Ons het ’n nuwe wêreld nodig
STAAN ’n bietjie terug en kyk na die toestande rondom jou. Hou jy van wat jy sien?
Miskien het jy ’n mooi huis in ’n aangename, goed versorgde woonbuurt. Jy het dalk ook ’n lonende werk waarvan jy hou. Daarbenewens is jy en jou dierbares dalk ook redelik gesond. In die geheel gesien, voel jy dalk heel veilig en gelukkig.
Maar dink aan ander buurte, aan ander dele van die land waarin jy woon of aan ander lande. Kyk na die hele wêreld. Sien jy ’n mooi prentjie? Is dit werklik een van tevredenheid, vrede en voorspoed?
Volgens ’n paar voorspellings van vroeër in hierdie eeu, moes die wetenskap al teen hierdie tyd alle ernstige siektes uitgewis het, volop kos vir almal voorsien het, die omgewing gestabiliseer en verbeter het en ’n eeu van vrede ingelui het. Maar wat het werklik gebeur?
’n Mens hoef nie ver te soek om te sien dat vrede op ons planeet ontwykend is nie. “Mense word al van Bybelse tye af gemaan om van hulle swaarde pikke te smee”, skryf Michael Renner in State of the World 1990. “Sulke raad was nog nooit meer gepas nie. Die genadelose najaging van militêre mag het die mensdom tot op die randjie van uitwissing gebring.”
Daar is baie verslae van die burgerlike oproer en oorloë wat soveel lande reg rondom die wêreld teister. Volgens een bron was daar 22 oorloë wat in 1988 nog voortgeduur het.a Hoeveel mense het in daardie oorloë gesterf? Tot en met daardie jaar “is die totale sterftesyfer van al die oorloë wat in 1988 geveg is 4 645 000. Ses-en-sewentig persent van dié wat gesterf het, was burgerlikes”, sê die St. Louis Post-Dispatch.
Dui huidige wêreldgebeure daarop dat ’n vreedsame wêreld naby is? “Daar word gesê dat die Koue Oorlog afgeneem het en dat vrede ’n kans gegun word. Maar kyk weer”, sê ’n artikel in die San Jose Mercury News van Kalifornië, VSA. “In die Derde Wêreld woed oorloë voort sonder veel hoop dat dit beëindig sal word. Dit is die wêreld se geheime oorloë. Dit is grotendeels konflikte wat regerings teen hulle eie mense laat optree: bloedige burgerlike gevegte oor land, godsdiens, etniese en stamverskille, politieke mag, selfs dwelms. . . . Van die Horing van Afrika tot Suidoos-Asië het oorlog miljoene mense gedwing om uit hul huise te vlug. Gewasse word nie aangeplant nie, klinieke word aangeval, vee word vernietig, ouers word wreed voor hulle kinders vermoor, 10-jarige seuntjies word gedwing om draers en later soldate te word, jong meisies word verkrag. In hierdie grotendeels vergete lande het oorlog ’n spoor van verwoesting en maatskaplike wanorde gelaat waarvan hierdie gemeenskappe dalk nooit heeltemal sal herstel nie. . . . Navorsing toon dat die tagtigerjare meer oorloë as enige ander dekade in die geskiedenis beleef het.”
Baie van diegene wat dit regkry om na meer ontwikkelde lande te vlug, vind dat die bedreiging van gewelddadige misdaad die vrede waarna hulle gesoek het aan skerwe laat spat het. “Die [Verenigde State se] misdaadvlaag het deur die tagtigerjare voortgeduur ondanks voorspellings dat dit sou afneem”, berig U.S.News & World Report. “In ’n tipiese jaar: Daar word 8,1 miljoen ernstige misdade soos moord, aanranding en inbraak gepleeg. . . . Die ergste van dit alles is dat die bloedvergieting alomteenwoordig en onvoorspelbaar geword het. Verontregting is ’n chroniese probleem. Die Amerikaanse Buro vir Regstatistiek skat dat 83 persent van die kinders wat nou 12 jaar oud is slagoffers van werklike geweld of pogings tot geweld sal word as misdaad teen die huidige tempo bly toeneem. . . . Oortreders in die gemeenskap word nie vir seker of gou genoeg gestraf nie. Die polisie kan landswyd maar 1 uit 5 ernstige misdade oplos.” Soortgelyke situasies bestaan wêreldwyd. Die VV se Algemene Vergadering sê dat “misdade in baie wêrelddele nou meer voorkom en ernstiger word”.
Maar selfs al sou alle oorloë, wapens en misdaad oombliklik van die aarde verdwyn, sal lewe nog altyd bedreig word. “Drukkende armoede, onstuitbare siekte en uitgebreide ongeletterdheid is ’n kenmerk van die lewe van honderdmiljoene in ontwikkelende lande”, sê die Worldwatch Institute in hulle verslag State of the World 1990. “Die hele mensdom—ryk of arm, militêr gesproke sterk of swak—staan voor die skrikbeeld van ongekende verwoesting van die omgewing.”
Ja, die stelsels wat die lewe onderhou en waarop die hele mensdom vertrou, word ondermyn. “In sy geheel is die aarde in ’n slegter toestand [as in 1970]”, skryf redakteur Paul Hoffman in die tydskrif Discover. “Ons stortterreine loop oor van die vullis. Kweekhuisgasse verwarm die atmosfeer. Die planeet se osoonskild word al hoe dunner. Woestyne brei uit en reënwoude krimp. Elke uur sterf daar 17 plant- en diersoorte uit.”
Voeg daarby die gevolge van voortgesette besmetting van grond en water. Sluit hierby in die voortdurende groei in die wêreld se bevolking wat veroorsaak dat huise of paaie op al hoe meer landbougrond gebou word, waardeur die uitsterwing van dier- en plantsoorte verhaas word. Dink aan die toenemende skaarsheid van vars watervoorrade en die probleem van suurreën. Tel hierby die ongesonde gevolge van erg besoedelde lug en die probleme wat gevaarlike rommel bied. Al hierdie dinge saam beteken ’n ramp vir die mensdom. Wie of wat ons ook al is, ons het lug, kos, water en grondstowwe nodig om te bly bestaan. Ons het dit nodig, onbesoedel en genoeg daarvan. State of the World 1990 sê juis: “Die tagtigerjare was vir die armes ’n absolute ramp, ’n tyd van skrapse kosvoorrade en ’n stygende sterftesyfer.”
Kan enigiemand ontken dat ’n nuwe wêreld bitter nodig is, aangesien die mensdom op soveel maniere bedreig word? Maar is dit ’n wesenlike moontlikheid? Waarvandaan sal so ’n nuwe wêreld kom? Watter struikelblokke moet uit die weg geruim word voor ons planeet werklik as veilig en florerend beskou kan word? Kom ons kyk.
[Voetnote]
a “Oorlog” word gedefinieer as ’n konflik waarby minstens een regering betrokke is en waarin minstens 1 000 mense in ’n jaar sterf.
[Foto-erkenning op bladsy 4]
WHO photo by P. Almasy