Welkom by die “Ligdraers”-Streekbyeenkomste
OP DIE heel eerste skeppingsdag is lig met betrekking tot die aarde geskep. Ons lees dat Jehovah God gesê het: “Laat daar lig wees! En daar was lig” (Genesis 1:3). Dit strook met wat die apostel Johannes geskryf het: “God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.”—1 Johannes 1:5.
Aangesien God se Seun in volkome harmonie met sy Vader is, verbaas dit ons nie dat Jesus eenkeer gesê het nie: “Ek [is] die lig van die wêreld” (Johannes 9:5). Ons kan uit die duisternis tot in die lig kom deur geloof in Jehovah God en sy Seun te stel. Jesus het ook getuig: “Ek het as ’n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie” (Johannes 12:46). Jesus Christus het dus tereg van sy ware volgelinge gesê: “Julle is die lig van die wêreld. . . . Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.”—Mattheüs 5:14, 16.
Wat ’n seën is dit tog om die waarheid te hê, dit wil sê, ’n begrip van God se Woord soos dit deur “die getroue en verstandige dienskneg” verduidelik word! (Mattheüs 24:45-47). Ons verkeer nie meer in die duister weens geloof in ’n Drie-eenheid nie; ons is nie meer verward oor waarom God goddeloosheid en geweld toelaat nie; ons twyfel nie meer oor die toestand van die dode nie. Die lig het ons hoop gegee, die Koninkrykshoop. Dit het ons laat besef watter wonderlike God die Skepper is. Die lig van die waarheid het ons lewe doelgerig gemaak, om te doen waarvoor ons in die eerste plek geskep is; om ons Maker, Jehovah God, te verheerlik. Ons doen dit deur draers van die lig te wees. Dit is ’n groot eer en ’n voorreg om ligdraers te wees, maar dit is ook ’n ernstige verantwoordelikheid. Om reg aan daardie verantwoordelikheid te laat geskied, moet ons gebruik maak van al die hulp wat Jehovah voorsien. Hoe gepas is dit dus tog dat ons streekbyeenkomste vir 1992 as die “Ligdraers”-Streekbyeenkomste bekend staan!
Om ons vaardighede te verbeter sowel as ons waardering vir ons rol as ligdraers te laat toeneem, sal ons minstens een van hierdie streekbyeenkomste wil bywoon en in die gehoor wil wees vir die openingslied en tot ná die slotgebed wil bly. En ons sal noukeurig aandag wil skenk aan alles wat op die verhoog gesê word, hetsy dit toesprake, onderhoude, ondervindings of ’n drama is. As ons aantekeninge maak, gee dit ons nie alleen iets wat ons later kan raadpleeg om ons geheue te verfris nie, maar dit help ons ook om beter te konsentreer op wat aangebied word. Ja, ons moet vir die volle duur van die byeenkomsprogram ‘aandag skenk aan die wyse waarop ons luister’.—Lukas 8:18, NW.