Koninkryksverkondigers berig
‘Gelukkig is diegene wat geestelik honger is’
JESUS het gesê: “Gelukkig is diegene wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Mattheüs 5:3, NW). Sulke mense sal na lewegewende inligting uit God se Woord, die Bybel, soek, en as hulle hierdie kennis hulle eie maak, sal dit hulle na die ewige lewe lei.—Mattheüs 4:4; Johannes 17:3.
◻ ’n Man in ’n Afrikaland wat geestelik honger was, het vier uur lank in die koue en donker geloop om ’n eksemplaar van My Boek met Bybelverhale te kry. Groot was sy teleurstelling toe hy die dorpie bereik waar Jehovah se Getuies met hul predikingswerk besig was en uitvind dat daar nie meer boeke oor is nie. Hy het drie dae in die dorpie gebly tot daar nog ’n voorraad boeke gekom het, en toe was hy uiteindelik gelukkig om hierdie puik geestelike inligting in sy besit te hê.
Die Getuies het gedurende hulle maand lange verblyf in hierdie afgesonderde gebied 55 boeke, 365 brosjures en 145 tydskrifte versprei en 5 intekeninge verkry. Hulle was diep ontroer toe die volwassenes sowel as die kinders tydens hulle vertrek in die Kpelle-taal teenoor hulle uitgeroep het: “Mag Jehovah met julle wees!” Daar word pogings aangewend om na die belangstelling terug te gaan.
’n Ander persoon in hierdie selfde land was ook geestelik honger. Sy was die tesourier vir haar kerk en die ontspanningsbeampte vir haar distrik. Toe die Getuies haar besoek het, het sy met trane in haar oë erken dat die kerk nie aan die Bybelse standaarde vir Christelikheid voldoen nie. Die Getuies het haar in haar eie Bybel gewys hoe sy die ware geloof kan uitken. Sy het toe twee vergaderinge by die Koninkryksaal bygewoon en daarna gesê: “Wat ek gehoor en gesien het, het my werklik oortuig dat dit die waarheid is.” Sy is beïndruk deur die vergaderinge en deur die gedrag van almal wat daar teenwoordig was. Sy het besef dat die Getuies wat haar besoek het nie dinge sê wat hulle uit hulle duim suig nie, maar dat dit die waarheid is. Sy het sedertdien stappe gedoen om haar verbintenis met die kerk te verbreek, en dit het ’n goeie getuienis in die gemeenskap tot gevolg gehad.
◻ ’n Jong Melanesiese kategis in Nieu-Caledonië was geestelik honger. Hy het ’n eksemplaar van die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe op die tafel in sy moeder se huis gevind en hoofstukke 2 en 3 gelees. Die Bybeltekste in Exodus 20:4, 5 en Johannes 4:23, 24 wat in die boek bespreek is, het sy hart geroer. Na aanleiding van wat daardie tekste sê, het hy sy priester gevra waarom die Katolieke Kerk die gebruik van beelde toelaat. Die priester het die vraag ontwyk. Die man het na ’n hele paar ander “Christelike” godsdienste gegaan, maar hulle kon hom nie bevredigende antwoorde op sy vrae gee nie. Uiteindelik het hy besluit om ’n vergadering van Jehovah se Getuies saam met sy moeder, wat reeds belangstelling in die waarheid getoon het, by te woon. Die liefde wat hy onder die Getuies gesien het en hulle Bybelgebaseerde leringe het hom baie beïndruk.
Ten spyte van groot afstande het hy gereeld na die vergaderinge geryloop, gou sy standpunt vir die waarheid ingeneem, en hy is gedoop. Hy dien nou as bedieningskneg. Sy moeder en twee van sy vleeslike susters het ook Getuies van Jehovah geword. Die jong man het vir lede van sy eie stam getuig en baie Bybelstudies begin. Nou woon ’n aantal van sy stamlede die vergaderinge in hierdie omgewing by—en dit alles omdat ’n jong man ’n boek wat die Bybel verduidelik op ’n tafel raakgesien het, die boek bestudeer het, en wat hy geleer het ernstig opgeneem het.
Jehovah rig vandag ’n groot geestelike voedingsprogram en menigtes vind daarby baat. Jesaja het gepas hieroor geprofeteer toe hy gesê het: “Kyk, my knegte sal eet, maar julle [lede van valse godsdiens] sal honger bly” (Jesaja 65:13). Hoe gelukkig is ons tog as ons voordeel trek uit Jehovah se voorsiening om ons geestelike honger te stil.