Is geloof aan die noodlot ’n Bybellering?
LASTER! Wanneer ’n gerespekteerde lid van die gemeenskap meen dat sy naam of reputasie deur ’n valse berig geskend is, voel hy genoodsaak om sake reg te stel. Hy kan selfs geregtelike stappe doen teen diegene wat vir die laster verantwoordelik is.
Fatalisme is in werklikheid niks anders as laster teen die almagtige God nie. Volgens die teorie is God persoonlik verantwoordelik vir al die tragedies en ongelukke wat die mensdom teister. As jy aan die noodlot glo, kan jy jou voorstel dat die Universele Soewerein ’n lys opgestel het wat min of meer só lui: ‘Vandag sal John in ’n motorongeluk beseer word, Fatou sal ’n malaria-aanval hê en Mamadou se huis sal in ’n storm vernietig word’! Kan jy werklik beweeg word om so ’n God te dien?
‘Maar as God nie vir ongelukke verantwoordelik is nie, wie is dan?’ vra diegene wat aan die noodlot glo. Ousmane, die jong man wat in die voorgaande artikel genoem is, het hom dieselfde vraag afgevra. Maar hy het nie nodig gehad om te raai of te gis om die waarheid uit te vind nie. Hy het geleer dat God hom van hierdie laster bevry het deur middel van die leringe wat in Sy geïnspireerde Woord, die Bybel, gevind word (2 Timoteus 3:16). Kom ons kyk dus wat die Bybel oor hierdie onderwerp sê.
Wie se skuld is dit?
Oorstromings, storms, aardbewings—sulke rampe word dikwels dade van God genoem. Maar die Bybel toon nie dat God sulke rampe veroorsaak nie. Beskou ’n tragedie wat eeue gelede in die Midde-Ooste plaasgevind het. Die Bybel sê vir ons dat die enigste oorlewende van hierdie ramp berig het: “Die vuur van God [’n Hebreeuse uitdrukking wat dikwels weerlig beteken] het van die hemel geval en gebrand onder die kleinvee en onder die dienaars, en dit het hulle verteer.”—Job 1:16.
Hoewel hierdie verskrikte man dalk gedink het dat God vir die weerlig verantwoordelik was, toon die Bybel dat dit nie Sy skuld was nie. Lees self Job 1:7-12, en jy sal sien dat die storm nie deur God veroorsaak is nie, maar deur sy Teenstander—Satan die Duiwel! Dit beteken nie dat alle ongelukke die regstreekse werk van Satan is nie. Maar daar is beslis geen rede om God die skuld te gee nie.
In werklikheid is mense dikwels die skuldiges wanneer dinge verkeerd loop. Mislukkings op skool, by die werk of in sosiale verhoudings kan die gevolg wees van ’n gebrek aan inspanning en goeie opleiding of miskien van ’n gebrek aan bedagsaamheid teenoor ander. Siekte, ongelukke en sterftes kan eweneens die gevolg van nalatigheid wees. ’n Mens verminder immers grootliks die kanse om in ’n motorongeluk te sterf deur eenvoudig ’n veiligheidsgordel te dra terwyl jy bestuur. ’n Veiligheidsgordel sal nie ’n verskil maak as die onveranderlike “noodlot” aan die werk was nie. Behoorlike mediese sorg en sanitasie verminder ook die aantal ontydige sterfgevalle aansienlik. Selfs party rampe wat gewoonlik “dade van God” genoem word, is in werklikheid dade van die mens—die droewige erfenis van die mens se wanbestuur van die aarde.—Vergelyk Openbaring 11:18.
“Tyd en onvoorsiene gebeurtenis”
Daar is weliswaar baie droewige gebeurtenisse waarvan die oorsake nie duidelik is nie. Let egter op wat die Bybel in Prediker 9:11 sê: “Weer het ek onder die son gesien dat die wedloop nie is vir die vinniges en die oorlog nie vir die helde nie; en ook die brood is nie vir die wyse of ook rykdom vir die slimmes of ook guns vir die verstandiges nie; want [tyd en onvoorsiene gebeurtenis, NW] tref hulle almal.” Daar is dus geen rede om te glo dat die Skepper vir ongelukke verantwoordelik is of dat slagoffers van ongelukke op die een of ander manier gestraf word nie.
Jesus Christus self het argumente teen fatalistiese redenasies aangevoer. Jesus het na ’n tragedie verwys waarmee sy toehoorders goed bekend was en het gevra: “Daardie agtien op wie die toring in Siloam geval en hulle só gedood het—dink julle dat hulle groter skuldenaars was as al die ander mense wat in Jerusalem woon? Nee, beslis nie, sê ek vir julle” (Lukas 13:4, 5). Jesus het heel duidelik nie die ramp aan Goddelike ingryping toegeskryf nie, maar aan “tyd en onvoorsiene gebeurtenis”.
Die vernietigende gevolge van onvolmaaktheid
Maar wat van onverklaarde sterfgevalle en siektes? Die Bybel gee hierdie direkte beskrywing van die toestand waarin die mens verkeer: ‘In Adam sterf almal’ (1 Korintiërs 15:22). Die dood teister die mensdom sedert ons voorvader Adam die weg van ongehoorsaamheid ingeslaan het. Net soos God gewaarsku het, het Adam die dood as erfenis aan sy nageslag agtergelaat (Genesis 2:17; Romeine 5:12). Alle siektes kan gevolglik na ons gemeenskaplike voorouer Adam teruggevoer word. Ons oorgeërfde swakhede het ook baie te doen met die teleurstellings en mislukkings wat ons in die lewe ondervind.—Psalm 51:7.
Dink aan die probleem van armoede. Geloof aan die noodlot het al dikwels veroorsaak dat mense hulle in hulle moeitevolle bestaan berus. ‘Dit is ons lot’, glo hulle. Die Bybel toon egter dat menslike onvolmaaktheid, en nie die noodlot nie, hiervoor verantwoordelik is. Party word arm wanneer hulle ‘maai wat hulle gesaai het’ as gevolg van luiheid of die wanbestuur van hulpbronne (Galasiërs 6:7; Spreuke 6:10, 11). Tallose miljoene lewe in armoede omdat hulle deur hebsugtige mense in magsposisies uitgebuit word. (Vergelyk Jakobus 2:6.) “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk”, sê die Bybel (Prediker 8:9). Daar bestaan geen bewys daarvoor om alle armoede aan God of die noodlot toe te skryf nie.
Geloof aan die noodlot—die skadelike gevolge daarvan
Nog ’n oorredende argument teen geloof aan die noodlot is die uitwerking wat fatalisme op diegene kan hê wat daaraan glo. Jesus Christus het gesê: “Elke goeie boom [bring] goeie vrugte voort, maar elke slegte boom bring waardelose vrugte voort” (Matteus 7:17). Kom ons kyk na een “vrug” van fatalisme—die uitwerking wat dit op mense se verantwoordelikheidsgevoel het.
’n Gesonde gevoel van persoonlike verantwoordelikheid is belangrik. Dit is een van die dinge wat ouers beweeg om vir hulle gesin te sorg, werkers om hulle take pligsgetrou uit te voer en vervaardigers om ’n kwaliteitsproduk te lewer. Geloof aan die noodlot kan daardie gevoel verstomp. Gestel byvoorbeeld dat ’n man se motor ’n foutiewe stuurmeganisme het. As hy ’n sterk verantwoordelikheidsgevoel het, sorg hy dat dit herstel word omdat hy oor sy eie lewe en die lewe van sy passasiers besorg is. Iemand wat aan die noodlot glo, kan daarenteen hierdie gevaar ignoreer en redeneer dat die motor net onklaar sal raak indien dit ‘God se wil’ is!
Ja, geloof aan die noodlot kan maklik lei tot traak-my-nie-agtigheid, luiheid, versuim om verantwoordelikheid vir jou dade te aanvaar en ’n menigte ander negatiewe eienskappe.
Belemmer dit ons verhouding met God?
Die skadelikste gevolg van geloof aan die noodlot is dat dit ’n mens se gevoel van verantwoordelikheid, of verpligting, teenoor God kan smoor (Prediker 12:13, NW). Die psalmis spoor alle mense aan om te “smaak en sien dat die HERE goed is” (Psalm 34:9). God sit sekere vereistes uiteen vir diegene wat sy goedheid wil geniet.—Psalm 15:1-5.
Een van hierdie vereistes is berou (Handelinge 3:19; 17:30). Dit behels dat ons ons foute erken en die nodige aanpassings maak. As onvolmaakte mense het ons almal baie waaroor ons berou moet hê. Maar as iemand glo dat hy ’n hulpelose slagoffer van die noodlot is, is dit vir hom moeilik om te sien waarom hy berou moet toon of verantwoordelikheid vir sy foute moet aanvaar.
Die psalmis het aangaande God gesê: “U goedertierenheid is beter as die lewe” (Psalm 63:4). Nogtans het geloof aan die noodlot miljoene daarvan oortuig dat God die oorsaak van hulle ellende is. Dit het natuurlik baie mense teenoor hom verbitter en dit vir hulle onmoontlik gemaak om ’n waarlik hegte verhouding met die Skepper te hê. Hoe kan ’n mens in elk geval iemand liefhê wat jy as die oorsaak van al jou probleme en beproewinge beskou? Fatalisme vorm dus ’n hindernis tussen God en die mens.
Bevry van die tirannie van die noodlot
Jong Ousmane, wat aan die begin genoem is, was eens ’n slaaf van geloof aan die noodlot. Maar toe Jehovah se Getuies Ousmane gehelp het om sy denke in die lig van die Bybel te ondersoek, is hy beweeg om sy geloof aan die noodlot te laat vaar. Dit het hom ’n diepgaande gevoel van verligting en ’n nuwe, positiewe lewensbeskouing gegee. Nog belangriker, hy het Jehovah leer ken as ’n God wat ‘barmhartig en goedgunstig is‚ stadig is om toornig te word en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid’.—Exodus 34:6, NW.
Ousmane het ook tot die besef gekom dat God, hoewel hy nie elke besonderheid van ons lewe beplan nie, wel ’n voorneme vir die toekoms het.a Tweede Petrus 3:13 sê: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en in hulle sal regverdigheid woon.” Jehovah se Getuies het miljoene al gehelp om die hoop aan te kweek om vir ewig te lewe as ’n deel van hierdie beloofde “nuwe aarde”. Hulle wil jou ook graag help.
Namate jy meer juiste kennis van die Bybel inneem, sal jy tot die besef kom dat jou toekoms nie van die een of ander voorbestemde noodlot afhang waaroor jy geen beheer het nie. Die woorde van Moses aan die eertydse Israeliete is baie gepas: “Die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur die HERE jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang” (Deuteronomium 30:19, 20). Ja, jy het seggenskap in jou toekoms. Dit word nie deur die noodlot bepaal nie.
[Voetnoot]
a Sien Die Wagtoring, 15 Julie 1984, bladsye 3-7, vir ’n breedvoerige bespreking van God se voorkennis.
[Prente op bladsy 6, 7]
Hierdie rampe was nie ‘dade van God’ nie
[Erkennings]
U.S. Coast Guard photo
WHO
UN PHOTO 186208/M. Grafman