Onderskraag deur hulle grootste Vriend
JEHOVAH SE GETUIES word veral deur een vriendskap onderskraag. Dit is hulle kosbare verhouding met hulle grootste Vriend, Jehovah God. (Vergelyk Jakobus 2:23.) Hy ondersteun hulle gedurende kwaai toetse van geloof.
Die Getuies se geskiedenis van onkreukbaarheid onder totalitêre regeringstelsels is al deur baie waarnemers geloof. Een van hulle is Jiří Krupička, ’n doktor in die Wysbegeerte en Natuurwetenskappe wat in 1968 uit Tsjeggo-Slowakye geëmigreer het ná hy baie jare in Kommunistiese konsentrasiekampe deurgebring het. In sy boek Renesance rozumu (Renaissance van die intellek) lewer hy kommentaar oor die lyding en die onwrikbaarheid van Getuies wat weens hulle neutraliteit gevange geneem is.
Onder die Kommunistiese regering is baie Getuies tot tronkstraf gevonnis as gevolg van hulle geloof. Hoewel hulle in gevangenskap was, het hulle geweier om uraan vir oorlogsdoeleindes te myn (Jesaja 2:4). Krupička beskryf ’n toneel wat hy in 1952 by een van hierdie myne gesien het. Hy het twee figure soos ysstandbeelde in die kwaai winterkoue sien staan. Metaaldromme het hulle kop en bolyf bedek.
Krupička skryf: “Hulle het al van vroegdag daar gestaan in hulle verflenterde tronkklere. Hoe het hulle dit reggekry om so lank op hulle verkluimde bene te staan? Deur die krag van geloof. Die dromme was oud en geroes. ’n Wrede hand het dit so hard oor hulle kop en skouers gedruk dat die skerp rand ’n sny deur die baadjie en in die vel van een van die manne gemaak het, en bloed het van sy mou gedrup.
“Die wag het ons afdeling voor hulle tot stilstand laat kom, en die bevelvoerder het ’n kort toespraak afgesteek. Weiering om te werk, het hy gesê, is opstand en word dienooreenkomstig gestraf. Geen sentimentele onsin oor oorlog en doodmakery sal hierdie beswaardes, hierdie vyande van sosialisme, help nie.”
Die bevelvoerder het ’n metaalstaaf opgetel en een van die dromme geslaan. Die man in die drom het inmekaargesak met die drom nog op sy kop. Wat daarna gebeur het, is iets wat diep in Krupička se geheue ingeprent is.
Hy sê: “Daar het ’n gesing vanuit die dromme gekom. Sagte klanke, ’n gefluisterde gebed tot God, wat enigiets van enige plek kan hoor—selfs mense wat vanuit ou, geroeste uraandromme probeer sing. Dit is vir hom luider as ’n koorgesang in ’n groot katedraal.”
Op 1 September 1993 het die werk van Jehovah se Getuies in die Tsjeggiese Republiek amptelik wetlike erkenning gekry. Die Tsjeggiese Getuies verheug hulle nou daarin om hulle Christelike onderrigtingswerk in vryheid te doen. Ja, dit verskaf hulle vreugde om ander van Jehovah, hulle grootste Vriend, te vertel.
[Prent op bladsy 7]
Byeenkomsgangers in die Tsjeggiese Republiek