Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 5/1 bl. 22-30
  • ’n Terugblik op die 93 jaar van my lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Terugblik op die 93 jaar van my lewe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoërskool en universiteit
  • “Dit is die waarheidl”
  • Ek ontmoet broer Russell
  • “The Finished Mystery”
  • Na Bethel genooi
  • Radio- en byeenkomsvoorregte
  • ’n Ander president
  • My lewe in Jehovah se geesgerigte organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Adverteer die Koning en die Koninkryk! (1919-1941)
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Verkondig die goeie nuus sonder ophou (1942-1975)
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • ‘Jehovah het aan my goed gedoen’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 5/1 bl. 22-30

’n Terugblik op die 93 jaar van my lewe

Soos vertel deur Frederick W. Franz

OP 12 SEPTEMBER 1893 is ’n babaseuntjie gebore in Covington, Kentucky, wat aan die suidekant van die rivier oorkant Cincinnati, Ohio, geleë is. Sy gelukkige vader, Edward Frederick Franz, en verheugde moeder, Ida Louise, gebore Krueger, het hierdie seun van hulle Frederick William Franz genoem.

Dit was die begin van die 93 jaar van my lewe. My vader, wat in Duitsland gebore is, was ’n lidmaat van die Lutherse Kerk en het my dus na ’n pastor geneem wat my gedoop het deur sy nat hand op my voorhoof te lê. ’n Doopseel is uitgemaak, geraam en saam met die doopseels van my twee ouer broers, Albert Edward en Herman Frederick, in ons huis opgehang. Ek het eers 20 jaar later uitgevind hoe onskriftuurlik so ’n godsdiensseremonie is.

Dit was toe ons na Greenupstraat verhuis het dat ek vir die eerste keer ’n wa sonder perde, ’n oop tweesitplekrytuig, in die straat sien ry het. Jare later het ek vir die eerste keer ’n vliegtuig gesien. Ons het toe langs Krieger se bakkery gewoon, waar my vader snags as bakker gewerk het. Hy het soggens tuisgekom en gaan slaap. Dan kon hy smiddags tyd saam met ons deurbring.

Toe ek oud genoeg was om skool te gaan, is ek eers na die parogiale skool en kerkdienste van die Rooms-Katolieke Kerk van St. Joseph by Twaalfde en Greenupstraat gestuur, aangesien dit naby was. Ek kan nog die klaskamer onthou. By een geleentheid het die godsdienstige “broer” wat as onderwyser opgetree het my aangesê om vorentoe te kom en my oop palm uit te steek sodat ek ’n paar houe met ’n 30 sentimeter lange liniaal kon kry vir iets wat ek verkeerd gedoen het.

Ek onthou ook hoe ek in die kerk se donker biegstoel ingegaan het, hoe ek met die biegvader agter die afskorting gepraat het, ’n gememoriseerde gebed opgesê het en bely het dat ek ’n slegte seun is. Daarna het ek na die kommuniebank gegaan en daar gekniel terwyl ’n priester ’n stukkie brood in my mond gesit het. So het hy die Kommunie aan my bedien, soos geleer word deur die kerk, terwyl hy die wyn vir homself gehou het om later te drink. Dit was die begin van my formele godsdiensopleiding en my respek vir God wat in latere jare sou toeneem.

In 1899, nadat ek ’n jaar in die parogiale skool was, het my gesin oor die Ohio-rivier na Cincinnati, Marystraat 17 (wat nou Vyftiende Straat-Oos genoem word), getrek. Hierdie keer is ek na die staatskool gestuur en in standerd een gesit. Ek was ’n onoplettende leerling, en ek onthou dat ek en die leerling in die bank aan my regterkant by een geleentheid na die hoof se kantoor gestuur is weens ons wangedrag. Daar het hoof Fitzsimmons ons albei laat buk en die punte van ons skoene met ons vingers laat raak terwyl hy ons ’n paar houe met ’n rottang op ons sitvlak gegee het. Soos jy kan verwag, het ek gedruip.

Maar my vader wou nie hê dat ek twee jaar in dieselfde standerd moes deurbring nie. Hy het my gevolglik aan die begin van die volgende skoolkwartaal na die skool in Libertystraat, na die kantoor van die skoolhoof, mnr. Logan, geneem. Hy het mnr. Logan gevra om my in standerd twee te sit. Mnr. Logan was my goed gesind en het gesê: “Wel, kom ons kyk wat die jongman weet.” Na ek ’n aantal ondersoekende vrae bevredigend beantwoord het, het hy gesê: “Wel, dit lyk asof hy standerd twee toe kan gaan.” So het hy my laat oorgaan na die standerd ná die een wat ek gedruip het. Van toe af het ek tot bedaring gekom en my ernstig op my skoolwerk toegelê, en ek het nooit weer gedruip nie.

Die godsdienssy van my jong lewe het ook verander. Op die een of ander manier het verteenwoordigers van die Tweede Presbiteriaanse Kerk van Cincinnati met my moeder in aanraking gekom, en sy het besluit om vir my, Albert ‘en Herman na die Sondagskool van daardié kerk te stuur. Mnr. Fisher was destyds die hoof van die Sondagskool, en jong Bessie O’Barr het my Sondagskoolonderwyseres geword. So het ek die geïnspireerde Bybel leer ken. Hoe dankbaar was ek tog toe my Sondagskoolonderwyseres vir my ’n eksemplaar van die Bybel as Kersgeskenk gegee het!

Ek het my voorgeneem om dit ’n moet in my lewe te maak om elke dag ’n deel van die Bybel te lees. Dit het daartoe gelei dat ek daardie heilige boek baie goed leer ken het. En die heilsame invloed daarvan het voorkom dat ek by die onsedelike gesprekke en gedrag van my klasmaats betrokke geraak het. Dit is geen wonder dat hulle gedink het dat ek anders is nie.

Hoërskool en universiteit

Toe ek in 1907 uit die derde middelbare skool gegradueer het, het my ouers my toegelaat om my opvoeding voort te sit en na Woodward-Hoërskool te gaan, waar Albert, my oudste broer, ’n jaar was. Soos hy het ek besluit om in die Klassieke te studeer. Ek het Latyn dus begin studeer— ’n studie wat ek die volgende sewe jaar voortgesit het.

Toe het die tyd vir ons graduering in die noordelike lente van 1911 aangebreek. Ek is gekies om die afskeidsrede namens Woodward-Hoërskool te lewer by die gradeplegtigheid wat in Cincinnati se grootste ouditorium, die Musieksaal, gehou sou word.

Al drie Cincinnati se hoërskole—Woodward-Hoërskool, Hughes-Hoërskool en Walnut Hills-Hoërskool—het destyds vir die gradeplegtigheid saamgekom. Die hoërskoolseniors het op die groot verhoog voor ’n stampvol ouditorium gesit. Die afskeidsredevoerder vir Woodward-Hoërskool moes die openingsrede hou. Die onderwerp wat ek vir die geleentheid gekies het, was “Die skool en burgerskap”. Al drie sprekers het geesdriftige applous ontvang. Ek was toe 18 jaar oud.

My ouers het my toegelaat om my opvoeding voort te sit, met die gevolg dat ek by die Universiteit van Cincinnati ingeskryf en in die vrye kunste gestudeer het. Ek het toe besluit dat ek ’n Presbiteriaanse predikant gaan word.

Benewens my voortgesette studie van Latyn het ek nou ook Grieks gestudeer. Wat ’n seën was dit tog om Bybelse Grieks onder professor Arthur Kinsella te studeer! Ek het ook klassieke Grieks onder dr. Joseph Harry, ’n skrywer van enkele Griekse werke, gestudeer. Ek het geweet dat as ek ’n Presbiteriaanse geestelike wou word, ek Bybelse Grieks moes ken. Ek het dus hard gewerk en geslaag.

Behalwe my studies in Grieks en Latyn op universiteit, het ek ook ’n belangstelling in Spaans ontwikkel, wat vir my baie na aan Latyn was. Op daardie stadium het ek nie besef hoeveel ek Spaans in my Christelike bediening sou kon gebruik nie.

’n Hoogtepunt in my akademiese loopbaan was toe dr. Lyon, die rektor, by ’n vergadering van studente in die ouditorium aangekondig het dat ek gekies is om na Ohio-Staatsuniversiteit te gaan om saam met ander ’n vergelykende eksamen af te lê om die Cecil Rhodes-studiebeurs te wen, sodat ek tot Oxford-Universiteit in Engeland toegelaat kon word. Een van die deelnemers was beter in sport as ek, maar as gevolg van my vergelykbare punte wou hulle my saam met hom na Oxford-Universiteit stuur. Ek het dit waardeer dat ek aan die vereistes vir die studiebeurs voldoen het, en normaalweg sou dit uiters bevredigend gewees het.

“Dit is die waarheidl”

Ons onthou dat Jesus Christus by een geleentheid vir sy dissipels gesê het: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). My broer Albert het die vorige jaar, 1913, “die waarheid” in Chicago gekry. Hoe het Albert “die waarheid” gekry?

Een Saterdagaand in die noordelike lente van 1913 het Albert vroeg gaan slaap in die slaapsaal van die CJMV, waar hy gewoon het terwyl hy in Chicago gewerk het. Later het sy kamermaat by die kamer ingebars met ’n probleem. Hy is daardie aand na die huis van ’n mnr. en mev. Hindman genooi, en hulle dogter Nora sou ’n vriendin daar by die huis hê. Albert se kamermaat sou nie twee meisies kon behartig nie. Albert het met graagte gehelp. In die loop van die aand het Albert se kamermaat baie lekker met die twee jong dames gesels. Maar mnr. en mev. Hindman het al hulle aandag aan Albert gegee en hom vertel van die leerstellings van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.

Albert het toe vir my ’n boekie gestuur met die titel Waar is die dode? wat deur ’n Skotse dokter, John Edgar, ’n lid van die Glasgow-gemeente van die Internasionale Bybelstudente, geskryf is. Ek het die boekie aanvanklik weggebêre. Toe het ek een aand ’n rukkie gehad voor ek na ’n kooroefening moes gaan en ek het dit begin lees. Ek het dit so interessant gevind dat ek dit nie kon neersit nie. Ek het voortgegaan om dit te lees terwyl ek sowat anderhalf kilometer na die Presbiteriaanse kerk gestap het. Aangesien die kerkdeur nog gesluit was, het ek op die koue kliptrap gesit en verder gelees. Die orrelis het daar aangekom, en toe hy sien hoe verdiep ek is in wat ek lees, het hy gesê: “Dit moet iets interessants wees.” Ek het geantwoord: “Dit is beslis!”

Omdat ek die nuwe waarhede wat ek geleer het so interessant gevind het, het die gedagte by my opgekom om die leraar, dr. Watson, te vra wat hy van hierdie boekie dink. Daardie einste aand het ek hom dus die boekie gegee en gevra: “Dr. Watson, wat weet u hiervan?”

Hy het die boekie geneem, dit oopgeslaan en toe gesmaal: “O, dit is seker van Russell se goed. Wat weet hy van die eskatologie?” Ek was werklik verstom oor sy minagting. Toe ek die boekie terugneem en wegdraai, het ek gedink: “Ek gee nie om wat hy daarvan dink nie. Dit is die WAARHEID!”

Kort daarna het Albert, tydens een van sy kuiertjies by die huis, vir my die eerste drie bundels van Studies in the Scriptures gebring, wat deur Charles Taze Russell geskryf is. Albert het my ook na die plaaslike gemeente van Bybelstudente geneem, wat toevallig reg langs die Presbiteriaanse kerk bymekaargekom het. Ek was verheug oor wat ek geleer het en het kort voor lank besluit dat die tyd aangebreek het om my bande met die Presbiteriaanse Kerk te verbreek.

Later, toe Albert ons weer besoek het, het ons dus na een van dr. Watson se Sondagaandlesings gegaan. Agterna het ek en Albert geloop na waar hy vertrekkende gemeentelede met die hand gegroet het. Ek het vir hom gesê: “Dr. Watson, ek gaan die kerk verlaat.”

Hy het gesê: “Ek het dit geweet! Ek het dit geweet! Die oomblik toe ek jou daardie goed van Russell sien lees het. Ek sal daardie man Russell nie toelaat om sy voet in my huis te sit nie!” Hy het toe bygevoeg: “Fred, dink jy nie ons moet liewer na my konsistorie gaan en saam bid nie?” Ek het vir hom gesê: “Nee, dr. Watson, ek het klaar besluit.”

Toe het ek en Albert uit die kerk gestap. Wat ’n wonderlike gevoel was dit tog om vry te wees van gevangenskap aan ’n godsdiensstelsel wat leuens verkondig! Dit was inderdaad aangenaam om opgeneem te word in die gemeente van Internasionale Bybelstudente, wat so lojaal aan God se Woord was! Op 5 April 1914 het ek my konsekrasie—soos ons toewyding genoem het—in Chicago, Illinois, deur waterdoop gesimboliseer.

Ek was nog nooit spyt dat ek, kort voor die aankondigings deur die opvoedkundige owerheid oor die uitslag van die eksamens vir die Cecil Rhodes-studiebeurs, ’n brief aan die owerheid geskryf en hulle meegedeel het dat ek nie meer in die studiebeurs vir Oxford-Universiteit belanggestel het nie en dat hulle my van die deelnemerslys moes afhaal. Ek het dit gedoen, ofskoon my universiteitsprofessor in Grieks, dr. Joseph Harry, my meegedeel het dat ek gekies is om dit te ontvang.

Twee maande later, of op 28 Junie 1914, is die aartshertog Ferdinand van Oostenryk-Hongarye en sy vrou in Sarajevo in Bosnië vermoor. Op daardie selfde dag het die Internasionale Bybelstudente die derde dag van hulle algemene byeenkoms in die Gedenksaal, Columbus, Ohio, gehou. Net ’n maand later, of op 28 Julie 1914, het die eerste wêreldoorlog in die mensegeskiedenis uitgebreek. Ons as Bybelstudente het die einde van die Heidense Tye van 2 520 jaar teen 1 Oktober daardie jaar verwag.

Met my vader se toestemming het ek in Mei 1914 die Universiteit van Cincinnati verlaat. Dit was net ’n paar weke voor die einde van my derde termyn as junior. Ek het dadelik met die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap gereël om aangestel te word as ’n kolporteur, of ’n pionier, soos so ’n voltydse bedienaar vandag genoem word. Teen daardie tyd het ek aktief met die Cincinnati-gemeente van die Internasionale Bybelstudente omgegaan.

Later het ek ’n ouere man in die Cincinnati-gemeente geword. Toe die Verenigde State van Amerika dus aan die kant van die Geallieerdes by die Eerste Wêreldoorlog betrokke geraak het en die jong mans vir die leër opgeroep is, het ek vrystelling as bedienaar van die evangelie gekry.

Ek ontmoet broer Russell

Onder die insidente in my lewe wat aangename herinneringe wek, is die kere wat ek die vreugde gesmaak het om die Genootskap se eerste president, Charles Taze Russell, te ontmoet. Die eerste keer dat ek hom persoonlik ontmoet het, was die dag voor die première van die Fotodrama van die Skepping by die Musieksaal op Sondag, 4 Januarie 1914. Daardie Saterdag het ’n ouere man van die Cincinnati-gemeente my buite die Musieksaal teëgekom en gesê: “Broer Russell is daarbinne, en as jy agter die verhoog gaan, kan jy hom ontmoet.” Ek het baie gretig ingegaan en gevolglik persoonlik met hom gepraat. Hy het die reëlings vir daardie eerste vertoning van die Fotodrama van die Skepping kom nagaan.

In 1916 het hy ’n treinaansluiting in Cincinnati gehad en moes hy ’n hele paar uur oorlê. Ek en ’n suster het daarvan te hore gekom en het ons na die stasie gehaas, waar ons hom en sy sekretaris aangetref het. Hy het sy middagete saam met hom gebring, en toe etenstyd aanbreek, het hy dit met ons gedeel.

Toe ons klaar geëet het, het hy gevra of enigiemand ’n Bybelvraag het. Ek het gevra wat die moontlikheid is dat Adam ’n opstanding sal kry, aangesien hy ’n onberouvolle, opsetlike sondaar was. Met ’n vonkeling in sy oog het hy geantwoord: “Broer, jy vra ’n vraag en beantwoord dit terselfdertyd. Nou wat was jou vraag presies?”

“The Finished Mystery”

Charles Taze Russell het op Dinsdag, 31 Oktober 1916, gesterf sonder om die sewende bundel van sy reeks Studies in the Scriptures uit te gee. Toe sy sekretaris hom op sy sterfbed aan boord van ’n trein op pad terug van Kalifornië oor die sewende bundel gevra het, het hy geantwoord: “Iemand anders sal dit moet skryf.”

Die sewende bundel het die volgende jaar, 1917, verskyn met ’n uitleg van die profetiese boeke Esegiël en Openbaring, tesame met ’n mooi verklaring van die Bybelboek Hooglied van Salomo. Die Genootskap het ’n omvattende verspreiding van die nuwe boek beplan. Hulle het gevolglik kartonne van hierdie sewende bundel na sekere persone in die gemeentes dwarsdeur die Verenigde State gestuur. Talle kartonne is na my huis te Baymillerstraat 1810, Cincinnati, Ohio, gestuur en is daar geberg terwyl ons op verdere instruksies gewag het oor hoe die inhoud versprei moes word.

Agt bladsye van The Finished Mystery het aanhalings bevat van wat vooraanstaande persone teen oorlog gesê het. Onder aanhitsing van die godsdiensorganisasies van die Christendom, Katoliek sowel as Protestant, het die Amerikaanse regering beswaar geopper, en bladsye 247-254 is uitgesny. Wanneer The Finished Mystery daarna by mense aangebied is, is daar aan hulle verduidelik waarom hierdie bladsye uit is. Hierdie stap het die Amerikaanse regering nie lank tevrede gestel nie, en onder verdere aanhitsing van die godsdiensorganisasies van die land het dit die hele sewende bundel van Studies in the Scriptures verbied.

Ek onthou dat ek een Sondagoggend by die agterdeur van ons huis gewerk het. Mans het met die paadjie om die huis gestap, en die leier het sy jaslapel opgelig, vir my sy metaalinsinje gewys en toegang tot die huis geëis. Ek was dus verplig om hulle in te neem en vir hulle die kartonne vol eksemplare van The Finished Mystery te wys. ’n Paar dae later het hulle ’n vragmotor gestuur en dit alles weggeneem.

Later het ons gehoor dat Joseph F. Rutherford, die Wagtoringgenootskap se tweede president, en ses van sy metgeselle wat by die hoofkwartier in Brooklyn gedien het, verkeerdelik skuldig bevind is aan inmenging in die oorlogspoging van die Verenigde State. Hulle is gevonnis tot 20 jaar in die Atlanta-strafgevangenis vir elk van vier aanklagte, hoewel die vonnisse gelyklopend was. Die oorlog het op 11 November 1918 geëindig, en op 25 Maart 1919 is broer Rutherford en sy metgeselle onder borgtog vrygelaat. Hulle is later heeltemal vrygespreek. Die verbod op die boek The Finished Mystery is ook opgehef en dit kon weer vryelik versprei word.

Hoe bemoedigend was dit tog vir ons toe die Genootskap reëlings getref het vir ons eerste naoorlogse byeenkoms van 1-8 September 1919 in Cedar Point, wat aan die punt van ’n vakansieskiereiland naby Sandusky, Ohio, geleë is! Dit was vir my ’n uiters vreugdevolle voorreg om daardie byeenkoms by te woon.

Na Bethel genooi

Die volgende jaar, 1920, het president Rutherford ’n uitnodiging aanvaar om ’n openbare gehoor in Cincinnati, Ohio, toe te spreek. Ek het destyds kolporteurwerk gedoen, en broer Rutherford het my genooi om vir hom te skryf en aansoek te doen om in die Bethelhoofkwartier in Brooklyn te dien.

Ek het die brief gestuur, en na ek ’n gunstige antwoord ontvang het, is ek per trein na die stad New York. Toe ek Dinsdagaand, 1 Junie 1920, daar aankom, het Leo Pelle, ’n ou vriend van Louisville, Kentucky, my ontmoet en my na die Bethelhuis geneem. Die volgende dag, Woensdag, is ek amptelik saam met Hugo Riemer en Clarence Beatty in ’n dakkamer aangewys, en ek het nommer 102 van die Brooklyn-Bethelgesin geword.

Die Genootskap het sy eerste drukkery by Myrtlelaan 35 opgerig, en in die kelderverdieping was ons eerste rolpers wat ons die ‘Battleship’ genoem het weens sy grootte. Ons het die Genootskap se nuwe tydskrif met die titel The Golden Age—wat later Consolation (Vertroosting) en nou Awake! (Ontwaak!) genoem word—gedruk. Soos die tydskrifte deur ’n gleuf in die vloer gekom en met ’n draadstelsel oor ’n skuins plank vervoer is, het ek dit bymekaargemaak, reg geskud en op ’n hoop gepak sodat dit later afgekant en uitgestuur kon word.

Op Saterdagoggende, wanneer die drukpers nie tydskrifte gedruk het nie, het ’n paar van ons die tydskrifte in bruin papiervelle met die naam en adres van intekenaars daarop toegedraai. Dan het ons dit verseël sodat dit deur die poskantoor gehanteer kon word. Ek het hierdie werk ’n paar maande gedoen totdat Donald Haslett, wat in die Kolporteurafdeling gewerk het, met Mabel Catel gaan trou het. Toe is ek van Myrtlelaan 35 na die Genootskap se kantoor by Columbia Heights 124 verskuif om in die Kolporteurafdeling te dien.

As lid van die New York-gemeente is ek ook gevra om ’n boekstudie by die huis van die Afterman-gesin in die Ridgewoodgebied van Brooklyn te hou.

Radio- en byeenkomsvoorregte

Ek het tot 1926 in die Kolporteurafdeling gedien. Intussen het die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap sy eerste radiostasie, WBBR, op Staten Island opgerig. Dit was in 1924. Ek het die genotvolle voorreg gehad om op die Genootskap se programme te dien, nie net deur toesprake te hou nie, maar ook deur tenoorsolo’s te sing en selfs die mandolien met klavierbegeleiding te speel. Daarbenewens het ek tweede tenoor in ons WBBR se manlike kwartet gesing. Broer Rutherford was natuurlik, as president van die Genootskap, die hoofspreker op WBBR en het ’n groot gehoor gehad.

In 1922 is ’n algemene byeenkoms van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap vir die tweede keer by Cedar Point, Ohio, gehou. Hier het broer Rutherford ons baie sterk vermaan: “Adverteer, adverteer, adverteer die Koning en sy Koninkryk!”

Een van my kosbaarste voorregte in die twintigerjare was toe ek in 1926 saam met broer Rutherford by die internasionale byeenkoms in Londen, Engeland, gedien het. Daar het hy sy openbare toespraak voor ’n groot gehoor in die Royal Albertsaal van Londen gehou nadat ek ’n tenoorsolo met die begeleiding van die saal se bekende orrel gesing het.

Die volgende aand het hy ’n Joodse gehoor toegespreek oor “Palestina vir die Jode—Waarom?”, en ek het ’n solo uit Handel se Messias, “Comfort Ye, My People”, gesing. Etlike duisende Jode het daardie spesiale diens bygewoon. Ons het destyds profesieë in die Hebreeuse Skrifte verkeerdelik op die natuurlike, besnede Jode toegepas. Maar in 1932 het Jehovah ons oë geopen om te sien dat daardie profesieë op geestelike Israel van toepassing is.

En hoe opwindend was dit tog vir my om in 1931 by die byeenkoms in Columbus, Ohio, te wees toe broer Rutherford die ‘nuwe naam’ Jehovah se Getuies voorgelê het en ons almal dit geesdriftig aanvaar het! Al die gemeentes van Jehovah se volk rondom die aarde het onmiddellik daarna daardie ‘nuwe naam’ aangeneem.—Vergelyk Jesaja 62:2.

Op Vrydag, 31 Mei 1935, was ek orkesdirigent in die ruim reg onder die podium waarvandaan, broer Rutherford sy tydvakskeppende lesing oor Openbaring 7:9-17 gegee het en die lede van die “groot menigte”, wat daar voorgestel word, korrek vir ons geïdentifiseer het. Die sogenaamde Jonadab-klas is in die besonder genooi om teenwoordig te wees, en die rede daarvoor het duidelik geword toe broer Rutherford getoon het dat die “groot menigte” bestaan uit die “ander skape” van “die goeie herder”, Jesus Christus (Johannes 10:14, 16). Dit was ’n opwindende geleentheid. Dit was vir my baie hartroerend toe 840 byeenkomsgangers die volgende dag, Saterdag, 1 Junie, onder die water gedompel is as simbool van hulle toewyding aan God deur Christus met die vooruitsig van ’n aardse paradys! Van toe af het Christus se “ander skape” die kwynende getal lede van die “klein kuddetjie” geesverwekte, sagmoedige dissipels van die Goeie Herder, Jesus Christus, in getal verreweg oortref.—Lukas 12:32.

Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het, het dit egter gelyk asof dit die einde van die insameling van die “groot menigte” was. Ek onthou dat broer Rutherford eendag vir my gesê het: “Wel, Fred, dit lyk asof die ‘groot menigte’ tog nie so groot gaan wees nie.” Min het ons besef dat die groot insamelingswerk nog voorgelê het.

Die Genootskap het in 1934 die draagbare grammofoon ingebring, en opnames van president Rutherford se lesings is gebruik om Bybellektuur bekend te stel. Toe sy opnames, wat in Spaans vertaal is, verskyn het, het ek my daarop toegelê om Spaanssprekende mense in die nabyheid van ons drukkery in Adamsstraat 117 te besoek. Toe het ek belangstellendes deur herbesoeke gehelp om Bybelwaarhede te leer en sodoende het ek uiteindelik die voorreg gehad om die eerste Spaanssprekende gemeente in Brooklyn te organiseer. Ek is sedert die vorming van die eerste Spaanse gemeente in Brooklyn daaraan verbonde.

’n Ander president

Met broer Rutherford se dood op 8 Januarie 1942 het Nathan H. Knorr hom as die Genootskap se president opgevolg. Ondanks die Tweede Wêreldoorlog wat gewoed het, het sy openbare toespraak in die noordelike somer van 1942 oor die onderwerp “Vrede—Kan dit voortduur?” ons uitkyk op die onmiddellike toekoms verander. Kort daarna het broer Knorr op Maandag, 1 Februarie 1943, die Wagtoring-Bybelskool Gilead op Kingdom Farm geopen, en daar was honderd studente in die eerste klas. Ek het die voorreg gehad om ’n deel op die inwydingsprogram te hê. Broers Eduardo Keller, Maxwell G. Friend, Victor Blackwell en Albert D. Schroeder was instrukteurs.

In sy openingsrede het broer Knorr ons meegedeel dat die Genootskap genoeg geld het om die skool vyf jaar aan die gang te hou. Maar sowaar, Jehovah God, die Almagtige, het die skool vandag nege keer so lank aan die gang gehou!

Dit was ’n baie groot voorreg om met Nathan H. Knorr te assosieer. Min het ek besef toe hy gedoop is na die dooptoespraak wat ek op 4 Julie 1923 langs die Klein Lehigh-rivier buite sy tuisdorp Allentown, Pennsilvanië, gehou het, dat hy die derde president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap sou word.

Gedurende broer Knorr se presidentskap het ek baie gereis, groot byeenkomste van die broers dwarsoor die wêreld—Latyns-Amerika en Australië inkluis—toegespreek en hulle aangespoor om getrou te bly. By een so ’n geleentheid, in 1955, het ek ’n geheime byeenkoms in die woud buite Barcelona gedien terwyl daar ’n verbod op die werk van Jehovah se Getuies in Spanje was. Ons byeenkoms van Spaanse broers is deur gewapende geheime polisie omring en die mans is in vragmotors na die polisiehoofkwartier geneem. Daar is ons aangehou en ondervra. Aangesien ek ’n Amerikaanse burger was, het ek gemaak asof ek nie Spaans verstaan nie. Twee susters wat nie gevange geneem is nie, het die Amerikaanse konsulaat meegedeel dat ek in hegtenis geneem is, en hulle het met die polisie in aanraking gekom. Omdat hulle ’n internasionale insident en nadelige publisiteit wou vermy, het hulle uiteindelik ons buitelanders, en later die ander broers, laat gaan. Daarna het ’n aantal van ons by die huis van die Serrano-broers bymekaargekom en ons grootliks verheug oor Jehovah se verlossing van sy volk. In 1970 het Spanje wetlike erkenning aan Jehovah se Getuies verleen. Ons het vandag ’n takkantoor naby Madrid, en die afgelope jaar was daar meer as 65 000 Koninkryksverkondigers in die organisasie in Spanje, met gemeentes oor die hele land.

Op 8 Junie 1977 het Nathan H. Knorr ontslaap en sy aardse loopbaan voltooi, en ek het hom as president van die Genootskap opgevolg. Broer Knorr was meer as 35 jaar die president, langer as enigeen van die twee vorige presidente van die Genootskap, Russell en Rutherford. As lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies is ek aangewys om op die Uitgewerskomitee en die Skryfkomitee van die Bestuursliggaam te dien.

Dit is inderdaad ’n groot voorreg en genot om steeds by die Genootskap se kantoor te Columbia Heights 25 te dien. Dit beteken dat ek elke werksdag heen en weer tussen die algemene kantoor en die Bethelhuis moet stap—uitstekende oefening vir ’n bejaarde liggaam. Hoewel ek 93 jaar oud is en swak sig het, is ek baie bly dat Jehovah my met goeie gesondheid geseën het sodat ek in 66 jaar by Bethel nie ’n enkele werksdag weens siekte afwesig was nie, en ek kan steeds voltyds dien. Dit was inderdaad vir my ’n goddelike gawe om sedert 1920 hier te wees en die groei en uitbreiding van die organisasie by die hoofkwartier in Brooklyn en rondom die wêreld te sien.

Saam met miljoene mede-Getuies sien ek met volle vertroue in die Universele Soewerein, Jehovah God, en sy Veldmaarskalk, Jesus Christus, wat oor die ontelbare leërskare serafs, gerubs en heilige engele in die hemel is, nou uit na wat volgens die Bybel nog voorlê: die vernietiging van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, en die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God by Armageddon, wat ’n hoogtepunt sal bereik in die allergrootste oorwinning deur die Universele Soewerein, Jehovah God, wat “van ewigheid tot ewigheid” is. Halleluja!—Psalm 90:2.

[Prent op bladsy 24]

In die middel onder saam met mede-Bethelwerkers 1920

[Prent op bladsy 25]

Saam met N. H. Knorr 1961

[Prent op bladsy 26]

Spreek ’n byeenkoms in Japan toe 1978

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel