Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 8/8 bl. 3-4
  • Is dit die noodlot of blote toeval?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is dit die noodlot of blote toeval?
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Op soek na verduidelikings
  • Wat die noodlot is
  • ’n Bepalende faktor
  • Is geloof aan die noodlot ’n Bybellering?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Oorheers geloof in die noodlot jou lewe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Die soeke na die mens se lotsbestemming
    Ontwaak!—1999
  • Ongelukke—Die noodlot of omstandighede?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 8/8 bl. 3-4

Is dit die noodlot of blote toeval?

“DIE noodlot het baie lewens geneem en ander gespaar”, het die International Herald Tribune gesê. Verlede jaar het amper 200 mense gesterf en is honderde beseer in terroristeaanvalle op die Amerikaanse ambassades in Kenia en Tanzanië. Maar “tyd en plek het die lewe van die ambassade se mees senior diplomate gered”, het die koerant gesê.

Hulle is gespaar omdat hulle ’n vergadering in ’n ander deel van die gebou bygewoon het as waar die ontploffing was. Maar ’n hooggeplaaste ambassade-amptenaar wat dit normaalweg sou bygewoon het, was nader aan die ontploffing en het omgekom.

“Die noodlot het Arlene Kirk ook wreed behandel”, het die koerant gesê. Toe Arlene van vakansie af na Kenia teruggekeer het en daar te min plek op die vliegtuig was, het sy aangebied om haar sitplek af te staan. Ander passasiers het egter reeds hulle sitplekke aangebied, wat beteken het dat sy daardie vlug kon neem. Die gevolg was dat sy op die dag van die ontploffing teruggekeer het na haar werk by die ambassade en gesterf het.

Rampspoed is niks vreemds vir die mens nie. Maar dit is nooit maklik om ’n tragedie te verduidelik nie. Dit gebeur dikwels in ongelukke en katastrofes regoor die wêreld dat party mense sterf terwyl ander dit oorleef. Dit is egter nie net tydens rampe dat mense wonder: ‘Waarom ek?’ nie. Selfs wanneer dit by die goeie dinge in die lewe kom, lyk dit of party beter geleenthede as ander het. Terwyl die lewe vir baie ’n voortdurende stryd is, lyk dit of ander nooit swaarkry nie. En daarom vra jy dalk: ‘Kan dit wees dat dit alles op die een of ander manier beplan is? Word my lewe deur die noodlot beheer?’

Op soek na verduidelikings

Sowat 3 000 jaar gelede het ’n wyse koning onverwagte gebeure om hom sien plaasvind. Hy het hierdie gebeure só verduidelik: “Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal” (Prediker 9:11, NW). Soms gebeur die onverwagte. Dit is onmoontlik om dit te voorspel. Buitengewone gebeure, goed sowel as sleg, hang dikwels af van waar jy jou op ’n gegewe tyd bevind.

Maar dalk voel jy soos diegene wat nie dinge aan toeval toeskryf nie, maar wat eerder glo dat ’n ander krag aan die werk is—die noodlot. Geloof in die noodlot of voorbeskikking is een van die oudste en algemeenste godsdiensopvattings van die mens.a Professor François Jouan, direkteur van die Sentrum vir Mitologiese Navorsing aan die Universiteit van Parys, sê: “Daar is nie ’n geslag of beskawing wat nie geglo het aan die een of ander goddelike wese wat die noodlot beheer nie . . . om alles te verduidelik wat onverklaarbaar is in ons lewe.” Dit is waarom dit algemeen is om mense te hoor sê: “Dit was nie sy tyd om te sterf nie” of “Dit was so bestem.” Maar wat is die noodlot?

Wat die noodlot is

Die Engelse woord “fate” (noodlot) is afgelei van die Latynse woord fatum, wat “’n profetiese verklaring, ’n orakel, ’n goddelike beslissing” beteken. Hoewel mense soms dink dat ’n blinde krag die toekoms op ’n onvermydelike en onverklaarbare manier bepaal, meen hulle meestal dat hierdie krag ’n god is.

’n Godsdiensgeskiedskrywer, Helmer Ringgren, verduidelik: “’n Noodsaaklike element in die godsdienstige gesindheid is die gevoel dat die mens se lot nie betekenisloos of aan toeval oorgelaat is nie, maar bepaal word deur ’n krag waaraan wil en bedoeling toegeskryf kan word.” Hoewel mense dikwels dink dat ’n mate van ingryping moontlik is, meen baie dat mense relatief magtelose pionne in ’n spel is waaroor hulle geen beheer het nie. So ‘tref die noodlot’ hulle.

Teoloë en filosowe sukkel al lank om te verduidelik wat die noodlot is. The Encyclopedia of Religion sê: “Die konsep van die noodlot, ongeag in watter vorm, taal of betekenisnuanse dit voorkom, behou altyd ’n basiese element van geheimsinnigheid.” Een draad wat egter deur die doolhof van idees loop, is die begrip van ’n hoër mag wat menseaangeleenthede beheer en rig. Mense glo dat hierdie krag vooraf bepaal wat in die lewe van individue en nasies sal gebeur, sodat die toekoms net so onveranderlik soos die verlede is.

’n Bepalende faktor

Maak dit enigsins saak of jy aan die noodlot glo? “Die lewensomstandighede van mense bepaal grootliks wat hulle lewensbeskouing is, maar die teenoorgestelde is ook waar, hulle lewensbeskouing bepaal grootliks wat hulle omstandighede is”, het die Engelse filosoof Bertrand Russell geskryf.

Trouens, geloof in die noodlot—of dit nou bestaan of nie—kan bepaal hoe ons optree. Omdat hulle glo dat dit die wil van die gode is, aanvaar baie hulle situasie gedwee—hoe onregverdig of onderdrukkend dit ook al is—asof dit hulle onveranderlike lot in die lewe is. Gevolglik ondermyn geloof in die noodlot die gedagte van persoonlike verantwoordelikheid.

Daarenteen het geloof in voorbeskikking ander die teenoorgestelde rigting laat inslaan. Geskiedkundiges skryf byvoorbeeld die groei van kapitalisme en die industriële revolusie aan ’n aantal faktore toe. Een van hulle was die geloof in voorbeskikking. Party Protestantse godsdienste het mense geleer dat God individue vir redding voorbeskik. Die Duitse sosioloog Max Weber sê: “Die vraag: Is ek een van die uitverkorenes? moes die een of ander tyd by alle gelowiges opgekom het.” Mense het probeer uitvind of hulle God se seën gehad het en dus vir redding voorbeskik was. Weber het aangevoer dat hulle dit deur hulle “wêreldse bedrywighede” gedoen het. Sukses in die sakewêreld en groot rykdom is gesien as tekens van God se guns.

Geloof in die noodlot beweeg party tot drastiese optrede. In die Tweede Wêreldoorlog het Japannese selfmoordvlieëniers in kamikaze, of “goddelike wind”, geglo. Die idee dat die gode ’n doel gehad het en dat dit moontlik was om ’n rol daarin te speel, het ’n godsdienstige betekenis aan ’n grusame dood gegee. In die vorige dekade het selfmoordbomplanters in die Midde-Ooste dikwels in die nuus gekom met hulle afgryslike aanvalle. Fatalisme speel ’n belangrike rol in hierdie “godsdienstig gemotiveerde selfmoordaanvalle”, sê een ensiklopedie.

Maar waarom is geloof in die noodlot so algemeen? ’n Kort oorsig van die oorsprong daarvan sal die antwoord voorsien.

[Voetnoot]

a Die begrip van die noodlot is so algemeen dat die woord “noodlot” of “noodlottig” in baie tale gebruik word wanneer daar van iemand se dood gepraat word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel