Doen jy jou uiterste bes?
“EK SAL my bes doen.” Hoe baie word hierdie woorde tog nie gevolg deur “maar” en ’n lang lys verskonings waarom ons ons nie kan inspan nie! Wat van ons toewyding aan Jehovah? Kom ons ons belofte na om ons uiterste bes vir hom te doen?
Om jou toe te wy, beteken om ‘jou heeltemal oor te gee aan die diens of aanbidding van ’n Goddelike wese of aan heilige gebruike’. Jesus het baie gedoen om te toon wat toewyding aan Jehovah behels deur te sê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” (Mattheüs 16:24). Iemand wat homself verloën en aan God toegewy het, maak die uitvoering van die Goddelike wil die belangrikste strewe in sy lewe.
As toegewyde mense moet ons onsself ondersoek om te sien of ons ons toewyding naleef. Petrus het getoon waarom ons onsself moet ondersoek toe hy gesalfde Christene aangespoor het: “Julle [moet] jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie” (2 Petrus 1:10). Ja, as ons ons uiterste bes doen, sal ons geestelikheid nie mettertyd skipbreuk ly nie.
Ons uiterste bes kan verbeter word
In ’n wyer sin word daar van alle toegewyde knegte van God verwag om hulle uiterste bes, of hulle bes, te doen om Jehovah te behaag. Maar ons uiterste bes in die uitvoering van God se wil kan verbeter. ’n Driejarige seuntjie doen moontlik sy bes om sy ma te help wanneer hy vir haar ’n takie verrig, maar namate hy ouer word, sal hy meer kan doen. Dit is ook die geval met ons geestelike groei—wat voorheen ons uiterste bes was, is dalk nie meer ons uiterste bes nie. Ons word beweeg om meer vir Jehovah te doen.
Ons groter waardering vir Jehovah maak ons bereidwilliger om meer te doen. Waardering vir wat hy vir ons doen, word versterk deur persoonlike studie van sy Woord, die Bybel. Wanneer ons byvoorbeeld noukeurig ondersoek instel na en bepeins oor hoe Jehovah sy Seun gestuur het om sy siel te gee om die mensdom van sonde te bevry, word ons beweeg om die Insteller van die losprysreëling te dien (Johannes 3:16, 17; 1 Johannes 4:9-11). Hoe meer ons “smaak en sien dat die HERE goed is”, hoe meer word ons harte beweeg om hom te dien.—Psalm 34:9.
’n Voltydse bedienaar genaamd Jetter het dit besef. Sy het ’n kamertjie in haar huis wat sy net gebruik om wat sy studeer deegliker te ondersoek. Sy het dit so ingerig dat sy kan konsentreer terwyl sy navorsing doen. Sy het die Watch Tower Publications Indexes sowel as bundels van Die Wagtoring en die Ontwaak! binne bereik op die boekrak. “Wanneer ek navorsing doen oor interessante inligting”, sê sy, “kan ek nie wag om ander daarvan te vertel nie.”
Maar net soos ’n groot maaltyd af en toe nie die mens se daaglikse behoefte aan gereelde maaltye wegneem nie, sluit ’n diep, maar eenmalige ondersoek van die Bybel nie die daaglikse behoefte aan geestelike voedsel uit nie. Ruth kan hierdie behoefte insien, want so ver terug as wat sy kan onthou, het haar gesin elke oggend en aand na maaltye saam die Bybel gelees. Nou, op 81-jarige ouderdom, nadat sy reeds meer as 60 jaar in die voltydse bediening deurgebring het, lees sy steeds gereeld die Bybel nadat sy om 6:00 vm. wakker word. Sodra Ruth Die Wagtoring en die Ontwaak! ontvang, ruim sy tyd in om hulle te lees. Sy gaan ’n artikel ten minste drie of vier keer deur voordat sy dit in die gemeente studeer. “’n Mens moet God se Woord inneem as jy sterk in die geloof wil bly”, sê sy. Dit het haar ook gehelp om baie jare aan die sendingdiens te wy.
Ons uiterste bes om ander te help
Deur ’n diep en gereelde studie van God se Woord neem ons ywer toe om God te dien, en iets binne ons spoor ons aan om meer te doen. (Vergelyk Jeremia 20:9.) Sulke ywer het Hirohisa beweeg om sy bediening te vervul (2 Timotheüs 4:5). Hy het saam met sy ma en vier jonger broers en susters gewoon. Terwyl hy ’n tiener was, het Hirohisa sy gesin finansieel ondersteun deur drie-uur in die oggend op te staan om koerante af te lewer. Hirohisa wou meer doen om ander van Jehovah te vertel en daarom het hy aansoek gedoen om die pionierdiens te betree, soos die voltydse bediening van Jehovah se Getuies genoem word. Al was hy so jonk het hy dit geniet om ander te help om saam met hom hulle uiterste bes te doen om Jehovah te prys.
As ons ons uiterste bes wil doen om ander te help, beteken dit ook dat ons bekwame bedienaars moet word. Jesus het sy dissipels eenkeer aangespoor: “As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen” (Johannes 13:17). Naomi is ’n goeie voorbeeld van iemand wat die wenke toepas wat Jehovah se organisasie voorsien om ons bediening te verbeter. Sy het dit moeilik gevind om van huis tot huis met vreemdelinge te praat en het dikwels nie geweet wat om te sê wanneer sy op die deurdrumpel staan nie. Ouere manne in die gemeente het haar aangespoor om die wenke toe te pas wat in die boek Redenering uit die Skrif, in die deel “Inleidings vir gebruik in die veldbediening”, voorkom.a Sy het die inleidings onder die opskrif “Gesin/Kinders” uit die hoof geleer en dit baie keer geoefen. Dit het daartoe gelei dat sy ’n gesprek kon voer met ’n huisvrou wat in haar dertigerjare was. Selfs voordat Naomi ’n herbesoek kon doen, het hierdie vrou na die Koninkryksaal gekom. ’n Bybelstudie is gereël. Die huisvrou en haar man is nou gedoopte Christene en hulle geniet saam met hulle kinders ’n gelukkige gesinslewe.
Ons uiterste bes om persoonlike belangstelling te toon
Ons kan ook die apostel Paulus navolg wat gesê het: “Ek doen [alles] ter wille van die evangelie, dat ek ’n deelgenoot daarvan kan word.”—1 Korinthiërs 9:22, 23.
Hatsoemi openbaar hierdie gesindheid. Terwyl Hatsoemi aan die openbare bediening deelgeneem het, het ’n vrou beleef oor die interkom gesê dat sy te besig was om te praat. Die huisbewoner het ’n sagte stemtoon gehad en Hatsoemi het aangehou om haar te besoek. Die huisbewoner het slegs deur die interkom geantwoord en het nooit uitgekom om Hatsoemi te ontmoet nie. Dit het twee en ’n half jaar lank só voortgegaan.
Een dag het Hatsoemi haar besoektyd verander en laat die middag gegaan. Niemand het geantwoord nie. Maar toe sy wegloop het ’n bekende stem agter haar gevra: “Wie is jy?” Die vrou het so pas tuisgekom. Toe sy Hatsoemi se naam hoor, het sy vinnig geantwoord: “O, dit is jy wat my besoek. Dankie dat jy altyd vir my omgee.” Omdat die vrou haar Bybelstudie met Jehovah se Getuies op ’n ander plek gestaak het, was sy te skaam om die deur vir Hatsoemi oop te maak. ’n Bybelstudie is weer begin en die huisbewoner vorder baie goed. Gee ons soveel om vir diegene wat ons in die huis-tot-huis-bediening ontmoet?
Doen jou uiterste bes
Jehovah waardeer ons ywer om ons uiterste bes te doen om hom te dien. Hy is soos ’n vader wie se seun met geskenke na hom toe kom. Met die verloop van die jare verskil die geskenk moontlik elke keer vanweë die seun se ouderdom en geld. Net soos die vader gelukkig is om watter opregte geskenke ook al van sy seun te ontvang, so aanvaar Jehovah graag ons heelhartige diens in ooreenstemming met ons geestelike groei.
Dit het natuurlik geen sin om óns uiterste bes met die van ander te vergelyk nie. Soos Paulus sê, sal ons rede hê om ons in onsself te verheug en “nie wat die ander betref nie” (Galasiërs 6:4). Laat ons voortgaan om ag te slaan op die apostel Petrus se raad: “Beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.”—2 Petrus 3:14.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 29]
Doen jy jou uiterste bes om wenke vir die veldbediening toe te pas?