Verenig in God se diens in voorspoed en teenspoed
Soos vertel deur Michel en Babette Muller
“EK HET slegte nuus vir julle”, het die dokter gesê. “Julle kan maar van julle sendingwerk in Afrika vergeet.” Hy het na my vrou, Babette, gekyk en gesê: “Jy het borskanker.”
Ons was absoluut verstom. Baie dinge het deur ons gedagtes geflits. Ons het gedink dat hierdie besoek aan die dokter maar net ’n finale ondersoek sou wees. Ons het reeds kaartjies gekoop om terug na Benin, Wes-Afrika, te gaan. Ons het gehoop om binne ’n week weer daar te wees. Gedurende ons 23 jaar van getroude lewe het ons voor- en teenspoed ondervind. Verward en bang het ons ons nou gestaal vir die stryd teen kanker.
Kom ons begin by die begin. Michel is in September 1947 gebore en Babette in Augustus 1945. Ons het in Frankryk grootgeword en is in 1967 getroud. Ons het in Parys gewoon. Een oggend, vroeg in 1968, was Babette laat vir werk. ’n Vrou het aan die deur geklop en vir haar ’n godsdiensbrosjure aangebied; sy het dit geneem. Die vrou het toe gesê: “Kan ek saam met my man terugkom om met jou en jou man te gesels?”
Babette het aan haar werk gedink. Sy wou hê dat die vrou moet loop, en daarom het sy gesê: “Nou goed dan.”
Michel vertel: “Ek het glad nie in godsdiens belanggestel nie, maar die brosjure het my aandag getrek en ek het dit gelees. ’n Paar dae later het die vrou, Joceline Lemoine, saam met haar man, Claude, ons weer besoek. Hy was baie bekwaam met sy gebruik van die Bybel. Hy het antwoorde op al my vrae gehad. Ek was beïndruk.
“Babette was ’n goeie Katoliek, maar sy het nie ’n Bybel gehad nie, wat niks ongewoons vir Katolieke was nie. Sy was baie opgewonde om die Woord van God te sien en te lees. Uit ons studie het ons uitgevind dat baie van die godsdiensopvattings wat ons geleer is verkeerd was. Ons het met ons familie en vriende begin gesels oor die dinge wat ons geleer het. In Januarie 1969 het ons gedoopte Getuies van Jehovah geword. Nege van ons familielede en vriende is kort daarna gedoop.”
Ons dien waar verkondigers nodig was
Kort nadat ons gedoop is, het ons gedink: ‘Ons het nie kinders nie. Ons kan dus gerus die voltydse bediening betree.’ Ons het derhalwe in 1970 opgehou met werk, as gewone pioniers begin dien en na die klein dorpie Magny-Lormes, naby Nevers, in die middel van Frankryk, verhuis.
Dit was ’n moeilike toewysing. Dit was moeilik om mense te vind wat die Bybel wou bestudeer. Ons kon nie werk kry nie en het dus min geld gehad. Soms het ons net aartappels gehad om te eet. Gedurende die winter het die temperatuur tot baie ver onder vriespunt gedaal. Ons het die tyd wat ons daar deurgebring het die tyd van die sewe maer koeie genoem.—Genesis 41:3.
Maar Jehovah het ons onderskraag. Eendag, toe ons kos byna op was, het die posbode ’n groot doos kaas afgelewer wat van Babette se suster gekom het. Op ’n ander dag het ons ná die predikingswerk tuisgekom en ’n paar vriende gevind wat 500 kilometer gery het om ons te kom besoek. Hierdie broers het gehoor hoe moeilik ons omstandighede was en het hulle twee motors vol kos vir ons gelaai.
Ná ’n jaar en ’n half het die Genootskap ons as spesiale pioniers aangestel. Oor die volgende vier jaar het ons in Nevers, daarna in Troyes en later in Montigny-lès-Metz gedien. In 1976 is Michel as ’n kringopsiener in die suidweste van Frankryk aangestel.
Twee jaar later, gedurende ’n skool vir kringopsieners, het ons ’n brief van die Wagtoringgenootskap ontvang wat ons genooi het om in die buiteland as sendelinge te gaan dien; die brief het gesê dat ons tussen Tsjaad en Burkina Faso (destyds Bo-Volta) kon kies. Ons het Tsjaad gekies. Ons het weldra nog ’n brief ontvang wat ons toegewys het om onder die Tahiti-takkantoor te werk. Ons het gevra om na Afrika, ’n groot vasteland, te gaan, maar ons het ons spoedig op ’n eilandjie bevind!
Ons dien in die Stille Suidsee
Tahiti is ’n pragtige tropiese eiland in die Stille Suidsee. Toe ons daar aankom, was daar ongeveer honderd broers om ons by die lughawe te ontmoet. Hulle het ons verwelkom met blommekranse, en hoewel ons moeg was ná ons lang vlug van Frankryk af, was ons baie gelukkig.
Vier maande ná ons aankoms in Tahiti het ons aan boord van ’n kleinerige seilboot gegaan wat met ’n vrag droë kokosneute gelaai was. Vyf dae later het ons by ons nuwe toewysing aangekom—die eiland Nuku Hiva in die Marquesas-eilande. Daar het ongeveer 1 500 mense op die eiland gewoon, maar daar was geen broers nie. Net ons.
Die toestande was destyds primitief. Ons het in ’n kleinerige huisie gewoon wat van beton en bamboes gemaak was. Daar was geen elektrisiteit nie. Ons het ’n kraan gehad wat soms gewerk het, maar die water was modderig. Die meeste van die tyd het ons reënwater gebruik wat in ’n tenk opgevang is. Daar was geen geplaveide paaie nie, net voetpaadjies.
Ons moes perde huur om afgeleë dele van die eiland te bereik. Die saals was van hout gemaak—baie ongemaklik, veral vir Babette wat nog nooit voorheen perdgery het nie. Ons het ’n kapmes saamgedra om deur die bamboes te kap wat oor die paadjie geval het. Dit was ’n groot verandering van die lewe in Frankryk.
Ons het Sondae se vergaderinge gehou, hoewel net ons twee dit bygewoon het. In die begin het ons nie die ander vergaderinge gehou nie, aangesien dit net ons twee was. In plaas daarvan het ons die vergaderingmateriaal saam deurgelees.
Ná ’n paar maande het ons besluit dat dit nie goed was om so voort te gaan nie. Michel vertel: “Ek het vir Babette gesê: ‘Ons moet gepaste klere aantrek. Jy sit daar, en ek sal hier sit. Ek sal met gebed open, en daarna sal ons die Teokratiese Bedieningskool en die Diensvergadering hou. Ek sal die vrae stel en jy sal antwoord, al is jy die enigste ander persoon in die vertrek.’ Dit was goed dat ons dit gedoen het, want ’n mens kan maklik geestelik laat slap lê wanneer daar nie ’n gemeente is nie.”
Dit het ’n ruk geduur om mense te kry om ons Christelike vergaderinge by te woon. Ons twee was die eerste agt maande alleen. Later het nog een, twee of soms drie by ons aangesluit. Een jaar het net ons twee die jaarlikse herdenking van die Here se Aandmaal begin. Ná tien minute het ’n paar mense gekom, en ek het die toespraak dus van voor af begin.
Vandag is daar 42 verkondigers en 3 gemeentes in die Marquesas-eilande. Hoewel die grootste deel van die werk deur ander ná ons gedoen is, is party mense met wie ons destyds in aanraking gekom het nou gedoop.
Ons broers is kosbaar
Op Nuku Hiva het ons geduld geleer. Ons moes vir alles behalwe die basiese benodigdhede wag. As jy byvoorbeeld ’n boek wou hê, moes jy skryf om dit aan te vra en dan twee of drie maande wag voordat dit kom.
Nog ’n les wat ons geleer het, is dat ons broers kosbaar is. Wanneer ons Tahiti besoek het en ’n vergadering bygewoon het waar ons die broers hoor sing het, is ons tot trane geroer. Dit is dalk waar dat dit nie maklik is om met party broers oor die weg te kom nie, maar wanneer ’n mens alleen is, besef jy hoe goed dit is om met die broederskap te wees. In 1980 het die Genootskap besluit dat ons na Tahiti moet terugkeer om in die kringwerk te dien. Daar is ons grootliks aangemoedig deur die hartlike gasvryheid van die broers en hulle liefde vir die predikingswerk. Ons het drie jaar in die kringwerk op Tahiti deurgebring.
Van eiland tot eiland
Daarna is ons na ’n sendinghuis in Raïatéa, ’n ander Pasifiese eiland, gestuur waar ons omtrent twee jaar gebly het. Ná Raïatéa is ons na die Tuamotu-eilandgroep gestuur om kringwerk te doen. Ons het 25 van die 80 eilande per boot besoek. Dit was moeilik vir Babette. Elke keer wat sy met ’n boot gereis het, het sy siek geword.
Babette sê: “Dit was vreeslik! Ek was siek die hele tyd wat ons op die boot deurgebring het. As ons vyf dae op see was, was ek vyf dae lank siek. Geen medisyne het my gehelp nie. Maar ondanks my naarheid het ek gedink die oseaan is pragtig. Dit was ’n wonderlike gesig. Dolfyne het met die boot resies gejaag. Hulle het dikwels uit die water gespring as jy jou hande geklap het!”
Ná vyf jaar in die kringwerk is ons weer vir twee jaar na Tahiti toe gestuur en ons het weer eens ’n aangename tyd in die predikingswerk geniet. Ons gemeente het binne ’n jaar en ’n half van 35 verkondigers tot 70 verdubbel. Twaalf van die persone met wie ons die Bybel gestudeer het, is gedoop net voordat ons daar weg is. Sommige van hulle is nou ouer manne in die gemeente.
Ons het altesaam 12 jaar in die Stille Suidsee deurgebring. Toe het ons ’n brief van die Genootskap ontvang waarin hulle gesê het dat hulle nie meer sendelinge op die eilande nodig het nie, aangesien die gemeentes nou sterk genoeg was. Daar was ongeveer 450 verkondigers toe ons in Tahiti aangekom het en meer as 1 000 toe ons daar weg is.
Uiteindelik Afrika!
Ons het na Frankryk teruggekeer en ná ’n maand en ’n half het die Genootskap ons ’n nuwe toewysing gegee—Benin, Wes-Afrika. Ons wou reeds 13 jaar tevore Afrika toe gegaan het en daarom was ons baie bly.
Ons het op 3 November 1990 in Benin aangekom en was van die eerste sendelinge wat daar aangekom nadat die 14 jaar lange verbod op die Koninkrykspredikingswerk opgehef is. Dit was baie opwindend. Ons het dit glad nie moeilik gevind om gevestig te raak nie omdat die lewe ooreenkom met dié in die Pasifiese eilande. Die mense is baie vriendelik en gasvry. Jy kan met enigeen op straat gaan staan en gesels.
Slegs ’n paar weke nadat ons in Benin aangekom het, het Babette ’n klont in haar bors gemerk. Ons het dus na ’n klein kliniek naby die nuwe takkantoor gegaan. Die dokter het haar ondersoek en gesê dat sy so spoedig moontlik geopereer moet word. Die volgende dag het ons na ’n ander kliniek gegaan waar ons ’n Europese dokter, ’n ginekoloog van Frankryk, gespreek het. Ook sy het gesê dat ons sonder versuim Frankryk toe moet gaan sodat Babette ’n operasie kan ondergaan. Twee dae later was ons met ’n vliegtuig onderweg na Frankryk.
Ons was hartseer om Benin te verlaat. Met die hernieude godsdiensvryheid in die land was die broers verheug om nuwe sendelinge te hê en ons was baie bly om daar te wees. Ons was dus ontsteld dat ons ná net ’n paar weke in die land moes vertrek.
Toe ons in Frankryk aankom, het die chirurg Babette ondersoek en bevestig dat sy ’n operasie moet ondergaan. Die dokters het vinnig opgetree, ’n klein operasie uitgevoer en Babette die volgende dag uit die hospitaal ontslaan. Ons het gedink dat dit die einde van die saak was.
Agt dae later het ons die chirurg gaan spreek. Dit was toe dat hy ons die nuus meegedeel het dat Babette borskanker het.
Babette vertel hoe sy destyds gevoel het: “Ek was in die begin nie so ontsteld soos Michel nie. Maar die dag ná die slegte tyding het ek geen gevoel gehad nie. Ek kon nie huil nie. Ek kon nie glimlag nie. Ek het gedink ek gaan dood. Vir my was kanker gelykstaande aan die dood. My gesindheid was: Ons moet doen wat ons moet.”
Die stryd teen kanker
Ons het die Vrydag die slegte tyding gekry, en Babette moes die Dinsdag ’n tweede operasie ondergaan. Ons was op daardie stadium by Babette se suster tuis, maar sy was ook siek en ons kon dus nie by haar in haar woonstelletjie aanbly nie.
Ons het gewonder waarheen ons kon gaan. Toe dink ons aan Yves en Brigitte Merda, ’n egpaar by wie ons voorheen tuis was. Hierdie egpaar was baie gasvry teenoor ons. Ons het dus vir Yves gebel en hom vertel dat Babette ’n operasie moes ondergaan en dat ons nie geweet het waar om te bly nie. Ons het ook vir hom gesê dat Michel werk soek.
Yves het Michel van werk, in en om die huis, voorsien. Die broers het ons met baie goedhartige dade ondersteun en aangemoedig. Hulle het ons ook finansieel gehelp. Die Genootskap het Babette se doktersrekeninge betaal.
Dit was ’n groot operasie. Die dokters moes die limfkliere en die bors verwyder. Hulle het onmiddellik met chemoterapie begin. Ná ’n week kon Babette die hospitaal verlaat, maar sy moes elke drie weke terugkeer vir voortgesette behandeling.
Gedurende die tyd dat Babette behandeling ontvang het, was die broers in die gemeente baie behulpsaam. Een suster wat ook borskanker gehad het, was ’n groot aanmoediging. Sy het vir Babette gesê wat om te verwag en het haar baie bemoedig.
Ons was nogtans bekommerd oor ons toekoms. Michel en Jeanette Cellerier het dit opgemerk en ons vir ete na ’n restaurant geneem.
Ons het vir hulle gesê dat ons die sendingdiens sou moes verlaat en dat ons nooit terug Afrika toe sou kon gaan nie. Maar broer Cellerier het gesê: “Wat? Wie sê julle moet ophou? Die Bestuursliggaam? Die broers in Frankryk? Wie het so gesê?”
“Niemand het so gesê nie”, het ek geantwoord, “ek sê so.”
“Nee, nee!” het broer Cellerier gesê. “Julle sal teruggaan!”
Chemoterapie is deur bestraling gevolg, wat teen die einde van Augustus 1991 voltooi is. Die dokters het gesê dat hulle geen beswaar teen ons terugkeer na Afrika toe het nie mits Babette gereeld vir ondersoeke Frankryk toe gaan.
Terug na Benin
Ons het dus na die hoofkwartier in Brooklyn geskryf om toestemming te vra om ons sendingdiens te hervat. Ons was gretig om hulle antwoord te hoor. Die dae het verby gekruip. Michel kon uiteindelik nie meer wag nie, en hy het dus Brooklyn toe gebel en gevra of hulle ons brief ontvang het. Hulle het gesê dat hulle dit oorweeg het—ons kon terugkeer na Benin! Hoe dankbaar was ons tog teenoor Jehovah!
Die Merda-gesin het ’n groot geselligheid gereël om die nuus te vier. In November 1991 het ons na Benin teruggekeer, en die broers het ons met ’n fees verwelkom!
Dit gaan nou goed met Babette. Ons het van tyd tot tyd vir volledige mediese ondersoeke teruggegaan Frankryk toe, en die dokters vind geen teken van kanker nie. Ons is verheug om terug in ons sendingtoewysing te wees. Ons voel ons is nodig in Benin, en Jehovah het ons werk geseën. Sedert ons terugkeer het ons 14 mense gehelp om gedoop te word. Vyf van hulle is nou gewone pioniers en een is as ’n bedieningskneg aangestel. Ons het ook gesien hoe ons gemeentetjie groei en later in twee gemeentes verdeel.
Deur die jare heen het ons Jehovah as man en vrou gedien en baie seëninge geniet, en ons het talle wonderlike mense leer ken. Maar ons is ook deur Jehovah geleer en versterk om moeilike tye met welslae te verduur. Soos Job, het ons nie altyd verstaan waarom dinge juis op ’n sekere manier verloop nie, maar ons het wel geweet dat Jehovah altyd daar is om ons te help. Dit is soos God se Woord sê: “Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie.”—Jesaja 59:1.
[Prent op bladsy 23]
Michel en Babette Muller in tradisionele kleredrag in Benin
[Prente op bladsy 25]
Sendingwerk onder Polinesiërs in tropiese Tahiti