Koninkryksverkondigers berig
Skoolkinders se geestelike honger word gestil
“GELUKKIG is diegene wat bewus is van hulle geestelike behoefte” het Jesus in sy Bergpredikasie gesê (Mattheüs 5:3, NW). Baie skoolkinders dors na kennis van God en sy wonderlike voornemens. Hulle wil antwoorde hê op vrae oor die lewe en hulle wil weet hoe hulle moet leef om God se goedkeuring te verkry en gelukkig te wees. Dit het na vore gekom in ’n skool in die Britse Maagde-eilande. Een van Jehovah se Getuies daar vertel:
◻ “Ek het ’n ouer-onderwysersvergadering by die plaaslike skool bygewoon, en aangesien daar baie gesê is oor dwelms, drinkery, afsprake, TV-kykery, punte en ander sake het ek besluit om die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk te neem en dit vir die hoof aan te bied. Nadat sy deur die boek geblaai het, het sy gesê dat dit presies is wat hulle nodig het en gevra of die skool vir elkeen van die 120 leerlinge ’n eksemplaar kon kry. Die saak is met die gemeentelike ouere manne bespreek, en hulle het besluit om die boeke aan die skool te skenk. Toe ons dit vir die onderwysers gesê het, het hulle gevra dat ons die boeke aan die leerlingraad toon. Twee Getuies het gegaan, en die vertrek was vol leerlinge wat vir hulle gewag het. Die broers het ’n halfuur lank gepraat en ondervindinge gelees uit die Wagtoringgenootskap se tydskrifte wat toon hoe die boek al jonk en oud gehelp het. Toe is die boeke vir die gretige leerlinge gegee.”
Dit is goeie nuus dat die skool besluit het om die boek te gebruik as deel van die gewone kursusse vir standerd twee en drie. Dit sal waarlik baie vrae beantwoord wat hierdie leerlinge oor die lewe en die toekoms het.
Mense in Papoea-Nieu-Guinee se geestelike honger word gestil
Die volgende ondervinding is van ’n reisende opsiener ontvang. Dit lig toe hoe geestelik honger die mense in daardie land is en hoe doeltreffend ons Bybelse publikasies daardie honger stil.
◻ “Aangesien ek nie die dorpie Kamberatoro kon besoek nie”, het die opsiener gesê, “het ek my tyd gebruik om saam met die gemeentetjie in Vanimo te werk. Daar is baie belangstelling. ’n Aantal mense van Bewani het lektuur geneem. Een man het my gevra om hierdie dorpie te besoek, en hy sou vir my verblyf verskaf. Baie mense ken ons lektuur. Elke slag wanneer ons na die dorpie Vanimo gegaan het, het ons lektuur opgeraak en dit ten spyte van die feit dat ons drie kartonne boeke geneem het. My boek met Bybelverhale word beskou as net so waardevol soos goud. Mense soek daarna. Die boeke wat ek saamgeneem het, is baie vinnig versprei. Toe ons vir mense ons lektuur wys, het party gevra: ‘Waar is die geel boek?’ Een man het ses bestel. Hy het vir my sy naam en adres gegee en gevra dat ek ’n aankondiging oor die radio doen wanneer ek hulle ontvang het. Hy sal dan van sy dorpie af kom om hulle te kom haal.” Die reisende opsiener sê voorts: “Ek het gevind dat baie mense in Vanimo die boeke Die mensdom se soeke na God en Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk geneem het.”
Dit lig toe hoe opregte mense honger na die geestelike voedsel wat in die Bybel en die publikasies gevind word wat Jehovah deur middel van “die getroue en verstandige dienskneg” voorsien het (Mattheüs 24:45-47). Hoeveel vreugde put Jehovah se Getuies tog nie daaruit omdat hulle hierdie mense wat na die waarheid honger, kan help nie!
[Prent op bladsy 19]
Getuieniswerk in Papoea-Nieu-Guinee