Word daar van jou verwag om te gee?
JY IS seker daarvan bewus dat die gee van geskenke dikwels deur algemene gebruike voorgeskryf word. In die meeste kulture is daar geleenthede wanneer mense geskenke verwag. Sulke geskenke word dalk as eerbewyse of liefdeblyke bedoel. Baie van hierdie geskenke word nooit deur die ontvanger gebruik nie; ander help om in werklike behoeftes te voorsien en word hoog op prys gestel.
Wanneer ’n baba in Denemarke gebore word, sal familie en vriende kom kuier en geskenke saambring wat hulle hoop vir die kindjie nuttig sal wees. In ander lande sal vriendinne dalk ’n partytjie hou waartydens sulke geskenke in afwagting van die geboorte gegee word.
Geleenthede wanneer geskenke verwag word, is gewoonlik jaarlikse gebeurtenisse. Hoewel sulke vieringe nie ’n gebruik onder vroeë Christene was nie, het dit baie gewild onder die meeste verklaarde Christene sowel as nie-Christene geword. Die gebruik om verjaarsdaggeskenke te gee, neem dalk in ander kulture af namate kinders ouer word, maar onder die Grieke is dit nie die geval nie. In Griekeland word baie aandag aan verjaarsdae geskenk. Hulle gee ook geskenke aan iemand op sy “naamdag”. Wat is dit? Wel, ’n godsdiensgebruik verbind ’n ander “heilige” aan elke dag van die jaar, en baie mense is na ’n “heilige” vernoem. Wanneer die “heilige” se dag aanbreek, ontvang diegene met daardie naam geskenke.
Benewens verjaarsdagvieringe vir hulle kinders het Koreane ’n nasionale vakansiedag wat as Kinderdag bekend staan. Dit is ’n tyd wanneer daar gesinsuitstappies is en wanneer geskenke aan kinders gegee word ongeag wat hulle geboortedatum is. Koreane het ook ’n Ouerdag, wanneer kinders aan hulle ouers gee, en ’n Onderwysersdag, wanneer leerlinge hulle onderwysers vereer en geskenke aan hulle gee. Volgens die gebruik in Korea word ’n groot partytjie gehou wanneer iemand 60 jaar oud word. Familie en vriende wens die persoon ’n lang lewe en geluk toe, en geskenke word aan die een gegee wat daardie mylpaal in die lewe bereik het.
’n Bruilof is nog ’n geleentheid wanneer dit gebruiklik is om geskenke te gee. Wanneer ’n paartjie in Kenia trou, word daar van die bruidegom se familie verwag om ’n geskenk aan die bruid se familie te gee. Die gaste bring ook geskenke. As die bruid en bruidegom die algemene gebruike volg, sal hulle op ’n verhoog sit terwyl die gaste hulle geskenke vorentoe bring. Met elke geskenk wat gegee word, word aangekondig dat “so-en-so ’n geskenk vir die paartjie gebring het”. Baie van dié wat gee, sal baie ontevrede wees as hulle nie hierdie erkenning ontvang nie.
In die geval van ’n Libanese troue bring vriende en bure, selfs mense wat die paartjie nie goed ken nie, nog dae ná die troue vir hulle geskenke. Van kleins af word hulle geleer dat die gee van geskenke ’n verantwoordelikheid is, soos om ’n skuld te betaal. “As jy dit nie doen nie, pla dit jou”, het ’n Libanese man gesê. “Dis tradisie.”
Maar in baie lande is Kersfees die belangrikste geleentheid wanneer daar van mense verwag word om te gee. Is dit nie ook die geval waar jy woon nie? In 1990 nog is daar geraam dat Amerikaners jaarliks meer as $40 miljard (R145 miljard) aan Kersgeskenke spandeer. Daardie vakansiedag word ook met groot ywer deur Boeddhiste en Sjintoïste in Japan gevier, en verskillende vorme van die viering word in Europa, Suid-Amerika en dele van Afrika aangetref.
Kersfees is ’n tyd wanneer mense verwag om gelukkig te wees, maar baie is nie. En heelparty vind dat die dolle gejaag om geskenke te koop en die angs oor die rekeninge wat betaal moet word enige oomblikke van plesier oorskadu.
Tog sê die Bybel dat dit geluk verskaf om te gee. Dit is inderdaad die geval, maar dit hang af van die beweegrede waarom mense gee.—Handelinge 20:35.