Hoe skadelike skinderpraatjies gesmoor kan word
“HERE, stel ’n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.”—PSALM 141:3.
1. Watter vermoë het ons godgegewe brein?
JEHOVAH het ons ’n brein gegee, en hoe wonderlik is dit tog! Die boek The Incredible Machine sê: “Selfs die mees gesofistikeerde rekenaars wat ons ons kan voorstel, is primitief vergeleke met die feitlik oneindige kompleksiteit en aanpasbaarheid van die mensebrein . . . Die miljoene seine wat elke oomblik deur jou brein flits, dra ’n buitengewone hoeveelheid informasie. Hulle bring nuus oor die toestande binne sowel as buite jou liggaam . . . Wanneer ander seine informasie verwerk en ontleed, bring dit sekere emosies, herinneringe, gedagtes of planne wat tot ’n besluit lei voort. Seine van jou brein laat ander dele van jou liggaam feitlik onmiddellik weet wat om te doen . . . Intussen monitor jou brein ook jou asemhaling, die chemiese samestelling van jou bloed, jou temperatuur en ander lewensbelangrike prosesse wat plaasvind sonder dat jy daarvan bewus is.”—Bladsy 326.
2. Watter vraag moet nou ondersoek word?
2 So ’n wonderlike gawe van God moet tog seker nooit as ’n vullisblik gebruik word nie. Maar ons kán die brein misbruik deur na skadelike skinderpraatjies te luister en dit te versprei. Hoe kan ons sulke kwaadpratery vermy en ander help om hulle nie daaraan skuldig te maak nie?
Waardeer jou godgegewe verstand
3. Waarom sal geen ware Christen hom aan skadelike praatjies skuldig maak nie?
3 Waardering vir ons godgegewe verstand sal verhoed dat ons na skadelike skinderpraatjies luister en dit versprei. Jehovah se gees sal nie ’n enkele persoon beweeg om sy verstand met sulke idees te vul en sy tong te gebruik om enigiemand te kwets nie. God se Woord sê eerder: “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes” (Jesaja 55:7). Die verstand van ’n goddelose is vol bose idees, en hy skroom nie om regskape mense te belaster nie. Maar ons sal nooit sulke spraak verwag van diegene wat hulle godgegewe verstand waardeer nie.
4. Hoe sal ons ons verstand en ons tong gebruik as ons ons brein en spraakvermoë waardeer?
4 Behoorlike waardering sal ons help om nie ons verstand en ons tong te gebruik om ons sondige vlees te bevredig nie. Ons sal eerder ons denke en spraak op ’n verhewe vlak hou. Ons kan skadelike skinderpraatjies vermy deur biddend staat te maak op die Een wie se gedagtes baie hoër as ons s’n is. Die apostel Paulus het gemaan: “Alles wat waar is [nie vals of lasterlik nie], alles wat eerbaar is [“van ernstige belang”, NW, nie beuselagtig nie], alles wat regverdig is [nie goddeloos of skadelik nie], alles wat rein is [nie onrein laster of bose agterdog nie], alles wat lieflik is [nie haatdraend en kleinerend nie], alles wat loflik is [nie neerhalend nie]—watter deug [nie verdorwenheid nie] en watter lof [dinge wat nie afkeurenswaardig is nie] daar ook mag wees, bedink dit.”—Filippense 4:8.
5. Wat het medegelowiges ten opsigte van Paulus gesien en gehoor?
5 Paulus het bygevoeg: “Wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees” (Filippense 4:9). Wat het ander ten opsigte van Paulus gesien en gehoor? Dinge wat rein en geestelik opbouend was. Hy het hulle nie jongste skinderstories oor Lidia of Timotheüs vertel nie. Jy kan seker wees dat Paulus nie na gerugte oor die ouere manne in Jerusalem geluister het of dit versprei het nie.a Waarskynlik het respek vir sy godgegewe verstand Paulus gehelp om nie by skadelike skinderpraatjies betrokke te raak nie. Ons sal sy voorbeeld volg as ons die verstand en die tong wat Jehovah ons gegee het werklik waardeer.
Respekteer God en sy Woord
6, 7. (a) Hoe het Jakobus die uitwerking van die onbedwingbare tong toegelig? (b) Wat sal nie gebeur nie as ons God en sy Woord respekteer?
6 Hartgrondige respek vir God en sy heilige Woord sal ons ook help om skadelike skinderpraatjies te smoor. Trouens, sulke respek sal ons beweeg om ag te slaan op die raad van die dissipel Jakobus, wat ’n sterk waarskuwing oor die tong gerig het (Jakobus 3:2-12, vgl. NW). As ’n persoon die tong sou kon beheer, sou hy sy hele liggaam kon beteuel, net soos ’n stang in ’n perd se bek daardie dier kan stuur. Soos ’n blote vonk ’n woud aan die brand kan steek, so kan die kleine tong ’n vuur wees wat die hele lewensloop aan die brand steek. Die mens kan wilde diere, voëls, kruipende diere en seediere tem, “maar die tong kan geen mens tem nie”, het Jakobus gesê. Dit is egter nie ’n verskoning om geen poging aan te wend om skadelike skinderpraatjies te smoor nie.
7 Jakobus het ook gesê dat die tong seën en vervloeking uit dieselfde mond laat kom. Dit is nie betaamlik nie, want ’n fontein laat nie vars sowel as bitter water opborrel nie. ’n Vyeboom kan nie olywe voortbring nie, en soutwater bring nie vars water voort nie. Solank Christene onvolmaak is, sal die tong natuurlik nie volmaak getem kan word nie. Dit moet ons barmhartig teenoor berouvolle oortreders maak, maar dit verskoon nogtans nie skadelike skinderpraatjies nie. So ver as dit van ons afhang, sal sulke giftige misbruik van die tong nie voortduur as ons God en sy Woord waarlik respekteer nie.
Hoe gebed kan help
8. Hoe kan gebed ons help om kwetsende skinderpraatjies te smoor?
8 Die versoeking om na skadelike skinderpraatjies te luister en dit dan te versprei, kan baie groot wees. Moet jy God dan nie om vergifnis en hulp vra as jy in die verlede vir sulke versoeking geswig het nie? Jesus het ons geleer om te bid: “Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose” (Mattheüs 6:13). Christene wat in erns bid dat God hulle nie aan sulke verleidelike dog bose praatjies oorlaat nie, sal nie vir hierdie lis van Satan swig nie; hulle sal van die groot lasteraar gered word.
9. Wat kan ons bid as ons in die versoeking kom om enigiemand te belaster?
9 As ons in die versoeking kom om enigiemand te belaster, kan ons bid: “HERE, stel ’n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe” (Psalm 141:3). Ons kan ons vooruitsigte op die ewige lewe vernietig deur te swig vir versoeking en die Duiwel, daardie haatdraende, leuenagtige, moorddadige lasteraar, na te volg (Johannes 8:44). Die apostel Johannes het geskryf: “Elkeen wat sy broeder haat, is ’n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.”—1 Johannes 3:15.
Liefde verdryf skinderpraatjies
10. Wat is ons aan ander verskuldig pleks van oor hulle te skinder?
10 Ons almal is iets aan ander verskuldig, maar ons is hulle nie haat wat kwetsende skinderpraatjies laat ontstaan verskuldig nie. “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê”, het Paulus geskryf (Romeine 13:8). Ons moet daagliks daardie skuld betaal pleks van sleg van ander te praat en afbreuk te doen aan hulle reputasie. As ons beweer dat ons Jehovah liefhet, kan ons nie ’n mede-aanbidder belaster nie, “want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie”.—1 Johannes 4:20, NAV.
11. Hoe kan Jesus se gelykenis oor die skape en die bokke ons stof tot nadenke gee met betrekking tot skadelike skinderpraatjies?
11 Beskou Jesus se gelykenis van die skape en die bokke. Die bokagtiges is meegedeel dat wat hulle aan Christus se broers gedoen het, beskou is asof dit aan hom gedoen is. Sal jy oor Christus skinder? As jy nie slegte dinge van jou Heer en Meester sal sê nie, moet jy sy gesalfde broers eweneens nie so behandel nie. Moenie sondig soos die bokke, wat “sal weggaan in die ewige straf” nie. As jy Jesus se broers liefhet, moet jy dit toon deur wat jy van hulle sê.—Mattheüs 25:31-46.
12. Wat is die kerngedagte van Spreuke 16:2, en watter uitwerking moet dit op ons denke, optrede en spraak hê?
12 Aangesien ons almal sondaars is en Jesus se losprysoffer nodig het, sal iemand wat ongunstige aanmerkings oor ons wil maak heelwat kan vind om te sê (1 Johannes 2:1, 2). Ons kan natuurlik dink dat ons heel goed vaar. “Al die weë van ’n man is suiwer in sy oë, maar die HERE toets die geeste.” God maak hom nooit aan voortrekkery of partydigheid skuldig nie (Spreuke 16:2; Handelinge 10:34, 35). Hy oorweeg ons gees en let op ons gesindheid en die impulse wat ons denke, optrede en spraak ten grondslag lê. Daarom wil ons tog seker nie hê dat God moet vind dat ons onsself verkeerdelik as rein beskou en meen dat ander onrein is en skadelike aanmerkings verdien nie. Ons moet, soos Jehovah, onpartydig, barmhartig en liefdevol wees.
13. (a) Hoe kan die feit dat die liefde “lankmoedig en vriendelik” is help om skadelike skinderpraatjies te smoor? (b) Wat sal verhoed dat ons slegte dinge van iemand sê wat ’n diensvoorreg ontvang wat ons nie het nie?
13 Die toepassing van wat Paulus in 1 Korinthiërs 13:4-8 (vgl. NW) gesê het, kan ons help om skadelike skinderpraatjies te smoor. Hy het geskryf: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik.” ’n Suster wat vervolging in ’n verdeelde huisgesin moet verduur, groet ons dalk nie opgeruimd nie. Of dalk is party fisies stadiger, moontlik weens swak gesondheid. Behoort liefde ons nie te beweeg om geduldig en vriendelik teenoor sulke individue te wees pleks van hulle slagoffers van kritiese skinderpraatjies te maak nie? ‘Die liefde is nie jaloers nie, praat nie groot nie, is nie opgeblase nie.’ As ’n ander Christen ’n diensvoorreg ontvang wat ons nie het nie, sal liefde dus verhoed dat ons slegte dinge van hom sê en te kenne gee dat hy nie geskik is vir die taak nie. Liefde sal ook verhoed dat ons oor ons prestasies spog, praatjies wat diegene wat minder bevoorreg is neerslagtig kan maak.
14. Watter verdere aspekte van liefde sal ’n uitwerking hê op wat ons van ander sê?
14 Paulus het ook gesê die liefde ‘handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie toornig nie, reken die kwaad nie toe nie’. Pleks van onwelvoeglike, onchristelike dinge te sê, moet ons toelaat dat liefde ons beweeg om goeie dinge van ander te sê en hulle belange in ag te neem. Dit verhoed dat ons toornig word en slegte dinge van mense sê weens werklike of denkbeeldige leed wat hulle ons aangedoen het. Aangesien ‘liefde nie bly is oor ongeregtigheid nie, maar bly is saam met die waarheid’ verhoed dit selfs dat ons betrokke raak by skadelike skinderpraatjies oor teenstanders wat onreg verduur.
15. (a) Watter uitwerking moet die feit dat die liefde ‘alles glo en hoop’ op ons hê? (b) Watter fasette van die liefde kan ons help om getrou te bly aan Jehovah se organisasie selfs as ander slegte dinge daarvan sê?
15 Die liefde ‘glo en hoop alles’ wat in God se Woord is, en beweeg ons om die geestelike voedsel wat deur die ‘getroue dienskneg’-klas voorsien word te waardeer pleks van na die lasterlike verklarings van leuenagtige afvalliges te luister (Mattheüs 24:45-47; 1 Johannes 2:18-21). Aangesien ‘die liefde alles verdra en nooit faal nie’, help dit ons ook om lojaal te bly teenoor God se organisasie selfs as “valse broeders” of ander persone slegte dinge van die organisasie of die lede daarvan sê.—Galasiërs 2:4.
Respek werk skinderpraatjies teë
16. Hoe is Paulus deur valse broers in Korinthe behandel?
16 Respek vir medegelowiges help ook om kwetsende skinderpraatjies te smoor. Aangesien hulle vir God aanvaarbaar is, moet ons beslis nie van hulle kwaadpraat nie. Laat ons nooit soos die “valse broeders” wees wat Paulus teëgekom het nie. Hulle het ongetwyfeld bose dinge van hom gesê (2 Korinthiërs 11:26). Afvalliges het ongetwyfeld ook van hom kwaadgepraat. (Vergelyk Judas 3, 4.) In Korinthe het party mense gesê: “Sy briewe is gewigtig en kragtig, maar sy teenwoordigheid in persoon is swak en sy spraak veragtelik” (2 Korinthiërs 10:10, NW). Mense maak nie sulke aanmerkings oor diegene vir wie hulle lief is nie.
17. Watter soort woorde het Diotrefes teen die apostel Johannes gebruik?
17 Beskou die apostel Johannes, van wie Diotrefes slegte dinge gesê het. “Ek het aan die gemeente geskrywe”, het Johannes gesê, “maar Diotrefes, wat onder hulle die eerste wil wees, steur hom nie aan ons nie [“ontvang niks van ons met respek nie”, NW]. Daarom, as ek kom, sal ek hom herinner aan die werke wat hy doen deur met slegte woorde teen ons uit te vaar” (3 Johannes 9, 10). Sulke kwaadpratery was ’n baie ernstige saak, en as ons vandag na soortgelyke praatjies luister of dit versprei, moet ons onmiddellik ophou om dit te doen.
18. Hoe was Demetrius anders as Diotrefes, en watter uitwerking kan hierdie kontras op ons gedrag hê?
18 Toe Johannes respek vir regskape mense aangemoedig het, het hy vir Gajus gesê: “Moenie navolg wat kwaad is nie, maar wat goed is. Hy wat goed doen, is uit God; maar hy wat kwaad doen, het God nie gesien nie. Van Demetrius is deur almal getuienis gegee en deur die waarheid self; en ons getuig ook, en julle weet dat ons getuienis waar is” (3 Johannes 1, 11, 12). Elkeen van ons kan hom afvra: Is ek ’n kwaadpraterige Diotrefes, of is ek ’n getroue Demetrius? As ons medegelowiges respekteer, sal ons nie negatiewe aanmerkings oor hulle maak en ander rede gee om ons as kwaadpraters te beskou nie.
19. Hoe het valse broers C. T. Russell probeer belaster?
19 Daar was nie net in die eerste eeu valse broers nie. Gedurende die 1890’s het gewetenlose individue wat met God se organisasie omgegaan het probeer om beheer oor die Wagtoringgenootskap te verkry. Hulle het teen Charles Taze Russell saamgespan en ’n einde aan sy amp as die eerste president van die Genootskap probeer maak. Nadat die sameswering sowat twee jaar lank gebroei het, het dit in 1894 tot ’n uitbarsting gekom. Die valse aanklagte het hoofsaaklik oor Russell se beweerde oneerlikheid in sakeaangeleenthede gehandel. Party van die kleinsielige aanklagte het die beskuldigers se oogmerk verraai—die belastering van C. T. Russell. Onpartydige Christene het die saak ondersoek en gevind dat hy in die reine was. Hierdie plan om “mnr. Russell en sy werk die lug in te blaas” het gevolglik misluk. Soos Paulus is broer Russell dus deur valse broers aangeval, maar dit was duidelik dat hierdie beproewing een van Satan se liste was. Daarna is die samesweerders nie meer geskik geag om Christelike omgang te geniet nie.
Goeie werke smoor skadelike skinderpraatjies
20. Wat het Paulus teen party van die jonger weduwees gehad?
20 Paulus het geweet dat skadelike skinderpraatjies dikwels verband gehou het met ledigheid, nie met ’n oorvloed goeie werke nie. Hy was nie ingenome met die feit dat party van die jonger weduwees geleer het ‘om ledig by die huise rond te gaan en nie alleen ledig te wees nie, maar ook praatsiek en bemoeisiek, omdat hulle gepraat het wat nie behoorlik was nie’. Wat was die oplossing? Heilsame bedrywighede. Daarom het Paulus geskryf: “Ek wil dan hê dat die jong weduwees moet trou, kinders baar, hulle huise [versorg] en die teëparty geen aanleiding gee om kwaad te spreek nie.”—1 Timotheüs 5:11-14, vgl. NAV.
21. Hoe help 1 Korinthiërs 15:58 ons om die strikke van skadelike skinderpraatjies te vermy?
21 As vrouens ’n huishouding behartig, kinders volgens God se standaarde oplei en aan ander verdienstelike bedrywighede deelneem, sal hulle min tyd hê vir kletsery wat in skadelike skinderpraatjies kan ontaard. Ook mans sal minder tyd vir sulke geselsery hê as hulle besig is met goeie werke. As ons “altyd oorvloedig in die werk van die Here” is, sal dit ons almal help om die strikke van skadelike skinderpraatjies te vermy (1 Korinthiërs 15:58). Veral heelhartige betrokkenheid in die Christelike bediening, gemeentelike vergaderinge en ander godvrugtige bedrywighede sal ons verstande op geestelike dinge gerig hou sodat ons nie ledige skinderaars word en ons met ander se sake bemoei nie.
22. Wat sê Spreuke 6:16-19 oor God se beskouing van lasteraars?
22 As ons besig bly in godvrugtige werke en ander se geestelike welsyn probeer bevorder, sal ons lojale vriende wees, nie dislojale nuusdraers nie (Spreuke 17:17, NW). En as ons skadelike skinderpraatjies vermy, sal ons die heel beste Vriend hê—Jehovah God. Laat ons onthou dat die volgende sewe dinge vir hom ’n gruwel is: “Trotse oë, ’n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, ’n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop, een wat as valse getuie leuens uitstrooi en [een wat] tussen broers tweedrag saai” (Spreuke 6:16-19, vgl. NW). Mense wat graag skinder, oordryf en verdraai dinge, en lasteraars het vals tonge. Hulle woorde bring die voete van diegene wat gretig is om stories oor te vertel in beweging. Dit het feitlik sonder uitsondering tweedrag tot gevolg. Maar as ons haat wat God haat, sal ons skadelike skinderpraatjies vermy wat regskape mense kan benadeel en die groot lasteraar, Satan die Duiwel, plesier verskaf.
23. Hoe kan ons Jehovah se hart verbly met ons spraak?
23 Laat ons dus Jehovah se hart verbly (Spreuke 27:11). Laat ons spraak vermy wat hy haat, weier om na laster te luister en ons bes doen om skadelike skinderpraatjies te smoor. Met die hulp van ons heilige God, Jehovah, kan ons dit beslis regkry.
[Voetnoot]
a Dit is selfs vandag nie raadsaam om te luister na sensasionele stories (wat dikwels hoegenaamd nie op feite gebaseer is nie) oor wat lede van die Bestuursliggaam of hulle verteenwoordigers kwansuis gesê of gedoen het of om sulke stories te versprei nie.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Hoe kan gebed ons help om nie teen ander te laster nie?
◻ Hoe kan die toepassing van 1 Korinthiërs 13:4-8 ons help om skadelike skinderpraatjies te smoor?
◻ Hoe kan selfrespek ons help om enige versoeking om medegelowiges te beskinder teë te werk?
◻ Hoe kan 1 Korinthiërs 15:58 ons help om die strikke van skadelike skinderpraatjies te vermy?
[Foto-erkenning op bladsy 17]
Foto: U.S. Forest Service