’n Verdeelde Kerk—Kan dit voortbestaan?
“ALMAL wat die reddende waarheid van Christus bely, behoort aan die sigbare Kerk. Die skeuringe van die Christendom—tussen die Ooste en die Weste en tussen Rome en die kerke van die Hervorming—is skeuringe binne die een Kerk” (Christians in Communion). Dit is hoe een skrywer die Christelike godsdiens beskou—as ’n wydverspreide familie van godsdienste wat almal die een of ander vorm van geloof in Jesus Christus bely.
Maar dit is ’n verdeelde familie, met teenstrydige opvattings en gedragstandaarde. “Die hedendaagse Christelike godsdiens . . . se vereistes vir kerklidmaatskap is laer as die vereistes om in ’n bus te kan reis”, sê een waarnemer. Hoe moet ons dan die geestelike toestand daarvan beskryf? Die Katolieke biskop Basil Butler kom tot die gevolgtrekking: “’n Verdeelde Christelike godsdiens is inderdaad baie siek” (The Church and Unity). Hoe het die siekte begin? Is daar hoop op herstel?
“Die wettelose mens”
Die apostel Paulus het gewaarsku dat verdeeldheid sou ontwikkel. Aan Christene in Thessalonika wat gedink het dat Christus se teenwoordigheid op hande was, het hy geskryf: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die [“wettelose mens”, NW] geopenbaar word, die seun van die verderf.”—2 Thessalonicense 2:3.
Hierdie “wettelose mens” het afvalligheid en opstand in die Christengemeente ingebring. Wie is dit? Nie enige individu nie, maar eerder die geestelikeklas van die Christendom. Hierdie klas het hom betreklik gou ná die dood van Jesus se apostels oor die afvallige gemeente verhef en het uiteindelik heidense filosofieë, soos die Drie-eenheid en die onsterflikheid van die mensesiel, begin leer (Handelinge 20:29, 30; 2 Petrus 2:1-3). Soos ’n dodelike virus het dit die verklaarde Christengemeente met demoongeïnspireerde idees besmet wat noodwendig tot verdeeldheid sou lei.—Galasiërs 5:7-10.
Die besmetting het reeds in die apostel Paulus se dag begin. Hy het geskryf: “Die geheime krag van die wetteloosheid is al aan die werk, maar die een wat die wettelose teëhou, moet eers uit die weg wees” (2 Thessalonicense 2:7, NAV). Die apostels het die gif van die afvalligheid teëgehou. Toe hulle verenigende invloed weg was, het onbeteuelde afvalligheid soos kanker versprei.—1 Timotheüs 4:1-3; 2 Timotheüs 2:16-18.
Die bedrywighede van hierdie “wettelose mens” duur onverpoos voort. In ’n onlangse verslag oor “’n kerk wat in ’n seksuele en ’n teologiese stryd verkeer”, is een aartsdeken van die Anglikaanse Kerk se klagte aangehaal: “Voorstelle dat die geestelikes hulle seksuele bedrywighede tot die huwelik beperk, word verwerp. Aktiewe homoseksuele word georden. Hulle het goed sleg gemaak en sleg goed.”—The Sunday Times Magazine, Londen, 22 November 1992.
Koring en onkruid
Jesus Christus self het geleer dat die ware Christelike godsdiens ’n ruk lank so te sê van die toneel sou verdwyn. Hy het gesê dat die ontstaan van die Christengemeente soos ’n man is wat goeie saad in sy land gesaai het. Maar, het Jesus gesê, “sy vyand [het] gekom en onkruid onder die koring gesaai”. Toe sy diensknegte gevra het of hulle die onkruid moet probeer uittrek, het die eienaar van die saailand gesê: “Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie.” Hoe lank sou die koring en onkruid saam groei? Die eienaar van die saailand het gesê: “Laat altwee saam groei tot die oes toe.”—Mattheüs 13:25, 29, 30.
Naamchristene het tot “die oes”, of skeidingstyd, gedurende die laaste dae van die “stelsel van dinge”, sy aan sy met ware Christene gegroei (Mattheüs 28:20, NW). Satan die Duiwel het die afvalliges gebruik om ’n verdorwe en verdeelde gemeente van naamchristene tot stand te bring (Mattheüs 13:36-39). Hulle het ’n skandelike namaaksel van die ware Christelike godsdiens voortgebring (2 Korinthiërs 11:3, 13-15; Kolossense 2:8). Namate die kerk oor die eeue heen versplinter het, het dit al hoe moeiliker geword om ware Christene te identifiseer.
Nuwe skeuringe
In meer onlangse tye, sê The Testing of the Churches—1932-1982, “het [n]uwe skeuringe voorgekom, veral die charismatiese beweging met sy klem op persoonlike geloof en ondervinding”. Dit is interessant dat sommige die wedergebore, charismatiese bewegings as tekens van geestelike herstel pleks van nuwe skeuringe sien. In die 1850’s het Noord-Ierland byvoorbeeld so ’n herlewing beleef. Hulle het groot verwagtinge gekoester. ’n Verslag het gepraat van “broederlike eenheid . . . onder die Presbiteriaanse, die Wesleyaanse en die Independente geestelikes” en het gesê dat “daar elke dag nuwe verhale van beswymings, slape, visioene, drome en wonderwerke was”.—Religious Revivals.
Baie het hierdie dramatiese verskynsels gesien as bewyse van die werking van God se gees om sy kerk te laat herleef. “Die kerk van God”, het een waarnemer gesê, “in sy mees verhewe sin het in hierdie streke ’n herlewing ondervind.” Maar hoewel hierdie besondere herlewing ’n “glorieryke en ongeëwenaarde tydvak in die godsdiensgeskiedenis van Ulster” genoem is, het dít en ander soortgelyke herlewings nie godsdienseenheid teweeggebring onder diegene wat beweer dat hulle ’n geestelike herlewing ondervind het nie.
Sulke mense sal aanvoer dat hulle verenig is wat grondbeginsels betref. Maar dit is dieselfde argument as wat die res van die Christendom gebruik, wat rasionaliseer dat “dít wat Christene verenig reeds baie belangriker is as die sake wat hulle nog verdeel” (The Church and Unity). Die Christendom beweer: “Ons fundamentele eenheid met mekaar en met al ons mede-Christene spruit uit die feit dat ons in Christus gedoop is” (Christians in Communion). Maar om te sê dat die skeuringe vanweë ’n gemeenskaplike geloof in Jesus onbelangrik is, is soos om te sê dat kanker nie ernstig is nie solank jou hart sterk is.
Die werklikheid is dat sulke hedendaagse godsdiensbewegings tot die verwarring bydra en geestelike anargie veroorsaak namate oorredende leraars vir hulleself navolgers inpalm. Jim Jones en David Koresh is onlangse voorbeelde van geestelike leiers wat duisende mislei het (Mattheüs 15:14). Een Baptiste-leraar is ’n belangrike lid van die Ku Klux Klan. Hy koppel sy veldtog vir blanke oorheersing met ’n godsdiensherlewing en sê dat diegene wat daaraan deelneem “die krag van die hemelse voorsienigheid, die moed van Hom wat op Kalvarie gesterf het [Jesus Christus], gegee sal word”.
Wat van die veronderstelde wonderwerke, die kragtige werke en die tekens wat in die naam van Jesus gedoen word? Hou Jesus Christus se kragtige waarskuwing in gedagte dat dit nie diegene is wat bloot “Here, Here” sê wat sy goedkeuring verkry nie, maar eerder ‘hulle wat die wil van sy Vader doen’. Baie mense weet vandag nie eers wat die naam van sy Vader, Jehovah, is nie. Jesus het gewaarsku teen diegene wat ‘in sy naam duiwels sal uitdryf en in sy naam baie kragte sal doen’ en tog “werkers van wetteloosheid” sal wees.—Mattheüs 7:21-23, vgl. NW.
“Gaan uit haar uit, my volk”
Wat is die prognose vir die siek Christendom? Baie swak. Moet ons dus die Katolieke biskop Butler se raad aanvaar om ons “sonder meer by [die kerk] aan te sluit en ons deel by te dra tot sy voortgesette ‘suiwering’ van binne sy geledere”? Nee! Die verdeelde en verdelende Christendom sal nie voortbestaan nie (Markus 3:24, 25). Dit is ’n deel van ’n wêreldryk van valse godsdiens wat Babilon die Grote genoem word (Openbaring 18:2, 3, NW). Hierdie bloedskuldige godsdiensstelsel sal binnekort deur God vernietig word.
Die Bybel spoor ware Christene nie aan om binne hierdie verdorwe godsdiensorganisasie te bly en dit van binne te probeer hervorm nie. Dit vermaan hulle eerder: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou.”—Openbaring 18:4, 5.
“Gaan uit haar uit”, waarnatoe? Hou in gedagte dat Jesus beloof het dat ware Christene ten tye van die oes weer bymekaargebring sou word om ’n wêreldwye eenheid te vorm. Die profeet Miga het ook so ’n herinsameling met hierdie woorde voorspel: ‘Ek sal almal bymekaarbring soos skape in ’n kraal’ (Miga 2:12). Het dit gebeur?
Ja! ware Christene word nou wêreldwyd in ’n verenigde broederskap versamel. Wie is hulle? Hulle is die Christengemeente van Jehovah se Getuies wat die goeie nuus van God se Koninkryk eendragtig in 231 lande verkondig. Hulle het die Christendom se verdelende leringe verwerp en streef daarna om God in ooreenstemming met die waarheid van sy Woord te aanbid.—Johannes 8:31, 32; 17:17.
Jy word hartlik uitgenooi om met hulle te gesels. As jy graag meer omtrent Jehovah se Getuies wil weet, kan jy gerus plaaslik of deur middel van die gepaste adres op bladsy 2 van hierdie tydskrif met hulle in verbinding tree.
[Prent op bladsy 7]
“God het haar ongeregtighede onthou”