Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 12/15 bl. 21-25
  • Wanneer waarskuwings veronagsaam en God beproef word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wanneer waarskuwings veronagsaam en God beproef word
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom het hulle nie gevlug nie?
  • Jehovah se hand is nie kort nie
  • Gesonde redenering
  • Eertydse waarskuwings wat veronagsaam is
  • Hoe kan ons God tereg beproef?
  • “Hulle het geen ag daarop geslaan nie”
    Hou aan waak!
  • Is dit God se skuld?
    Ontwaak!—2007
  • Hulle lewe is gered omdat hulle op ’n waarskuwing ag geslaan het
    Hou aan waak!
  • Natuurrampe—Is God daarvoor verantwoordelik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 12/15 bl. 21-25

Wanneer waarskuwings veronagsaam en God beproef word

“Nie eens toe die water om hulle enkels was, wou hulle vlug nie.”—El País, Colombia,

DAARDIE opskrif in ’n Colombiaanse dagblad het een van die redes vir die verskriklike verlies van menselewens tydens die Armero-lawineramp in November 1985 beklemtoon. Dora Elisa Rada Esguerra, ’n telefoniste in Armero wat onraad gemerk het toe die as begin val en die rivier sy walle oorstroom het, het besluit om te vlug. Toe het sy haar medewerkers by die telefoonsentrale teen die naderende tragedie gewaarsku. Sy het later verduidelik: “Hulle het die water gesien wat sterk, baie sterk, gevloei het, maar selfs toe het hulle nie ’n voet versit nie.” Dora het uit die gedoemde stad gevlug.

Die ander telefoniste asook 21 000 ander slagoffers het gesterf in ’n stortvloed van vulkaniese modder, ys en rotse wat met ’n gedreun van die vulkaan Nevado del Ruiz neergestort het. Onder diegene wat weggeveeg is, was die burgemeester van die dorp en die meeste lede van die plaaslike polisiemag, wat toon dat nouliks enigiemand die bedreiging ernstig opgeneem het—totdat dit te laat was.

Waarom het hulle nie gevlug nie?

Daar was tekens en waarskuwings van die dreigende ramp. Waarom het so baie mense in Armero dit veronagsaam? In die eerste plek het amptelike waarskuwings te laat gekom, toe onheil reeds die stad begin tref het. Die mense is tevore aangesê om kalm te bly en meegedeel dat oorstromings kon plaasvind, maar dat dit niks ernstigs sou wees nie. Die stad is egter deur ’n ontsaglike muur van dood weggeveeg wat in die Lagunilla-rivier afgekom het.

Sommige wou nie hulle huise en hulle besittings verlaat nie, waarskynlik omdat hulle geweet het dat plunderaars kort daarna sou inbreek en steel. Dit was toe ook ’n wesenlike gevaar. ’n Paar plunderaars is deur die weermag geskiet. Sommige wat die ramp oorleef het, het na hulle oorstroomde huise teruggekeer en gevind dat slotte van die deure afgeskiet en kosbaarhede gesteel is. Maar die meeste dorpenaars het nie lank genoeg geleef om na hulle huise terug te keer nie. En in die meeste gevalle was daar nie huise waarna hulle kon terugkeer nie.

Ander het miskien gemeen dat God of die Maagd Maria om hulle ontwil sou ingryp. Maar is dit redelik om te verwag dat God vandag ten behoewe van sekere mense moet ingryp wanneer natuurrampe plaasvind? Waarom moet sommige deur goddelike ingryping gered word en ander in soortgelyke toestande toegelaat word om te sterf?

Het ’n persoon ’n vaste grondslag om te glo dat hy onkwesbaar is en spesiale beskerming van God geniet? Kan ’n motorbestuurder byvoorbeeld op sy “beskermengel” of gunsteling-“heilige” vertrou? Te veel opregte Katolieke met “Sint” Christophorus-medaljons het in motorongelukke gesterf dat dit geloofwaardig kan wees. Of moet ’n Christen glo dat hy spesiale beskerming van God geniet wanneer hy per vliegtuig reis? Wat van spesiale beskerming wanneer hy aan ’n gevaarlike sport deelneem? Is dit redelik om God in hierdie omstandighede te beproef?

Jehovah se hand is nie kort nie

Die Skrif help ons om te sien dat daar situasies is waar Jehovah God moontlik ten behoewe van sy volk sal ingryp indien die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk daardeur geraak of sy gemeente bedreig word. Die profeet Jesaja verseker ons: “Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie.”—Jesaja 59:1.

Die Bybel gee duidelike voorbeelde van Jehovah se beskermende hand met betrekking tot die apostels. Koning Herodes, wat daarop uit was om die Jode se guns te win, het Petrus onder streng bewaking in die tronk laat opsluit. Die gemeente in Jerusalem het vurig vir hom gebid. Wat het gebeur? Jehovah se engel het gekom en Petrus uit die tronk vrygelaat. Selfs Petrus was verbaas oor wat gebeur het. Hy het uiteindelik besef wat aan die gang was en gesê: “Nou weet ek waarlik dat die Here sy engel gestuur en my gered het uit die hand van Herodes.”—Handelinge 12:1-11.

Dieselfde verslag sê vir ons dat Herodes reeds die apostel Jakobus, die broer van Johannes, laat doodmaak het. Jehovah het toegelaat dat daardie marteldood plaasvind. Dit is derhalwe duidelik dat hoewel Jehovah beskerming en verlossing kan gee hy moontlik toelaat dat gebeure hul gang gaan, en sodoende toelaat dat sommige van sy toegewyde knegte hulle onkreukbaarheid selfs tot die dood toe bewys. Die woorde van Jakobus, die halfbroer van Jesus, is gepas: “Julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ’n damp wat vir ’n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.”—Jakobus 4:14, 15; vergelyk Job 2:3-5.

Een ding is seker, in tye van natuurrampe en ongelukke geld die volgende Bybelbeginsel ewe veel vir alle mensê: “Tyd en lotgeval tref hulle almal” (Prediker 9:11). En hoewel dit gepas is om in tye van vervolging om hulp en beskerming te bid, moet ons besef dat “vervolging onvermydelik is vir diegene wat vasbeslote is om waarlik Christelike lewens te lei”.—2 Timotheüs 3:12, Phillips.

Gesonde redenering

Hoewel Jehovah weliswaar in die verlede opgetree het om sy volk te beskerm, soos toe hy Israel uit Egipte en van Farao se leër gered het, sal dit vermetel wees om te dink dat God elke Christen moet beskerm teen die gevolge van “tyd en lotgeval” of teen die gevolge van sy eie onverstandigheid. Paulus se brief aan die Christene in Rome, waarvan sommige miskien later as martelaars in die arena gesterf het, het hierop betrekking: “Ek [sê] vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ’n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees [“met ’n gesonde verstand te dink”, NW] na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het” (Romeine 12:3). J. B. Phillips se vertaling sê: “Probeer om jou bekwaamhede nugter te beoordeel.”

Die raad wat hier gegee word, is vandag net so geldig, hoewel in ’n ander verband. Openbaar dit “’n gesonde verstand” wanneer ’n Christen dink dat hy roekeloos of onder die invloed van alkohol kan bestuur en skotvry daarvan kan afkom omdat hy God se beskerming het? Het die Christen ‘’n nugtere beoordeling van sy bekwaamhede’? En het hy werklik ‘sy naaste lief soos homself’ as hy sy medemens se lewe in gevaar stel?—Mattheüs 22:39.

Laat ons nou gesonde redenering toepas op die situasie waar die mens gemeenskappe gevestig het in gebiede wat aan aardbewings onderhewig is of waar aktiewe vulkane ’n sluimerende maar wesenlike gevaar is. ’n Goeie voorbeeld is die gebied rondom die Nevado del Ruiz-vulkaan in Colombia, waarvan reeds melding gemaak is. Volgens die Colombiaanse dagblad El País het argitek César Zárate in 1982 ’n verslag opgestel wat aangedui het dat die Lagunilla-rivier Armero in die verlede oorstroom het en dat die stad steeds sonder voldoende beskerming was. Dit was ook bekend dat die Nevado del Ruiz-vulkaan sedert 1570 ses keer uitgebars het. Volgens geskiedkundige bronne het die vulkaan ’n gereelde aktiwiteitsiklus wat tussen 140 jaar 9 maande en 110 jaar 2 maande wissel.

Hierdie inligting is ’n paar weke voor die Armero-ramp aan die Sondaguitgawe van die Colombiaanse koerant El Tiempo gestuur: Dit het uitdruklik gesê: “Die volgende oorstroming . . . sal ongeveer middel November vanjaar plaasvind. Die kenmerkende tekens is reeds opgemerk: rook uit die ‘Arenas’-krater. As- en gasreën. Besmetting van die water en die gewasse. Walglike reuke. . . . ’n Dreuning uit die vulkaan op 11 September. Toenemende smelting van die sneeubedekking . . . Dit is gevolglik tyd om op te tree.”

Maar die artikel is nie gedruk nie. Miskien is dit as onnodige onheilsprofesieë beskou. El Tiempo se redaksielede het dit later toegeskryf aan “’n gebrek aan voorsorg, ’n gebrek aan intuïsie of die naïewe geloof dat niks sou gebeur nie”.

Maar Nevado del Ruiz het presies op tyd op die nag van 13 November 1985 tot uitbarsting gekom. Meer as 20 000 mense het hulle lewens in Armero verloor, en daar was duisende slagoffers in Chinchiná en ander nabygeleë dorpe. Onder diegene wat in Armero gesterf het, was 41 van Jehovah se Getuies en hulle metgeselle. Sommige het ongelukkig na die Koninkryksaal gevlug wat laer geleë was. Hulle is daarmee meegesleur en begrawe. Ander Getuies kon gelukkig na hoër gebiede vlug en is gered.

Verstandigheid is vanselfsprekend maklik ná die werklikheid. Maar lesse kan ten minste uit daardie verskriklike gebeure getrek word.

Eertydse waarskuwings wat veronagsaam is

Die Bybel gee voorbeelde van party wat tydige waarskuwings veronagsaam het of wat gedink het ‘dit kan nie in hulle tyd’ of in hulle deel van die aarde gebeur nie. Een duidelike geval is toe Lot gewaarsku is om uit Sodom en Gomorra te vlug. Hy het sy skoonseuns gewaarsku en gesê: “Maak julle klaar, gaan uit hierdie plek uit, want die HERE gaan die stad verwoes.” Hoe het hulle gereageer? “[Lot] was in die oë van sy skoonseuns soos een wat gekskeer.” Die ‘gekskeerdery’ was kort van duur. Jehovah het swael en vuur op die gedoemde, verdorwe stede laat reën. Die skoonseuns het saam met die onsedelike inwoners van daardie streek gesterf. Lot se vrou het klaarblyklik met twyfel en bedenkinge uit Sodom gevlug. Sy “het agter [Lot] omgekyk, en sy het ’n soutpilaar geword”.—Genesis 19:12-26.

Jesus het meer as 1 900 jaar gelede voorspel dat eertydse Jerusalem ’n verskriklike vernietiging sou ondergaan. Hy het spesifieke besonderhede gegee oor gebeure wat voor die stad se verwoesting sou plaasvind deur te sê: “Wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is.” Hy het dié waarskuwing bygevoeg: “Dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie.”—Lukas 21:20-24.

Toe die Romeinse leërs Jerusalem in die jaar 66 G.J. omsingel het, het die Christene in daardie stad die teken wat Jesus gegee het, herken. Toe het generaal Cestius Gallus, met algehele oorwinning binne sy bereik, sy troepe om onverklaarbare redes onttrek. Dit was die geleentheid waarvoor die Christene gewag het, en hulle het na die oorkant van die Jordaan gevlug. In 70 G.J. het die Romeine onder generaal Titus teruggekeer en Jerusalem vernietig. Honderdduisende Jode wat in die gedoemde stad aangebly het, het gedurende die beleëring en die geveg gesterf.

In hierdie gevalle is goddelike waarskuwing weliswaar gegee. Maar die punt is dat net ’n paar op die boodskap ag geslaan en gevlug het. Die meerderheid het nie daarop ag geslaan nie. Hulle het geweier om God se waarskuwing ernstig op te neem.

Hoe kan ons God tereg beproef?

Selfs met natuurrampe is daar dikwels waarskuwings—die geskiedenis van die gebied, onlangse tekens of wetenskaplike gegewens—wat ’n sterk moontlikheid van gevaar binne ’n sekere tydperk aandui. Miskien is ’n gebied onderhewig aan oorstromings. Dan sal ’n redelike persoon al die faktore oorweeg om te besluit of dit nodig en moontlik is om na ’n ander streek te verhuis. Dit is natuurlik onmoontlik om die tyd en plek van elke natuurramp te voorspel. As die ergste sou gebeur, kan die wet van gemiddeldes en ook die veiligheidsgrens nogtans in aanmerking geneem word. Maar dit is nie redelik om spesiale beskerming van God te verwag nie. As ons dit sou doen, sal ons God op ’n ongeoorloofde of ongebalanseerde manier op die proef stel.

Maar Jehovah nooi ons om hom in ’n ander sin te beproef. In die profeet Maleagi se tyd het Israel God verkeerdelik beproef deur minderwaardige offerandes op die altaar te offer. Deur hulle besoedelde brood en lam diereoffers het hulle getoon dat hulle Jehovah se tafel verag. Jehovah het hulle deur Maleagi genooi om terug te keer en hulle handelwyse reg te stel. “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie.”—Maleagi 3:10.

Ja, wat geestelike seëninge betref, kan ons Jehovah se getrouheid “beproef”, of toets. As ons eers sy Koninkryk en sy geregtigheid soek, dan sal al die ‘ander nodige dinge vir ons bygevoeg word’, soos Jesus gesê het. Jesus het ook gesê: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” As onvolmaakte mense goeie gawes aan hulle kinders gee, “hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom [in ooreenstemming met sy wil] bid”!—Mattheüs 6:33; 7:7-11; 1 Johannes 5:14.

’n Waarskuwing wat daarop neerkom dat Jehovah spoedig sy vergeldingsdaad aan alle dele van Satan se stelsel sal voltrek, word tans aan die nasies gegee (Openbaring 16:14, 16; 18:20). Miljoene verstandige mense slaan ag op hierdie boodskap wat deur Jehovah se Getuies verkondig word en skaar hulle aan die kant van God se Koninkryksheerskappy. Hulle kom uit die korrupte politieke en godsdienstige alliansie voordat dit te laat is (Openbaring 18:4). Sodoende berei hulle hul voor vir ewige lewe onder Christus se heerskappy oor ons aarde, wat in ’n paradys van geregtigheid en matigheid omskep sal word. Slaan jy ag op hierdie waarskuwing?—2 Petrus 3:13; Titus 1:2.

[Prent op bladsy 21]

’n Diploma wat in die puin van Armero gevind is, is ’n sombere herinnering dat duisende nie op waarskuwings ag geslaan het nie

[Prent op bladsy 22]

Openbaar jou bestuurgewoontes gesonde Christelike denke?

[Prente op bladsy 23]

Die woeste terrein waar Armero geleë was. Meer as 20 000 mense het hier omgekom

Hierdie motorwrak som die ramp wat Armero getref het op

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel