‘Doen julle uiterste byes’
1 Toe ons ons aan Jehovah toegewy het, het ons belowe om ons heel beste aan hom te gee. Dit is dus gepas dat die apostel Petrus eerste-eeuse Christene aangespoor het om hulle uiterste bes te doen om te verseker dat hulle ’n goeie posisie voor Jehovah het (2 Pet. 1:10). Ons wil beslis ons uiterste bes doen om Jehovah vandag in ons diens aan hom te behaag. Wat behels dit? Namate ons verhouding met Jehovah verinnig en ons peins oor alles wat hy vir ons gedoen het, beweeg ons hart ons om altyd ons bes in sy diens te doen. Ons wil die gehalte van ons bediening verbeter en, waar moontlik, ons deelname daaraan vergroot.—Ps. 34:9; 2 Tim. 2:15.
2 ’n Jong broer wat meer in die bediening wou doen, het gevind dat ’n gereelde studie van God se Woord sy waardering vir Jehovah verdiep het en hom groter ywer gegee het. Dit het hom beweeg om vir gewone pionierdiens aansoek te doen. ’n Suster wat dit moeilik gevind het om met vreemdelinge te praat, het van die aanbiedinge in die Redenering-boek geoefen en gou groter welslae in haar bediening begin geniet. Sy kon ’n Bybelstudie met ’n egpaar hou wat toe die waarheid aangeneem het.
3 Verbly jou in wat jy kan doen: Party van ons ondervind moeilike omstandighede, soos swak gesondheid, familieteenstand, armoede of weinig reaksie in die gebied. Baie ander probleme wat algemeen in hierdie laaste dae is, kan op ons diens inbreuk maak (Luk. 21:34, voetnoot in naslaanuitgawe; 2 Tim. 3:1). Beteken dit dat ons in ons toewyding aan Jehovah gefaal het? Nie as ons ons uiterste bes doen om hom te dien nie.
4 Dit is onverstandig om onsself te oordeel op grond van wat ander kan bereik. Die Skrif moedig ons eerder aan om ‘elkeen sy eie werk op die proef te stel’. Wanneer ons ten volle van onsself gee in die mate waartoe ons persoonlik in staat is, behaag dit Jehovah en gee dit ons “rede tot verblyding”.—Gal. 6:4; Kol. 3:23, 24.
5 Laat ons op Petrus se woorde ag slaan om ‘ons uiterste bes te doen om uiteindelik deur hom vlekkeloos en smetloos en in vrede bevind te word’ (2 Pet. 3:14). Daardie gees sal ons veilig laat voel en ons die gemoedsrus gee wat slegs Jehovah kan bied.—Ps. 4:9.