Koninkryksverkondigers berig
‘Die woord van God het aangehou groei’
DIE Christengemeente het binne ’n paar uur nadat dit gevorm is van ongeveer 120 lede tot meer as 3 000 gegroei (Handelinge 1:15; 2:41). Die Bybel verduidelik dat ‘die woord van God aangehou groei en die aantal dissipels in Jerusalem geweldig bly toeneem het’ (Handelinge 6:7). Net ’n paar jaar later was die pas gevormde gemeente ’n interkontinentale organisasie met Christene in Afrika, Asië en Europa.
Die hedendaagse Christengemeente groei ook vinnig. In Mexiko het die aantal Koninkryksverkondigers byvoorbeeld in net vyf jaar met meer as 130 000 tot 443 640 gegroei! In 1995 het 1 uit 59 mense in Mexiko die herdenking van Christus se dood saam met Jehovah se Getuies bygewoon. Tog is die geestelike oeswerk in daardie land nog nie voltooi nie, soos die volgende ondervinding toelig.—Matteus 9:37, 38.
In een dorp in die staat Chiapa wou niemand hê dat Jehovah se Getuies ’n tuisbybelstudie met hulle hou nie, selfs nie eens ná die Getuies die goeie nuus sowat 20 jaar lank in daardie gebied verkondig het nie. Baie van die dorpenaars is blykbaar deur ’n man geïntimideer wat as ’n geweldenaar bekend gestaan het. Hulle was bang vir sy reaksie as hy sou uitvind dat hulle die Bybel saam met die Getuies studeer.
Twee moedige Getuies wat in die gebied ingetrek het, het besluit om die bul by die horings te pak en het reguit na die betrokke man gegaan. Toe hulle by sy huis aangekom het, het sy vrou die deur oopgemaak en aandagtig na hulle boodskap geluister. Sy het veral belanggestel in wat die Bybel sê oor lewe in ’n paradys op aarde. Sy het egter erken dat haar man dinge baie moeilik vir haar sou maak indien sy die Bybel sou bestudeer. Die Getuies het toe vir haar verduidelik dat sy nooit sal leer hoe om God te dien en om ewige lewe op aarde te geniet as sy nie sorgvuldig ondersoek instel na wat die Bybel sê nie. Sy het tot ’n Bybelstudie ingestem.
Soos verwag is, was haar man nie ingenome met haar besluit nie. Hy het haar verbied om haar motor te gebruik om Christelike vergaderinge by te woon, hoewel sy dit vir ander doeleindes kon gebruik. Ondanks sy teenstand het sy gereeld na die naaste Koninkryksaal van Jehovah se Getuies geloop, wat tien kilometer daarvandaan was. Ander in die dorp het gou haar moed en vasberadenheid opgemerk. Mense het begin luister wanneer die Getuies hulle huise besoek het. Party het selfs saam met die vrou na die vergaderinge begin gaan. Kort voor lank het die Getuies omtrent 20 Bybelstudies in daardie dorp gehou!
’n Vriendin van hierdie vrou het, ondanks haar man se teenstand, ook besluit om die Bybel te bestudeer. Verbasend genoeg is sy deur die eerste vrou se man aangemoedig om dit te doen. Nadat hy met haar man gepraat het, het die teenstand opgehou. Ná 20 jaar het die saadjie van Bybelwaarheid uiteindelik wortelgeskiet, met meer as 15 mense wat die Bybel bestudeer en Christelike vergaderinge bywoon, onder andere hierdie twee vroue wat nou die goeie nuus verkondig.