Vrae van lesers
◼ Kan die reëling wat in werking tree wanneer iemand ’n “Verklaring wat getrouheid beloof” onderteken, beëindig word?
Die vraag het te doen met ’n bepaling wat in die meeste lande nie van toepassing is nie. Laat ons dus eers kyk wat daardie plegtige tussentydse reëling behels.
Die Wagtoring van 15 Junie 1977 het ’n probleem bespreek wat in sommige lande bestaan. Hoewel God egskeiding op Skriftuurlike gronde toelaat, laat sommige regerings glad nie egskeiding toe nie (Mattheüs 19:9). Of die wet kan dit baie moeilik maak om ’n egskeiding te verkry; dit duur dalk baie jare. Daardie tydskrif het derhalwe verduidelik dat Jehovah se Getuies ’n toegewing het wat net in sulke lande geld; dit behels ’n “Verklaring wat getrouheid beloof”. Beskou ’n voorbeeld van die reëling:
’n Vrou kom tot kennis van Christelike waarheid terwyl sy met ’n man saamleef (en miskien kinders by hom het) wat al lank van sy wettige vrou vervreem is. Die belangstellende vrou is getrou aan hom en wil met hom trou, maar dit is onmoontlik omdat die wet hom nie toelaat om van sy wettige vrou te skei nie. As die gemeentelike ouere manne daarvan oortuig is dat haar verhouding met hierdie man andersins vir God aanneemlik sou wees, kan hulle derhalwe toelaat dat sy ’n “Verklaring wat getrouheid beloof” onderteken. Sy sê daarin dat sy alles in haar vermoë gedoen het om hierdie verhouding te wettig; dat sy voor God die bindende aard van die Verklaring erken; en dat sy beloof om wettig te trou sodra dit moontlik is, wat die einde sal beteken van die Verklaring wat dit vir haar moontlik gemaak het om ’n deel van die Christengemeente te word.
Die vraag ontstaan egter: Is daar enige ander manier waarop die reëling eindig of beëindig kan word nadat sy (of enigiemand in daardie situasie) kragtens so ’n Verklaring in die gemeente ingekom het?
Die Verklaring self sê dat die ondertekenaar ‘erken dat hierdie betrekking bindend is voor Jehovah God en voor alle persone, en dat dit in volle ooreenstemming met die beginsels van God se Woord gehandhaaf en geëer moet word’. Uit die gemeente se standpunt is dit dus moreel net so bindend soos ’n wettige huwelik. Die dood van ’n huweliksmaat beëindig egter ’n huwelik of ’n verhouding wat deur so ’n Verklaring tot stand gekom het (Romeine 7:2). Die Bybel sê ook dat, indien ’n huweliksmaat hom of haar aan por·neiʹa (geslagsonsedelikheid buite die huwelik) skuldig maak, die onskuldige party ’n egskeiding kan verkry (Mattheüs 5:32; 19:9). Waar ’n “Verklaring wat getrouheid beloof” geld, kan die onsedelikheid van een party eweneens ’n grondslag bied om die reëling te beëindig, indien die onskuldige party dit verkies. Die onskuldige Christen sal bewyse van die ontrouheid aan die ouere manne moet voorlê. Dit sal die Verklaring beëindig; daarna sal die onskuldige party Skriftuurlik vry wees.
Die feit dat die gemeente ’n “Verklaring wat getrouheid beloof” as moreel net so bindend soos ’n wettige huwelik beskou, laat ’n verwante vraag ontstaan. Dit kom na vore wanneer die vroeëre beletsel teen die huwelik verwyder word. In die voorbeeld hierbo kan die man se wettige vrou byvoorbeeld te sterwe kom, of die regering kan egskeiding wettig, en hy is miskien bereid om wettig met die Christin te trou. In daardie geval kan die suster nie met die verhouding voortgaan kragtens die “Verklaring wat getrouheid beloof” nie, al veroorsaak dit vir haar verleentheid om nou wettig te trou of al verloor sy sekere materiële voordele. Ooreenkomstig haar Verklaring moet sy nou stappe doen om die verhouding te wettig. Anders sal die gemeente die Verklaring ongeldig verklaar, en dan sal sy die man moet verlaat of, so nie, uitgesit word.
Maar gestel die ongelowige weier om met haar te trou? Toe sy die Verklaring onderteken het, het die gemeente die verhouding as bindend en moreel beskou. Dit word nie nou immoreel net omdat sy nie haar ongelowige metgesel kan dwing om hulle verhouding te wettig nie. Sy kan aanhou om ’n getroue maat te wees en hoef nie die ongelowige te verlaat nie, hoewel sy moet volhou met haar pogings om die verhouding te laat wettig. (Dit is ’n wysiging van die kommentaar in “Vrae van lesers” van 1 November 1985.)—Vergelyk Rigters 11:35; Lukas 18:1-5.
Die situasie is natuurlik anders indien albei partye die Verklaring onderteken het en gedoopte Christene geword het. In daardie geval het albei hulle plegtig daartoe verbind om ’n wettige huwelik aan te gaan wanneer die staatsbeletsel uit die weg geruim word, op welke tydstip die Verklaring beëindig sou word. Hulle is verplig om dit binne ’n billike tyd te doen, of so nie van mekaar weg te gaan, ten einde in die gemeente te bly. (Vergelyk “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 November 1982.) As hulle wel uitmekaar gaan, geld die moreel bindende Verklaring steeds, wat beteken dat nie een vry is om ’n verhouding met iemand anders aan te gaan nie.—Vergelyk 1 Korinthiërs 7:10, 11.
Hoewel die reëling in verband met ’n “Verklaring wat getrouheid beloof” in die meeste plekke nie van toepassing is nie, berus die voorgaande uiteensetting op die Bybelse standaard wat oral van toepassing is: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.”—Hebreërs 13:4.