Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 7/1 bl. 8-13
  • Hoe sterk is jou geloof in die opstanding?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe sterk is jou geloof in die opstanding?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Twyfel oor ’n toekomstige lewe
  • Die Christendom se beskouing van lewe ná die dood
  • Die ware hoop vir die dooies
  • Liggaam en siel
  • Beoefen geloof wat tot die ewige lewe lei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Lewe die siel na die dood voort?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Jou beskouing van die siel raak jou lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • ’n Beter hoop vir die siel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 7/1 bl. 8-13

Hoe sterk is jou geloof in die opstanding?

“Ek is die opstanding en die lewe. Wie geloof in my beoefen, sal lewend word, selfs al sterf hy.”—JOHANNES 11:25.

1, 2. Waarom het ’n aanbidder van Jehovah vertroue in die opstandingshoop nodig?

HOE sterk is jou vertroue in die opstandingshoop? Versterk dit jou sodat jy nie die dood vrees nie, en vertroos dit jou wanneer jy geliefdes aan die dood afstaan? (Matteus 10:28; 1 Tessalonisense 4:13). Is jy soos baie van God se eertydse knegte wat geseling, bespotting, marteling en gevangenskap verduur het omdat hulle deur geloof in die opstanding versterk is?—Hebreërs 11:35-38.

2 Ja, ’n opregte aanbidder van Jehovah behoort glad nie te twyfel dat daar ’n opstanding sal wees nie, en sy vertroue behoort sy gedrag te beïnvloed. Dit is wonderlik om na te dink oor die feit dat die see, die dood en Hades op God se bestemde tyd die dooies sal gee wat daarin is, en dat hierdie verresenes die vooruitsig sal hê om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe.—Openbaring 20:13; 21:4, 5.

Twyfel oor ’n toekomstige lewe

3, 4. Wat glo baie mense nog steeds wat lewe ná die dood betref?

3 Die Christendom leer al lank dat daar lewe ná die dood is. ’n Artikel in die tydskrif U.S. Catholic het gesê: “Deur die eeue heen het Christene hulle met die teleurstellings en lyding van hierdie lewe probeer versoen deur na ’n ander lewe uit te sien, ’n lewe van vrede en tevredenheid, van bevrediging en geluk.” Hoewel mense in ’n aantal lande van die Christendom verwêreldlik het en ietwat sinies geword het teenoor godsdiens, meen baie nog steeds dat daar iets ná die dood moet wees. Maar daar is baie waaroor hulle nie seker is nie.

4 ’n Artikel in die tydskrif Time het gesê: “Mense glo nog steeds aan [’n hiernamaals]: dit is net dat hulle begrip van wat dit presies is vaer geword het, en hulle hoor baie minder daarvan by hulle predikante.” Waarom praat geestelikes nou minder van ’n hiernamaals as voorheen? Die godsdiensgeleerde Jeffrey Burton Russell sê: “Ek dink [geestelikes] wil die onderwerp vermy omdat hulle meen dat hulle ’n muur van algemene skeptisisme sal moet oorkom.”

5. Hoe word die leerstelling van die helse vuur vandag deur baie beskou?

5 In baie kerke sluit die hiernamaals ’n hemel en ’n brandende hel in. En as geestelikes nie graag oor die hemel wil praat nie, wil hulle nog minder oor die hel praat. Een koerantberig het gesê: “Selfs kerke wat aan ewige straf in ’n fisiese hel glo, . . . lê deesdae minder klem op die begrip.” Trouens, die meeste hedendaagse teoloë glo nie meer dat die hel ’n letterlike plek van foltering is soos dit in die Middeleeue geleer is nie. Hulle verkies eerder ’n “mensliker” vertolking van die hel. Volgens baie moderniste word sondaars in die hel nie letterlik gefolter nie, maar hulle ly weens hulle “geestelike afsondering van God”.

6. Hoe vind party dat hulle geloof onvoldoende is wanneer hulle voor ’n tragedie te staan kom?

6 Wanneer ’n kerkleer afgewater word sodat mense van vandag se gevoelens nie gekrenk word nie, help dit sommige dalk om ongewildheid te vermy, maar dit laat miljoene opregte kerkgangers wonder wat hulle moet glo. Gevolglik vind hulle dikwels dat hulle ’n gebrek aan geloof het wanneer hulle voor die dood te staan kom. Hulle gesindheid is soos dié van die vrou wat verskeie familielede in ’n tragiese ongeluk verloor het. Toe sy gevra is of haar godsdiensoortuiging haar vertroos het, het sy aarselend geantwoord: “Dit het seker.” Maar selfs as sy met oortuiging geantwoord het dat haar godsdiensoortuiging haar wel gehelp het, watter langtermynvoordele sal dit vir haar inhou as haar opvattings nie op goeie grond berus nie? Dit is ’n belangrike punt, want wat die meeste kerke in der waarheid omtrent ’n toekomstige lewe leer, verskil hemelsbreed van wat die Bybel leer.

Die Christendom se beskouing van lewe ná die dood

7. (a) Watter leerstelling het die meeste kerke in gemeen? (b) Hoe het een teoloog die leerstelling van die onsterflike siel beskryf?

7 Ondanks hulle verskille is byna alle denominasies van die Christendom dit eens dat mense ’n onsterflike siel het wat ná die dood van die liggaam voortleef. Die meeste glo dat iemand wat sterf se siel hemel toe gaan. Sommige vrees dat hulle siel na ’n brandende hel of na die vaevuur sal gaan. Maar die idee van ’n onsterflike siel is die kern van hulle beskouing van ’n toekomstige lewe. Die teoloog Oscar Cullmann het hieroor kommentaar gelewer in ’n verhandeling wat in die boek Immortality and Resurrection gepubliseer is. Hy het geskryf: “As ons ’n gewone Christen vandag sou vra . . . wat die Nuwe Testament volgens hom aangaande die lot van die mens ná die dood leer, sal die antwoord feitlik sonder uitsondering wees: ‘Die onsterflikheid van die siel.’” Cullmann het egter bygevoeg: “Hierdie algemeen aanvaarde idee is een van die grootste wanopvattings van die Christelike godsdiens.” Cullmann sê dat hy ’n opskudding veroorsaak het toe hy hierdie opmerking die eerste keer gemaak het. En tog was hy reg.

8. Watter hoop het Jehovah vir die eerste man en vrou in die vooruitsig gestel?

8 Jehovah God het mense nie geskep om hemel toe te gaan nadat hulle gesterf het nie. Dit was nie sy oorspronklike voorneme dat hulle ooit moes sterf nie. Adam en Eva is volmaak geskep en is die geleentheid gegee om die aarde met regverdige nakomelinge te vul (Genesis 1:28; Deuteronomium 32:4). Daar is vir ons eerste ouers gesê dat hulle slegs sou sterf as hulle ongehoorsaam aan God was (Genesis 2:17). As hulle gehoorsaam aan hulle hemelse Vader gebly het, sou hulle vir ewig op die aarde bly leef het.

9. (a) Wat is die waarheid omtrent die mensesiel? (b) Wat gebeur met die siel wanneer hy sterf?

9 Maar ongelukkig was Adam en Eva nie gehoorsaam aan God nie (Genesis 3:6, 7). Die apostel Paulus beskryf die tragiese gevolge hiervan: “Deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en die dood deur die sonde, en die dood [het] só tot alle mense deurgedring . . . omdat hulle almal gesondig het” (Romeine 5:12). In plaas daarvan dat Adam en Eva vir ewig op die aarde gelewe het, het hulle gesterf. Wat het toe gebeur? Het hulle onsterflike siele gehad wat nou weens hulle sonde na ’n brandende hel gestuur kon word? Inteendeel, die Bybel sê dat Adam vroeër, toe hy geskep is, “’n lewende siel geword” het (Genesis 2:7). Die mens is nie ’n siel gegee nie; hy het ’n siel, ’n lewende persoon, geword (1 Korintiërs 15:45). Trouens, Adam was nie die enigste “lewende siel” nie, maar soos die Hebreeus toon waarin Genesis geskryf is, was die laer diere ook “lewende siele”! (Genesis 1:24, NW). Toe Adam en Eva gesterf het, het hulle dooie siele geword. Uiteindelik het met hulle gebeur net soos Jehovah vir Adam gesê het: “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”—Genesis 3:19.

10, 11. Wat erken die New Catholic Encyclopedia omtrent die Bybellering van die siel, en hoe vergelyk dit met wat die Bybel sê?

10 In wese stem die New Catholic Encyclopedia hiermee saam. In die artikel “Siel (in die Bybel)” sê dit: “Daar is geen verdeling in twee dele van die liggaam en siel in die OT [“Ou Testament”, of Hebreeuse Geskrifte] nie.” Dit sê verder dat die woord “siel” in die Bybel “nooit siel as afsonderlik van die liggaam of die individuele persoon beteken nie”. Trouens, siel “beteken [dikwels] die individuele skepsel self, hetsy mens of dier”. Sulke eerlikheid is verfrissend, maar ’n mens kan net wonder waarom kerkgangers oor die algemeen nie oor hierdie feite ingelig is nie.

11 Hoeveel besorgdheid en vrees sou dit kerkgangers tog gespaar het as hulle hierdie eenvoudige Bybelwaarheid geken het: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe”, nie in ’n brandende hel ly nie! (Esegiël 18:4). Terwyl dit grootliks verskil van wat die Christendom leer, is dit heeltemal in lyn met wat die wyse man Salomo onder inspirasie gesê het: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon [in hierdie lewe] meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.”—Prediker 9:5, 10.

12. Waar het die Christendom hulle lering van die onsterflike siel gekry?

12 Waarom leer die Christendom iets wat soveel verskil van wat die Bybel sê? Die New Catholic Encyclopedia sê in die artikel “Siel, mens, onsterflikheid van” dat vroeë kerkvaders se geloof in ’n onsterflike siel nie deur die Bybel ondersteun is nie, maar deur “die digters en filosowe en algemene tradisie van Griekse denke . . . Later het die skolastici verkies om van Plato of beginsels van Aristoteles gebruik te maak.” Dit sê dat “die invloed van Platoniese en Neo-Platoniese denke”—onder andere geloof in die onsterflike siel—uiteindelik “tot reg in die kern van die Christelike teologie” ingedring het.

13, 14. Waarom is dit onredelik om te hoop dat ’n mens deur heidense Griekse filosowe verlig sal word?

13 Moes verklaarde Christene by heidense Griekse filosowe gaan kers opsteek oor iets so basies soos die hoop op lewe ná die dood. Natuurlik nie. Toe Paulus aan Christene in Korinte, Griekeland, geskryf het, het hy gesê: “Die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God; want daar staan geskrywe: ‘Hy vang die wyses in hulle eie listigheid.’ En weer: ‘Jehovah weet dat die redenasies van die wyses vergeefs is’” (1 Korintiërs 3:19, 20). Die eertydse Grieke was afgodedienaars. Hoe kon hulle dus ’n bron van waarheid wees? Paulus het die Korintiërs gevra: “Watter ooreenkoms het God se tempel met afgode? Want ons is ’n tempel van ’n lewende God; net soos God gesê het: ‘Ek sal onder hulle woon en onder hulle wandel, en ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees.’”—2 Korintiërs 6:16.

14 Aanvanklik het die openbaring van heilige waarhede deur die nasie Israel gekom (Romeine 3:1, 2). Ná 33 G.J. is dit deur die eerste-eeuse gesalfde Christengemeente gedoen. Paulus het, met verwysing na eerste-eeuse Christene, gesê: “Dit is aan ons wat God [die dinge wat berei is vir dié wat hom liefhet] deur sy gees geopenbaar het.” (1 Korintiërs 2:10; sien ook Openbaring 1:1, 2.) Die Christendom se leerstelling van die onsterflikheid van die siel is aan Griekse filosofie ontleen. Dit is nie deur God se openbarings aan Israel of deur die eerste-eeuse gemeente van gesalfde Christene bekend gemaak nie.

Die ware hoop vir die dooies

15. Wat is volgens Jesus die ware hoop vir die dooies?

15 Wat is die ware hoop vir die dooies as daar geen onsterflike siel is nie? Dit is natuurlik die opstanding, ’n grondleer van die Bybel en ’n waarlik wonderlike belofte van God. Jesus het op die opstandingshoop gewys toe hy vir sy vriendin Marta gesê het: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie geloof in my beoefen, sal lewend word, selfs al sterf hy” (Johannes 11:25). As ons in Jesus glo, sal ons aan die opstanding glo, nie aan ’n onsterflike siel nie.

16. Waarom is dit redelik om aan ’n opstanding te glo?

16 Jesus het vroeër van die opstanding gepraat toe hy vir sommige Jode gesê het: “Moet julle nie hieroor verwonder nie, want die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is sy stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Wat Jesus hier beskryf, verskil grootliks van ’n onsterflike siel wat ná die dood van die liggaam voortleef en reguit hemel toe gaan. Dit is ’n toekomstige gebeurtenis wanneer mense, onder wie talle eeue of selfs duisende jare lank in die graf was, sal “uitkom”. Dit is dooie siele wat weer lewend word. Onmoontlik? Nie vir die God “wat die dooies lewend maak en die dinge wat nie is nie, roep asof hulle is” (Romeine 4:17). Skeptici spot dalk met die idee dat mense uit die dood uit sal terugkeer, maar dit stem heeltemal ooreen met die feit dat ‘God liefde is’ en dat hy “die beloner [is] van dié wat hom ernstig soek”.—1 Johannes 4:16; Hebreërs 11:6.

17. Wat sal God deur middel van die opstanding bereik?

17 Hoe kan God dan diegene beloon wat “selfs tot in die dood getrou” was as hy hulle nie opwek nie? (Openbaring 2:10). Die opstanding maak dit ook vir God moontlik om te doen wat die apostel Johannes geskryf het: “Met dié doel is die Seun van God openbaar gemaak, naamlik om die werke van die Duiwel te verbreek” (1 Johannes 3:8). Satan het destyds in die tuin van Eden die moordenaar van die hele mensdom geword toe hy ons eerste ouers laat sondig het en die dood oor hulle gebring het (Genesis 3:1-6; Johannes 8:44). Jesus het Satan se werke begin verbreek toe hy sy volmaakte lewe as ’n ooreenstemmende losprys gegee het wat die weg vir die mensdom gebaan het om vrygemaak te word van die oorgeërfde slawerny aan sonde wat voortgespruit het uit Adam se opsetlike ongehoorsaamheid (Romeine 5:18). Die opstanding van diegene wat sterf as gevolg van hierdie Adamitiese sonde sal die werke van die Duiwel verder verbreek.

Liggaam en siel

18. Hoe het party Griekse filosowe op Paulus se verklaring gereageer dat Jesus opgewek is, en waarom?

18 Toe die apostel Paulus in Atene was, het hy die goeie nuus aan ’n skare verkondig wat ’n aantal Griekse filosowe ingesluit het. Hulle het geluister na sy bespreking oor die een ware God en sy beroep op hulle om berou te toon. Maar wat het toe gebeur? Paulus het sy toespraak afgesluit deur te sê: “[God] het ’n dag vasgestel waarop hy voornemens is om die bewoonde aarde in regverdigheid te oordeel deur ’n man wat hy aangestel het, en hy het aan alle mense ’n waarborg verskaf deurdat hy hom uit die dode opgewek het.” Daardie woorde het opspraak verwek. “Toe hulle van ’n opstanding van die dooies hoor, het party die spot begin dryf” (Handelinge 17:22-32). Die teoloog Oscar Cullmann sê: “Vir die Grieke wat aan die onsterflikheid van die siel geglo het, was dit dalk moeiliker om die Christelike prediking van die opstanding aan te neem as wat dit vir ander was. . . . Die leer van die groot filosowe Sokrates en Plato kan glad nie met dié van die Nuwe Testament versoen word nie.”

19. Hoe het die Christendom se teoloë die leer van die opstanding met die leerstelling van die onsterflike siel probeer versoen?

19 Nadat die groot afvalligheid ná die dood van die apostels plaasgevind het, het teoloë nogtans hard probeer om die Christelike leer van die opstanding met Plato se opvatting van die onsterflike siel te versoen. Mettertyd het party op ’n nuwe oplossing ooreengekom: Wanneer iemand sterf, word die siel van die liggaam geskei (of “bevry”, soos sommige dit stel). Daarna, op die oordeelsdag, “sal elke liggaam weer verenig word met sy eie siel, en elke siel met sy eie liggaam”, volgens Outlines of the Doctrine of the Resurrection deur R. J. Cooke. Die toekomstige hereniging van die liggaam met sy onsterflike siel is glo die opstanding.

20, 21. Wie het altyd die waarheid aangaande die opstanding geleer, en hoe het dit hulle tot voordeel gestrek?

20 Hierdie teorie is nog steeds die amptelike leerstelling van hoofstroomkerke. Al lyk so ’n begrip dalk logies vir ’n teoloog, is die meeste kerkgangers onvertroud daarmee. Hulle glo eenvoudig dat hulle reguit hemel toe sal gaan wanneer hulle sterf. Om dié rede het die skrywer John Garvey in die Commonweal se nommer van 5 Mei 1995 gesê: “Die geloof van die meeste Christene [in verband met lewe ná die dood] is blykbaar baie nader aan Neo-Platonisme as aan enigiets wat waarlik Christelik is, en dit het geen Bybelse grondslag nie.” Trouens, die Christendom se geestelikes het die Bybelse opstandingshoop vir hulle kudde vernietig deur die Bybel vir Plato te verruil.

21 Aan die ander kant verwerp Jehovah se Getuies heidense filosofieë en bly hulle by die Bybel se lering van die opstanding. Vir hulle is hierdie lering opbouend, bevredigend en vertroostend. In die volgende artikels sal ons presies sien hoe gegrond en logies die Bybel se lering van die opstanding is, vir diegene met ’n aardse hoop sowel as vir diegene met die vooruitsig van ’n opstanding tot hemelse lewe. Ons stel voor dat jy hoofstuk 15 van die eerste brief aan die Korintiërs noukeurig deurlees ter voorbereiding van hierdie artikels.

Onthou jy?

◻ Waarom moet ons ’n vaste vertroue in die opstanding opbou?

◻ Watter vooruitsig het Jehovah voor Adam en Eva gestel?

◻ Waarom is dit nie logies om waarheid in Griekse filosofie te soek nie?

◻ Waarom is die opstanding ’n redelike hoop?

[Prent op bladsy 10]

Toe ons eerste ouers gesondig het, het hulle die hoop op die ewige lewe op aarde verloor

[Prent op bladsy 12]

Kerkleraars is deur Plato se opvatting van die onsterflikheid van die siel beïnvloed

[Erkenning]

Musei Capitolini, Roma

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel