Toegerus vir sendingdiens in die negentigerjare
SENDINGDIENS gaan ’n besondere era binne. Noudat die deure van geleentheid in talle nuwe gebiede oopgaan, is al Jehovah se getroue Getuies gretig om selfs bedrywiger te raak.
Die 24 studente van die 89ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead het hulle gradeplegtigheid op 9 September 1990 dus met groot afwagting bygewoon. Meer as 5 000 genooide gaste en lede van die Bethelgesin het vergader vir die graduering van hierdie nuwe sendelinge, wat reeds toewysings na tien lande ontvang het. Die hele program, wat by die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in Jersey City, New Jersey, gehou is, is ook uitgesaai na die gehore by die Brooklyn-Bethel, Watchtower Farms en die Wagtoring-opleidingsentrum by Patterson, New York.
Stiptelik om 10:00 vm. het Theodore Jaracz, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies en voorsitter vir die dag, die openingslied aangekondig. Daarna het Arthur Worsley van die Brooklyn-Bethelgesin ’n gebed gedoen. Die voorsitter het toe na Handelinge 10:33 verwys, waar Cornelius, die Romeinse hoofman oor honderd, vir Petrus gesê het: “Ons is dan nou almal voor die aangesig van God aanwesig om alles te hoor wat deur God aan u opgedra is.” Daar is gemeld dat die geskiedkundige gebeure in Petrus se dag die weg sou open sodat die goeie nuus aan mense van alle nasies verkondig kon word.
Philip D. Wilcox, van Watchtower Farms, het die eerste van sewe gedagteprikkelende toesprake gehou. Hy het die tema “Laat die vrede van God jou in jou toewysing help” gekies, wat op Filippense 4:7 gebaseer was. Hy het gesê: “Jehovah God is die Bron van alle ware vrede. Hy geniet vrede in ’n volkome, of absolute, sin en ondervind geen angswekkende kommer, vrees of ongerustheid nie. Gevolglik is daar ’n kalmte en vrede wat Jehovah se luisterryke teenwoordigheid op sy troon omring, soos afgebeeld word deur die smaraggroen reënboog wat Johannes in ’n visioen gesien het (Openbaring 4:2, 3). Sy vrede gaan van hom af uit na almal wat sal toelaat dat dit hulle help. Sal jy dit toelaat?” Broer Wilcox het melding gemaak van twee noodsaaklike hulpmiddele, gebed en ’n bereidwilligheid om op Jehovah te wag (Miga 7:7; Filippense 4:6). Hy het opgemerk dat niks wat God toelaat ons blywende skade kan berokken nie.
Lloyd Barry, ’n lid van die Bestuursliggaam, het gevolg met die tema “Hou aan glimlag”. Hy het begin met die gesegde “Lag is goeie medisyne”. Hy het daardie uitdrukking onthou omdat dit in 1955 die voorbladopskrif was van die eerste Ontwaak! wat in Japannees verskyn het. Maar watter soort gelag is dit? Nie die luidrugtige, sinnelose “gelag van ’n dwaas” nie (Prediker 7:6). Dit is eerder die opgewekte, ontspanne gelag van sendelinge en ander wat reageer op Dawid se uitnodiging om altyd ‘bly te wees in die HERE’ (Psalm 32:11). Broer Barry het opgemerk dat Job ten spyte van swaar beproewinge kon aanhou glimlag omdat hy geweet het dat hy sy onkreukbaarheid teenoor God handhaaf. Sendelinge wat standvastig is ondanks moeilike ondervindinge soos dié van Job sal uiteindelik die groter seëning ontvang (Job 29:24; 42:12). Die spreker het afgesluit: “Bly besig, hou aan glimlag, en Jehovah sal ook vir ewig goedkeurend vir jou glimlag.”
Die volgende spreker was Richard E. Abrahamson, en hy het die tema “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word” gekies, wat op Filippense 4:5 (NW) gebaseer was. Volgens die grondbetekenis van die Grieks kan die woord “redelik” die gedagte van “buigsaam” oordra. Party sendelinge het probleme ondervind bloot weens persoonlike voorkeure. Een was geskok oor die manier waarop ’n ander sendeling aan tafel ’n stuk kaas afgesny het. Na 22 jaar van sendingdiens het die een wat geskok was, gesê dat die meeste probleme by dinge begin wat van net so min belang is as hoe iemand kaas sny. Die spreker het gemaan: “Leer om jou aan te pas, soos ’n boom in ’n windstorm. Buigsaamheid hou baie voordele in. Dit stel ’n mens byvoorbeeld in staat om beproewinge te verduur en om met gemoedsrus in jou toewysing te volhard.”
Milton G. Henschel, van die Bestuursliggaam, het die tema bespreek “’n Groot deur wat tot aktiwiteit lei, is oop”. Broer Henschel het gesê dat Jesus lief was vir mense, vir hulle jammer gevoel het en hulle baie dinge geleer het. Uit Efese het die apostel Paulus aan die Korinthiërs geskryf: “Daar is ’n groot deur wat tot aktiwiteit lei vir my geopen, maar daar is baie teenstanders” (1 Korinthiërs 16:8, 9, NW). Ten spyte van hierdie teenstand het Paulus twee jaar lank in die skoolouditorium van Tirannus onderrig gegee, sodat die Koninkryksboodskap in die hele distrik Asië bekend was (Handelinge 19:9, 10). Die oop deur het tot sukses in sy prediking gelei. Teen die einde van die eerste eeu het die gemeente in Efese steeds gefunksioneer.—Openbaring 2:1-7.
Jack D. Redford, ’n Gileadinstrukteur het gepraat oor die tema “Bly beproef wat jy is” (2 Korinthiërs 13:5, NW). Gileadsendelinge het nuwe gebiede oopgestel en bestaande gemeentes versterk terwyl hulle baie verduur het en die lokaas weerstaan het wat die Duiwel uitgehou het om hulle af te rokkel. En nuwe sendelinge kom steeds by. Die instrukteur het met twee treffende ondervindinge toegelig hoe belangrik dit is om jou geloof te beproef. Een sendeling het sy voorregte verloor nadat hy hoogmoedig raad geïgnoreer het wat hom gewaarsku het dat hy besig was om ’n verkeerde weg in te slaan. Daarenteen het ’n ander sendeling blymoedig in haar toewysing gebly al was sy na haar eerste drie maande daar net vel en been weens ’n siekte wat ook veroorsaak het dat sy haar hare en gehoor verloor het. Na 42 jaar is sy nog daar en het sy 156 mense deur middel van Bybelstudies gehelp om hulle vir doop te bekwaam. Broer Redford het afgesluit: “Weerstaan die Duiwel, en hy sal van jou wegvlug. Moet nooit sy lokaas neem nie. Bly bewys wat jy is. Jehovah sal vir jou sorg.”
Daarna het ’n ander instrukteur, Ulysses V. Glass, oor die tema “Wysheid is by die beskeidenes” gepraat (Spreuke 11:2, NW). Hy het ’n polshorlosie met ’n sonkragbattery gebruik om toe te lig dat die lig van God se Woord ons “gelaai” kan hou. “Maar”, het hy gesê, “kennis alleen gee nie wysheid nie. God vereis ook beskeidenheid” (Miga 6:8, NW). Beskeidenheid sal maak dat ons God vrees, en “die vrees van Jehovah is die begin van wysheid” (Spreuke 9:10, NW). Dit is ook waar dat ons iets van onsself moet dink; selfveroordeling kan vernietigend wees. Jehovah het aan sommige spesiale vermoëns gegee, soos hy tydens die oprigting van die tabernakel gedoen het, maar ’n mens moet werk aan getroue beskeidenheid. “Gedurende die termyn”, het broer Glass vir die klas gesê, “het julle blyk gelewer van betroubaarheid en eerbied. Openbaar dieselfde getrouheid in julle toewysing; dan sal God julle seën.”
Albert D. Schroeder, van die Bestuursliggaam, het die hooftoespraak “Goed toegerus vir sendingdiens in die negentigerjare” gehou. Hy het begin: “Die negentigerjare het reeds ’n gebeurtenisvolle begin gehad. Baie Oos-Europese lande is geskud. Etlike maande gelede is die Berlynse Muur oopgestel. ’n Opskrif in The New York Times was: ‘Augustus 1990, die maand wat die wêreld geskud het.’ Julle wat gradueer, lewe dus in ’n tyd van gebeure wat die wêreld skud. Het julle vyf maande van studie julle daarvoor voorberei? Beslis!” Hy het toe sommige van die nuttige kenmerke van die New World Translation of the Holy Scriptures—With References genoem en gewys hoe ’n studie daarvan gehelp het om God se Woord lewend te maak. ’n Ander kragtige instrument wat die studente toegerus het, is “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig”, waarvan daar nou ’n hersiene uitgawe van 1990 is. Die nuwe publikasie Die mensdom se soeke na God behoort sendelinge ook baie te help. Broer Schroeder het afgesluit: “Broers, julle moet Jehovah dus dank vir die wonderlike, kosbare opleiding wat julle gehad het—opleiding wat vas is en nie geskud kan word nie. Gaan voort met Jehovah se seën en stel volle vertroue in hom en in ons wonderlike Leier, Jesus Christus. Die woorde wat ons in die Skrif het, is inderdaad geïnspireer en sal julle in die sendingwerk lei en rig.”
Boodskappe uit 11 lande is toe gelees. Die studente het hulle diplomas ontvang, en een van hulle het ’n hartlike brief aan die Bestuursliggaam en die Bethelgesin gelees.
Die middagsessie het ’n verkorte studie van Die Wagtoring ingesluit, wat gehou is deur David L. Walker, ’n lid van die Watchtower Farms-komitee. Toe het die studente die besielende tema “Die krag van gebed in die predikingswerk” gebruik om velddiensondervindinge op te voer. ’n Plaaslike gemeente het die treffende drama Vrygelaat om ware aanbidding te bevorder opgevoer, wat gebaseer was op Esra se terugkeer na Jerusalem om ware aanbidding te bevorder. Broer Frederick W. Franz, die president van die Gileadskool, het met ’n roerende gebed afgesluit.
[Prent op bladsy 24]
89ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee. (1) Ahr, K.; Johnston, L.; Ng Ying Kin, V.; Sukkau, A.; Rodriguez, A.; Myklebust, N. (2) Ahr, H.; Verbeek, P.; Verbeek, K.; DeBolt, S.; DeBolt, S. (3) Sukkau, W.; Ayala, L.; Ayala, S.; Jenson, R.; Ng Ying Kin, J.; Myklebust, T. (4) Rodriguez, C.; Ferlisi, G.; Ferlisi, L.; Tank, J.; Jenson, K.; Tank, J.; Johnston, P.