Vrae van lesers
In hierdie moeilike ekonomiese tye wend al hoe meer mense en maatskappye hulle tot bankrotskap. Is dit skriftuurlik gepas dat ’n Christen aansoek doen om bankrot verklaar te word?
Die antwoord op hierdie vraag voorsien ’n goeie voorbeeld van hoe God se Woord ons praktiese leiding gee oor sake wat vandag van toepassing is. Baie lande het wette wat bankrotskap reguleer. Die wette verskil van land tot land, en dit is nie die taak van die Christengemeente om wetlike advies hieroor te gee nie. Maar laat ons ’n oorsig kry van die wetlike voorsiening van bankrotskap.
Een rede waarom regerings mense en sakeondernemings toelaat om hulleself bankrot te verklaar, is dat dit aan diegene wat geld uitleen of krediet gee (krediteure) ’n mate van beskerming bied teen mense of sakeondernemings wat geld leen of skuld maak (debiteure), maar nie betaal wat hulle skuld nie. Dit lyk dalk vir krediteure of hulle slegs vergoeding sal kry deur ’n beroep op die howe te doen dat die debiteur bankrot verklaar word sodat die debiteur se bates dan as gedeeltelike betaling van die skuld verdeel kan word.
’n Ander funksie van bankrotskap is dat dit debiteure beskerm wat hulle krediteure werklik nie kan tevrede stel nie. Die debiteur word moontlik toegelaat om aansoek te doen om bankrot verklaar te word, waarna sy krediteure sommige van sy bates kan neem. Die wet kan hom nogtans toelaat om sy huis of sekere minimale bates te behou en dan sy lewe voort te sit sonder die voortdurende bedreiging dat hy dit sal verloor of dat sy voormalige krediteure daarop sal beslag lê.
Dit is dus voor die hand liggend dat hierdie wette bedoel is om aan albei partye in finansiële of saketransaksies ’n mate van beskerming te bied. Maar laat ons sien watter nuttige raad die Bybel gee.
’n Mens sal nie sommer die Bybel deurlees sonder om te besef dat dit jou aanraai om nie skuld te maak nie. Ons vind sulke waarskuwings soos Spreuke 22:7: “Die ryke heers oor die armes, en hy wat leen, is ’n slaaf van die man wat uitleen.”
Dink ook aan Jesus se illustrasie in Mattheüs 18:23-34 van ’n dienskneg wat baie skuld gehad het. “Sy heer [het bevel gegee] dat hy verkoop moet word, en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het”, maar die heer, ’n koning, het toe versag en aan hom genade betoon. Toe daardie dienskneg later onbarmhartig was, het die koning bevel gegee dat hy ‘oorgegee word aan die tronkbewaarders totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was’. Dit is beslis die beste, en dit word ook aanbeveel, dat ’n mens nie geld leen nie.
God se knegte in eertydse Israel het sake gedoen, en soms het hulle geleen en ook uitgeleen. Wat het Jehovah hulle beveel om te doen? Indien iemand geld wou leen om ’n sakeonderneming te begin of dit uit te brei, was dit wettig en gebruiklik dat ’n Hebreër rente gevra het. Maar God het sy volk aangemoedig om onselfsugtig te wees wanneer hulle aan ’n behoeftige Israeliet geld geleen het; hulle moes nie wins maak uit ’n ongunstige situasie deur rente te vra nie (Exodus 22:25). Deuteronomium 15:7, 8 sê: “As daar by jou ’n arme is . . . , moet [jy] jou hand wyd oopmaak vir hom, en jy moet gewillig aan hom leen, genoegsaam vir sy behoefte, wat hom ontbreek.”
Soortgelyke goedheid of bedagsaamheid is weerspieël in die voorskrifte wat bepaal het dat krediteure nie beslag kon lê op ’n debiteur se lewensnoodsaaklikhede, soos die familie se maalklip of ’n kledingstuk wat nodig is om die persoon snags warm te hou nie.—Deuteronomium 24:6, 10-13; Esegiël 18:5-9.
Nie alle Jode het natuurlik die gees van hierdie liefdevolle wette van hulle groot Regter en Wetgewer aanvaar en toegepas nie (Jesaja 33:22, NW). Sommige gierige Jode het hulle broers baie hardvogtig behandel. Vandag kan sommige krediteure eweneens hardvogtig en onredelik in hulle eise wees, selfs teenoor ’n opregte Christen wat op daardie oomblik nie ’n paaiement kon betaal nie omdat iets onverwags opgeduik het (Prediker 9:11). Omdat wêreldse krediteure so ’n debiteur dalk op ’n ontoegeeflike en veeleisende wyse onder druk plaas, kan hy hom noodgedwonge in ’n situasie bevind waar hy meen dat hy hom moet beskerm. Hoe? In sommige gevalle sal krediteure slegs die wetlike stap van bankrotskap aanvaar. ’n Christen, wat nie gierig of onverskillig oor sy skuld was nie, kan dus as ’n uitweg aansoek doen om bankrot verklaar te word.
Maar ons moet bewus wees van die ander sy van die saak. ’n Christen het dalk skuld omdat hy eenvoudig nie selfbeheersing beoefen het ten opsigte van wat of hoeveel hy bestee het omdat hy nie met redelike oorleg in sy sakebesluite opgetree het nie. Moet hy net ongeërg oor die skuld wees en gou deur middel van bankrotskap verligting soek en sodoende ander vanweë sy slegte oordeel seermaak? Die Bybel keur nie sulke finansiële onverantwoordelikheid goed nie. Dit moedig die kneg van God aan dat sy ja ja moet beteken (Mattheüs 5:37). Hou ook in gedagte dat Jesus gesê het ’n mens moet die koste bereken voordat jy ’n toring begin bou (Lukas 14:28-30). In ooreenstemming daarmee moet ’n Christen aan enige moontlike ongewenste gevolge dink voordat hy skuld maak. Wanneer hy wel skuld maak, moet hy sy verantwoordelikheid aanvaar om persone of maatskappye wat hy geld skuld terug te betaal. As baie ander meen dat ’n Christen onverantwoordelik of onbetroubaar is, het hy dalk die goeie reputasie geskend waarna hy gestreef het en sal hy sodoende nie meer ’n goeie getuienis van buitestanders hê nie.—1 Timotheüs 3:2, 7.
Hou in gedagte wat Psalm 15:4 vir ons sê oor die soort persoon wat deur Jehovah verwelkom word. Ons lees: “Al het hy [die een wat deur God goedgekeur word] gesweer tot sy skade, hy verander nie.” Ja, God verwag van Christene om hulle krediteure te behandel soos hulleself behandel wil word.—Mattheüs 7:12.
As ons dan moet opsom, sien ons dat die Bybel nie die moontlikheid uitsluit dat ’n Christen in ’n uiterste geval die beskerming kan gebruik wat die keiser se wette oor bankrotskap hom bied nie. Maar Christene moet besonder eerlik en betroubaar wees. Daarom moet hulle voorbeeldig wees in die erns waarmee hulle hulle finansiële verpligtinge probeer nakom.