Vrae van lesers
Moet ’n Christen vir ’n staatsamptenaar ’n fooitjie of ’n geskenk vir sy diens gee, of sal dit as omkopery beskou word?
Christene probeer praktiese wysheid in plaaslike situasies aan die dag lê, ongeag waar hulle woon, en hulle hou in gedagte dat wat in een land aanvaarbaar en wettig is, dalk in ’n ander land heeltemal onaanvaarbaar en onwettig is (Spreuke 2:6-9). ’n Christen moet natuurlik altyd in gedagte hou dat enigiemand wat “’n gas in [Jehovah se] tent” wil wees, omkopery moet vermy.—Psalm 15:1, 5; Spreuke 17:23.
Wat is omkopery? Volgens The World Book Encyclopedia “beteken omkopery dat iets waardevols vir . . . iemand in ’n posisie van openbare vertroue gegee of aangebied word, wat in ruil daarvoor sy of haar plig versuim of die wet oortree om die gewer te bevoordeel”. Ongeag waar ’n mens woon, dit is dus omkopery om geld of ’n geskenk vir ’n regter of ’n polisiebeampte te gee om die reg te verdraai, of vir ’n inspekteur om ’n fout of ’n oortreding deur die vingers te sien. Dit is ook omkopery om ’n geskenk te gebruik om voorkeurbehandeling te kry, soos om voor ander op ’n waglys geplaas te word of na die voorpunt van ’n tou geskuif te word. So ’n handelswyse sal ook ’n gebrek aan liefde openbaar.—Matteus 7:12; 22:39.
Maar is dit omkopery om, sê maar, vir ’n staatsamptenaar ’n geskenk of ’n fooitjie te gee sodat hy ’n wettige diens sal verrig of om onregverdige behandeling te voorkom? Byvoorbeeld, in party lande is amptenare dalk onwillig om kinders by die skool in te skryf, iemand in ’n hospitaal op te neem of immigrasiedokumente te stempel tensy hulle ’n fooitjie ontvang. Of hulle sloer miskien om aansoeke te verwerk om lisensies en permitte te hernieu.
Gebruike in verband met fooitjies en die algemene gesindheid daarteenoor verskil van plek tot plek. Waar sulke betalings gebruiklik is of verwag word, meen party Christene moontlik dat hulle nie Bybelbeginsels skend wanneer hulle vir ’n amptenaar ’n fooitjie gee om sy werk te doen nie, solank dit nie teen die wet is nie. In party lande beskou mense sulke betalings dalk selfs as ’n geskenk om ’n staatsamptenaar se andersins lae inkomste aan te vul. Hou in gedagte dat daar ’n verskil is tussen ’n geskenk wat vir ’n wettige diens gegee word en omkoopgeld wat vir ’n onwettige guns aangebied word.
Aan die ander kant het party Getuies van Jehovah, wanneer hulle wettige versoeke gerig het, geweier om vir inspekteurs, doeanebeamptes of ander mense fooitjies te gee, selfs waar sulke geskenke gebruiklik is. Omdat die Getuies plaaslik bekend is daarvoor dat hulle hierdie gewetensgetroue standpunt inneem sowel as dat hulle eerlik is, ontvang hulle soms behandeling wat die meeste mense net deur ’n betaling kry.—Spreuke 10:9; Matteus 5:16.
Ter opsomming, elke kneg van Jehovah moet self besluit of hy ’n fooitjie sal gee om ’n wettige diens verrig te kry of om onregverdige behandeling te voorkom. Bowenal moet sy handelswyse hom met ’n goeie gewete laat, Jehovah se naam geen oneer aandoen nie en ander nie laat struikel nie.—Matteus 6:9; 1 Korintiërs 10:31-33; 2 Korintiërs 6:3; 1 Timoteus 1:5.