalse korrupsie om die ekstra kontant te kry wat hulle nodig het. ‘Jy moet hulle betaal om enige vorm aan jou te oorhandig’, sê die hoof van ’n staatsinstansie. Intussen eis immigrasiebeamptes by die internasionale lughawe [R50] van oorblufte buitelandse toeriste voor hulle hul paspoorte sal stempel sodat die reisigers nie hulle vliegtuig mis nie.”
Die tydskrif U.S.News & World Report het onlangs kommentaar gelewer oor burokratiese vertragings en gevolglike betalings wat rondom die wêreld algemeen is. Dit het byvoorbeeld gesê: “’n Indiaan moet deesdae ’n amptenaar stilletjies geld in die hand stop om ’n kind by die skool in te skryf, om in ’n hospitaal opgeneem te word, selfs om plek te bespreek op ’n trein.” Ander voorbeelde is:
—’n Ambagsman het ’n permit nodig voor hy kan werk. Hy betaal die voorgeskrewe geld by die staatskantoor, maar almal weet dat sy dokumente onder in die stapel sal bly as hy nie ’n “geskenk” gee nie. Hoewel hy nie vra om voor ander geplaas te word nie, sal sy dokument reg gehanteer word as hy die normale “fooitjie” gee.
—In ’n sekere land weet mense dat verkeersbeamptes min geld kry en dat hulle veronderstel is om dit met “geskenke vir verversings” aan te vul. ’n Beampte keer ’n motoris voor en sê dat hy die wet oortree het en ’n boete moet betaal. Wanneer die bestuurder kapsie maak en sê dat hy geen wet oortree het nie, waarsku die beampte hom dat, as die saak hof toe gaan, hy die man boonop van aanranding sal aankla. Daarom betaal baie eenvoudig die “boete” en beskou dit as nie-amptelike belasting. Ander weier en dra liewer die gevolge.
—’n Munisipaliteit is veronderstel om vullis te verwyder. Maar dit is normaal dat ’n huisbewoner vir die vullisverwyderaars ’n “geskenk” gee. As iemand dit nie doen nie, word sy vullis “vergeet” en sal hy dalk ’n boete kry weens onhigiëniese toestande.
Sulke probleme toon dat baie mense in gesagsposisies hulle amp vir onregverdige wins gebruik (Prediker 8:9). Christene hunker na God se regverdige nuwe stelsel, maar tot dan moet hulle met die huidige stelsel vir lief neem (2 Petrus 3:13). Dit kan beteken dat hulle plaaslike situasies erken waar staatsamptenare geskenke verwag om hulle werk te doen. Selfs in lande waar dit normaal is, weier baie van Jehovah se Getuies wat met inspekteurs en doeanebeamptes te doen het om “fooitjies” te gee om dinge te kry waarop hulle geregtig is. Omdat hulle bekend is vir hierdie standpunt, ontvang hulle behandeling wat die meeste mense net deur betaling ontvang (Spreuke 10:9). Elke Christen moet hom egter deur sy Bybelopgeleide gewete laat lei, na gelang van plaaslike omstandighede.
Naasteliefde is ’n faktor wat in aanmerking geneem moet word (Mattheüs 22:39). Dit sou liefdeloos wees om ’n “geskenk” te gebruik om voorkeurbehandeling te kry, soos om na die voorpunt van ’n tou geskuif en voor die ander wagtendes bedien te word. Jesus het ons vermaan om ander te behandel soos ons behandel wil word (Mattheüs 7:12). Sommige Christene meen moontlik dat, wanneer hulle beurt kom, hulle die gebruik van die land kan volg en vir die amptenaar ’n “geskenk” kan gee sodat hy sal doen wat sy werk vereis. In lande waar sulke “geskenke” nie gebruiklik is nie of die openbare gevoel skok, sal die liefdevolle Christen natuurlik optree op ’n manier wat ander nie laat struikel nie.—1 Korinthiërs 10:31-33.
Nog ’n faktor is gehoorsaamheid aan die wet. Jesus het ons aangespoor: “Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.”b (Markus 12:17; kyk ook Mattheüs 17:24-27.) Dit is een ding wanneer daar van ’n Christen wat nie die wet oortree het nie, verwag word om vir ’n staatsamptenaar ’n “fooitjie” te gee. Maar gestel ’n Christen het wel die wet oortree. Hoe kan hy in so ’n geval gewetensgetrou ’n omkoopgeskenk aanbied om die beampte te oorreed om die oortreding te ignoreer? Die apostel Paulus het geskryf dat ons goewermentele magte, wat die gesag het “om die een wat kwaad doen, te straf”, moet vrees (Romeine 13:3, 4). Paulus se standpunt was: As hy verkeerd gedoen het, sal hy die gepaste straf aanvaar (Handelinge 25:10, 11). Gevolglik sal ’n Christen wat ’n verkeersreël oortree het moontlik ’n boete moet betaal, soos ’n beampte of regter van hom kan eis.
Paulus het ook gesê dat regerings ‘dienaars is, ons ten goede’. Ondanks die hebsug van sommige amptenare verskaf regerings dienste wat in die openbare belang is. Beamptes ondersoek byvoorbeeld motors om hulle padwaardigheid te verseker, en hulle inspekteer geboue om te kyk of dit aan brandregulasies voldoen. Indien ’n Christen meen dat hy, sonder om die wet te oortree, ’n “fooi” kan gee aan ’n beampte wat ’n “diensfooi” verwag, is dit klaarblyklik iets heeltemal anders as om ’n inspekteur om te koop om skendings van die wet te ignoreer.
Christene moet praktiese wysheid aan die dag lê ten opsigte van plaaslike situasies, ongeag in watter land hulle woon. God se knegte moet onthou dat diegene wat ‘in God se tent mag vertoef en op sy heilige berg mag woon’ hulle nie tot omkopery mag wend nie (Psalm 15:1, 5). Waar dit kom by die gee van “fooitjies” om verskuldigde dienste te ontvang of onbillike behandeling deur amptenare te vermy, moet ’n Christen besluit wat sy gewete sal toelaat en moet hy die verantwoordelikheid dra vir probleme wat uit sy besluit kan voortspruit. Sy handelwyse moet hom beslis met ’n goeie gewete laat en nie die goeie naam van die ware Christelike geloof beklad of waarnemers laat struikel nie.—2 Korinthiërs 6:3.
[Voetnote]
a “Vrae van lesers”, Die Wagtoring van 1 September 1968.
b Ouere manne in die Christengemeente het die verantwoordelikheid om oortredings van goddelike wet, soos diefstal, moord en onsedelikheid, te ondersoek. Maar God vereis nie van gemeentelike ouere manne om die keiser se wette en reëls af te dwing nie. Paulus het byvoorbeeld nie verplig gevoel om Onesimus, ’n vlugteling ingevolge die Romeinse reg, aan die Romeinse owerheid uit te lewer nie (Filemon 10, 15). As iemand die landswet op flagrante wyse skend en die reputasie kry dat hy ’n wetsoortreder is, sal hy natuurlik nie ’n goeie voorbeeld wees nie en kan hy selfs uitgesit word (1 Timotheüs 3:2, 7, 10). Indien wetsoortreding iemand se dood veroorsaak, kan dit lei tot bloedskuld wat deur die gemeente ondersoek moet word.