Jehovah se Getuies in alle wêrelddele—Pole
IN DIE herfs van 1989 het die Kommunistiese regerings van die Oossee tot by die Swart See begin verbrokkel. Namate die Ystergordyn uitmekaar geskeur is, wou nasies in Oos-Europa hulle eie rigting begin inslaan. Onder hulle was Pole, ’n land met golwende heuwels, uitgestrekte vlaktes en ruwe berge.a
Die Poolse volk is hardwerkend, en Pole het van die wêreld se bekendste kunstenaars en wetenskaplikes opgelewer. Maar daarbenewens is daar nou ’n groeiende leër verkondigers van die goeie nuus van God se Koninkryk.
Onverskrokke stel hulle valsheid aan die kaak
Daar is baie mense in Pole wat graag die waarheid van die Bybel wil leer. Maar party word deur hulle familie en bure teëgestaan. In die omgewing van Wroclaw het ’n belangstellende vrou byvoorbeeld opgehou om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer toe familie en vriende druk op haar uitgeoefen het. Haar tienderjarige dogter het nietemin ’n reeks Wagtoring-artikels gelees wat valse godsdiens aan die kaak stel. Dit het haar belangstelling in die waarheid geprikkel.
Nadat sy die Bybel ses maande lank bestudeer het, het hierdie jong persoon besluit om alle bande met valse godsdiens te verbreek. Sy het die geestelike leraar van haar kerk besoek om hom van haar besluit te verwittig. Hy het haar aangesê om die volgende te skryf: “Ek, K—— P——, verwerp die Katolieke geloof.”
Die volgende Sondag is hierdie verklaring in die kerk voorgelees. Die meisie se oupa het flou geword en haar ouma het in trane uitgebars. Maar ander gemeentelede was beïndruk en het gesê: “Uiteindelik is iemand dapper genoeg om te sê dat daar ’n klomp valshede in ons kerk is.” Hierdie moedige tiener is nou ’n gedoopte geestelike suster en het sewe Bybelstudies in haar dorpie begin.
‘Aan hulle vrugte’
Die weekblad Kujawy i Pomorze het die verslag “Julle sal hulle aan hulle vrugte ken” gepubliseer. Die artikel het ten dele gesê dat aanbidders in die Christendom “in werklikheid nie die godsdienstige beginsels wat hulle aangeneem het in ’n baie ernstige lig sien nie. Hulle vorm ’n skerp teenstelling met Jehovah se Getuies wat optree in ooreenstemming met wat hulle sê, en hulle sê wat die Bybel beveel.”
Nadat die verslag die optrede van die Getuies met dié van naamchristene vergelyk het, het dit verder gesê: “Laasgenoemde ken heel waarskynlik nie die basiese waarhede en beginsels van hulle godsdiens nie en pas dit heel dikwels nie toe nie. . . . Deur hulle gesindheid toon Jehovah se Getuies hoe hulle woorde met hulle dade ooreenstem en bewys hulle sodoende dat hulle nie die ‘valse profete’ is nie, maar dat hulle eerder aan hulle vrugte geken kan word. ‘’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie’ (Mattheüs 7:15-20).”
’n Vrou het ’n brief aan die weekblad Przyjaciółka geskryf waarin sy kla dat haar seun die Katolieke Kerk verlaat het en een van Jehovah se Getuies geword het. Wat was die redakteur se raad? “As jou seun met Jehovah se Getuies begin assosieer het en hulle godsdiens geleer en aangeneem het, is dit sy eie besluit wat erken en gerespekteer moet word. . . . Hierdie godsdiensgroep word deur talle pragtige en begeerlike eienskappe gekenmerk, soos hulle ongewone eenheid en diepgaande groepsgebondenheid, buitengewone eerlikheid en streng navolging van die aanvaarde reëls vir gemeenskapslewe en laastens die vermoë om in ooreenstemming met hulle waarheid te lewe en die verklaarde waardes in die praktyk toe te pas. Dit is waardevolle deugde.”
[Voetnoot]
a Sien Jehovah se Getuies se kalender vir 1994 vir verdere inligting.
[Venster op bladsy 9]
OORSIG
1993-diensjaar
VERKONDIGERHOOGTEPUNT: 113 551
VERHOUDING: 1 Getuie vir elke 339
GEDENKMAALOPKOMS: 235 642
GEMIDDELDE PIONIERVERKONDIGERS: 7 961
GEMIDDELDE BYBELSTUDIES: 79 131
AANTAL GEDOOP: 8 164
AANTAL GEMEENTES: 1 397
TAKKANTOOR: Nadarzyn
[Prent op bladsy 9]
Pole se takkantoor in Lodz in 1948
[Prent op bladsy 9]
Plakkaatwerk, Junie 1948, in die voormalige Oos-Pruise
[Prent op bladsy 9]
Twee-en-sewentig personeellede van die Bethel in Pole, Januarie 1993
[Prent op bladsy 9]
Die nuwe takkantoor in Nadarzyn