Geweld kom oral voor
TERWYL die bestuurder in sy motor gesit en wag het dat die verkeerslig moet verander, het hy skielik ’n groot man na hom toe sien aankom wat vloek en sy vuis in die lug swaai. Die bestuurder het haastig die deure gesluit en die vensters opgedraai, maar die groot man het steeds nader gekom. Die man het afgebuk, die motor begin skud en aan die motordeur geruk. Uiteindelik het hy uit frustrasie sy groot vuis gelig en dit deur die voorruit geslaan sodat dit in skerwe gespat het.
Is dit ’n toneel uit ’n spanningsprent? Nee! Dit was ’n verkeersargument op die eiland Oahu, Hawaii, wat bekend is vir sy kalm, rustige atmosfeer.
Dit verbaas ons nie. Slotte aan deure, diefwering voor vensters, sekuriteitsbeamptes by geboue, selfs tekens op busse wat sê: “Bestuurder dra geen kontant nie”—dit alles dui op een ding: Geweld kom oral voor!
Geweld by die huis
Die huis word al lank as die mens se veilige hawe gekoester. Maar hierdie idilliese prentjie is vinnig besig om te verander. Gesinsgeweld, wat kindermolestering, vroueslanery en moord insluit, kom wêreldwyd in die nuus.
Byvoorbeeld, “ten minste 750 000 kinders in Brittanje sal dalk aan langtermyntrauma ly omdat hulle aan huislike geweld blootgestel word”, sê die Manchester Guardian Weekly. Die verslag was gebaseer op ’n opname wat ook bevind het dat “drie uit vier vroue wat ondervra is, gesê het dat hulle kinders gewelddadige voorvalle gesien het, en byna twee derdes van die kinders het al gesien hoe hulle moeders geslaan word”. Volgens U.S.News & World Report raam die Amerikaanse Adviesraad oor Kindermolestering en -verwaarlosing dat “2 000 kinders, die meeste onder 4, jaarliks deur ouers of oppassers doodgemaak word”. Dit oorskry die aantal sterfgevalle wat deur verkeersongelukke, verdrinking of val veroorsaak word, sê die verslag.
Huislike geweld sluit ook huweliksgeweld in wat wissel van om gestamp of gestoot te word tot om geklap, geskop, gewurg, geslaan, met ’n mes of ’n vuurwapen gedreig of selfs doodgemaak te word. En vandag word hierdie soort geweld by albei huweliksmaats aangetref. Een studie het bevind dat ongeveer ’n kwart van gerapporteerde geweld tussen egpare deur die man en nog ’n kwart deur die vrou veroorsaak word, en die res kan net beskryf word as ’n rusie waarvoor albei partye blameer kan word.
Geweld by die werksplek
Weg van die huis af was die werksplek gewoonlik die plek waar ’n mens orde, respek en beskaafdheid gevind het. Maar dit is blykbaar nie meer die geval nie. Statistiek wat byvoorbeeld deur die Amerikaanse Departement van Justisie beskikbaar gestel is, toon dat meer as 970 000 mense jaarliks die slagoffers van gewelddadige misdaad by die werksplek is. Anders gestel: “Werkers het dalk ’n een-uit-vier-kans om die slagoffer van die een of ander vorm van geweld by die werk te wees”, volgens ’n verslag in Professional Safety—Journal of the American Society of Safety Engineers.
Wat die ergste is, is dat geweld by die werksplek nie tot woordewisselings en beledigings beperk is nie. “Geweld wat spesifiek gemik word teen werkgewers en werknemers deur ander werknemers, is nou die soort manslag wat die vinnigste in Amerika toeneem”, sê dieselfde verslag. In 1992 was 1 uit elke 6 werkverwante sterfgevalle ’n moord; vir vroue was die syfer byna 1 uit 2. Dit is onteenseglik dat ’n vlaag van geweld die eens ordelike werksplek getref het.
Geweld in sport en vermaak
Sport en vermaak is as afleiding en ontspanning geniet om ’n mens te verkwik vir die ernstiger strewes in die lewe. Vandag is vermaak ’n bedryf met ’n omset van miljarde rande. Ten einde so ’n groot aandeel moontlik in hierdie winsgewende mark te hê, is verskaffers nie ongeneë om enige metode tot hulle beskikking te gebruik nie. En een van hierdie middele is geweld.
Forbes, ’n saketydskrif, het byvoorbeeld berig dat ’n vervaardiger van videospeletjies ’n gewilde oorlogspeletjie het waarin ’n kryger sy teenstander se kop en ruggraat afruk terwyl toeskouers juig: “Maak hom dood! Maak hom dood!” ’n Weergawe van dieselfde speletjie wat vir ’n mededingende maatskappy gemaak is, bevat egter nie hierdie grillerige toneel nie. Die gevolg? Die gewelddadiger weergawe verkoop 3 teen 2 beter as sy mededinger. En dit beteken ’n groot som geld. Toe die tuisweergawes van hierdie speletjies op die mark verskyn het, het die maatskappye binne die eerste twee weke ’n bruto wins van R235 miljoen oor die hele wêreld gemaak! Wanneer wins ter sprake is, is geweld net nog ’n lokaas vir verbruikers.
Geweld in sport is ’n heel ander saak. Die spelers is dikwels trots op die skade wat hulle kan aanrig. In een hokkiewedstryd in 1990 is die spelers byvoorbeeld 86 keer gestraf—die meeste nog. Die spel is drie en ’n half uur weens beserings onderbreek. Een speler is vir ’n gebreekte gesigsbeen, ’n gekrapte kornea en ’n snywond behandel. Waarom sulke geweld? Een speler het verduidelik: “Wanneer ’n mens ’n emosiebelaaide wedstryd gewen het, met baie bakleiery, gaan jy huis toe en voel jy ’n bietjie nader aan jou spanmaats. Ek dink die bakleiery het dit waarlik ’n geestelike spel gemaak.” In soveel sportsoorte van vandag wil dit voorkom of geweld op sigself nie net die middel tot ’n doel geword het nie, maar die doel self.
Geweld by die skool
Die skool is nog altyd beskou as ’n vesting waar jongmense al hulle ander bekommernisse kan agterlaat en hulle daarop kan toespits om hulle verstand en liggaam te ontwikkel. Maar vandag is die skool nie meer so ’n veilige plek nie. ’n Gallup-opname in 1994 het bevind dat geweld en bendes die vernaamste probleem in openbare skole in die Verenigde State is, ’n groter probleem as finansies wat die vorige jaar boaan die lys was. Presies hoe sleg is die situasie?
Toe leerlinge in ’n opname gevra is: “Was jy al ooit die slagoffer van geweld in of om die skool?” het byna 1 uit elke 4 ja geantwoord. Meer as ’n tiende van die onderwysers het ook bevestigend geantwoord. Dieselfde opname het bevind dat 13 persent van die leerlinge, seuns en dogters, erken het dat hulle op een of ander stadium ’n wapen skool toe geneem het. Die meeste van hulle het beweer dat hulle dit slegs gedoen het om ander te beïndruk of om hulleself te beskerm. Maar een 17-jarige leerling het sy onderwyser in die bors geskiet toe die onderwyser sy vuurwapen probeer afneem het.
’n Gewelddadige kultuur
Dit is onteenseglik dat geweld vandag oral voorkom. By die huis, by die werk, by die skool en in vermaak kom ons voor ’n gewelddadige kultuur te staan. Omdat baie mense daagliks daaraan blootgestel word, het hulle dit as normaal begin aanvaar—totdat hulle die slagoffer is. Dan vra hulle: Sal dit ooit tot ’n einde kom? Sal jy ook graag die antwoord wil weet? Lees dan asseblief die volgende artikel.