Die oorsprong van ateisme
ONS lewe op ’n planeet vol krisisse; ’n vlugtige blik na koerantopskrifte bevestig hierdie feit elke dag. Die benarde toestand waarin ons wêreld verkeer, veroorsaak dat baie mense die bestaan van God in twyfel trek. Sommige, wat verklaar dat hulle ateïste is, ontken selfs sy bestaan. Is dit waar in jou geval?
Geloof of ongeloof in God kan jou beskouing van die toekoms grootliks beïnvloed. Sonder God hang die mensdom se voortbestaan geheel en al van die mens af—’n ontmoedigende gedagte as die mens se vernietigende vermoë in ag geneem word. As jy wel glo dat God bestaan, aanvaar jy waarskynlik dat die lewe op hierdie planeet wel ’n doel het—’n doel wat dalk uiteindelik verwesenlik sal word.
Hoewel ontkenning van God se bestaan sporadies deur die geskiedenis heen voorgekom het, is dit eers in onlangse eeue dat ateïsme se gewildheid versprei het. Weet jy waarom?
Sien jy die wortels?
’n Toringhoë boom is ’n indrukwekkende gesig. Tog sien die oog net die blare, takke en stam. Die wortels—die lewensbron van die boom—lê diep onder die grond weggesteek.
Dit is baie dieselfde met ateïsme. Soos ’n hoë boom, het die ontkenning van God se bestaan teen die 19de eeu tot ’n indrukwekkende hoogte gegroei. Kan lewe en die heelal sonder ’n bomenslike Eerste Oorsaak bestaan? Is die aanbidding van so ’n Skepper ’n vermorsing van tyd? Die antwoorde van die toonaangewende filosowe van daardie tyd was hard en duidelik. “Net soos ons nie meer sedewette nodig het nie, het ons ook nie godsdiens nodig nie”, het Friedrich Nietzsche gesê. “Godsdiens is die droom van die menseverstand”, het Ludwig Feuerbach beweer. En Karl Marx, wie se geskrifte ’n kragtige invloed in toekomstige dekades sou hê, het onomwonde gesê: “Ek wil die verstand groter vryheid van die kettings van godsdiens gee.”
Menigtes was beïndruk. Wat hulle egter gesien het, was net die blare, takke en stam van ateïsme. Die wortels was reeds daar en het begin groei lank voordat die 19de eeu begin het. Verbasend genoeg is die hedendaagse groei van ateïsme deur die godsdienste van die Christendom aangewakker! Hoe so? Weens hulle korrupsie het hierdie godsdiensinstellings ’n groot mate van ontnugtering en protes veroorsaak.
Die saad word gesaai
Gedurende die Middeleeue het die Katolieke Kerk ’n wurggreep op sy onderdane gehad. “Dit het gelyk of die hiërargie swak toegerus was om in die geestelike behoeftes van die mense te voorsien”, sê The Encyclopedia Americana. “Die hooggeplaaste geestelikes, veral die biskoppe, is uit die adel gewerf en het hulle amp hoofsaaklik as ’n bron van aansien en mag beskou.”
Party, soos Johannes Calvyn en Martin Luther, het die kerk probeer hervorm. Hulle metodes was egter nie altyd Christelik nie; onverdraagsaamheid en bloedvergieting het die Hervorming gekenmerk. (Vergelyk Mattheüs 26:52.) Van die aanvalle was so wreed dat Thomas Jefferson, die derde president van die Verenigde State, drie eeue later geskryf het: “Dit sal vergeefliker wees om glad nie in ’n god te glo nie as om hom met Calvyn se wreedhede te belaster.”a
Dit is duidelik dat die Hervorming nie ware aanbidding herstel het nie. Tog het dit die mag van die Katolieke Kerk ingekort. Die Vatikaan het nie meer die alleenreg op godsdiens gehad nie. Baie mense het by nuutgevormde Protestantse sektes aangesluit. Ander, ontnugter deur godsdiens, het die menseverstand hulle voorwerp van aanbidding gemaak. ’n Liberale gesindheid het daaruit voortgevloei, wat uiteenlopende menings oor God toegelaat het.
Skeptisisme spruit uit
Teen die 18de eeu is rasionele denke algemeen verheerlik as die wondermiddel teen wêreldprobleme. Die Duitse filosoof Immanuel Kant het te kenne gegee dat die mens se vooruitgang belemmer word deur sy afhanklikheid van die politiek en godsdiens vir leiding. “Waag dit om te weet!” het hy gesê. “Wees dapper genoeg om jou eie verstand te gebruik!”
Hierdie gesindheid was kenmerkend van die Verligting, wat ook as die Eeu van Rede bekend staan. Hierdie periode, wat deur die hele 18de eeu voortgeduur het, is gekenmerk deur ’n obsessionele soeke na kennis. “Skeptisisme het blinde geloof vervang”, sê die boek Milestones of History. “Al die ou ortodoksies is bevraagteken.”
Een ‘ou ortodoksie’ wat krities ondersoek is, was godsdiens. “Mense het hulle siening van godsdiens verander”, sê die boek The Universal History of the World. “Hulle was nie meer tevrede met die belofte van belonings in die hemel nie; hulle het ’n beter lewe op aarde geëis. Hulle het hulle geloof in die bonatuurlike begin verloor.” Trouens, die meeste Verligting-filosowe het godsdiens geminag. Hulle het veral die leiers van die Katolieke Kerk wat so magsbehep was, geblameer omdat hulle mense in onkunde gehou het.
Omdat baie van hierdie filosowe ontevrede was met godsdiens het hulle deïste geword; hulle het in God geglo, maar het beweer dat hy geen belang in die mens het nie.b ’n Paar het uitgesproke ateïste geword, soos die filosoof Paul Henri Thiry Holbach, wat beweer het dat godsdiens ’n “bron van verdeeldheid, waansin en misdaad” is. Met verloop van jare het baie ander moeg geword vir die Christendom en was hulle dit eens met Holbach.
Hoe ironies tog dat die Christendom die groei van ateïsme aangemoedig het! “Die Kerke was die teelaarde van ateïsme”, skryf ’n professor in die teologie, Michael J. Buckley. “Die Westerse gewete was diep geskok en gewalg deur konfessionele godsdiens. Die Kerke en die sektes het Europa verwoes, slagtings bewerkstellig, godsdiensteenkanting of revolusie geëis en konings uit die Kerk probeer verban of onttroon.”
Ateïsme bereik sy volle hoogte
Teen die 19de eeu is God openlik ontken en het die idee veld gewen. Filosowe en wetenskaplikes het nie gehuiwer om hulle opvattings openlik te verkondig nie. “God is ons vyand”, het een uitgesproke ateïs gesê. “Dit is die begin van wysheid om God te haat. Die mensdom sal nie ware vooruitgang kan maak as dit nie op ateïsme gegrond is nie.”
’n Subtiele verandering het egter gedurende die 20ste eeu plaasgevind. Ontkenning van God was minder strydlustig; ’n ander soort ateïsme het begin versprei en selfs diegene beïnvloed wat geloof in God bely.
[Voetnote]
a Die Protestantse sektes wat uit die Hervorming voortgespruit het, het baie onskriftuurlike leerstellings behou. Sien die Ontwaak! se nommers van 22 Augustus 1989, bladsye 16-20, en 8 September 1989, bladsye 23-7.
b Deïste het beweer dat God sy skepping, byna soos ’n horlosiemaker, in beweging gebring het, dit toe alles die rug toegekeer het en kil onbetrokke gebly het. Volgens die boek The Modern Heritage “het [deïste] geglo dat ateïsme ’n dwaling was wat uit wanhoop gespruit het, maar dat die gesagstruktuur van die Katolieke Kerk en die onbuigsaamheid en onverdraagsaamheid van sy leerstellings selfs meer betreurenswaardig was”.
[Prent op bladsy 3]
Karl Marx
[Prent op bladsy 3]
Ludwig Feuerbach
[Prent op bladsy 3]
Friedrich Nietzsche
[Foto-erkennings op bladsy 2]
COVER: Earth: By permission of the British Library; Nietzsche: Copyright British Museum (see also page 3); Calvin: Musée Historique de la Réformation, Genève (Photo F. Martin); Marx: U.S. National Archives photo (see also page 3); Planets, instruments, crusaders, locomotive: The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck; Feuerbach: The Bettmann Archive (see also page 3)