Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 6/8 bl. 4-9
  • Die moderne geneeskunde—Hoeveel kan dit bereik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die moderne geneeskunde—Hoeveel kan dit bereik?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die grondslag word gelê
  • Van haarkappers tot snydokters
  • Oorwinnings in die stryd teen siektes
  • Twintigste-eeuse geneeskunde
  • ’n Onbereikbare doelwit?
  • Is geenterapie die antwoord?
  • Die stryd teen siekte en die dood—Is ons besig om dit te wen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Die Bybel het siekte beveg voor die wetenskap dit beveg het
    Ontwaak!—1991
  • Sal die wetenskap die wêreld genees?
    Ontwaak!—2007
  • ’n Moordenaar word vasgevat
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 6/8 bl. 4-9

Die moderne geneeskunde—Hoeveel kan dit bereik?

BAIE kinders leer al vroeg: As hulle ’n appel wil pluk wat hulle nie kan bykom nie, klim hulle op ’n maatjie se skouers. Op die gebied van die geneeskunde het iets soortgelyks plaasgevind. Mediese navorsers het al hoe meer bereik deur op die skouers van briljante geneeshere van die verlede te staan.

Onder daardie vroeë geneeshere was daar bekende mense soos Hippokrates en Pasteur, asook Vesalius en William Morton—name wat vir baie mense onbekend is. Wat is die moderne geneeskunde aan hulle verskuldig?

In die ou tyd was die geneeskuns dikwels nie wetenskaplik nie, maar was dit op bygelowe en godsdiensrituele gegrond. Die boek The Epic of Medicine, onder redaksie van dr. Felix Marti-Ibañez, sê: “Die Mesopotamiërs het siektes probeer genees . . . deur hulle tot ’n medies-godsdienstige geneeskunde te wend, aangesien hulle geglo het dat die gode hulle met siekte gestraf het.” Egiptiese geneeskunde, wat kort daarna ontwikkel het, het eweneens sy oorsprong by godsdiens gehad. Daarom het mense van die begin af amper met godsdienstige bewondering na die geneser opgesien.

Dr. Thomas A. Preston sê in sy boek The Clay Pedestal: “Baie opvattings van die ou tyd het ’n stempel op die geneeskunde agtergelaat wat tot vandag toe nog bestaan. Een van hierdie opvattings was dat siekte buite die beheer van die pasiënt is en dat die geneesheer se bonatuurlike krag die enigste hoop op genesing is.”

Die grondslag word gelê

Maar met verloop van tyd het die geneeskunde al hoe wetenskapliker in sy benadering geword. Die grootste wetenskaplike geneesheer van antieke tye was Hippokrates. Hy is omstreeks 460 v.G.J. op die Griekse eiland Kos gebore en word deur baie as die vader van Westerse geneeskunde beskou. Hippokrates het die grondslag gelê vir ’n logiese benadering tot geneeskunde. Hy het die idee verwerp dat siekte ’n straf van ’n god is en het aangevoer dat dit ’n natuurlike oorsaak het. Epilepsie is byvoorbeeld lank ’n heilige siekte genoem omdat mense geglo het dat net die gode dit kan genees. Maar Hippokrates het geskryf: “In verband met die siekte wat Heilig genoem word: dit lyk nie vir my of dit hoegenaamd meer goddelik of heiliger as ander siektes is nie, maar dit het ’n natuurlike oorsaak.” Hippokrates was ook blykbaar die eerste geneesheer wat die simptome van verskillende siektes waargeneem en vir toekomstige verwysing opgeteken het.

Eeue later het Galenus, ’n Griekse geneesheer wat in 129 G.J. gebore is, eweneens baanbrekerswerk met sy wetenskaplike navorsing gedoen. Galenus het op grond van disseksies van mense en diere ’n handboek oor die anatomie vrygestel wat eeue lank deur dokters gebruik is! Andreas Vesalius, wat in 1514 in Brussel gebore is, het die boek On the Structure of the Human Body geskryf. Dit is teëgestaan, aangesien dit baie van Galenus se gevolgtrekkings weerspreek het, maar dit het die grondslag vir die moderne anatomie gelê. Volgens die boek Die Grossen (Die grotes) het Vesalius dus “een van die belangrikste mediese navorsers van alle volke en van alle tye” geword.

Galenus se teorieë oor die hart en die bloedsomloop is ook later verkeerd bewys.a Die Engelse geneesheer William Harvey het jare lank diere en voëls gedissekteer. Hy het ondersoek hoe die hartkleppe werk, die volume bloed in elke hartkamer gemeet en geskat hoeveel bloed daar in die liggaam is. Harvey het sy bevindinge in 1628 gepubliseer in ’n boek met die titel On the Motion of the Heart and Blood in Animals. Hy is gekritiseer, teëgestaan, aangeval en beledig. Maar sy werk was ’n keerpunt in die geneeskunde—die liggaam se bloedsomloopstelsel is ontdek!

Van haarkappers tot snydokters

Groot vooruitgang is ook op die gebied van die snykunde gemaak. Gedurende die Middeleeue is operasies dikwels deur haarkappers gedoen. Dit is nie verbasend nie dat party sê die vader van moderne snykunde was ’n 16de-eeuse Fransman, Ambroise Paré—’n haarkapper en ’n pionier op die gebied van die snykunde wat in diens van vier konings van Frankryk was. Paré het ook verskeie snykundige instrumente ontwerp.

’n Groot probleem vir die snydokter in die 19de eeu was die feit dat hy nie die pyn van ’n operasie kon verdoof nie. Maar in 1846 het ’n tandarts met die naam William Morton die algemene gebruik van narkose tydens chirurgie moontlik gemaak.b

In 1895, terwyl die Duitse fisikus Wilhelm Röntgen met elektrisiteit geëksperimenteer het, het hy gesien hoe strale deur weefsel beweeg, maar nie deur been nie. Omdat hy nie geweet het waar die strale vandaan kom nie, het hy dit x-strale genoem, ’n naam wat tot vandag toe gebruik word. (Duitsers ken dit as Röntgenstrahlen.) Volgens die boek Die Großen Deutschen (Groot Duitsers) het Röntgen vir sy vrou gesê: “Mense gaan sê: ‘Röntgen het mal geword.’” Party het. Maar sy ontdekking het ’n hele omwenteling in snykunde veroorsaak. Snydokters kon nou binne-in die liggaam kyk sonder om dit oop te sny.

Oorwinnings in die stryd teen siektes

Deur die eeue heen het besmetlike siektes soos pokke herhaaldelik epidemies, vrees en die dood veroorsaak. Ar-Rāzī, ’n negende-eeuse Pers wat party as die grootste geneesheer in die Islamitiese wêreld van daardie tyd beskou, het die eerste beskrywing van pokke gegee wat medies akkuraat is. Maar dit was eers eeue later dat ’n Britse geneesheer met die naam Edward Jenner ’n manier gevind het om dit te genees. Jenner het gemerk dat iemand wat al beespokke—’n onskadelike siekte—gehad het, immuun is teen pokke. Jenner het op grond van hierdie waarnemings weefsel met beespokke gebruik om ’n entstof teen pokke te ontwikkel. Dit was in 1796. Soos ander baanbrekers voor hom is Jenner gekritiseer en teëgestaan. Maar sy ontdekking van die inentingsproses het uiteindelik tot die uitroeiing van die siekte gelei en het die geneeskunde ’n kragtige nuwe wapen gegee.

Die Fransman Louis Pasteur het inenting gebruik om hondsdolheid en miltsiekte te genees. Hy het ook bewys dat kieme ’n belangrike rol in siektes speel. In 1882 het Robert Koch die kiem geïdentifiseer wat tering veroorsaak en deur een geskiedkundige as “die dodelikste siekte van die negentiende eeu” beskryf is. Omtrent ’n jaar later het Koch die kiem geïdentifiseer wat cholera veroorsaak. Die tydskrif Life sê: “Die werk van Pasteur en Koch het die wetenskap van mikrobiologie ingelui en het tot vooruitgang op die gebied van immunologie, sanitasie en higiëne gelei wat meer daartoe bygedra het om die lewe van mense te verleng as enige ander wetenskaplike prestasie van die laaste 1 000 jaar.”

Twintigste-eeuse geneeskunde

Aan die begin van die 20ste eeu het die geneeskunde op die skouers van hierdie en ander briljante geneeshere gestaan. Sedertdien is mediese vooruitgang teen ’n asemrowende tempo gemaak—insulien vir suikersiekte, chemoterapie vir kanker, hormoonbehandeling vir kliersiektes, antibiotika vir tering, chlorokien vir sekere soorte malaria en dialise vir nierkwale, asook opehartoperasies en orgaanoorplanting, om ’n paar te noem.

Hoe naby is die geneeskunde egter nou, aan die begin van die 21ste eeu, daaraan om die doelwit van “’n aanvaarbare vlak van gesondheid vir die hele wêreldbevolking” te waarborg?

’n Onbereikbare doelwit?

Kinders leer dat hulle nie elke appel kan bykom nie, selfs al klim hulle op ’n maatjie se skouers. Van die sappigste appels is bo in die boom, nog altyd heeltemal buite bereik. Net so het die geneeskunde die een prestasie na die ander bereik en hoër en hoër geklim. Maar die vernaamste doelwit—goeie gesondheid vir almal—is nog steeds bo in die boom waar dit buite bereik is.

Hoewel die Europese Kommissie dus in 1998 gesê het dat “Europeërs nog nooit so ’n lang en gesonde lewe geniet het nie”, het die verslag bygevoeg: “Een uit elke vyf mense sal ontydig sterf voor die ouderdom van 65. Kanker sal vir sowat 40% van hierdie sterfgevalle verantwoordelik wees, kardiovaskulêre siektes vir nog 30% . . . Ons moet beter beskerming teen nuwe gesondheidsgevare kry.”

Die Duitse gesondheidstydskrif Gesundheit het in November 1998 berig dat besmetlike siektes soos cholera en tering ’n al hoe groter bedreiging word. Waarom? Antibiotika “is nie meer so doeltreffend nie. Al hoe meer bakterieë is bestand teen ten minste een algemene geneesmiddel; trouens, baie is teen verskeie bestand.” Nie alleen is ou siektes besig om weer kop uit te steek nie, maar nuwe siektes soos vigs het verskyn. Die Duitse farmaseutiese publikasie Statistics ’97 bring die volgende onder ons aandag: “Vir twee derdes van alle bekende siektes—omtrent 20 000—is daar tot dusver geen manier om die oorsaak te behandel nie.”

Is geenterapie die antwoord?

Nuwe behandelingsmetodes word weliswaar nog steeds ontwikkel. Baie meen byvoorbeeld dat genetiese manipulering die sleutel tot beter gesondheid is. Navorsing in die 1990’s in die Verenigde State deur geneeshere soos dr. W. French Anderson, het daartoe gelei dat geenterapie as “die opwindendste nuwe gebied van mediese navorsing” beskryf is. Die boek Heilen mit Genen (Genesing met gene) sê dat “die mediese wetenskap [met geenterapie] moontlik op die drumpel van ’n deurbraak staan. Dit is veral die geval met die behandeling van siektes wat tot nou toe nog ongeneeslik was.”

Wetenskaplikes verwag dat hulle mettertyd aangebore genetiese siektes sal kan genees deur pasiënte met regstellende gene in te spuit. Selfs skadelike selle, soos kankerselle, sal moontlik gemanipuleer kan word om hulleself te vernietig. Geenontleding wat ’n mens se vatbaarheid vir sekere siektes identifiseer, is alreeds moontlik. Party sê dat farmakogenomika—die wysiging van geneesmiddels om by die pasiënt se genetiese samestelling te pas—die volgende stap sal wees. Een vooraanstaande navorser sê dat dokters eendag in staat sal wees om “hulle pasiënt se siektes te diagnoseer en hulle die regte stukkies molekulêre stringe te gee om hulle te genees”.

Maar nie almal is oortuig dat geenterapie die wonderkuur van die toekoms gaan wees nie. Trouens, volgens opnames sal mense dalk nie eers wil hê dat hulle genetiese samestelling ontleed moet word nie. Baie is ook bang dat geenterapie op ’n gevaarlike manier met die natuur sal inmeng.

Die tyd sal leer of genetiese manipulering of ander hipertegnologiese benaderings tot die geneeskunde hulle fantastiese beloftes gestand sal doen. Maar daar is rede om nie te optimisties te raak nie. Die boek The Clay Pedestal beskryf ’n kringloop wat maar alte bekend is: “’n Nuwe terapie word bekend gestel en by mediese vergaderinge en in vaktydskrifte geprys. Die ontdekkers daarvan maak ’n naam vir hulleself onder hulle kollegas, en die media prys die vooruitgang wat gemaak is. Ná ’n tydperk van euforie en goed gedokumenteerde bewyse ter ondersteuning van die wonderbehandeling, kruip ontnugtering geleidelik in, wat van ’n paar maande tot ’n paar dekades duur. Dan word ’n nuwe geneesmiddel ontdek, en amper oornag vervang dit die oue, wat dan onmiddellik as nutteloos verwerp word.” Trouens, baie van die geneesmiddels wat deur die meeste dokters as ondoeltreffend verwerp is, was nog onlangs standaardbehandeling.

Hoewel dokters nie meer vandag die godsdienstige status geniet wat hulle in die ou tyd ontvang het nie, is daar ’n neiging onder party mense om byna goddelike vermoëns aan geneeshere toe te skryf en te dink dat die wetenskap uiteindelik ’n kuur vir al die mensdom se kwale gaan vind. Maar die werklikheid skiet dikwels ver te kort aan hierdie ideaal. In dr. Leonard Hayflick se boek How and Why We Age sê hy: “In 1900 het 75 persent van die mense in die Verenigde State onder die ouderdom van vyf-en-sestig gesterf. Vandag is hierdie syfer amper omgekeerd: omtrent 70 persent van mense sterf bo die ouderdom van vyf-en-sestig.” Wat het tot hierdie ongelooflike verlenging van lewensduur gelei? Hayflick verduidelik dat dit “hoofsaaklik is weens die afname in die sterftesyfer van pasgeborenes”. Gestel nou die mediese wetenskap kon die vernaamste doodsoorsake onder die bejaardes verwyder—hartsiekte, kanker en beroerte. Sou dit tot onsterflikheid lei? Hoegenaamd nie. Selfs dan, sê dr. Hayflick, “sal die meeste mense ongeveer honderd jaar oud word”. Hy voeg by: “Hierdie honderdjariges sal nog steeds nie onsterflik wees nie. Waaraan sou hulle sterf? Hulle sou eenvoudig swakker en swakker word totdat hulle uiteindelik doodgaan.”

Ten spyte van die beste pogings van die mediese wetenskap is die verwydering van die dood dus nog steeds buite die geneeskunde se bereik. Waarom is dit die geval? En is die doelwit van goeie gesondheid vir almal ’n onmoontlike droom?

[Voetnote]

a Volgens The World Book Encyclopedia het Galenus gedink dat die lewer verteerde voedsel in bloed omsit, wat dan na die res van die liggaam vloei en geabsorbeer word.

b Sien die artikel “Van pyn tot narkose” in die Ontwaak! van 22 November 2000.

[Lokteks op bladsy 4]

“Baie opvattings van die ou tyd het ’n stempel op die geneeskunde agtergelaat wat tot vandag toe nog bestaan.”—The Clay Pedestal

[Prente op bladsy 4, 5]

Hippokrates, Galenus en Vesalius het die grondslag vir die moderne geneeskunde gelê

[Erkenning]

Kos-eiland, Griekeland

Courtesy National Library of Medicine

Houtsnee deur Jan Steven von Kalkar van A. Vesalius, uit Meyer’s Encyclopedic Lexicon

[Prente op bladsy 6]

Ambroise Paré was ’n haarkapper en ’n pionier op die gebied van die snykunde wat in diens van vier konings van Frankryk was

Persiese geneesheer Ar-Rāzī (links), en Britse geneesheer Edward Jenner (regs)

[Erkennings]

Paré en Ar-Rāzī: Courtesy National Library of Medicine

Uit die boek Great Men and Famous Women

[Prent op bladsy 7]

Die Fransman Louis Pasteur het bewys dat kieme siektes veroorsaak

[Erkenning]

© Institut Pasteur

[Prente op bladsy 8]

Selfs as die vernaamste doodsoorsake verwyder kan word, sal mense nog steeds van ouderdom sterf

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel