Koninkryksverkondigers berig
Die verkondiging van Bybelwaarhede in Ierland gaan voort
IN DIE laaste jare was Ierland met sy pragtige natuurskoon die toneel van grootskaalse onrus. En tog het mense in Ierland gunstig gereageer op die Bybel se boodskap van hoop wat Jehovah se Getuies vir hulle bring. Die volgende ondervindinge uit Ierland lig dit toe.
■ In Dublin het een van Jehovah se Getuies en sy jong dogtertjie aan die predikingswerk van deur tot deur deelgeneem. Hulle het ’n vrou met die naam Cathy ontmoet wat baie besig was om na al haar kinders om te sien. Die Getuie het gevra of sy dogtertjie, wat opleiding in die predikingswerk ontvang, net kortliks vir haar iets kon sê. Cathy het ingestem, en die klein dogtertjie het ’n duidelike, weldeurdagte aanbieding gedoen. Cathy is deur die jong kindjie se ooglopende opregtheid en eerbiedigheid getref, en sy het ’n Bybeltraktaat geneem.
Later het Cathy nagedink oor hoe goed voorbereid en goed gemanierd haar jong besoeker was. “Wat my beïndruk het, is dat ’n klein dogtertjie so ’n interessante boodskap kon oordra sonder om voor op die wa te wees”, het sy gesê. “Ek het besluit dat ek na Jehovah se Getuies sou luister wanneer hulle my weer besoek.”
Intussen het Cathy na ’n klein dorpie in die suidweste van Ierland naby die grens van die graafskappe Cork en Kerry verhuis. ’n Hele tydjie later het Jehovah se Getuies aan haar deur geklop, en sy het hulle ingenooi. Sy het tot ’n gereelde Bybelstudie ingestem en kom nou saam met verskeie van haar kinders na die gemeentelike vergaderinge toe. Cathy is dankbaar oor die klein dogtertjie se opregte begeerte om haar van die goeie nuus te vertel.
■ In die Tullamore-gebied het die Getuies oor ’n tydperk van sewe jaar Bybelbesprekings met ’n vrou genaamd Jean gehou. Soms het sy belangstelling getoon en lektuur geneem, maar op ander tye het haar belangstelling verflou. Eendag het ’n Getuie met die naam Frances en ’n metgesel by Jean besoek afgelê en haar in ’n baie onvriendelike bui gevind. “Ons het alles probeer”, vertel die Getuie, “maar sy het net meer omgekrap geraak. Uiteindelik het sy vir ons gesê om te loop en die deur toegeslaan.”
Frances het gewonder of nog besoeke maar net ’n soortgelyke reaksie sou uitlok. ‘Miskien is dit nie meer die moeite werd om haar te besoek as sy nie werklik in die boodskap belangstel nie’, het Frances gedink. Sy het egter die saak met haar man, Thomas, bespreek, en hy was meer optimisties. Die volgende keer wat hulle in die gebied was, het hulle Jean weer gaan besoek. Sy was vriendelik en het eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! geneem. Verdere besoeke was net so aangenaam, en Thomas en Frances het ’n gereelde tuisbybelstudie met haar begin.
Waarom die verandering? Jean verduidelik dat sy kort tevore geboorte gegee het en pas uit die hospitaal gekom het toe sy so onvriendelik teenoor die Getuies was. Omdat sy haar pasgebore baba moes borsvoed en haar ouer baba met ’n lepel moes voer, het sy snags net ’n uur en ’n half geslaap. “Die laaste ding wat ek wou doen”, sê Jean, “was om oor godsdiens te praat.”
Binne twee maande het Jean al die gemeentelike vergaderinge begin bywoon, en binne vier maande het sy aan die veldbediening begin deelneem. Tien maande ná sy haar Bybelstudie begin het, is sy gedoop. Jean se eie ondervinding help haar nou in die bediening. Sy vertel: “As ek iemand teëkom wat baie onbeskof is, probeer ek meer begrip aan die dag lê. Ek maak altyd ’n aantekening daarvan. Miskien sal die omstandighede anders wees teen die tyd wat ek terugkeer; miskien sal die persoon dan beter voel en ontvankliker wees.”