Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 6/1 bl. 20-25
  • ’n Baie waardevolle pêrel is aan ons gegee

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Baie waardevolle pêrel is aan ons gegee
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Onvergeetlike ondervinding
  • ’n Nuwe kultuur
  • Ons leer Spaans en begin met die werk
  • Vroeë toetse in Madrid
  • Wonderlike ondervindinge in Madrid
  • ’n Vrugbare bediening onder leërmagpersoneel
  • ’n Buitengewone Bybelstudie
  • ’n Onverwagse uitnodiging
  • Ons moet ons buitelandse toewysing verlaat
  • Die predikingswerk te midde van dwelms en geweld
  • ’n Moeilike besluit
  • “Aangesien ons hierdie bediening het . . . , gee ons nie moed op nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • ’n Lewe vol verrassings in Jehovah se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • ‘Gelukkig is almal wat op Jehovah bly wag’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Madrid—’n Hoofstad gebou vir ’n koning
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 6/1 bl. 20-25

’n Baie waardevolle pêrel is aan ons gegee

SOOS VERTEL DEUR RICHARD GUNTHER

Dit was September 1959. Ons was op die Italiaanse passasierskip Julio Caesar wat oor die Atlantiese Oseaan van New York na Cadiz, Spanje, gevaar het. Die Wagtoringgenootskap het my, saam met my vrou, Rita, en Paul en Evelyn Hundertmark, ’n ander sendelingegpaar, na daardie Iberiese land gestuur. Ons sou voor baie uitdagings te staan kom. Maar hoe het dit gekom dat ons op ’n sendingloopbaan besluit het?

EK EN Rita is in 1950 in New Jersey, VSA, as Jehovah se Getuies gedoop. Kort daarna het ons ’n besluit geneem wat daartoe gelei het dat ons mettertyd ’n baie waardevolle pêrel ontvang het. Ons was in ’n gemeente met genoeg broers en susters om die gebied te dek. Ons het dus verplig gevoel om aan te bied om te dien waar daar meer verkondigers nodig was. Ons het in die somer van 1958 by die internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in New York-stad vir sendingdiens aansoek gedoen.

Kort daarna is ons na die Wagtoring-Bybelskool Gilead genooi, en binne ’n jaar was ons as sendelinge na Spanje onderweg. Aangesien ons baie reëlings moes tref en so opgewonde was, het ons destyds nie besef wat aan ons gegee is nie. Jesus het van ’n baie waardevolle pêrel gepraat (Matteus 13:45, 46). Hoewel dit nie die punt van sy gelykenis was nie, was ons voorreg van sendingdiens vir ons iets wat met so ’n pêrel vergelyk kon word. Wanneer ons terugkyk, het ons nou groter waardering vir hierdie kosbare gawe van diens in Jehovah se organisasie.

’n Onvergeetlike ondervinding

Destyds is die Gileadsendingkursus in ’n pragtige plattelandse omgewing in die Finger Lakes-streek van die staat New York aangebied. Daar was ons ses wonderlike maande lank heeltemal in Bybelstudie en ware Christelike omgang verdiep, afgeskeie van hierdie wêreld se aangeleenthede en probleme. Ons medestudente het uit baie wêrelddele gekom, onder andere Australië, Bolivia, Brittanje, Griekeland en Nieu-Seeland. Maar gradueringsdag het gou aangebreek. In Augustus 1959 het ons met trane in ons oë vaarwel gesê toe ons na ons onderskeie sendingtoewysings vertrek het. ’n Maand later het ons in Spanje voet aan wal gesit.

’n Nuwe kultuur

Ons het by die suidelike hawe van Algeciras, langs die enorme Rots van Gibraltar, aan wal gegaan. Daardie aand het vier van ons, ek en Rita en die Hundertmarks, die trein na Madrid gehaal. Ons het na die Mercador-hotel toe gegaan en daar gewag dat lede van die Genootskap se ondergrondse takkantoor met ons in aanraking kom. Spanje was onder die diktatorskap van generaal Francisco Franco. Dit het beteken dat die Rooms-Katolieke Kerk die enigste godsdiens in die land was wat wetlik erken is. Dit was onwettig om enige ander godsdiens in die openbaar te beoefen, en Jehovah se Getuies se predikingswerk van huis tot huis is verbied. Selfs godsdiensvergaderinge is verbied, en daarom kon Jehovah se Getuies, wat destyds ongeveer 1 200 in 30 gemeentes in Spanje getel het, nie in Koninkryksale vergader soos in ander lande nie. Ons moes in die geheim in huise vergader.

Ons leer Spaans en begin met die werk

Ons eerste uitdaging was om die taal te leer. Die eerste maand het ons 11 uur per dag daaraan bestee om Spaans te leer—4 uur elke oggend in die klas en daarna 7 uur waartydens ons op ons eie gestudeer het. Die tweede maand was die oggende dieselfde, maar die middae is aan die predikingswerk van huis tot huis gewy. Kan jy jou dit voorstel? Ek en Rita het nog nie die taal geken nie, en met slegs ’n gememoriseerde inleiding wat op ’n kaart geskryf is, het ons heeltemal op ons eie in die huis-tot-huis-werk uitgegaan!

Ek onthou nog dat ek aan ’n deur geklop het in Vallecas, ’n deel van Madrid waar die arbeidersklas woon. Met my kaart veiligheidshalwe in my hand het ek in Spaans gesê: “Goeie môre. Ons doen ’n Christelike werk. Die Bybel sê (ons het dan ’n teks gelees). Ons wil graag hierdie boekie by jou laat.” Wel, die vrou het net na ons gekyk en die boekie geneem. Toe ons die herbesoek doen, het sy ons ingenooi, en terwyl ons gepraat het, het sy net na ons gekyk. Ons het na die beste van ons vermoë ’n Bybelstudie met haar begin, en tydens die studies het sy net geluister en na ons gekyk. Ná ’n ruk het sy uiteindelik vir ons gesê dat sy nie verstaan het wat ons tydens ons eerste besoek gesê het nie, maar dat sy die woord Dios (God) gehoor het, en dat dit genoeg was om haar te laat besef dat dit iets goeds is. Sy het mettertyd baie Bybelkennis ingeneem, is gedoop en het een van Jehovah se Getuies geword.

Dit was vir my baie moeilik om Spaans te leer. Ek het gewoonlik werkwoordverbindings gememoriseer terwyl ek in die stad gereis het. Wat ek die een week gememoriseer het, het ek die volgende week vergeet! Dit was baie ontmoedigend. Ek het ’n paar keer byna moed opgegee. Aangesien my Spaans so hopeloos was, moes die Spaanse broers baie geduldig wees terwyl ek die leiding onder hulle geneem het. By een streekbyeenkoms het ’n broer my ’n handgeskrewe aankondiging gegee wat ek van die verhoog af moes lees. Ek het gesukkel om sy handskrif te lees en het gesê: “Bring môre julle muletas (krukke) na die stadion.” Dit moes wees: “Bring môre julle maletas (bagasie) na die stadion.” Die skare het natuurlik gelag, en ek was baie verleë.

Vroeë toetse in Madrid

Daardie eerste paar jaar in Madrid was vir my en Rita emosioneel baie moeilik. Ons het ons huis en vriende baie gemis. Elke keer as ons ’n brief uit die Verenigde State ontvang het, het heimwee ons oorval. Daardie tydperke van verlange was oorweldigend, maar dit het oorgegaan. Ons het per slot van rekening ons huis, familie en vriende agtergelaat sodat ons in die plek daarvan ’n waardevoller pêrel kon ontvang. Ons moes leer om aan te pas.

In Madrid het ons eers in ’n baie armoedige losieshuis gewoon. Ons het ons kamer en drie maaltye per dag gehad. Dit was ’n donker kamertjie, en die matrasse was van strooi. Ons het ons beskeie maandelikse toelae gebruik om die maand se huurgeld te betaal. Ons het gewoonlik middagete daar genuttig, en die losieshuishoudster het altyd ons aandete in die oond warm gehou sodat ons laat in die aand iets te ete sou hê. Maar ons het baie honger geword terwyl ons gedurende die dag en aand die predikingswerk gedoen het. As ons toelae opgebruik was, het ons ons eie beperkte geldmiddele gebruik om die goedkoopste stafie sjokolade te koop wat ons in die hande kon kry. Maar met die besoek van die Genootskap se sone-opsiener het hierdie situasie gou verander. Hy het ons verknorsing gesien en gesê dat ons ’n woonstelletjie kon soek wat ons as ’n sendinghuis kon gebruik. Dit sou beslis baie beter wees as om in ’n ronde balie op die kombuisvloer te staan en bad. Nou sou ons ’n stort hê, ’n yskas om kos in te hou en ’n kookplaat waarop ons ons maaltye kon voorberei. Ons was baie dankbaar dat daar iets aan ons situasie gedoen is.

Wonderlike ondervindinge in Madrid

Die predikingswerk van huis tot huis is baie versigtig gedoen. Die daaglikse geroesemoes in Madrid was tot ons voordeel omdat ons dan nie so opvallend was nie. Ons het soos die ander probeer aantrek en optree sodat ons nie as buitelanders aandag sou trek nie. Die predikingswerk van deur tot deur is gedoen deur ’n woonstelgebou binne te gaan, aan ’n deur te klop, met die persoon te gesels en dan die gebou, die straat en die gebied te verlaat. Die moontlikheid het altyd bestaan dat die huisbewoner die polisie sou skakel, en daarom was dit nie raadsaam om in die omgewing te bly nie. Trouens, hoewel Paul en Evelyn Hundertmark hierdie metode versigtig gevolg het, is hulle in 1960 in hegtenis geneem en uit die land gesit. Hulle het na naburige Portugal toe gegaan en etlike jare daar gedien terwyl Paul na die ondergrondse takkantoor omgesien het. Vandag is hy die stadsopsiener in San Diego, Kalifornië.

Maar vir ons het daar ’n gelykmaking plaasgevind. Net ’n paar maande later is ses sendelinge wat na Portugal gestuur is, beveel om daardie land te verlaat! Dit was gelukkig vir ons aangesien Eric en Hazel Beveridge, wat ook in ons Gileadklas was, nou gevra is om Portugal te verlaat en na Spanje toe te kom. In Februarie 1962 was ons dus weer by die Mercador-hotel—hierdie keer om Eric en Hazel by hulle aankoms te verwelkom.

Dit was gedurende hierdie vroeë tye in Madrid wat ek en Rita persoonlik met godsdienshuigelary te doen gekry het. Ons het die Bybel gestudeer met ’n egpaar, Bernardo en Maria, wat in ’n pondok gebly het wat Bernardo gemaak het van enige afvalboumateriaal wat hy in die hande kon kry. Ons het laat in die aand met hulle gestudeer, en ná die studie het hulle ons brood, wyn en ’n bietjie kaas, of wat hulle ook al gehad het, aangebied. Ek het gesien dat die kaas net soos Amerikaanse kaas gelyk het. Een aand ná die studie het hulle die blikkie uitgebring waarin die kaas gekom het. Daarop het in groot letters in Engels gestaan: “Van die Amerikaanse volk aan die Spaanse volk—mag nie verkoop word nie.” Waar het hierdie arm gesin die kaas gekry? Die regering het die Katolieke Kerk gebruik om dit aan die armes uit te deel. Maar die priester het dit verkoop!

’n Vrugbare bediening onder leërmagpersoneel

Kort voor lank het iets wonderliks gebeur wat op ’n ryk seën vir ons en vir baie ander uitgeloop het. Ons het ’n kennisgewing van die takkantoor af ontvang waarin ons gevra is om ’n jong man met die naam Walter Kiedaisch te besoek, wat by die Amerikaanse Lugmagbasis in Torrejón, net ’n paar kilometer buite Madrid, gestasioneer was. Ons het hom en sy vrou besoek en met hulle en ’n ander egpaar by die lugmagbasis ’n Bybelstudie begin.

Gedurende daardie tyd het ek ongeveer vyf Bybelstudies met Amerikaanse Lugmagpersoneellede gehou, almal natuurlik in Engels. Sewe van hulle is later gedoop, en vier van die mans het gemeentelike ouer manne geword nadat hulle na die Verenigde State teruggekeer het.

Dit was ’n tyd toe daar, weens die verbod op ons werk, baie min maniere was waarop ons boeke, tydskrifte en Bybels in die land kon inkry. Maar van die lektuur is deur toeriste en deur ons Amerikaanse kontakpersone ingebring. Die takkantoor het my aangestel om ’n geheime lektuurdepot te bestuur. Dit was in ’n pakkamer agterin ’n skryfbehoeftewinkel in Vallecas. Die eienaar se vrou was een van Jehovah se Getuies. Hoewel die eienaar nie ’n Getuie was nie, het hy ons werk gerespekteer en homself en sy sakeonderneming in gevaar gestel deur toe te laat dat ek hierdie agterste ruimte gebruik om pakkies lektuur voor te berei wat na stede oor die hele land gestuur is. Aangesien hierdie kamer altyd moes lyk na wat dit veronderstel was om te wees—’n stowwerige, deurmekaar kamer vol kartonhouers—moes ek ’n werksbank en boekrak maak wat gou opgerig en gereed vir werk kon wees en dan binne sekondes versteek kon word. Aan die einde van die dag het ek gewag tot daar niemand in die winkel was nie en dan vinnig met my pakkies uitgegaan.

Dit was werklik ’n voorreg om geestelike materiaal, soos Die Wagtoring en Ontwaak! en ander lektuur, na gemeentes oor die hele land te stuur. Dit was opwindende tye.

Rita het die vreugde gesmaak om 16 tuisbybelstudies te hou, en ongeveer die helfte van hulle het gedoopte Getuies van Jehovah geword. Dolores was ’n jong getroude vrou wat die koue winters in die bed moes deurbring omdat sy ’n hartprobleem gehad het. In die lente kon sy opstaan en ’n bietjie bedrywiger wees. Dolores se geloof was sterk, en toe die tyd vir ons streekbyeenkoms in Toulouse, Frankryk, aanbreek, wou sy dus bitter graag gaan. Die dokter het haar gewaarsku dat dit weens haar harttoestand nie raadsaam sou wees nie. Met ’n huisrok en pantoffels aan en sonder enige bagasie het sy stasie toe gegaan om haar man, haar moeder en ander af te sien. Dit was vir haar verskriklik dat hulle sonder haar gaan en sy het dus met trane in haar oë op die trein geklim en Frankryk toe gegaan! Rita het nie geweet dat dit gebeur het nie. Maar wat ’n verrassing was dit tog toe sy Dolores, met ’n breë glimlag op haar gesig, daar by die byeenkoms sien!

’n Buitengewone Bybelstudie

Ons kan nie hierdie verslag van ons toewysing in Madrid afsluit sonder om Don Benigno Franco, “el profesor”, te meld nie. ’n Plaaslike Getuie het my saamgeneem om ’n bejaarde man te besoek wat saam met sy vrou in ’n baie armoedige deelhuis gewoon het. Ek het ’n Bybelstudie met hom begin. Nadat hy ongeveer anderhalf jaar gestudeer het, het hy gevra of hy gedoop en een van Jehovah se Getuies kon word.

Hierdie bejaarde man, Don Benigno Franco, was die neef van Francisco Franco, wat destyds die diktator van Spanje was. Don Benigno was blykbaar altyd ’n vryheidliewende mens. Gedurende die Spaanse Burgeroorlog was hy ten gunste van die Republiek en gekant teen sy neef—die generaal wat die oorlog gewen en ’n Katolieke diktatorskap tot stand gebring het. Sedert 1939 is Don Benigno die reg ontsê om te werk, en hy moes noodgedwonge ’n baie karige bestaan voer. Dit is hoe die neef van generaal Francisco Franco, die diktator van Spanje, een van Jehovah se Getuies geword het.

’n Onverwagse uitnodiging

In 1965 het die Spaanse takkantoor ons genooi om met kringwerk in Barcelona te begin. Dit het beteken dat ons al die liefdevolle broers aan wie ons baie geheg geraak het in Madrid moes agterlaat. Dit sou nie net vir my ’n nuwe ondervinding wees nie, maar ook ’n toets. Dit was ’n skrikwekkende ondervinding omdat ek nog altyd aan my vermoë getwyfel het. Ek weet baie goed dat dit Jehovah was wat my in staat gestel het om in hierdie faset van die bediening welslae te behaal.

Aangesien ons elke week ’n gemeente besoek het, het dit beteken dat ons by die broers moes tuisgaan. Ons moes uit tasse leef en het feitlik al om die ander week in ’n ander huis gebly. Dit is veral vir ’n vrou moeilik. Maar dit was nie lank nie toe José en Roser Escudé, wat in Barcelona gewoon het, ons genooi het om dae aaneen by hulle te bly. Dit was baie liefdevol van hulle, aangesien dit beteken het dat ons ’n permanente plek sou hê waar ons ons besittings kon hou en ’n vaste plek waarheen ons Sondagaande huis toe kon kom.

Ek en Rita het die volgende vier jaar kringwerk gedoen in die provinsie Katalonië, wat aan die kus van die Middellandse See geleë is. Al ons Bybelvergaderinge is in die geheim in huise gehou, en ons het ons predikingswerk van huis tot huis ook versigtig gedoen sodat ons nie aandag sou trek nie. Soms het ons ’n hele gemeente op ’n Sondag bymekaar gehad vir ’n “piekniek” in die woud, veral wanneer ons ’n kringbyeenkoms gehou het.

Ons sal altyd die talle toegewyde geestelike broers bewonder wat hulle werk en vryheid in gevaar gestel het en hulle ingespan het om die gemeentes verenig en bedrywig te hou. Baie van hulle het die leiding geneem om die werk na dorpe buite die stad uit te brei. Dit het die grondslag gelê vir die groot vermeerdering in Spanje nadat die verbod opgehef en godsdiensvryheid in 1970 toegestaan is.

Ons moet ons buitelandse toewysing verlaat

Gedurende ons tien jaar in Spanje het ons soms gevrees dat ons hierdie spesiale seën in Jehovah se diens weens die situasie van ons ouers sou moes prysgee. By ’n paar geleenthede moes ons byna ons toewysing verlaat en huis toe gaan om na my ma en pa om te sien. Maar danksy liefdevolle broers en susters in gemeentes naby my ouers kon ons in Spanje aanbly. Ja, die voorreg om daardie jare sendingwerk te doen, was deels daaraan te danke dat ander saam met ons God se Koninkryksbelange eerste gestel het.

Ons het uiteindelik in Desember 1968 huis toe gegaan om na my ma om te sien. My pa is daardie selfde maand oorlede, en my ma was nou alleen. Aangesien ons nog redelik vry was om voltyds te dien, het ons ’n toewysing ontvang om in die kringwerk te dien, maar hierdie keer in die Verenigde State. Die daaropvolgende 20 jaar het ons Spaanse kringe besoek. Hoewel ons ons baie waardevolle sendingpêrel verloor het, is ’n ander een aan ons gegee.

Die predikingswerk te midde van dwelms en geweld

Nou het ons sy aan sy met baie broers en susters gedien wat in misdaadgeteisterde dele van die stede gewoon het. Trouens, die heel eerste week in die kringwerk in Brooklyn, New York, is Rita se handsak gesteel.

Ek en Rita was eenkeer saam met ’n groep wat in ’n ander deel van New York-stad die predikingswerk van huis tot huis gedoen het. Toe ons om die hoek gaan, het ons ’n paar mense in ’n ry voor ’n gat in die muur van ’n verlate gebou sien staan. Terwyl ons ’n entjie in die straat op gestap het, het ons ’n jong man op die sypaadjie sien staan wat na ons kyk. Daar was nog een op die ander hoek wat op die uitkyk na polisiemotors was. Ons het ons in die middel van ’n dwelmtransaksie bevind! Die eerste uitkyker het geskrik, maar toe het hy Die Wagtoring gesien en verlig gevoel. Ek kon immers ’n polisieman gewees het! Hy het toe in Spaans uitgeroep: “¡Los Atalayas! ¡Los Atalayas!” (Die Wagtorings! Die Wagtorings!). Hulle het geweet wie ons was omdat hulle ons met die tydskrif vereenselwig het, en alles was in orde. Toe ek naby hom verbystap, het ek gesê: “¿Buenos dias, como está?” (Goeie môre, hoe gaan dit?) In antwoord hierop het hy gevra dat ek vir hom moet bid!

’n Moeilike besluit

In 1990 het dit duidelik geword dat ek elke dag by my ma sou moes wees. Ons het hard probeer om in die kringwerk te bly, maar ons het besef dat dit onmoontlik sou wees om albei verpligtinge na te kom. Ons wou beslis seker wees dat my ma liefdevol versorg word. Maar ons moes weer eens ’n baie waardevolle pêrel prysgee, iets wat vir ons baie kosbaar was. Al die letterlike edelstene in die wêreld en alles wat hulle vir ’n mens kan doen, kan nie vergelyk word met die kosbare voorreg om as ’n sendeling of as ’n reisende opsiener in Jehovah se organisasie te dien nie.

Ek en Rita is nou in die sestig. Ons is heel gelukkig en geniet dit om saam met ’n plaaslike Spaanssprekende gemeente te dien. Wanneer ons oor ons jare in Jehovah se diens terugkyk, dank ons hom dat hy ’n paar baie waardevolle pêrels aan ons toevertrou het.

[Prent op bladsy 23]

Saam met Rita en Paul en Evelyn Hundertmark (regs) buite Madrid se arena vir stiergevegte

[Prent op bladsy 24]

Ek bedien ’n gemeente tydens ’n “piekniek” in die woud

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel