’n Verdeelde Kerk—Hoe ernstig is dit?
“SOOS ’n groot en verskrikte gesin wat in ’n bouvallige ou huis woon waarvan die voorste muur skielik ingeval het, wil dit voorkom of daar in feitlik elke kamer rusie is—Jesus-kinders met tamboeryne skreeu op elegante Anglo-Katolieke homoseksuele in swart sypakke.”—The Sunday Times, Londen, 11 April 1993.
Hierdie gesin is die Anglikaanse Kerk. Die rusie is oor die toelating van vroue tot die priesteramp. Die aanskoulike beskrywing van hierdie diepliggende verdeeldheid is net soveel op die hele Christendom van toepassing. Met die patriarge van die Ortodokse Kerk sowel as die pous wat die besluit veroordeel dat vroue priesters mag word, is die algehele gevolg, volgens een berig, dat “die droom van hereniging met die res van die Christendom verder weg is as ooit tevore”.
Hoe verdeeld is die Kerk?
In Mattheüs 7:21 het Jesus Christus gesê dat baie mense geloof in hom as Here sou bely, maar steeds nie ‘die wil van sy Vader’ sou doen nie. Die tydskrif Maclean’s sê: “Lesers van Mattheüs wat gered wil word, kan verskoon word vir enige onsekerheid oor wat die wil van God presies is wanneer Christene, en hulle kerke, soveel oor die vraag verskil.” Ná ’n meningspeiling onder Kanadese het dit tot die gevolgtrekking gekom dat “Kanadese Christene se opvattings en gebruike geweldig verskil—trouens, daar is groter verskille tussen lede van enige bepaalde denominasie as tussen die denominasies self”.
Volgens die opname keur 91 persent van die Katolieke die gebruik van kunsmatige geboortebeperking goed al veroordeel hulle kerk dit; 78 persent meen dat vroue toegelaat moet word om priesters te word en 41 persent aanvaar aborsie “in sekere omstandighede”. Meningsverskille binne die verskillende denominasies oor “’n menigte teologiese vraagstukke”, sê Maclean’s, “beklemtoon die verdeeldheid wat vir die verbrokkeling van die hoofstroomkerke verantwoordelik is”.
Dubbele standaarde
Daar bestaan dubbele sowel as teenstrydige standaarde oor sedes. Sommige gee voor dat hulle die Bybel se beginsels naleef, maar ander minag dit. Was die “huwelikseremonie” van twee Lesbiërs in die Metropolitaanse Kerk van Toronto byvoorbeeld in ooreenstemming met God se wil? Dié twee het klaarblyklik so gedink. “Ons wil ons liefde voor almal en voor God bekend maak”, het hulle gesê.
Een rubriekskrywer het gevra waarom “’n Katolieke aartsbiskop wat die een klagte ná die ander ontvang het pedofiliese priesters eenvoudig na ’n ander groep altaarknape elders verskuif het”. Die priester Andrew Greeley sê dat van 2 000 tot 4 000 priesters moontlik al 100 000 minderjarige slagoffers gemolesteer het en dat daar dikwels min daaromtrent gedoen is.
’n Verdeelde kerk het verdeelde mense ten gevolge. In die Balkan meen Serwiërs sowel as Kroate wat “Christene” is dat Christus met hulle in hulle “regverdige” oorlog is. Baie van hulle dra kruise tydens gevegte; een het volgens berig “altyd sy kruis in sy mond gehou wanneer die geveg op sy ergste was”.
‘Daar moet geen skeuringe onder julle wees nie’
Die Bybel laat weliswaar sekere sake aan die gewete oor, maar dít behoort nie ruimte vir sulke verdeeldheid te laat nie. Die apostel Paulus sê onomwonde: ‘Julle moet almal eenstemmig wees, en daar moet geen skeuringe onder julle wees nie.’—1 Korinthiërs 1:10; Efesiërs 4:15, 16.
’n Eerlike kykie na die “Christelike godsdiens” sowat tweeduisend jaar ná die apostel Paulus daardie woorde geskryf het, laat ’n aantal baie ernstige vrae ontstaan. Waarom is “Christene” so verdeeld? Kan so ’n verdeelde kerk voortbestaan? Sal daar ooit ’n verenigde Christendom wees? Die volgende artikel sal hierdie vrae ondersoek.
[Prent op bladsy 3]
Betoging deur priesters teen aborsie
[Erkenning]
Cover and above: Eleftherios/Sipa Press