Waarom hulle relieke in aanbidding gebruik
NAPELS, Italië. Stel jou voor dat jy jou in die vroeë jare van die 18de eeu van ons Gewone Jaartelling daar bevind. Die Ierse filosoof George Berkeley staan in die stad se katedraal voor ’n bekende godsdiensreliek. Hy staan skepties en kyk hoe die bloed van “San Gennaro”, die Katolieke “sint” Januarius, skynbaar vloeibaar word.
Napels het in hierdie opsig min verander. Ondanks slegte weer was die kerk byvoorbeeld in onlangse jare weer ’n keer stampvol, en ’n wonderwerk het skynbaar plaasgevind. Die reliek en ’n optog wat deur die kardinaal-aartsbiskop gelei is, is met hartlike applous begroet. Ja, dit was nog een van die baie kere dat die bloed van “San Gennaro” skynbaar vloeibaar geword het. Wonderwerke wat met hierdie godsdiensreliek te doen het, vind na bewering al sedert die 14de eeu plaas.
Volgens die Katolieke tradisie is ’n reliek (afgelei van die Latynse woord relinquere, wat beteken “om agter te laat”) ’n voorwerp wat agtergelaat is deur iemand wat as ’n heilige beskou word. Soos die Dizionario Ecclesiastico sê, is relieke “in die engste sin van die woord die liggaam of ’n deel van die liggaam en die as van die Heilige, en in die breër betekenis, die voorwerp wat in aanraking was met die liggaam van die heilige en wat gevolglik toewyding waardig is”.
Pouslike goedkeuring
Baie mense vereer heiliges ongetwyfeld weens die skynbare wonderwerke wat met hulle geassosieer word. Pouslike goedkeuring is klaarblyklik nog ’n faktor by hulle gewildheid.
Minstens vier pouse het gedurende die afgelope 70 jaar spesiale aandag aan relieke gegee. ’n Katolieke tydskrif toon dat pous Pius XII, soos sy voorganger Pius XI, “relieke van die heilige van Lisieux by hom gedra het”. Paulus VI “het ’n vinger van die apostel [Thomas] op die lessenaar in sy studeerkamer gehou”, en Johannes-Paulus II “hou, in sy eie woonkwartier, van die . . . stoflike oorskot” van “Sint Benedictus” en “Sint Andreas”.—30 giorni, Maart 1990, bladsy 50.
Met die oog op sodanige pouslike goedkeuring is dit te begrype dat die vraag na relieke vir private sowel as publieke verering toeneem. Maar keur God toewyding aan relieke goed?
[Prent op bladsy 3]
’n Reliekskryn, ’n houer waarin godsdiensrelieke bewaar word
[Erkenning]
Courtesy of The British Museum