Waarom soveel wanhoop?
HOOP op ’n beter lewe—uiteindelik ’n werklikheid! Dit is wat baie mense wat in die destydse Oos-Duitsland gewoon het, geglo het toe die Berlynse Muur in November 1989 geval het. Maar net ’n bietjie meer as ’n jaar later het hulle gekla dat “dit moeiliker is om die mas op te kom in die harde wêreld van kapitalistiese demokrasie as in die lewe wat deur die Berlynse Muur beskerm was”. Die gevolg? Ontnugtering en toenemende wanhoop.
Geweld in die huis en in die gemeenskap kan mense dwing om hulle tuiste op soek na veiligheid te verlaat, maar min vind dit. Sommige beland selfs tussen die haweloses wat op die strate van die stede woon. In sommige lande raak baie van hierdie mense in amptelike formaliteite verstrik. Hulle kan nie ’n huis bekostig nie omdat hulle nie werk het nie, en hulle kan nie werk kry nie omdat hulle nie ’n woonadres het nie. Staatswelsynsorganisasies probeer hulle help, maar dit neem tyd om die probleme uit te pluis. Die gevolg is dus frustrasie en wanhoop.
Baie vroue word deur wanhoop gedryf om iets waarlik desperaats te doen. In die verslag Women and Crime in the 1990s verduidelik dr. Susan Edwards, lektrise in die regte: “Die betrokkenheid van jonger vroue [in prostitusie] is ’n direkte gevolg van ekonomiese nood, nie van ’n gebrek aan selfdissipline of van familie-agtergrond nie.” Jong mans wat die huis verlaat om werk te soek, kan eweneens dikwels nie werk kry nie. Sommige word uit wanhoop ‘huurseuns’ en laat homoseksuele hulle liggaam gebruik in ruil vir voedsel en onderdak en word sodoende pionne in die hande van korrupte bendes misdadigers.
Harde politieke werklikhede, geweld, ekonomiese probleme kan alles ’n mate van wanhoop veroorsaak. Selfs mense in professionele beroepe is nie immuun teen wanhoop nie omdat hulle hulle weelderige lewenstyl probeer handhaaf terwyl hulle toenemende finansiële probleme die hoof moet bied. Die gevolg? Soos eertydse koning Salomo gesê het: “Louter onderdrukking kan ’n wyse waansinnig laat handel”!a (Prediker 7:7, NW). Wanhoop laat al hoe meer mense inderdaad die drastiesste uitweg—selfmoord—neem.
Die drastiesste uitweg
Die baie gevalle van selfmoord onder jongmense toon dat selfs hulle deur die plaag van wanhoop geraak word. ’n Britse nuusrubriekskrywer het gevra: “Wat is dit van ons tye wat soveel wanhoop onder tieners veroorsaak?” In ’n studie van kinders tussen 8 en 16 wat in hospitale opgeneem is nadat hulle hulle probeer vergiftig het, sê dr. Eric Taylor van Londen se Instituut vir Psigiatrie: “Een ding wat ’n mens opgeval het, was hoeveel van die kinders wanhopig en desperaat oor hulle situasie was.” Brittanje het elke jaar ’n rekordgetal van nagenoeg 100 000 gevalle van mense wat doelbewus gif drink maar nie daarvan sterf nie en wat in werklikheid desperate hulpkrete is.
Een Britse welsynsorganisasie het ’n veldtog van stapel gestuur om ’n simpatieke oor te verleen aan diegene wat wanhopig is. Die raadgewers het gesê dat hulle sodoende “alternatiewe vir die dood” bied. Maar hulle erken dat hulle nie die probleme kan oplos wat mense wanhopig maak nie.
Die hoë selfmoordsyfer weerspieël “die vlak van vervreemding en die gebrek aan maatskaplike saamhorigheid in die gemeenskap”, sê die koerant The Sunday Correspondent. Waarom is die selfmoordsyfer vandag so hoog? Die koerant het “haweloosheid, toenemende drankmisbruik, die bedreiging van vigs en die sluiting van hospitale vir sielsiekes” genoem as faktore wat mense tot so ’n volslae wanhoop dryf dat hulle dink die enigste oplossing vir hulle probleme is om hulle lewe te neem.
Is daar enige hoop om van wanhoop ontslae te raak? Ja! “Kyk dan na bo en hef julle hoofde op” is Jesus se bemoedigende uitroep! (Lukas 21:28). Wat het hy bedoel? Watter hoop is daar?
[Voetnoot]
a Volgens die Theological Wordbook of the Old Testament, wat deur Harris, Archer en Waltke geredigeer is, het die stam van die woord in die oorspronklike taal wat as “onderdrukking” vertaal word betrekking op “die belasting, vertrapping en verdrukking van diegene van ’n laer stand”.