Doen jou bes deur aan die voltydse diens deel te neem
1 “Hoe groter die inspanning, des te groter die seëninge”, het die byeenkomsspreker gesê. Toe het hy diegene in die pioniergedeelte by die “Goddelike Vrede”-Streekbyeenkoms gevra om hulle hande op te steek as hulle saamstem. Kan jy die reaksie onthou? Daarna het die spreker van die seëninge opgenoem wat ’n mens ontvang wanneer jy in die voltydse diens volhard—onder meer groter geestelikheid, vaardigheid in die gebruik van die Bybel, diensvoorregte in God se organisasie, lewende aanbevelingsbriewe en ’n verbeterde persoonlikheid.
2 Die belangrikste seën waarna ’n mens kan streef, is God se goedkeuring. Een voltydse bedienaar, die apostel Paulus, het gesê dat ons ons bes moet doen om dit te verkry. Hy het Timotheüs met hierdie woorde aangespoor: “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel.” Hy het Timotheüs ook aangemoedig om daardie goedkeuring te kry deur “’n werker [te wees] wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Tim. 2:15). Ons kan ook God se goedkeuring nastreef, en die pionierdiens sal ons die geleentheid bied om ons bes te lewer in die belangrikste werk wat vandag op aarde gedoen word.
VERVUL JOU TOEWYDING IN DIE VOLTYDSE DIENS
3 Die pionierdiens kan ’n baie bevredigende manier wees om ’n mens se toewyding aan Jehovah te vervul. Om suksesvol te wees, moet pioniers geestelike dinge eerste stel. Hulle verstand moet nie deur sorge oor materiële dinge beswaar word sodat hulle hul nuttigheid inboet nie. Hulle leer om Jehovah hulle las te laat dra deur hulle bekommernis op hom te werp (1 Pet. 5:6, 7). Een suster het na tien jaar in die pionierdiens gesê: “Jehovah ken my probleme, en hy kan hulle oplos. Kan ek iemand dien wat beter is as hy?”
4 Het die byeenkomsspreker se definisie van toewyding jou ernstig oor die voltydse diens laat nadink? Hy het Jesus se woorde aangehaal waar hy gesê het: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën .. . en My [voortdurend] volg” (Matt. 16: 24, vgl. NW). Die apostel Paulus het gebid dat die liefde van sy mede-Christene nog meer en meer oorvloedig mag word sodat hulle vervul kan word met die vrug van geregtigheid (Filip. 1:9-11). Beteken dit dat jy moontlik die pionierdiens moet betree? Een suster in haar tagtigerjare het na ’n halwe eeu in die voltydse diens die volgende oor die pionierdiens gesê: “Wat sal jy doen as Jesus Christus jou self vra?”
5 Het jy al daaraan gedink hoe die pionierdiens jou kan help om jou toewyding te vervul? As jy dit kan doen, sal jy tallose seëninge ontvang. Een jong suster van Nederland het na net een jaar in die pionierdiens gesê: ‘As jy Jehovah elke dag dien, word jy al hoe meer van sy voorneme bewus. Jou persoonlike verhouding met hom verbeter ook omdat jy meer studeer en vuriger bid. Jy leer Jehovah as Persoon beter ken.’ Sal jy graag Jehovah as Persoon beter wil leer ken?—Joh. 17:3.
OUERE MANNE OM PIONIERS TE HELP
6 As ’n pionier dit moeilik vind om aan die uurvereiste vir die maand te voldoen, moet hy die rede agterop die Velddiensrapport (S-4) verstrek. Die ouere manne moet vertroud raak met die informasie in die byvoegsel tot Ons Koninkryksdiens van Maart 1978 om gepaste hulp, leiding en raad te gee.
7 Die ouere manne moet reëlings tref om gedurende Desember ’n vergadering met al die gewone pioniers te hou om informasie te bespreek wat die Genootskap spesiaal vir daardie vergadering voorsien. Ons stel voor dat die presiderende opsiener en die diensopsiener hierdie vergadering behartig. Die vergadering moet geestelik, prakties en bemoedigend wees —voorberei om in die behoeftes van die plaaslike pioniers te voorsien. Dit moet hulle help om voort te gaan om hulle bes te doen in die voltydse diens.