Insig in die nuus
’n Verdeelde huis
Jesus het gesê dat “as ’n huis teen homself verdeeld is” dit nie kan bly staan nie (Markus 3:25). Dit is die posisie waarin die Verenigde Kerk van Kanada, daardie land se grootste Protestantse kerk, hom ten opsigte van die geskil oor homoseksualiteit en die ordening van homoseksuele mans en vroue bevind.
’n Resolusie wat deur die 32ste Algemene Konsilie van die Verenigde Kerk van Kanada aangeneem is, laat homoseksuele toe om as geestelikes te dien. Volgens The Globe and Mail, ’n Kanadese koerant, sê die resolusie dat almal, ongeag hul seksuele neigings, “welkom is om ’n volle lidmaat van die Kerk te wees of te word mits hulle geloof in Jesus Christus en gehoorsaamheid aan Hom bely” en dat “alle lidmate van die Kerk vir die geordende bediening in aanmerking kan kom.” Die Verenigde Kerk het ’n verslag van 125 bladsye uitgegee wat sê: “Daar is ’n verskeidenheid seksuele neigings: homoseksueel, biseksueel, heteroseksueel. Hulle moet as natuurlik en as ’n gawe van God beskou word.”
Waar die Globe kommentaar lewer op die kerk se besluit om homoseksuele as geestelikes te aanvaar, verduidelik dit dat “die voortbestaan van die kerk die hoofsaak was”. Verslae toon dat die kerk sedert 1972 al hoe meer lidmate verloor en dat dit finansieel in die knyp sit. Die rede? Geestelike John Tweedie meld “’n onophoudelike eksodus uit die kerk namate mense dit van sy Christelike oorsprong sien wegdrywe”. “Hulle aanvaarding van dinge soos homoseksualiteit, buite-egtelike seks, aborsie op aanvraag en ontbindbare huwelike is dus ’n toenadering tot ’n jonger geslag”, berig The Post van Kanada.
Maar is ’n mens gehoorsaam aan Christus as jy terselfdertyd ’n kompromis ten opsigte van Bybelbeginsels maak? Inteendeel, God se Woord sê uitdruklik: “Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes . . . of mense wat homoseksualiteit beoefen . . . sal deel kry aan die koninkryk van God nie.”—1 Korinthiërs 6:9, 10, NAV.
Gebruik die roede
“Hou die roede terug, maar let op die gevolge” was die opskrif van ’n artikel in The Natal Mercury wat die hedendaagse neiging betreur het om kinders nie meer tuis of op skool slae te gee nie. Wat is die rede vir hierdie veranderde gesindheid ten opsigte van slae? Professor Smythe, ’n kinderspesialis aan die Universiteit van Natal, gee kindersielkundiges vierkant die skuld. “Wanneer ’n mens die oorsaak van ’n emosionele aangeleentheid ondersoek”, verduidelik Smythe, “vind jy gewoonlik dat die gesindheidsverandering met sielkundige dogma begin. Eers heftig gekant teen enige vorm van lyfstraf, dan geskok deur die gevolge van die gebrek aan dissipline weens ’n beleid van geen frustrasies en geen inhibisies nie.”
Smythe is ten gunste van ’n balans. “Uiterstes in permissiwiteit is net so sleg soos uiterstes in straf”, sê hy, “maar die feit dat verbetering makliker is vir die kind wat te veel gedissiplineer is as vir die een wat te min gedissiplineer is, toon dat dit beter is om na die kant van dissipline oor te hel wanneer jy twyfel.” Die professor beklemtoon dat liefdevolle besorgdheid oor die kind se huidige en toekomstige welsyn die motief moet wees wanneer jy lyfstraf toedien.
Sulke advies is nie nuut nie maar ’n terugkeer na die onfeilbare Bybelse leiding: “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.”—Spreuke 13:24; kyk ook Spreuke 23:13, 14.
Dobbelary nie sondig nie?
The Sheboygan Press berig dat ’n Rooms-Katolieke parogie onlangs die eerste godsdienstige instelling in Wisconsin, VSA, geword het wat ’n permit aangevra het om loterykaartjies te verkoop. Hoewel die verkope beskryf word as ’n poging om weeklikse kollektes “aan te vul”, sê die Press dat “’n poging om die bywoning by sy bingospelle te verbeter” die hoofrede is vir die voorgestelde verkope van loterykaartjies. Die kerk reël glo reeds bingospelle met ’n profyt wat “wissel tussen [R2 000 en R2 500]” per nag.
Toe hy gevra is of dobbelary werklik sondig is, het pastoor Robert Fleishman geantwoord: “Ek weet nie.” Hoewel hy erken het dat die kerk se pogings om bingo of die verkope van loterykaartjies te bevorder “moontlik effens bots met ons algemeen geestelike roeping”, het hy bygevoeg dat “as hulle nie hierheen kom nie, hulle elders sal gaan” om hul geld te spandeer.
Moet ’n godsdiensleier wat beweer dat hy ’n volgeling van Christus is dobbelary bevorder? Nouliks! Dobbelary in enige vorm prikkel een van die slegste eienskappe in mense—gierigheid. Diegene wat dit bevorder, moedig ander aan om te glo dat dit reg is om munt te slaan uit ander se verliese. Maar God se geïnspireerde Woord sê onomwonde dat gierigaards nie God se Koninkryk sal beërwe nie.—1 Korinthiërs 6:9, 10; Efesiërs 4:19; 5:3.