Kom na die “Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkoms
JEHOVAH se knegte in die ou tyd was onder die Mosaïese Wet verplig om drie maal per jaar vir sekere feeste byeen te kom. Dit was heuglike en geestelik opbouende geleenthede.—Deuteronomium 16:16.
Jehovah se knegte in hedendaagse tye kom eweneens drie maal per jaar byeen: vir die spesiale byeenkomsdag, vir die tweedaagse kringbyeenkoms en vir die drie- of vierdaagse streekbyeenkoms. Gedurende 1994 sal Jehovah se Getuies vir die “Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkoms byeenkom.
God se Woord laat geen twyfel oor die belangrikheid van godvrugtige vrees nie. Dit meld daardie soort vrees ongeveer 200 keer. Godvrugtige vrees is ’n beskerming, soos uit Spreuke 16:6 gesien kan word: “Deur die vrees van die HERE wyk ’n mens af van die kwaad.” En Psalm 111:10 sê vir ons dat godvrugtige vrees die beginsel van die wysheid is!
’n Mens kan sê dat godvrugtige vrees twee aspekte het. In die eerste plek word hierdie vrees deur liefde aangespoor. Ons het ’n vrees om God te mishaag omdat ons hom innig liefhet (Spreuke 27:11). In die tweede plek sal wysheid ons help om godvrugtige vrees aan te kweek, aangesien ons weet dat God ook “’n verterende vuur” is vir almal wat sonde beoefen.—Hebreërs 12:29.
By ons “Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkoms gaan ons baie onderrigting en bemoediging ontvang sodat ons in godvrugtige vrees kan toeneem. Hierdie onderrigting sal deur middel van toesprake, demonstrasies en ’n drama, sowel as ondervindinge, gegee word.
Net soos die eertydse Israeliete beveel is om nie met leë hande na hulle byeenkomste te gaan nie, moet ons insgelyks ons deel bydra tot die vreugde en sukses van ons byeenkomste (Deuteronomium 16:17). Ons kan dit doen deur respek vir die tafel van Jehovah te toon. Hoe? Deur betyds op te daag, deur aandagtig te luister na wat van die verhoog af gesê word en deur die liedere van ganser harte saam te sing. Ons sal nie tydens die program gesels of rondloop nie. Ons sal ook soveel as moontlik wil bydra deur as vrywilligers te dien. Daar is talle afdelings wat by die organisasie van die byeenkoms betrokke is en hulle het almal personeel nodig. Ons sal ook geldelik bydra ooreenkomstig die seëninge wat Jehovah ons gegee het.
Laat elke kneg van Jehovah nou reeds planne maak om al drie dae van die “Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkoms, van die openingslied Vrydagoggend tot die slotgebed Sondagmiddag, teenwoordig te wees.