Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 12/1 bl. 21-23
  • Die 101ste klas van Gilead—ywerig vir voortreflike werke

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die 101ste klas van Gilead—ywerig vir voortreflike werke
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Praktiese raad om ywerig te bly
  • Ondervindinge wat ons tot ywerige diens aanspoor
  • Wees vreugdevol met die Koninkrykshoop!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Studente van God se Woord gradueer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Beskou sake vanuit God se standpunt
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Verheug julle in Jehovah en wees bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 12/1 bl. 21-23

Die 101ste klas van Gilead—ywerig vir voortreflike werke

ONS Skepper, Jehovah God, is ywerig vir voortreflike werke, en so ook sy Seun, Jesus Christus. As ons voorbeeld het Jesus ywer getoon deur sy godgegewe toewysing uit te voer, wat ingesluit het dat hy “homself vir ons gegee het om . . . vir homself ’n volk te reinig wat uitsluitlik syne is, ywerig vir voortreflike werke” (Titus 2:14). Die 48 lede van die 101ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead het beslis hulle ywer vir voortreflike werke getoon. Die gradueringsprogram vir hierdie sendelinge is op 7 September 1996 by die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York, gehou.

Praktiese raad om ywerig te bly

Die voorsitter van die gradueringsprogram was Carey Barber, ’n lid van die Bestuursliggaam, wat al meer as 70 jaar in die voltydse bediening is. In sy openingswoorde het broer Barber die aandag gevestig op die predikings- en onderrigtingswerk van Jesus, wat “die lig van die wêreld” was (Johannes 8:12). Hy het gesê dat Jesus nie daardie eervolle rol alleen wou beklee nie, maar dat hy sy dissipels aangespoor het om ook hulle lig te laat skyn (Matteus 5:14-16). Hierdie diensvoorreg maak ’n Christen se lewe betekenisvoller en plaas ’n groot verantwoordelikheid op die skouers van almal wat “as kinders van die lig . . . wandel”.—Efesiërs 5:8.

Ná daardie openingswoorde is Don Adams van die Uitvoerende Kantoor van die hoofkwartier in Brooklyn aan die woord gestel. Hy het gepraat oor die onderwerp “Gaan vooruit, nie agteruit nie”. Broer Adams het die aandag gevestig op die Gileadskool self en op die doel daarvan—om die verkondiging van die goeie nuus na ander lande uit te brei. Hy het van die vooruitgang van God se organisasie gepraat, wat Bybellektuur in meer as 300 tale oor die hele wêreld versprei het. Die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, wat in 1995 uitgegee is, is al in 111 tale beskikbaar gestel en gaan in nog meer tale gedruk word. Dit het alreeds daartoe bygedra dat nuwe dissipels van Jesus gehelp is om hulle in net ’n paar maande toe te wy en te laat doop. Die nuwe sendelinge sal dus die nuutste Bybelstudiehulpe vir hulle werk hê.

Vervolgens het Lyman Swingle, ’n lid van die Bestuursliggaam, gepraat oor die onderwerp “Hou aan om heilige diens aan Jehovah te verrig”, wat op Openbaring 7:15 gebaseer is. Aangesien Jehovah ’n gelukkige God is, maak dit ’n mens gelukkig as jy hom voortdurend dien (1 Timoteus 1:11). As gevolg van hierdie vreugdevolle diens het ’n groot skare mense uit alle dele van die aarde gekom om hom te aanbid. Deur die jare heen het diegene wat in Gileadskool opgelei is baie van hierdie persone gehelp om juiste kennis van die waarheid te verkry. Daarom het ons alle rede om te glo dat Jehovah sal voortgaan om diegene te seën wat nou uitgestuur word om meer lede van die toenemende groot skare in te samel.

“Weerspieël die vreugde van Jehovah” was die tema wat Daniel Sydlik, ook ’n lid van die Bestuursliggaam, ontwikkel het. Hy het getoon dat al God se knegte, onder meer die nuwe sendelinge, die voorreg het om mense te leer wat die weg na die ewige lewe is en hoe hulle nou die grootste voordeel uit die lewe kan trek. “Die onderrigtingswerk”, het broer Sydlik gesê, “is ’n loopbaan wat op sigself lonend is. Dit straal uit die gesigte van die mense wat die onderrigtingswerk doen en uit die gesigte van die mense wat geleer word” (Psalm 16:8-11). Hy het een sendeling in Estland aangehaal wat gesê het: “Ons het die beste nuus in die hele wêreld, en dit kan op ons gesig gesien word.” Ons gesigsuitdrukking kan baie laat luister en belangstelling wek. Mense wil graag weet wat Jehovah se knegte gelukkig maak. “Moet dus nie jou gesigsuitdrukking vergeet nie”, was broer Sydlik se raad. “Mense hou daarvan om gelukkige mense te sien.”

Ulysses Glass, wat Gileadstudente al sedert die 12de klas in 1949 onderrig, het die gehoor toegespreek oor die onderwerp “Bewaak julle siele met geduld”. Wat is geduld? Dit beteken om kalm vir iets te wag, om ondanks uittarting of spanning verdraagsaam te wees. Die geduldige persoon bly kalm; die ongeduldige raak haastig en geïrriteerd. “Baie dink dat geduld swakheid of besluiteloosheid openbaar”, het broer Glass gesê, maar “vir Jehovah is dit ’n teken van krag en doelgerigtheid” (Spreuke 16:32). Watter voordele hou dit in om geduldig te wees? “Geduld in ’n oomblik van woede sal jou honderd dae van smart spaar”, sê ’n Chinese spreekwoord. “Geduld verbeter ’n mens se persoonlikheid”, het broer Glass gesê. “Dit is asof dit ander goeie eienskappe met ’n permanente vernis bedek. Dit maak geloof begeerlik, vrede blywend en liefde onwankelbaar.”

“Dit is ’n voorreg om ’n toewysing van Jehovah God deur sy organisasie te ontvang”, het Mark Noumair gesê, wat 11 jaar as ’n sendeling in Kenia gedien het en nou ’n Gileadinstrukteur is. Terwyl hy die tema “Tensy julle geloof het, sal julle nie lank kan volhard nie” ontwikkel het, het broer Noumair die aandag gevestig op die voorbeeld van koning Agas van Juda. Jesaja het die koning verseker dat Jehovah hom in sy toewysing sal ondersteun, maar Agas het nog steeds nie op Hom vertrou nie (Jesaja 7:2-9). Broer Noumair het toe gesê dat sendelinge—trouens, ons almal—geloof in Jehovah moet hê om in hulle teokratiese toewysings te volhard. Die buitengewone uitdagings van ’n sendingtoewysing verg sterk geloof. “Hou altyd in gedagte dat daar geen volmaakte situasie in hierdie stelsel van dinge is nie”, het broer Noumair gesê.

Ondervindinge wat ons tot ywerige diens aanspoor

Gedurende die studente se Gileadopleiding het hulle elke naweek tyd in die openbare bediening deurgebring, iets wat ook van groot belang in hulle sendingtoewysing sal wees. Wallace Liverance, ’n lid van die Gileadskool, het ’n onderhoud gevoer met 15 studente wat hulle ondervindinge vertel het. Leon Weaver van die Diensafdelingkomitee en Lon Schilling van die Bethelbedryfskomitee het daarna onderhoude gevoer met takkomiteelede van Afrika en Latyns-Amerika, wat ondervindinge uit die sendingveld vertel het en goeie raad gegee het vir die sendelinge wat gegradueer het. Hulle het gesê dat die sendelinge ongeveer 90 persent van dié gehelp het wat tydens die 1995-diensjaar in Sierra Leone gedoop is. Wat ’n goeie verslag van ywerige diens!

Ten slotte het Milton Henschel, die Genootskap se president, die gehoor van 2 734 toegespreek oor die onderwerp “Jehovah se sigbare organisasie is uniek”. Waarom is God se organisasie sonder gelyke? Dit is nie die grootte of krag daarvan nie, maar die feit dat dit deur God se regverdige verordeninge en regterlike beslissings gerig word. In die ou tyd was dit Jehovah se volk, die nasie Israel, aan wie hy sy heilige verklarings toevertrou het, en dit het daardie nasie uniek gemaak (Romeine 3:1, 2). Vandag is Jehovah se organisasie verenig terwyl dit onder die leiding van Jesus Christus werk (Matteus 28:19, 20). Dit is voorspoedig, dit groei. Is daar ’n ander organisasie op aarde waarvan die Bestuursliggaam God se Woord, die Bybel, raadpleeg voordat hulle belangrike besluite neem? Op hierdie en ander maniere is Jehovah se sigbare organisasie waarlik uniek. ’n Aangename program is afgesluit deur die diplomas te oorhandig en ’n brief van die klas te lees waarin hulle hulle waardering vir die spesiale opleiding uitspreek.

[Venster op bladsy 22]

Klasstatistiek

Aantal lande verteenwoordig: 9

Aantal lande waarheen gestuur: 12

Aantal studente: 48

Gemiddelde ouderdom: 31,7

Gemiddelde jare in waarheid: 13,8

Gemiddelde jare in voltydse bediening: 9,8

[Prent op bladsy 23]

101ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer en name word van links na regs in elke ry aangegee.

(1) Swint, H.; Zezenski, A.; Highfield, L.; Mercado, S.; Diehl, A.; Chavez, V.; Smith, J.; Selenius, S. (2) Kurtz, D.; Clark, C.; Leisborn, J.; Mortensen, W.; Bromiley, A.; Toikka, L.; Marten, A.; Smith, D. (3) Zezenski, D.; Bjerregaard, L.; Garafalo, B.; Kaldal, L.; Chavez, E.; Fröding, S.; Khan, R.; Selenius, R. (4) Swint, B.; Bjerregaard, M.; Garafalo, P.; Holmblad, L.; Keyzer, M.; Fröding, T.; Palfreyman, J.; Palfreyman, D. (5) Minguez, L.; Leisborn, M.; Mercado, M.; Kurtz, M.; Diehl, H.; Toikka, J.; Clark, S.; Khan, A. (6) Minguez, F.; Marten, B.; Highfield, L.; Holmblad, B; Bromiley, K.; Kaldal, H.; Mortensen, P.; Keyzer, R.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel