Keur God die verering van relieke goed?
DIE bloed van “San Gennaro”, wat glo gewoonlik drie maal per jaar vloeibaar word, is een van baie godsdiensrelieke. Nog een is die Lykkleed van Turyn, waarin die liggaam van Jesus Christus na bewering toegedraai was. Ander relieke wat met Jesus geassosieer word, is sy vermeende bababedjie (in ’n groot basilika in Rome), sy spelboek en meer as duisend spykers wat na bewering by sy teregstelling gebruik is! Godsdiensrelieke sluit ook etlike koppe van Johannes die Doper in, en, in verskillende plekke in Europa, vier liggame, wat na bewering elkeen dié van “Santa Lucia” is.
Een van die stede wat besonder bekend is vir relieke is Trier, Duitsland, waar een van die talle “heilige onderklede”—die naatlose onderkleed wat Jesus Christus gedra het—bewaar word. In die Vatikaanstad self is daar meer as duisend relieke in ’n spesiale argief. Letterlik duisende godsdiensrelieke word in die kerk van “Sint Ursula” in Keulen, Duitsland, gehou. Daar is nog baie voorbeelde wat genoem kan word. In Italië alleen is daar dan 2 468 sogenaamde heilige plekke met godsdiensrelieke!
Die verering van relieke dateer, soos die verering van “heiliges”, blykbaar uit die vierde eeu van ons Gewone Jaartelling. Om godsdienstige, ekonomiese en selfs politieke redes het die aantal relieke deur die eeue heen geleidelik toegeneem, sodat daar vandag duisende bestaan. Die Tweede Vatikaanse Konsilie het herbevestig dat “die Kerk, volgens sy tradisie, die heiliges vereer en eer betoon aan hulle egte relieke en hulle beelde” (Constitution “Sacrosanctum Concilium” sulla sacra Liturgia, in I Documenti del Concilio Vaticano II, 1980, Edizioni Paoline). “Die roemryke relieke, sowel as dié wat deur baie mense as heilige voorwerpe beskou word”, word in Codex Iuris Canonici (Kode van die Kerkwet) genoem wat Johannes-Paulus II in 1983 gepromulgeer het (Kanon 1190). Anglikane en lidmate van die Ortodokse kerke vereer ook relieke.
Aangesien daar soveel spykers is wat na bewering met Christus se teregstelling gebruik is en aangesien daar soveel koppe van Johannes die Doper bestaan, is dit duidelik dat godsdiensrelieke dikwels vals is. Radiokoolstofdatering het byvoorbeeld getoon dat die Lykkleed van Turyn vals is. Interessant genoeg het die bekende Vatikaanse waarnemer Marco Tosatti in 1988 gedurende die heftige debat daaroor gevra: “Wat sou die uitslag wees as die wetenskaplike ontleding wat op die Lykkleed gedoen is, toegepas word op ander voorwerpe wat deur baie mense vereer word?”
Natuurlik sal geen verstandige mens ’n valse reliek wil vereer nie. Maar is dit die enigste feit wat oorweeg moet word?
Wat sê die Bybel?
Die Bybel sê nie dat God se uitverkore volk, die eertydse Israeliete, godsdiensrelieke vereer het toe hulle in slawerny in Egipte was nie. Die voorvader Jakob het weliswaar in Egipte gesterf en sy oorskot is na die land Kanaän geneem om “in die spelonk wat op die grond van Magpela is”, begrawe te word. Sy seun Josef het ook in Egipte gesterf, en sy beendere is eindelik na Kanaän geneem om begrawe te word (Genesis 49:29-33; 50:1-14, 22-26; Exodus 13:19). Maar die Skrif gee geen aanduiding dat die Israeliete ooit die oorskot van Jakob en Josef as godsdiensrelieke vereer het nie.
Dink ook aan wat in die geval van die profeet Moses gebeur het. Onder God se leiding het hy die Israeliete 40 jaar lank gelei. Maar toe hy 120 jaar oud was, het hy met die berg Nebo opgeklim, die Beloofde Land aanskou en gesterf. Migael die aartsengel het met die Duiwel getwis oor Moses se liggaam, en enige poging van Satan om dit te gebruik om die Israeliete in die aanbidding van relieke in te lok, is gefnuik (Judas 9). Al is dit te begrype dat hulle oor Moses se dood gerou het, het hulle nooit sy stoflike oorskot vereer nie. Trouens, God het so iets onmoontlik gemaak deur Moses in ’n graf sonder teken te begrawe op ’n plek wat aan geen mens bekend is nie.—Deuteronomium 34:1-8.
Sekere voorstanders van die verering van relieke noem 2 Konings 13:21 wat sê: “Terwyl hulle besig was om ’n man te begrawe, sien hulle meteens die bende; daarom het hulle die man in die graf van [die profeet] Elisa gegooi; en toe die man met die gebeente van Elisa in aanraking kom, het hy lewendig geword en opgestaan op sy voete.” Dit was ’n wonderwerk wat te doen gehad het met die lewelose beendere van een van God se profete. Maar toe die wonderwerk plaasgevind het, was Elisa dood en ‘het hy glad niks geweet nie’ (Prediker 9:5, 10). Daarom moet hierdie opstanding toegeskryf word aan Jehovah God se vermoë om wonderwerke te verrig, waarvoor hy sy heilige gees, of werkende krag, gebruik het. Dit is ook noemenswaardig dat die Skrif nie sê dat Elisa se beendere ooit vereer is nie.
Party in die Christendom staan die verering van relieke voor weens wat ons in Handelinge 19:11, 12 lees: “God het buitengewone kragte deur die hande van [die apostel] Paulus gedoen, sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het.” Let daarop dat dit God was wat daardie buitengewone werke deur Paulus gedoen het. Die apostel self het nie daardie werke onafhanklik gedoen nie, en hy het nooit toegelaat dat enige mens hom vereer nie.—Handelinge 14:8-18.
Strydig met die Bybelse leer
Die verering van relieke is in werklikheid strydig met etlike Bybelse leerstellings. ’n Onmisbare faktor by sulke verering is dat ’n mens aan die onsterflikheid van die mens se siel glo. Miljoene vroom kerklidmate glo dat die siele van almal wat heilig verklaar is en as “heiliges” vereer word in die hemel lewe. Hierdie opregte mense bid tot sulke “heiliges”, soek hulle beskerming en vra dat hulle by God ’n voorspraak sal wees vir die een wat daarvoor vra. Trouens, volgens een kerklike werk meen Katolieke dat relieke “net soveel mag van voorspraak by God het as die Heilige.”
Volgens die Bybel is die mens se siel egter nie onsterflik nie. Mense het nie siele in hulle wat onsterflik is en wat ná die dood apart van die liggaam kan voortleef nie. Die Skrif sê daarenteen: “Die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword” (Genesis 2:7). Die Bybel sê nie dat die mens ’n onsterflike siel het nie, maar dit sê: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4). Dit geld vir alle mense—selfs vir dié wat later “heilig” verklaar word—want almal het sonde en die dood van die eerste mens, Adam, geërf.—Romeine 5:12.
Die verering van “heiliges” moet vermy word, want hulle is nooit die mag gegee om vir enigiemand ’n voorspraak by God te wees nie. Jehovah God het bepaal dat slegs sy Seun, Jesus Christus, dit kan doen. Die apostel Paulus het gesê: “Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.”—Romeine 8:34, NAV; vergelyk Johannes 14:6, 14.
Nog ’n rede om die verering van “heiliges” en die godsdiensrelieke wat met hulle geassosieer word te vermy, is die Bybel se beskouing van afgodediens. Een van die Tien Gebooie wat aan die Israeliete gegee is, sê: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ’n jaloerse God [“’n God wat uitsluitlike toegewydheid vereis”, NW]” (Exodus 20:4, 5). Eeue later het die apostel Paulus vir mede-Christene gesê: “My geliefdes, vlug vir die afgodediens” (1 Korinthiërs 10:14). Die apostel Johannes het eweneens geskryf: “My kinders, bewaar julleself van die afgode.”—1 Johannes 5:21.
Die verering van “heiliges” en godsdiensrelieke word dus glad nie deur die Bybel gesteun nie. Maar party mense wil iets hê wat hulle as heilig kan beskou en wat hulle kan sien, kan aanraak en wat veronderstel is om reddingskrag te hê. Baie mense beskou godsdiensrelieke inderdaad as ’n sigbare skakel in ’n ketting tussen hemel en aarde. Dink gerus ’n bietjie hieroor na.
Dit is nie deur godsdiensrelieke te sien en aan te raak dat ’n mens in ooreenstemming met Jesus se woorde oor die aanbidding wat God wil hê, optree nie. Jesus het gesê: “Daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:23, 24). Jehovah God is ’n “Gees” en is onsigbaar vir mense-oë. Om hom “in gees” te aanbid, beteken dat ons heilige diens aan God gemotiveer word deur ’n hart vol liefde en geloof (Mattheüs 22:37-40; Galasiërs 2:16). Ons kan God nie ‘in waarheid’ aanbid as ons relieke vereer nie, maar slegs deur valse godsdiensidees te verwerp, sy wil te leer ken soos dit in die Bybel geopenbaar word en dit dan te doen.
Dit is dus nie verbasend dat die geleerde James Bentley erken dat ‘die eertydse Hebreërs nie die verering van relieke beoefen het nie’. Hy sê ook dat die gesindheid van Christene ten opsigte van relieke heeltemal verander het in die vier eeue tussen Stefanus se dood en die tyd toe sy liggaam deur Lucianus opgegrawe is. Teen die vyfde eeu G.J. het die afvallige Christendom egter reeds opgehou om die duidelike Bybelse leerstellings oor afgodediens, die toestand van die dode en die rol van Jesus Christus as die een wat ‘vir ons pleit’ aan te hang.—Romeine 8:34, NAV; Prediker 9:5; Johannes 11:11-14.
As ons wil hê dat ons aanbidding God moet behaag, moet ons seker maak dat dit nie met enige vorm van afgodediens gepaard gaan nie. Om aanvaarbaar te wees, moet ons aanbidding tot die Skepper, Jehovah God, gerig word en nie tot enige reliek of skepsel nie (Romeine 1:24, 25; Openbaring 19:10). Ons moet ook juiste kennis van die Bybel opdoen en ’n sterk geloof bou (Romeine 10:17; Hebreërs 11:6). En as ons die weg van ware aanbidding bewandel, sal ons optree in ooreenstemming met die oorweldigende skriftuurlike bewys dat God nie die verering van relieke goedkeur nie.
[Prent op bladsy 5]
Elisa se beendere is nie vereer nie, al was hulle betrokke by ’n opstanding