Die 20ste-eeuse ontkenning van God
“Mense het hulle daarby berus dat God nie teenwoordig is nie, en hulle reël hulle lewe onafhanklik van hom, of dit nou ten goede of ten kwade is, en sonder om God enigsins in ag te neem.”—One Hundred Years of Debate Over God—The Sources of Modern Atheism.
HOEWEL ’n toringhoë boom aanvanklik indrukwekkend is, word hy mettertyd as alledaags beskou. Jy raak gewoond aan hom; sy hoogte is nie meer ontsagwekkend nie.
Dit is dieselfde met ateïsme. Hoewel dit gedurende die 19de eeu baie onder bespreking was, is die ontkenning van God se bestaan vandag nóg skokkend nóg ontstellend. ’n Tydperk van verdraagsaamheid het toegelaat dat ateïsme gevestig geraak het in ’n vreedsame naasbestaan met geloof in God.
Dit is nie dat mense God onomwonde ontken nie; inteendeel, ’n meningsopname wat in 11 lande regoor die Amerikas, Europa en Asië gedoen is, het getoon dat oor die algemeen weinig meer as 2 persent beweer dat hulle ateïste is. ’n Ateïstiese gees kom nietemin algemeen voor—selfs onder baie wat glo dat God bestaan. Hoe is dit moontlik?
Hulle ontken God se gesag
“Ateïsme verwys soms bloot na die praktiese verwerping of ignorering van God”, sê The Encyclopedia Americana. Daarom gee The New Shorter Oxford English Dictionary die volgende tweede definisie van “ateïs”: “’n Persoon wat God sedelik ontken; ’n Godlose persoon.”—Ons kursiveer.
Ja, ateïsme kan ’n ontkenning van God se bestaan of van sy gesag of van albei wees. Die Bybel sinspeel op hierdie ateïstiese gees in Titus 1:16 waar dit sê: “Hulle bely dat hulle God erken, maar ontken hom deur hulle dade.”—The New English Bible; vergelyk Psalm 14:1.
So ’n verwerping van God se gesag kan na die eerste mensepaar teruggevoer word. Eva het God se bestaan erken; tog wou sy “soos God . . . wees deur goed en kwaad te ken”. Dit het geïmpliseer dat sy ‘haar eie baas kon wees’ en haar eie sedewette kon skep. Adam het hom later by Eva geskaar in hierdie ontkenning van God se gesag.—Genesis 3:5, 6.
Is hierdie gesindheid vandag algemeen? Ja. ’n Subtiele ateïsme word in mense se soeke na onafhanklikheid geopenbaar. “Mense is vandag moeg om onder God se oë te lewe”, sê die boek One Hundred Years of Debate Over God—The Sources of Modern Atheism. “Hulle . . . verkies om in vryheid te lewe.” Die Bybel se sedewette word as onprakties en onrealisties verwerp. Baie mense dink soos die Egiptiese Farao wat uitdagend wou weet: “Wie is [Jehovah] na wie se stem ek moet luister . . .? Ek ken [Jehovah] nie.” Hy het Jehovah se gesag verwerp.—Exodus 5:2.
Die Christendom se ontkenning van God
Die skokkendste ontkenning van God se gesag kom van die Christendom se geestelikes, wat suiwer Bybelwaarhede met mensgemaakte tradisies vervang het. (Vergelyk Mattheüs 15:9.) Daarbenewens het hulle die bloedigste oorloë van die 20ste eeu ondersteun en sodoende die Bybelse opdrag verwerp om ware liefde te betoon.—Johannes 13:35.
Die geestelikes het God ook ontken deur te weier om op sy sedelike standaarde ag te gee—dit blyk byvoorbeeld uit ’n voortdurende stroom hofsake teen pedofielpriesters. Die Christendom se situasie kom ooreen met dié van eertydse Israel en Juda. “Die land is vol bloedskuld, en die stad is vol regsverbreking,” is daar vir die profeet Esegiël gesê, “want hulle sê: Die HERE het die land verlaat, en die HERE sien nie.” (Esegiël 9:9; vergelyk Jesaja 29:15.) Dit is geen wonder nie dat soveel mense die Christendom se kerke geheel en al verlaat het! Maar moet hulle hulle geloof in God prysgee?
Geldige redes vir ateïsme?
Of hulle nou die skynheiligheid van godsdiens gesien het of nie, baie ateïste kan net nie geloof in God met die lyding in die wêreld versoen nie. Simone de Beauvoir het eenkeer gesê: “Dit was vir my makliker om aan ’n wêreld sonder ’n skepper te dink as aan ’n skepper belas met al die teenstrydighede van die wêreld.”
Bewys die wêreld se ongeregtighede—onder andere dié waarvoor skynheilige godsdiensbeoefenaars verantwoordelik is—dat daar geen God is nie? Ter toeligting: As ’n mes gebruik word om ’n onskuldige persoon te dreig, te beseer of selfs te vermoor, bewys dit dat die mes geen ontwerper gehad het nie? Toon dit nie eerder dat die voorwerp vir ’n verkeerde doel aangewend is nie? Net so getuig baie van die mens se hartseer dat hulle hulle godgegewe vermoëns sowel as die aarde self misbruik.
Sommige meen egter dat dit onlogies is om aan God te glo, aangesien ons hom nie kan sien nie. Maar wat van lug, klankgolwe en reuke? Ons kan nie een van hierdie dinge sien nie, tog weet ons dat hulle bestaan. Ons longe, ore en neus vertel ons dit. Ons glo tog sekerlik in wat ons nie kan sien nie as ons die bewyse daarvoor het.
Nadat die natuurwetenskaplike Irving William Knobloch die fisiese bewyse oorweeg het—onder andere elektrone, protone, atome, aminosure en die ingewikkelde brein—is hy beweeg om te sê: “Ek glo aan God, want vir my is Sy Goddelike bestaan die enigste logiese verduideliking vir dinge soos hulle is.” (Vergelyk Psalm 104:24.) Die fisioloog Marlin Books Kreider sê eweneens: “As ’n gewone mens, sowel as ’n man wat sy lewe aan wetenskaplike studie en navorsing wy, bestaan daar by my hoegenaamd geen twyfel oor die bestaan van God nie.”
Hierdie manne is nie alleen nie. Volgens die fisikaprofessor Henry Margenau “vind jy baie min ateïste onder die vernaamste wetenskaplikes”. Nóg die vooruitgang van die wetenskap nóg die tekortkominge van godsdiens behoort ’n rede te wees om ons geloof in ’n Skepper prys te gee. Laat ons kyk waarom.
Die teenstelling van ware godsdiens
In 1803 het die Amerikaanse president Thomas Jefferson geskryf: “Teen die verdorwenheid van die Christendom is ek beslis gekant; maar nie teen die ware leringe van Jesus self nie.” Ja, daar is ’n verskil tussen die Christendom en die ware Christelike geloof. Baie van die Christendom se leerstellings is op die tradisies van mense gegrond. In teenstelling hiermee baseer die ware Christelike godsdiens sy opvattings uitsluitlik op die Bybel. Daarom het Paulus aan die eerste-eeuse Kolossense geskryf dat hulle “juiste kennis”, “wysheid” en “geestelike insig” moet verkry.—Kolossense 1:9, 10, NW.
Dit is wat ons van ware Christene moet verwag, want Jesus het sy volgelinge beveel: “Maak dissipels van al die nasies, en doop hulle . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”—Mattheüs 28:19.
Vandag voer Jehovah se Getuies hierdie bevel in 231 lande regoor die wêreld uit. Hulle het die Bybel in 12 tale vertaal en al ver oor die 74 000 000 eksemplare gedruk. Daarbenewens help hulle deur middel van ’n tuisbybelstudieprogram op die oomblik meer as 4 500 000 mense om ‘alles te onderhou wat Jesus beveel het’.
Hierdie onderrigtingsprogram het verreikende gevolge. Dit bring ware verligting, want dit is nie op die mens se gedagtes gegrond nie, maar op God se wysheid (Spreuke 4:18). Wat meer is, dit help mense van alle nasies en rasse om iets te doen wat die mens se “Verligting” nooit kon regkry nie—om hulle met ’n “nuwe persoonlikheid” te beklee wat hulle help om ware liefde vir mekaar aan te kweek.—Kolossense 3:9, 10, NW.
Ware godsdiens seëvier in ons 20ste eeu. Dit ontken God nie—nie sy bestaan of sy gesag nie. Ons nooi jou uit om dit self te sien deur Jehovah se Getuies by een van hulle Koninkryksale te besoek.
[Venster op bladsy 6]
DIE WORTELS VAN ATEÏSME WORD VERSTERK
In die middel van die 18de eeu is die filosoof Denis Diderot opdrag gegee om ’n enkelbundel-ensiklopedie uit Engels in Frans te vertaal. Hy het egter sy werkgewer se verwagtinge ver oortref. Dit het Diderot ongeveer drie dekades geneem om sy Encyclopédie saam te stel, ’n werk van 28 bundels wat die gees van sy tyd vasgevang het.
Hoewel die Encyclopédie baie praktiese inligting bevat het, het dit die klem op mensewysheid gelê. Volgens die stel boeke, Great Ages of Man, het dit “die moed gehad om die [filosowe se] radikale credo te verkondig, naamlik dat die mens sy lot kan verbeter deur geloof met rede te vervang as die beginsel wat hom rig”. Dit was opvallend dat geen melding van God gemaak is nie. “Deur hulle onderwerpkeuse”, sê die boek The Modern Heritage, “het die redakteurs dit duidelik gestel dat godsdiens nie een van die dinge is waarvan die mens moet kennis dra nie.” Dit verbaas ons nie dat die kerk die Encyclopédie probeer verbied het nie. Die prokureurgeneraal het dit veroordeel as iets wat die politiek, sedes en godsdiens ondermyn.
Ondanks sy vyande is Diderot se Encyclopédie deur ongeveer 4 000 mense aangevra—’n verbasende getal as die buitensporige prys daarvan in aanmerking geneem word. Dit was maar net ’n kwessie van tyd voordat hierdie ateïstiese onderstroming in ’n totale ontkenning van God sou ontwikkel.