Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 8/1 bl. 26-30
  • Michael Faraday—wetenskaplike en man van geloof

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Michael Faraday—wetenskaplike en man van geloof
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Sandemaners
  • Sandemanisme versprei
  • Faraday se godsdiensopvattings
  • Faraday die Sandemaner
  • Die man wat die wêreld verander het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Glas—Die eerste makers daarvan het lank, lank gelede gelewe
    Ontwaak!—1995
  • “Migael, die grootvors”—Wie is hy?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Wie is die aartsengel Migael?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 8/1 bl. 26-30

Michael Faraday—wetenskaplike en man van geloof

“Vader van Elektrisiteit.” “Grootste eksperimentele wetenskaplike nog.” Dit is twee beskrywings van Michael Faraday, wat in 1791 in Engeland gebore is en wie se ontdekking van elektromagnetiese induksie tot die ontwikkeling van elektriese motors en kragopwekking gelei het.

FARADAY het baie lesings oor chemie en fisika by die Royal Institution in Londen gehou. Sy lesings wat bedoel was om die wetenskap verstaanbaarder te maak, het jongmense gehelp om ingewikkelde begrippe te begryp. Hy het toekennings van talle universiteite ontvang. Nogtans het hy publisiteit vermy. Hy was ’n diep godsdienstige man, wat op sy gelukkigste was in die privaatheid van sy drievertrekwoonstel en in die geselskap van sy gesin en medegelowiges. Faraday het behoort aan wat hy beskryf het as “’n baie klein en veragte Christensekte, bekend . . . as Sandemaners”. Wie was hulle? Wat het hulle geglo? En hoe het dit Faraday beïnvloed?

Die Sandemaners

“Michael Faraday se grootouers het die Faraday-familie aanvanklik in kontak met die Sandemaniese kerk gebring”, sê Geoffrey Cantor, skrywer van Michael Faraday: Sandemanian and Scientist. Hulle het met die volgelinge van ’n rondtrekkende nonkonformistiese predikant omgegaan wie se metgeselle die Sandemaners se opvattings aangeneem het.

Robert Sandeman (1718-71) was ’n universiteitstudent in Edinburgh wat wiskunde, Grieks en ander tale studeer het toe hy eendag ’n oudpredikant van die Presbiteriaanse kerk, John Glass, hoor preek het. Wat hy gehoor het, het daartoe gelei dat hy die universiteit verlaat het, terug huis toe gegaan het na Perth en by Glass en sy metgeselle aangesluit het.

In die 1720’s het John Glass party leringe van die Kerk van Skotland in twyfel begin trek. Sy studie van God se Woord het hom tot die slotsom laat kom dat die Bybelse nasie Israel ’n geestelike nasie afgeskadu het wie se burgers uit baie nasionaliteite kom. Nêrens het hy regverdiging vir ’n afsonderlike kerk vir elke nasie gevind nie.

Omdat hy nie meer gelukkig in sy kerk in Tealing, buite Dundee, Skotland, was nie, het Glass hom aan die Kerk van Skotland onttrek en sy eie vergaderinge gereël. Ongeveer honderd mense het by hom aangesluit en van die begin af het hulle die belangrikheid daarvan besef om eenheid onder hulle te handhaaf. Hulle het besluit om Christus se instruksies in Matteus hoofstuk 18 verse 15 tot 17 te volg om enige verskille onder hulle op te los. Later het hulle weeklikse vergaderinge gehou waar lede van die groep bymekaargekom het om te bid en aangespoor te word.

Toe ’n redelike groot aantal mense die vergaderinge van die verskillende groepe gereeld begin bywoon het, was verantwoordelike manne nodig om oor hulle aanbidding toesig te hou. Maar wie het gekwalifiseer? John Glass en sy metgeselle het noukeurig gelet op wat die apostel Paulus oor hierdie onderwerp geskryf het (1 Timoteus 3:1-7; Titus 1:5-9). Hulle het geen melding gevind van ’n universiteitsopleiding of van die nodigheid om Hebreeus of Grieks te verstaan nie. Nadat hulle die skriftuurlike riglyne dus biddend oorweeg het, het hulle bekwame manne as ouderlinge aangestel. Diegene wat lojaal aan die Kerk van Skotland was, het dit as “byna lasterlik” beskou vir onopgevoede mense “wat weef, naaldwerk doen of ploeg” om voor te gee dat hulle die Bybel verstaan en sy boodskap te verkondig. Toe Glass en sy medegelowiges, in 1733, hulle eie vergadersaal in die dorp Perth gebou het, het die plaaslike geestelikes druk op die magistrate probeer uitoefen om hulle uit die dorp te verjaag. Hulle pogings het misluk, en die beweging het gegroei.

Robert Sandeman het met Glass se oudste dogter getrou en het, op die ouderdom van 26, ’n ouderling in die Perth-gemeente van die Glassiete geword. Sy pligte as ouderling het hom so besig gehou dat hy besluit het om hom voltyds aan herderlike werk te wy. Later, ná sy vrou se dood, het Robert “blymoedig ingestem om die Here te dien waar ook al sy lot bepaal het”, sê ’n biografie.

Sandemanisme versprei

Sandeman het sy bediening ywerig uitgebrei van Skotland tot in Engeland, waar nuwe groepe medegelowiges groter geword het. In daardie tyd was daar geskille onder die Engelse Calviniste. Party van hulle het geglo dat hulle vir redding voorbestem was. Sandeman het hom egter by diegene geskaar wat gesê het dat geloof ’n noodsaaklike voorvereiste is. Hy het ter ondersteuning van hierdie beskouing ’n boek uitgegee wat vier keer herdruk is en ook in twee Amerikaanse uitgawes verskyn het. Volgens Geoffrey Cantor was die verskyning van hierdie boek “dié belangrikste gebeurtenis wat die [Sandemaniese] sekte bo sy kleinerige Skotse begin laat uitstyg het”.

In 1764 het Sandeman, vergesel van ander Glassitiese ouderlinge, na Amerika gereis, ’n besoek wat baie polemiek en teenkanting uitgelok het. Dit het nietemin tot die stigting van ’n groep eendersdenkende Christene in Danbury, Connecticut, gelei.a Daar, in 1771, is Sandeman oorlede.

Faraday se godsdiensopvattings

Jong Michael het die Sandemaniese leringe van sy ouers gretig geleer. Hy het geleer dat die Sandemaners hulle afgeskeie gehou het van diegene wat nie beoefen het wat die Bybel leer nie. Hulle het byvoorbeeld geweier om aan die huweliksdiens van die Anglikaanse kerk deel te neem en het verkies om hulle huwelikseremonies te beperk tot wat wetlik nodig was.

Die Sandemaners is gekenmerk deur onderdanigheid aan die regerings, maar neutraliteit wat die politiek betref. Hoewel hulle gerespekteerde lede van die gemeenskap was, het hulle selde poste in die staatsdiens aanvaar. Maar in die paar gevalle wat hulle dit wel aanvaar het, het hulle partypolitiek vermy. Omdat hulle hierdie standpunt ingeneem het, is hulle gesmaad. (Vergelyk Johannes 17:14.) Die Sandemaners het geglo dat God se hemelse Koninkryk die volmaakte regeringsreëling is. Hulle het die politiek as “’n onbelangrike, gemene spel sonder enige sedelikheid” beskou, sê Cantor.

Hoewel hulle afgeskeie was, het hulle nie Fariseïese gesindhede aangeneem nie. Hulle het verklaar: “Ons ag dit geheel en al noodsaaklik om die gees en gebruike van die eertydse Fariseërs te vermy, deur meer sondes of pligte te maak as wat die Skrif gemaak het en deur die goddelike voorskrifte kragteloos te maak deur middel van menslike oorleweringe of logiese ontwykings.”

Hulle het die skriftuurlike gebruik aangeneem om enigeen van hulle lede uit te sit wat ’n dronkaard, ’n afperser, ’n hoereerder geword het of ander ernstige sondes beoefen het. As die sondaar werklik berou gehad het, het hulle hom probeer reghelp. Andersins het hulle die Skriftuurlike opdrag gevolg om ‘die goddelose mens te verwyder’.—1 Korintiërs 5:5, 11, 13.

Die Sandemaners het die Bybelse bevel gehoorsaam om hulle van bloed te onthou (Handelinge 15:29). John Glass het aangevoer dat God se volk onder verpligting is om die beperking op bloed te gehoorsaam net soos God die eerste mense beveel het om nie van die vrugte van die boom van kennis van goed en kwaad te eet nie (Genesis 2:16, 17). Ongehoorsaamheid aan die bevel aangaande bloed het neergekom op ’n verwerping van die behoorlike gebruik van Christus se bloed, naamlik versoening van sonde. Glass het tot die gevolgtrekking gekom: “Hierdie verbod op die eet van bloed was nog altyd en is steeds van die allergrootste belang.”

Die manier waarop die Sandemaners oor die Skrif geredeneer het, het hulle gehelp om baie slaggate te vermy. Hulle het byvoorbeeld, wat vermaak betref, Christus se instruksies as riglyne geraadpleeg. “Ons durf nie Wette maak waar Christus geen gemaak het nie”, het hulle gesê, “en ook nie wegdoen met enige wat hy ons gegee het nie. Omdat ons derhalwe nie die plek kan vind waar afleiding, in die openbaar of privaat, verbied word nie, ag ons enige vermaak as geoorloof, solank dit nie met omstandighede verband hou wat werklik sondig is nie.”

Hoewel die Sandemaners dus baie opvattings gehad het wat noukeurig op die Skrif gegrond was, het hulle nie die belangrikheid van die einste bedrywigheid begryp wat ware Christene sou kenmerk nie, naamlik dat elkeen die goeie nuus van die Koninkryk aan ander moet verkondig (Matteus 24:14). Hulle vergaderinge was nietemin oop vir almal, en daar het hulle probeer om vir almal wat hulle gevra het ’n rede vir die hoop in hulle te gee.—1 Petrus 3:15.

Hoe het hierdie patroon van opvattings die wetenskaplike Michael Faraday beïnvloed?

Faraday die Sandemaner

Hoewel Michael Faraday weens sy merkwaardige ontdekkings ’n geëerde, gevierde en hooggeagte persoon was, het hy ’n eenvoudige lewe gelei. Wanneer beroemde mense gesterf het en daar van diegene in die openbare lewe verwag is om hulle begrafnis by te woon, was Faraday merkbaar afwesig, aangesien sy gewete hom nie toegelaat het om ’n diens van die Anglikaanse Kerk by te woon en daarby betrokke te raak nie.

As ’n wetenskaplike het Faraday streng gehou by dit wat hy as feite kon bewys. Hy het dus noue omgang met geleerdes vermy wat hulle eie hipoteses beklemtoon het en kant gekies het oor sake. Soos hy eenkeer vir ’n gehoor gesê het, is ‘’n fundamentele feit iets wat ons nooit in die steek laat nie, die bewys daarvan is altyd waar’. Hy het die wetenskap uitgebeeld as afhanklik ‘van noukeurig waargenome feite’. Aan die einde van een aanbieding oor die basiese kragte van die natuur het Faraday sy gehoor aangemoedig om oor “Hom wat dit geskep het” te peins. Toe het hy die Christenapostel Paulus aangehaal: “Sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld duidelik gesien word, en word verstaan deur die dinge wat gemaak is, selfs sy ewige krag en Godheid.”—Romeine 1:20, King James Version.

Iets wat Faraday so van baie ander wetenskaplikes onderskei het, was sy begeerte om uit God se geïnspireerde Boek asook uit die boek van die natuur te leer. “Deur sy Sandemanisme het hy ontdek hoe om in gehoorsaamheid aan God se sedewet te lewe en met die belofte van ewige lewe”, sê Cantor. “Deur die wetenskap wat hy beoefen het, het hy in noue kontak met die fisiese wette gekom wat God gekies het om die heelal te beheer.” Faraday het geglo dat “die wetenskap nie die absolute gesag van die Bybel kan ondermyn nie, maar dat die wetenskap, as dit op ’n waarlik Christelike wyse beoefen word, God se ander boek kan verlig”.

Faraday het nederig baie van die eerbewyse van die hand gewys wat ander aan hom wou skenk. Hy het nooit in ’n ridderskap belanggestel nie. Hy het verkies om ‘eenvoudig meneer Faraday’ te bly. Hy het baie tyd aan sy bedrywighede as ’n ouderling gewy en het onder andere gereeld van die hoofstad na ’n Norfolkse dorpie gereis om na ’n klein groepie eendersdenkende gelowiges daar om te sien.

Michael Faraday is op 25 Augustus 1867 oorlede en is in die Highgate-begraafplaas in die noordelike deel van Londen begrawe. Die biograaf John Thomas vertel ons dat Faraday “meer suiwer wetenskaplike prestasies aan latere geslagte nagelaat het as enige ander natuurwetenskaplike, en die praktiese gevolge van sy ontdekkings het ’n diepgaande invloed op die aard van die beskaafde lewe gehad”. Faraday se weduwee, Sarah, het geskryf: “Ek kan alleenlik na die Nuwe Testament as sy gids en maatstaf verwys; want hy het dit as die Woord van God beskou . . . wat vandag nog net so bindend vir Christene is as toe dit geskryf is”—’n treffende getuienis van ’n groot wetenskaplike wat op ’n vroom wyse ooreenkomstig sy geloof gelewe het.

[Voetnoot]

a Die laaste oorblywende Sandemaniese, of Glassitiese, groep in die Verenigde State het op die laatste vroeg in hierdie eeu ophou bestaan.

[Venster op bladsy 29]

As ’n aangestelde dosent aan Brittanje se Royal Institution het Michael Faraday die wetenskap op so ’n manier aangebied dat selfs jongmense dit kon verstaan. Sy raad aan mededosente bevat praktiese wenke wat vir hedendaagse Christene wat openbare sprekers is goed sal wees om te oorweeg.

◻ “Moenie vinnig en haastig, en gevolglik onduidelik, praat nie, maar stadig en met oorleg.”

◻ ’n Spreker moet die belangstelling van sy gehoor probeer wek “aan die begin van die lesing en dit deur ’n reeks onmerkbare oorgange, wat nie deur die gehoor waargeneem word nie, lewendig hou solank as wat die onderwerp dit vereis”.

◻ “’n Spreker daal ver benede die waardigheid van sy karakter as hy so laag daal dat hy applous probeer uitlok en lof probeer verkry.”

◻ Oor die gebruik van ’n skets: “Ek vind dit altyd nodig . . . om ’n plan van [die onderwerp] op papier op te stel en die res van die dele in te vul deur dit te herroep, deur assosiasie of op ’n ander manier. . . . Ek het ’n reeks hoof- en subopskrifte in volgorde en hieruit ontwikkel ek my onderwerp.”

[Foto-erkenning op bladsy 26]

Albei prente: Met vergunning van die Royal Institution

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel