Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 11/15 bl. 25-27
  • Volg jy ons onpartydige God na?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Volg jy ons onpartydige God na?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah se voorbeeld van onpartydigheid
  • Leer uit Jehovah se onpartydigheid
  • Waardeer Jehovah se eienskappe ten volle
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Wees onpartydig, net soos Jehovah
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2021
  • Volg Jehovah, ons onpartydige God, na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • God is nie partydig nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 11/15 bl. 25-27

Volg jy ons onpartydige God na?

ONPARTYDIGHEID—waar kan dit gevind word? Daar is Iemand wat geheel en al onpartydig is, wat vry van vooroordeel, voortrekkery en diskriminasie is. Hy is Jehovah God, die Skepper van die mensdom. Maar aangaande mense het die 19de-eeuse Engelse skrywer Charles Lamb openhartig geskryf: “Ek is, om dit eenvoudig te stel, ’n bondel vooroordele—wat uit voor- en afkeure bestaan.”

Wat onpartydigheid betref, laat menseverhoudings veel te wense oor. Baie eeue gelede het die wyse koning Salomo van Israel gesien dat ‘die een mens oor die ander heers tot sy ongeluk’ (Prediker 8:9). Rassehaat, nasionale geskille en familietwis neem steeds toe. Is dit dus realisties om te glo dat mense op hulle eie ’n onpartydige samelewing kan ontwikkel?

’n Bewuste poging is nodig om ons gesindhede te beheers en van enige diepgewortelde vooroordele in ons ontslae te raak (Efesiërs 4:22-24). Sonder dat ons dit besef, is ons dalk geneig om gesindhede te hê wat deur ons sosiale en opvoedkundige omgewing gevorm is en wat in ons familie-, rasse- en nasionale agtergronde gewortel is. Hierdie skynbaar onbelangrike neigings is dikwels diepgewortel en bevorder gesindhede wat tot partydigheid lei. Die Skotse wetsgeleerde en redakteur lord Francis Jeffrey het selfs erken: “Daar is niks waarvan ’n mens so lank onbewus kan wees soos die omvang en krag van sy vooroordele nie.”

Lenaa is iemand wat erken dat ’n bewuste poging nodig is as ons wil stry teen die neiging om partydig te wees. Om gevoelens van vooroordeel in jouself te smoor, sê sy, “verg baie werk, want ’n mens se opvoeding is ’n baie sterk invloed”. Lena erken ook dat ons voortdurend hieraan herinner moet word.

Jehovah se voorbeeld van onpartydigheid

Jehovah is ’n volmaakte voorbeeld van onpartydigheid. Van die Bybel se eerste bladsye af lees ons hoe hy sy onpartydigheid geopenbaar het in sy handelinge met mense. Ons kan baie uit hierdie puik voorbeelde en herinneringe leer.

Jehovah het onpartydigheid getoon toe hy sake so gerig het dat die Joodse apostel Petrus in 36 G.J. die goeie nuus aan Kornelius en ander nie-Jode verkondig het. Op daardie tydstip het Petrus gesê: “God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik.”—Handelinge 10:34, 35.

In al Jehovah se handelinge met die mensegesin het hy altyd onpartydigheid getoon. Christus Jesus het van sy Vader gesê: ‘Hy laat sy son opgaan oor goddeloses en goeies en laat dit reën op regverdiges en onregverdiges’ (Matteus 5:45). Petrus het Jehovah as ’n onpartydige God nog verder verheerlik en gesê: “Hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom.”—2 Petrus 3:9.

In Noag se dag, toe “die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was”, het Jehovah beveel dat daardie mensewêreld vernietig word (Genesis 6:5-7, 11, 12). Maar op God se bevel en reg voor die oë van sy tydgenote het Noag ’n ark gebou. Terwyl Noag en sy seuns die ark gebou het, was hy ook “’n prediker van regverdigheid” (2 Petrus 2:5). Ondanks die feit dat Jehovah die goddelose neigings van daardie geslag se hart geken het, het hy op onpartydige wyse vir hulle ’n duidelike boodskap gestuur. Hy het probeer om hulle verstand en hart te bereik deur Noag ’n ark te laat bou en hom te laat preek. Hoewel hulle voldoende geleentheid gehad het om gehoor te gee, het hulle “geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie”.—Matteus 24:39.

Wat ’n puik voorbeeld van Jehovah se onpartydigheid! In hierdie kritieke laaste dae beweeg dit God se knegte om die goeie nuus van die Koninkryk met dieselfde onpartydigheid te verkondig. Daarbenewens huiwer hulle nie om die dag van Jehovah se wraak bekend te maak nie. Voor almal se oë bied hulle Jehovah se boodskap onpartydig aan vir almal om te hoor.—Jesaja 61:1, 2.

Jehovah se beloftes aan die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob het dit duidelik gemaak dat hy ’n onpartydige God is. Deur hulle spesifieke geslagslyn sou die aangestelde Een kom waardeur ‘alle nasies van die aarde hulleself beslis sal seën’ (Genesis 22:18, NW; 26:4, NW; 28:14, NW). Christus Jesus was daardie aangestelde Een. Deur middel van Jesus se dood en opstanding het Jehovah die weg tot redding vir die ganse gehoorsame mensdom voorsien. Ja, die voordele van Christus se losprysofferande is sonder partydigheid beskikbaar.

In Moses se dag is Jehovah se onpartydigheid op ’n baie interessante manier geopenbaar in verband met die dogters van Selofhad. Hierdie vyf vroue het voor ’n dilemma te staan gekom met betrekking tot hulle vader se erfdeel in die Beloofde Land. Dit was omdat dit in Israel die gebruik was dat erfgrond op ’n man se seuns oorgegaan het. Selofhad het egter gesterf sonder dat hy ’n seun gehad het wat die erfdeel kon ontvang. Daarom het die vyf dogters van Selofhad hulle versoek om onpartydig behandel te word na Moses gebring en gesê: “Waarom sou die naam van ons vader uit sy geslag weggeneem word, omdat hy geen seun gehad het nie? Gee ons ’n besitting onder die broers van ons vader.” Jehovah het na hulle pleidooi geluister en Moses beveel: “As iemand sterwe en geen seun het nie, moet julle sy erfdeel op sy dogter laat oorgaan.”—Numeri 27:1-11.

Wat ’n liefdevolle onpartydige presedent! Om te verseker dat die erfdeel van die stam nie na ’n ander stam toe gaan wanneer die dogters trou nie, is daar van hulle vereis om slegs te trou in “’n geslag van die stam van hulle vader”.—Numeri 36:5-12.

Ons kry verdere insig in Jehovah se onpartydigheid in die dae van die rigter en profeet Samuel. Jehovah het hom beveel om ’n nuwe koning te salf uit die stam van Juda in die geslag van Isai die Betlehemiet. Maar Isai het agt seuns gehad. Wie sou as koning gesalf word? Samuel was beïndruk deur Eliab se liggaamsbou. Jehovah word egter nie deur iemand se uiterlike voorkoms beïnvloed nie. Hy het vir Samuel gesê: “Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie . . . Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.” Dawid, die jongste seun van Isai, is uitgekies.—1 Samuel 16:1, 6-13.

Leer uit Jehovah se onpartydigheid

Christen- ouer manne sal verstandig wees as hulle Jehovah navolg deur na ’n medegelowige se geestelike eienskappe te kyk. Dit is maklik om ’n individu volgens ons eie standaarde te oordeel en toe te laat dat ons persoonlike gevoelens ons oordeel vertroebel. Soos een ouer man dit gestel het: “Ek probeer ander behandel op ’n manier wat Jehovah behaag, nie op grond van my eie vooropgesette idees nie.” Hoe voordelig is dit tog vir al Jehovah se knegte om sy Woord as hulle standaard te gebruik!

Die voorgaande Bybelvoorbeelde help ons om teen talmende gevoelens van rasse- of nasionalistiese vooroordeel te stry. Deur Jehovah se onpartydigheid na te volg, beskerm ons die Christengemeente teen vooroordeel, diskriminasie en voortrekkery.

Die apostel Petrus het geleer dat “God nie partydig is nie” (Handelinge 10:34). Voortrekkery is ’n vyand van onpartydigheid en skend die beginsels van liefde en eenheid. Jesus het die armes, die swakkes en die eenvoudiges probeer bereik, en hy het hulle vrag lig gemaak (Matteus 11:28-30). Hy het ’n skerp teenstelling gevorm met die Joodse godsdiensleiers wat baasgespeel het oor die mense en hulle met ’n swaar vrag reëls belas het (Lukas 11:45, 46). Deur dit te doen en die rykes en vernames voor te trek, het hulle beslis nie in ooreenstemming met Christus se leringe opgetree nie.—Jakobus 2:1-4, 9.

Vandag onderwerp Christen- ouer manne hulle aan Christus se hoofskap en toon onpartydigheid aan almal wat ’n deel is van Jehovah se toegewyde volk. Terwyl hulle ‘as herders toesig hou oor die kudde van God wat onder hulle sorg is’, weerhou hulle hulle daarvan om ander op grond van ekonomiese status, persoonlikheidsverskille of familiebande voor te trek (1 Petrus 5:2). Deur die onpartydige God na te volg en op sy waarskuwing teen voortrekkery ag te slaan, bevorder Christen- ouer manne die gees van onpartydigheid in die gemeente.

Die Christengemeente van Jehovah se Getuies is ’n internasionale broederskap. Dit is ’n lewende bewys dat ’n onbevooroordeelde, onpartydige samelewing ’n werklikheid onder die leiding van Jesus Christus kan wees. Die Getuies het hulle “met die nuwe persoonlikheid . . . beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is” (Efesiërs 4:24). Ja, hulle leer uit die volmaakte voorbeeld van die onpartydige God, Jehovah, en hulle het die vooruitsig om vir ewig te lewe in die nuwe wêreld wat vry van alle partydigheid sal wees.—2 Petrus 3:13.

[Voetnoot]

a Nie haar regte naam nie.

[Prent op bladsy 26]

Die apostel Petrus het geleer dat God nie partydig is nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel