Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 12/15 bl. 3-4
  • Die Evangelie volgens geleerdes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Evangelie volgens geleerdes
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die “geleerde” beskouing oor Jesus
  • Meer as akademies
  • Die Evangelies—Die debat gaan voort
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Die ware Jesus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Hoe betroubaar is die Evangelies?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Die waarheid oor Jesus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 12/15 bl. 3-4

Die Evangelie volgens geleerdes

“WIE sê die skare is ek?” (Lukas 9:18). Jesus het hierdie vraag byna twee millenniums gelede vir sy dissipels gevra. Dit was destyds ’n omstrede vraag. Dit lyk of dit vandag selfs meer omstrede is, veral gedurende die Kerstyd, wat veronderstel is om die aandag op Jesus te vestig. Baie mense glo dat Jesus vanuit die hemel gestuur is om die mensdom los te koop. Is dit wat jy dink?

Party geleerdes staan ’n ander beskouing voor. “Die beeld van Jesus as iemand wat ander geleer het dat hy die Seun van God is wat vir die sondes van die wêreld sou sterf, is nie geskiedkundig waar nie”, beweer Marcus J. Borg, professor van godsdiens en kultuur.

Ander geleerdes beweer dat die ware Jesus verskil het van die een van wie ons in die Bybel lees. Sommige meen dat al die Evangelies vier of meer dekades ná Jesus se dood geskryf is en dat daar teen daardie tyd op Jesus se ware identiteit voortgeborduur is. Die probleem was nie die Evangelieskrywers se geheue nie, beweer die geleerdes, maar hulle interpretasie. Ná Jesus se dood het die dissipels hom anders begin beskou—as die Seun van God, Redder en Messias. Sommige beweer onbeskroomd dat Jesus bloot ’n swerwende wysgeer, ’n maatskaplike revolusionêr was. Dít, sê die geleerdes, is die waarheid oor die evangelie.

Die “geleerde” beskouing oor Jesus

Ter verdediging van hulle “geleerde” beskouing is kritici blykbaar gretig om enigiets omtrent Jesus te verwerp wat bonatuurlik lyk. Party sê byvoorbeeld dat Jesus se geboorte uit ’n maagd ’n poging was om die feit te verberg dat hy ’n buite-egtelike kind was. Ander verwerp Jesus se profesieë oor Jerusalem se vernietiging en dring daarop aan dat dit ná die “vervulling” daarvan in die Evangelies ingevoeg is. Party sê selfs dat Jesus se genesings geheel en al psigosomaties was—die gees bo die stof. Beskou jy sulke menings as die waarheid of as onsinnig?

Sekere geleerdes beweer selfs dat Jesus se dissipels die opstanding versin het om te voorkom dat hulle beweging inmekaarstort. Jesus se volgelinge was per slot van rekening magteloos sonder hom, redeneer die geleerdes, en daarom het hulle hulle Meester in die verhaal teruggeskryf. Dit was in werklikheid die Christelike godsdiens, nie Christus nie, wat opgewek is. As dit vir jou lyk of hierdie geleerdes hulle groot vryhede veroorloof, wat van die teoloog Barbara Thiering se voorstel dat Jesus nooit tereggestel is nie? Sy glo nie dat Jesus gesterf het toe hy aan die paal genael is nie, maar dat hy dit oorleef het en later twee keer getrou en drie kinders verwek het.

Al hierdie bewerings verlaag Jesus tot die enigste vlak waarop baie geleerdes hom sal aanvaar: dat hy ’n wyse man was, iemand wat op die rand van die Joodse gemeenskap gelewe het, ’n maatskaplike hervormer—enigiets behalwe die Seun van God, wat gekom het “om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie”.—Matteus 20:28.

Jy het moontlik al gedurende hierdie tyd van die jaar dele van die Evangelies gelees, soos die deel oor Jesus se geboorte in ’n krip. Of jy het dit dalk in die kerk gehoor. Het jy die Evangelieverslae as waardevol en geloofwaardig aanvaar? Neem dan kennis van hierdie skokkende situasie. Sedert 1985 het ’n groep geleerdes twee keer per jaar vir ’n so genoemde Jesus-seminaar byeengekom om die egtheid van Jesus se woorde te bepaal. Het Jesus werklik die dinge gesê wat die Bybel aan hom toeskryf? Lede van die seminaar het met gekleurde krale oor elke verklaring gestem. ’n Rooi kraal het beteken dat ’n verklaring beslis deur Jesus geuiter is; ’n pienk kraal het beteken dat Jesus dit waarskynlik gesê het; ’n grys kraal het twyfel aangedui en ’n swart kraal het vervalsing beteken.

Dit sal jou moontlik ontstel om te weet dat die Jesus-seminaar bekend gemaak het dat 82 persent van die woorde wat aan Jesus toegeskryf word waarskynlik nie deur hom gespreek is nie. Slegs een aanhaling uit Markus se Evangelie is as betroubaar beskou. Daar is gesê dat Lukas se Evangelie soveel propaganda bevat dat dit “onherstelbaar” is. Die hele Evangelie van Johannes, met uitsondering van drie reëls, het die swart-kraal-stem gekry, wat vervalsing aandui, en die bietjie wat oorgebly het, het die grys kraal van twyfel ontvang.

Meer as akademies

Stem jy saam met die geleerdes? Gee hulle ons ’n juister voorstelling van Jesus as wat in die Bybel gevind word? Hierdie vrae is meer as net van akademiese belang. Gedurende hierdie tyd van die jaar word jy dalk daaraan herinner dat Jesus, volgens die Bybel, deur God gestuur is “sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê”.—Johannes 3:16.

As Jesus bloot ’n swerwende wysgeer was oor wie ons maar min weet, sal dit sinloos wees om “geloof in hom [te] beoefen”. Aan die ander kant, as die Bybel se voorstelling van Jesus waar is, is ons ewige redding daarby betrokke. Daarom moet ons weet—bevat die Bybel die waarheid oor Jesus?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel