Eer die God van hoop
“Nou spreek die HERE: . . . Die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees.”—1 SAMUEL 2:30.
1. Watter rede het ons om Jehovah te wil eer? (1 Timotheüs 1:17; Openbaring 4:11)
MET die oog op die Bybelse vooruitsigte wat ons kan hê, is dit geheel en al gepas en redelik dat ons ‘die God van hoop’, “die God wat hoop gee”, eer (Romeine 15:13, AB; NW). Waarom is dit die geval? Hoe kan ons, wat bloot nietige, onvolmaakte mense is, die Grootse Skepper van die ganse heelal eer? En sal hy ons op sy beurt eer?
2. Hoe het Jesus die verering van God beskou?
2 Ons kan leer uit wat met Jesus gebeur het. Geeneen van ons sou ontken dat Jesus altyd wou hê dat sy Vader geëer en verheerlik moes word nie (Johannes 5:23; 12:28; 15:8). Trouens, Jesus het Fariseërs en skrifgeleerdes gekritiseer wat ‘God met die lippe geëer het, maar wie se hart ver van hom was’. Let asseblief daarop dat hulle versuim om God te eer ongepaste beweegredes en dade behels het (Mattheüs 15:7-9). Maar kan ons sê dat Christus se hoop met sy verering van God verband gehou het? En hoe het Jehovah op hierdie verering gereageer?
3. Hoe weet ons dat Jesus op Jehovah gehoop het?
3 Jesus het Dawid se woorde in Psalm 16:10 (NW) ter harte geneem: “U sal my siel nie in Sjeool laat nie. U sal nie toelaat dat hy wat teenoor u lojaal is, die kuil sien nie.” Omdat hy hierdie hoop van ’n opstanding gekoester het, kon Jesus Christus besielende woorde rig aan ’n kwaaddoener wat langs hom opgehang is: “Voorwaar ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:39-43, NW). Daardie kwaaddoener het kort daarna gesterf en kon dus nie drie dae later die bevestiging van Jesus se hoop dat hy opgewek sou word, sien nie. Maar ’n ooggetuie het berig: “Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is” (Handelinge 2:31, 32). Dit was ’n feit.
4. Watter eer het Jesus verdien en ontvang? (Openbaring 5:12)
4 Baie van die gewone mense onder wie Jesus gearbei het, het geweet dat hy agting, of eer, verdien (Lukas 4:15; 19:36-38; 2 Petrus 1:17, 18). Toe het hy soos ’n misdadiger gesterf. Het dit sake verander? Nee, want Jesus het die goedkeuring weggedra van die God op wie hy gehoop het. Jehovah het hom dus weer lewend gemaak. Die feit dat ‘die God van hoop’ sy Seun opgewek en hom met onsterflikheid in die geesteryk beklee het, bewys dat die Vader sy Seun steeds geëer het. Paulus sê: “Ons sien . . . Jesus, . . . vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak.”—Hebreërs 2:7, 9; Filippense 2:9-11.
5. Op watter spesiale manier is Jesus geëer, en hoe het dit God verder tot eer gestrek?
5 Jesus, wat eer aan Jehovah gegee het, het een besondere manier genoem waarop die Vader hom geëer het. Toe hy aan sy getroue apostels verskyn het, het hy gesê: “Aan My is gegee alle [gesag] in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees . . . kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die [stelsel]” (Mattheüs 28:18-20, vgl. NW). Die Vader het die Seun dus verder geëer deur hom unieke gesag te gee. Dit moes gebruik word ten behoewe van mense wat ’n werk sou doen wat tot eer strek van die Een wat Jesus hom beywer om te eer. Beteken dit dan dat ons as onvolmaakte mense die Vader op die een of ander manier kan eer en dan deur hom geëer kan word?
Mense eer God
6. Is ’n begeerte om geëer te word gepas, maar watter gevaar hou dit in? (Lukas 14:10)
6 Die meeste mense dink skaars daaraan om God eerste te eer, want hulle stel meer daarin belang om vir hulself eer te verwerf. Sommige sê dalk selfs dat ’n begeerte om vereer te word normaal is. Dit is in sekere opsig waar, aangesien dit normaal is om ’n goeie reputasie te wil hê, wat ’n sekere mate van eer meebring (1 Timotheüs 3:2, 13; 5:17; Handelinge 28:10). En tog kan die begeerte om deur mense vereer te word maklik oordryf word. Dit blyk uit die talle wat roem tot elke prys sal najaag of enigiets sal doen om die skyn te red.
7. Waarom is verering deur mense van beperkte waarde?
7 Wanneer jy daaroor nadink, is selfs die grootste verering deur mense kortstondig, want almal sterf eerlank. Ja, die gedagtenis aan ’n paar helde word dalk wel ’n tyd lank geëer, maar die meeste van die dode is vergete. Hoeveel mense ken die name van hulle oupagrootjie of oumagrootjie, of weet wie ’n honderd jaar gelede die leiers van hulle volk was? Of iemand gelewe het of nie, verander sake in werklikheid nie. Hy is bloot ’n klein stofdeeltjie op die tydskaal, ’n druppeltjie in die lewenstroom. En al word hy na sy dood ’n rukkie geëer, is hy nie daarvan bewus nie (Job 14:21, NAV; 2 Kronieke 32:33; Prediker 9:5; Psalm 49:13, 21). Al wat ’n verskil kan maak, is as ’n mens die hoop het wat God voorsien, as ’n mens hom eer en deur hom geëer word. Dit blyk uit die lewe van twee tydgenote in eertydse Israel.
8. In watter slagyster ten opsigte van eerbetoning het Eli getrap?
8 Die een was Eli. Hy het God 40 jaar lank in die unieke posisie van hoëpriester gedien en het ook die voorreg gehad om Israel te rig (1 Samuel 1:3, 9; 4:18). Nietemin het hy mettertyd swakheid getoon met betrekking tot sy seuns Hofni en Pinehas. Hoewel hulle priesters was, het hulle hulle amp misbruik deur dele van die offers te steel en hulle aan geslagsonsedelikheid skuldig te maak. Toe hulle vader hulle net lig gekritiseer het, het God vir Eli gesê: “Jy [eer] jou seuns meer as vir My.” Jehovah het belowe dat hy die Aäronitiese priesterskap sou laat voortduur, maar dat hy die huis van Eli van die hoëpriesteramp sou onthef. Waarom? God het verduidelik: “Die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees.”—1 Samuel 2:12-17, 29-36; 3:12-14.
9. Hoe is Samuel die geleentheid gebied om Jehovah te eer?
9 In teenstelling hiermee was daar Samuel. Jy weet waarskynlik dat sy ouers hom gebring het om by die tabernakel in Silo te dien toe hy nog jonk was. Een nag het Jehovah met die seun gepraat. Jy sal dit geniet om hierdie verslag in 1 Samuel 3:1-14 te lees en jou voor te stel hoe hierdie seun wakker gemaak is, nie deur ’n harde gedreun nie, maar deur ’n sagte stem wat hy met die bejaarde Eli se stem verwar het. Dink dan hoe vreesaanjaend dit vir jong Samuel moes gewees het om die bejaarde hoëpriester te vertel van God se vaste voorneme om die huis van Eli te straf. Samuel het dit nietemin gedoen; hy het God deur gehoorsaamheid geëer.—1 Samuel 3:18, 19.
10. Hoe het God Samuel op sy beurt geëer omdat hy God geëer het?
10 Samuel het Jehovah jare lank as ’n profeet geëer, en God het hom geëer. Let hierop in 1 Samuel 7:7-13. Jehovah het Samuel se gebed om hulp om die Filistyne te verslaan gou verhoor. Sou dit nie vir jou ’n eer wees om sulke goddelike erkenning te ontvang nie? Toe Samuel se seuns nie sy voorbeeld gevolg het nie, het God hom nie verwerp soos hy Eli verwerp het nie. Dit was blykbaar omdat Samuel alles in sy vermoë gedoen het om God te eer. ’n Verdere bewys hiervan is dat Samuel die volk se versoek om ’n mensekoning afgekeur het (1 Samuel 8:6, 7). God het Samuel gebruik om sowel Saul as Dawid te salf. By die dood van Samuel het Israel hom deur roubedryf geëer. Maar belangriker nog, God het hom geëer deur hom in die Bybel te meld onder geloofsmanne wat geseën sal word met ’n opstanding en die goeie dinge wat God vir hulle voorhet (Psalm 99:6; Jeremia 15:1; Hebreërs 11:6, 16, 32, 39, 40). Toon dit nie dat dit van groot waarde is om ‘die God van hoop’ te eer nie?
Sal jy ‘die God van hoop’ eer?
11, 12. Wat moet ons met betrekking tot die verering van Jehovah in ag neem, en wat is een manier waarop ons dit kan doen?
11 Die gevalle van Jesus en Samuel, om net twee Bybelvoorbeelde te meld, bewys dat mense die hoogste voorkeur kan gee aan die verering van hulle ‘God van hoop’. En daardie twee gevalle toon dat ons, deur dit te doen, op gepaste wyse eer van God kan nastreef en ontvang. Maar hoe kan jy dit doen met redelike sekerheid dat jy God sal behaag, deur hom geëer sal word en jou Bybelse hoop sal verkry?
12 Een manier is om ’n opregte, eerbiedige vrees te hê om God te mishaag (Maleagi 1:6). Ons sal waarskynlik geredelik met daardie stelling saamstem. Maar dink aan Eli se seuns. As jy hulle gevra het of hulle God wou eer deur hom eerbiedig te vrees, sou hulle waarskynlik ja gesê het. Die probleem ontstaan wanneer ons ons begeerte om God te eer deur hom te vrees in wesenlike dade in ons alledaagse lewe moet omsit.
13. Lig toe hoe ’n begeerte om God te eer deur hom te vrees ons kan help.
13 Gestel ons staan voor ’n verloklike situasie waarin ons kan steel of ons aan die een of ander seksuele onbetaamlikheid kan skuldig maak sonder dat dit algemeen bekend word. Sal ons begeerte om God te eer ons optrede beïnvloed? Ons moet die beskouing aankweek: ‘Al kan die oortreding verborge bly, sal die blote feit dat ek voor so ’n sonde swig “die God van hoop” wie se naam ek dra tot oneer strek.’ En die feit is dat die oortreding nie vir goed verborge sal bly nie, ewemin as wat die dinge wat Eli se seuns gedoen het verborge gebly het. Dit word gestaaf deur Paulus se woorde aangaande “die regverdige oordeel van God”: “[Hy] sal [elkeen] vergeld na sy werke: aan die wat deur volharding in goeie werke heerlikheid, eer en onverganklikheid soek—die ewige lewe; maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is—grimmigheid en toorn.”—Romeine 2:5-8.
14. Wat is nog ’n manier waarop ons God kan eer, en wat kan ons ons afvra?
14 Daarenteen meld Paulus “goeie werke” wat God eer en “heerlikheid en eer” van hom meebring. Vandag is ’n belangrike goeie werk die werk wat Jesus in Mattheüs 28:19 genoem het: ‘Maak dissipels van mense van al die nasies, doop hulle en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.’ Miljoene getuies van Jehovah is oor die hele aarde besig met hierdie predikings- en onderrigtingswerk wat God eer. Talle span hulle selfs in om as pioniers voltydse bedienaars te wees, hetsy permanent of gedurende vakansies van sekulêre werk of skool. Met die oog hierop sal dit vir elkeen van ons voordelig wees om sy beskouing van hierdie werk te ondersoek. Jy kan jou byvoorbeeld afvra: ‘Eer ek “die God van hoop” deur ten volle aan die predikingswerk deel te neem?’
15. Wat het met sommige Christene gebeur met betrekking tot die verering van Jehovah deur die openbare bediening?
15 Sommige Christene wat jare lank bedrywige verkondigers was, het geleidelik minder begin doen. Hulle het ’n patroon begin volg waar hulle selde of ongereeld aan die belangrike dissipelmaakwerk deelneem. Ons bedoel nie individue wat fisiese beperkings het en weens die gevolge van bejaardheid minder doen nie. Daar is, buiten sulke mense, sekere Getuies van verskillende ouderdomme wat minder doen. Dit is interessant dat Paulus nie ’n sekere ouderdomsgroep gemeld het toe hy Christene gewaarsku het om nie te “verslap” nie. Die kern van die saak is eerder dat gereelde deelname aan die bediening inspanning verg, ongeag ’n persoon se ouderdom. Soos blykbaar in Paulus se tyd gebeur het, redeneer sommige vandag: ‘Ek het deur die jare heen my deel gedoen, nou kan nuwer Christene hulle inspan.’—Galasiërs 6:9; Hebreërs 12:3.
16. Waarom kan ons in hierdie opsig by selfondersoek baat vind?
16 Dit is beslis ’n minderheid wat op hierdie manier beïnvloed is, maar jy kan jou gerus afvra: ‘Is daar in my geval enige sodanige neiging? Hoe vergelyk my deelname aan die bediening met wat ek in die verlede gedoen het?’ Hetsy ’n mens minder begin doen het of nie, ons moet almal in gedagte hou dat ons ‘God van hoop’ belowe om ‘elkeen wat goed doen heerlikheid en eer en vrede’ te gee (Romeine 2:10). Paulus het ’n Griekse woord gebruik wat beteken “om iets teweeg te bring, te bewerkstellig, te verrig”. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons waak teen wat gebeur het met die Fariseërs en die skrifgeleerdes, wat God bloot met ’n vorm van lippediens geëer het! (Markus 7:6; Openbaring 2:10). As ons egter van ganser harte aan die openbare bediening deelneem, bevestig ons vir onsself en vir ander dat ons wel ’n werklike hoop het. Ons eer ons Skepper en Lewegewer. En ons kom in aanmerking om nou en vir ewig deur hom geëer te word.—Lukas 10:1, 2, 17-20.
Met ons waardevolle goed
17, 18. Wat is nog ’n manier waarop ons God kan eer, en waarom is teësinnigheid om dit te doen nie geldig nie?
17 Met betrekking tot nog ’n manier waarop ons ons ‘God van hoop’ kan eer, sê Spreuke 3:9 (NW): “Eer Jehovah met jou waardevolle goed en met die eerstelinge van jou hele opbrengs.” Spurrell gee hierdie vers soos volg weer: “Verheerlik Jehovah met jou rykdom, en met die beste van al jou vermeerdering.”—A Translation of the Old Testament Scriptures from the Original Hebrew.
18 Aangesien verskeie geestelikes berug geword het vir hulle grenslose hebsug en weelderige lewenswyse aarsel baie individue om bydraes aan kerke en godsdiensorganisasies te gee wat duidelik daarop uit is om bloot rykdom te vergaar (Openbaring 18:4-8). Sulke misbruike verander egter nie die geldigheid van Spreuke 3:9 nie. Hoe kan ons, ooreenkomstig daardie geïnspireerde raad, ons “waardevolle goed” gebruik om Jehovah, ons ‘God van hoop’, te “eer”?
19. Verduidelik hoe sommige Spreuke 3:9 toegepas het.
19 Jehovah se Getuies vind dat die toenemende aantal mense wat aan die Koninkryksboodskap gehoor gee dit nodig maak dat Koninkryksale vergroot word of dat nuwe sale gebou word. Hier is dan een manier om ‘Jehovah met jou rykdom te verheerlik’. Jonk en oud het dit gedoen deur hulle byvoorbeeld voor te neem om tot die boufondse by te dra. Dit sal moontlik persoonlike dissipline of selfs opofferinge verg om by sulke heimlike voornemens te bly, veral as die beplanning en voltooiing van ’n bouprojek lank duur (2 Korinthiërs 9:6, 7). Tog strek dit Jehovah waarlik tot eer wanneer geld op hierdie manier gebruik word, want die Koninkryksale is plekke waar Christene hom aanbid en waar hulle en hulle metgeselle kennis van God opdoen. Jesus se woorde in Mattheüs 6:3, 4 gee ons goeie rede om te vertrou dat God diegene sal eer wat hom op hierdie manier eer.
20. (a) Waarom is selfondersoek gepas wat die toepassing van Spreuke 3:9 betref? (b) Watter vrae kan ons ons afvra?
20 Maar ’n waarskuwing: Die Fariseërs en die skrifgeleerdes, wat volgens Jesus nie die verering van God eerste gestel het nie, het seker gemaak dat hulle heel eerste by hulle rykdom baat vind. Die raad in Mattheüs 15:4-8 maan ons dus om deur selfondersoek vas te stel of ons ‘Jehovah met ons waardevolle goed eer’ (Jeremia 17:9, 10). ’n Christen wat danksy sy sakeonderneming redelik vermoënd geword het, kan byvoorbeeld rasionaliseer dat hy moet aanhou om voltyds te werk sodat hy nog meer kan verdien. Hy kan redeneer: ‘Ander betree die pionierbediening of verhuis om te dien waar verkondigers veral nodig is, maar my spesiale manier om God te dien, is deur meer te verdien en dan baie te kan bydra.’ Sy bydraes stig dalk veel nut. Maar hy kan hom gerus afvra: ‘Weerspieël my persoonlike lewenswyse dat die hoofrede waarom ek al hoe meer wil verdien, is om die geld te gebruik om God te eer?’ (Lukas 12:16-19; vergelyk Markus 12:41-44.) En: ‘Kan ek my sake reël sodat ek in groter mate aan die belangrikste werk vir ons dag—die verkondiging van die goeie nuus—kan deelneem?’ Trouens, ongeag wat ons lewensomstandighede is, ons kan ons beweegredes en dade ondersoek en vra: ‘Hoe kan ek my Lewegewer en “God van hoop” in groter mate eer?’
21. Watter vooruitsig het ons as ons Jehovah nou eer?
21 Jehovah sal ons nie teleurstel nie. Wat ’n genoeglike vooruitsig is dit tog dat hy dalk, nou en tot in die toekoms, van ons sal sê wat hy van getroue Israel gesê het: “Op grond van die feit dat jy kosbaar was in my oë, is jy hooggeag, en ek self het jou liefgehad”! (Jesaja 43:4, NW). Daardie selfde Een belowe “die ewige lewe” aan diegene wat ‘heerlikheid en eer soek’. Hy doen hierdie belofte aan diegene wat ‘volhard in goeie werke’. Wat ’n ‘God van hoop’!
Hoe sou jy antwoord?
◻ Wat kan ons uit Jesus se voorbeeld leer in verband met mense se verering van Jehovah?
◻ Hoe het Eli en Samuel verskil wat die verering van God betref?
◻ Wat is sommige maniere waarop jy God groter eer kan gee, en wat kan jy dan ontvang?
◻ Watter toekoms wag op diegene wat die verering van ons ‘God van hoop’ eerste stel?
[Venster op bladsy 20]
BRIEWE IN VERBAND MET BYDRAES
Hier is ’n paar uittreksels uit briewe wat die Wagtoringgenootskap in Brooklyn, New York, ontvang het:
“My naam is Abijah. Ek is nege jaar oud. Ek wil julle [R8] gee vir die broers wat aan die Koninkryksale werk. Hulle kan dit vir timmerhout of vir lekkergoed gebruik, ek gee nie om nie.”—Oregon.
‘Vind hierby ingesluit my persoonlike tjek. Ek is meer as 96 jaar oud en baie hardhorend, maar ek geniet dit werklik om geld hiervoor te spaar. Ja, ek weet, ek bestuur ’n tweedehandse motor en ek bring nie die winter in Florida of Kalifornië deur nie. Ek kan bitter min doen om die goeie nuus van die Koninkryk van huis tot huis te verkondig. Maar deur my geld te spaar en daarvan aan julle te stuur, voel ek steeds dat ek deel daaraan het.’—Ohio.
‘Dankie vir alles wat julle vir die Koninkryksaal gedoen het. Hierdie geld [R10] is om julle te help met boeke en Die Wagtoring vir ons om te lees. Die geld kom uit my spaarvarkie. Dankie vir die Skool-brosjure wat ons van dwelms vertel.’
“Vind asseblief hierby ingesluit ’n tjek. [Vierhonderd rand] daarvan is vir die Koninkryksaalbouprojek. Die res kan gebruik word op enige manier wat julle goeddink om die predikingswerk te bevorder.”—Missouri.