Oorheers geloof in die noodlot jou lewe?
IN September 1988 was daar ’n ramp. Die genadelose waters in die enorme delta van die Ganges- en Brahmapoetrarivier het nege meter gestyg en driekwart van Bangladesj oorstroom. Duisende het verdrink. Sowat 37 000 000 is dakloos gelaat. Meer as 60 000 kilometer pad het verdwyn.
Aangesien sulke oorstromings Bangladesj al keer op keer getref het, het een koerant die land “Delta van die Noodlot” genoem. Daardie naam weerspieël wat baie mense as die oorsaak van sulke tragiese rampe beskou: die noodlot.
Hoewel ander glo dat die noodlot nie die lewe oorheers nie, is fatalistiese beskouings inderdaad dwarsdeur die wêreld algemeen. Waarom glo soveel mense in die noodlot, en wat is fatalisme?
Die rol van godsdiens
Die Engelse woord fate (die noodlot) kom van die Latynse woord fatum, wat “wat gespreek is”, beteken.a Fataliste glo dat gebeure vooraf bepaal is en dat mense niks kan doen om dit te verander nie. Hierdie beskouing is deur verskillende godsdienste versprei en het die beskouing van miljoene van hulle ledemate gevorm. As ons na die wêreld se drie grootste godsdienste kyk, sien ons dat die noodlot uiteenlopende gedaantes aanneem—so uiteenlopend soos die vorms van Hindoetempels, Islamitiese moskees en die kerke van die Christendom.
Karma is die wet van oorsaak en gevolg—nog ’n aspek van die noodlot—waardeur die lewe van die bykans 700 miljoen Hindoes in die wêreld beïnvloed word. Hulle glo dat die dinge wat in ’n Hindoe se huidige lewe plaasvind, bepaal word deur sy optrede tydens ’n vorige inkarnasie. Die Garoeda Poerana, ’n ou Hindoegeskrif, sê: “Dit is die werke van hierdie individu in ’n vorige lewe wat die aard van sy organisme in die volgende bepaal, sowel as die soort siektes, hetsy fisies of geestelik, waaraan hy sal ly . . . ’n Man kry in die lewe wat die noodlot bepaal hy sal kry.”
Wat van die ongeveer 1 700 miljoen lede van die Christendom? Party in die Christendom beweer weliswaar dat hulle die noodlot met God vervang het, en fatalisme met voorbestemming. Maar die Encyclopædia of Religion and Ethics erken: “Daar kan nie gesê word dat die Christenheid . . . absoluut vry is van geloof in die Noodlot nie.” Party gelowe huldig nog die beskouing van die 16de-eeuse hervormer Martin Luther, wat eenmaal gesê het dat die mens so “onvry [is] soos ’n blok hout, ’n rots, ’n stuk klei of ’n soutpilaar”.
Munte en sterre
Een teoloog erken dat, hoewel sulke eng beskouings deesdae deur die hoofstroom van die Christendom op die agtergrond geskuif is, baie lidmate nog steeds die oortuiging “in ’n sekulêre vorm” aanhang. In daardie vorm glimlag die noodlot miskien vlugtig, en word dit geluk genoem. Jy weet waarskynlik van baie mense wat soms ’n muntstuk vir geluk, of die noodlot, opgooi. Hulle probeer dalk voorgee dat dit maar ’n gewoonte is, maar hulle hou aan om dit te doen, en dit lyk soms vir hulle of dit werk. The New York Times het byvoorbeeld onlangs berig gelewer dat ’n man wat in die Verenigde State woon ’n pennie (munt) gevind het wat met die kopkant na bo lê na hy loterykaartjies gekoop het. Hy het gesê: “Elke keer as ek ’n pennie met die kopkant na bo gekry het, het iets goeds met my gebeur.” Hierdie keer het hy 66,8 miljoen rand gewen. Dink jy dat hy nou minder vertroue het in geluk, of die noodlot?
Party mense dink dit is verspot om munte op te gooi. Maar hulle glo dat hulle toekoms deur die bewegings van die sterre—nog ’n gedaante van die noodlot—bepaal word. In Noord-Amerika alleen, het sowat 1 200 koerante astrologierubrieke. Een opname het getoon dat 55 persent van die jeugdiges in die Verenigde State glo dat astrologie werk.
Ja, of dit nou Kismet, Karma, God, geluk of die sterre genoem word, geloof in die noodlot is al eeue lank dwarsdeur die wêreld algemeen. Het jy byvoorbeeld geweet dat net één van die geskiedkundige persone wat hier genoem word nie aan fatalisme geglo het nie? Wie het nie? En hoe kan sy beskouing van die noodlot joune beïnvloed?
Die sowat 900 miljoen Moslems ter wêreld glo byvoorbeeld dat die noodlot (Kismet) deur die goddelike wil vasgestel word.b Die Qur’ān sê: “Daar gebeur geen ongeluk op die aarde . . . nie, of dit is in ’n boek aangeteken nog voordat Ons dit in die lewe roep.” “En geen siel kan sterf sonder die toestemming van Allah nie—die tyd daarvoor is vasgestel.”—Soera 57:22; 3:144.
[Voetnote]
a “Kismet verskil alleenlik van die Noodlot in die opsig dat daarna verwys word as ’n almagtige Wil; alle menslike pleidooie daarteen is tevergeefs.”—Hastings se Encyclopædia of Religion and Ethics, Deel V, bladsy 774.
b The Encyclopedia of Religion, Deel 5, bladsy 290, sê onder “FATE”: “Afgelei van die Latynse fatum (iets wat geuiter is, ’n profetiese verklaring, ’n orakel, ’n goddelike voorneme).”
[Venster op bladsy 4]
WIE HET AAN FATALISME GEGLO?
Maskarīpoetra Gośāla Jesus Christus
Indiese askeet, Stigter van die Christendom,
6de/5de eeu v.G.J. 1ste eeu G.J.
Zeno van Citium Jahm, seun van Safwān
Griekse filosoof, Moslemonderrigter,
4de/3de eeu v.G.J. 8ste eeu G.J.
Publius Vergilius Maro Johannes Calvyn
Romeinse digter, Franse teoloog en
1ste eeu v.G.J. hervormer, 16de eeu G.J.