Is die siel onsterflik?
EEN-EEN loop vriende en familie verby die oop kis. Hulle kyk na die liggaam van ’n 17-jarige seun. Sy skoolvriende herken hom skaars. Chemoterapie het baie van sy hare laat uitval; die kanker het hom baie maer laat word. Is dit werklik hulle vriend? Net ’n paar weke gelede was hy nog so vol idees, vrae, energie—so vol lewe! Die seun se ma herhaal oor en oor onder trane: “Tommie is nou gelukkiger. God wou Tommie by hom in die hemel hê.”
Hierdie hartseer moeder vind ’n mate van hoop en vertroosting in die idee dat haar seun op een of ander manier nog lewe. In die kerk is sy geleer dat die siel onsterflik is, dat dit die setel van ’n mens se persoonlikheid, gedagtes en herinneringe is—die “self”. Haar seun se siel, glo sy, is glad nie dood nie; as ’n lewende gees het dit sy liggaam by sy dood verlaat en hemel toe gegaan om by God en die engele te wees.
Wanneer tragedie tref, hou die mensehart desperaat aan enige sprankie hoop vas, en gevolglik is dit nie moeilik om te verstaan waarom hierdie opvatting so gewild is nie. Beskou byvoorbeeld die wyse waarop die teoloog J. Paterson-Smyth hom in The Gospel of the Hereafter uitgedruk het: “Die dood is baie onbeduidend in vergelyking met dít wat daarop volg—daardie wonderlike, wonderlike, wonderlike wêreld waarin die Dood ons inlei.”
Deur die wêreld heen en in baie godsdienste en kulture glo mense dat die mens ’n onsterflike siel in hom het, ’n bewuste gees wat bly lewe ná die liggaam doodgegaan het. Die opvatting kom in byna elkeen van die Christendom se duisende godsdienste en sektes voor. Dit is ook ’n amptelike leerstelling in Judaïsme. Hindoes glo dat die atman, of siel, aan die begin van tyd geskep is, by geboorte in die liggaam opgesluit word en by die dood na ’n ander liggaam oorgaan in ’n voortdurende kringloop van reïnkarnasies. Moslems glo dat die siel saam met die liggaam ontstaan en voortleef ná die liggaam doodgegaan het. Ander gelowe—die animiste van Afrika, die Sjinto en op ’n manier selfs die Boeddhiste—leer variasies op hierdie selfde tema.
’n Paar kwelvrae
Hoewel die idee van ’n onsterflike siel onbetwisbaar en byna universeel byval vind, laat dit nietemin ’n paar verontrustende vrae ontstaan. Mense vra hulle byvoorbeeld af waarheen die siel van ’n geliefde gaan indien hy nie so ’n goeie lewe gelei het nie. Sal hy as een of ander laer lewensvorm gereïnkarneer word? Of word hy na die vaevuur gestuur, waar hy deur ’n brandproses gesuiwer sal word tot hy waardig geag word om hemel toe te gaan? Nog erger, gaan hy vir ewig in ’n brandende hel gepynig word? Of is hy, soos baie animistiese godsdienste leer, ’n gees wat gepaai moet word?
Sulke idees skep neerdrukkende vooruitsigte vir die lewendes. Moet ons die geeste van ons afgestorwe dierbares paai uit vrees dat hulle hulle op ons gaan wreek? Is ons veronderstel om hulle te help om uit die een of ander vreeslike vaevuur te kom? Of moet ons maar net in hulpelose afgryse sidder by die gedagte aan hulle lyding in die hel? Of moet ons party lewende diere behandel asof hulle die siele van afgestorwe mense dra?
Die vrae wat oor God self ontstaan, is nie juis gerusstellender nie. Byvoorbeeld, baie ouers, soos die moeder wat aan die begin genoem is, word aanvanklik getroos deur die gedagte dat God hulle kind se onsterflike siel hemel toe “geneem” het om by hom te wees. Maar vir baie is dit net ’n kwessie van tyd voor hulle hulle begin afvra watter soort God ’n verskriklike siekte oor ’n onskuldige kind sal bring en daardie dierbare van hartseer ouers sal wegruk bloot om die kind voor sy tyd weg te neem hemel toe. Waar is die geregtigheid, die liefde en die barmhartigheid van so ’n God? Party betwyfel selfs die wysheid van so ’n God. Waarom, vra hulle, sal ’n wyse God al hierdie siele in die eerste plek op die aarde sit as hulle almal in elk geval veronderstel is om op die ou end in die hemel te lewe? Sou dit nie beteken dat die skepping van die aarde in werklikheid ’n geweldige vermorsing was nie?—Vergelyk Deuteronomium 32:4; Psalm 103:8; Jesaja 45:18; 1 Johannes 4:8.
Dit is dus duidelik dat die leerstelling oor die onsterflikheid van die mensesiel, ongeag in watter vorm die leerstelling geleer word, lastige vrae, selfs teenstrydighede, laat ontstaan. Waarom? ’n Groot deel van die probleem het te doen met die oorsprong van hierdie lering. Jy sal dit moontlik insiggewend vind om die oorsprong van hierdie lering kortliks te ondersoek; en jy sal dalk verbaas wees om uit te vind wat die Bybel self oor die siel sê. Dit bied ’n baie beter hoop vir lewe ná die dood as wat die wêreld se godsdienste oor die algemeen leer.