Soveel lyding
“WAAROM is daar al hierdie verskriklike individuele en gemeenskaplike lyding . . . ? God is veronderstel om die beliggaming van alles te wees wat betekenis het en tog is daar soveel dinge in hierdie wêreld wat geen sin het nie, soveel betekenislose lyding en sinlose sonde. Is hierdie God dalk dít waarvan Nietzsche hom beskuldig het: ’n tiran, bedrieër, swendelaar, laksman?”—On Being a Christian, deur Hans Küng.
Jy kan sien dat die Katolieke teoloog Hans Küng bloot ’n saak aanroer waaroor baie wonder—waarom laat ’n almagtige, liefdevolle God soveel lyding toe? Het jy nie al gehoor dat mense hierdie vraag vra nie? Enigiemand wat medelydend is, word gegrief deur wat Küng beskryf as “’n eindelose stroom bloed, sweet en trane, pyn, droefheid en vrees, eensaamheid en die dood”. In werklikheid is dit meer soos ’n stortvloed, ’n vloed van gruwels en angs wat die lewe van miljoene deur die geskiedenis heen verwoes het.—Job 14:1.
Vol “moeite en verdriet”
Dink aan die lyding wat oorlog meebring, die pyn wat dit nie net die direkte slagoffers aandoen nie, maar ook diegene wat agterbly en treur, soos die ouers en familielede van kinderslagoffers en ander wat wreed mishandel is. “Gedurende die afgelope 10 jaar”, het die Rooi Kruis onlangs gesê, “het 1,5 miljoen kinders in gewapende konflikte omgekom.” Die Rooi Kruis berig dat daar in 1994 in Rwanda “honderdduisende mans, vrouens en kinders op wrede en stelselmatige wyse vermoor is”.
Ons moet ook nie die pyn wat deur pedofiele veroorsaak word oor die hoof sien nie. ’n Bedroefde moeder, wat vertel het hoe haar seun selfmoord gepleeg het ná hy deur ’n kindersorgwerker gemolesteer is, het gesê: “Die man wat my seun gemolesteer het, . . . het hom en verskeie ander seuns op die mees stelselmatige, perverse manier denkbaar vernietig.” En wat van die nagmerrie van pyn wat ondervind word deur die slagoffers van gevoellose moordenaars of reeksmoordenaars, soos dié wat in Brittanje gevange geneem is nadat hulle “25 jaar lank ongestraf gebly het, terwyl hulle mense ontvoer, verkrag, gemartel en gemoor het”? Wat pyn en lyding betref, lyk dit of daar deur die geskiedenis heen geen grense was aan wat mans en vrouens aan mekaar gedoen het nie.—Prediker 4:1-3.
Voeg hierby die lyding wat deur emosionele en fisiese siektes veroorsaak word en die vreeslike smart wat gesinne oorweldig wanneer geliefdes ontydig sterf. Daar is ook die angs wat die slagoffers van hongersnood of ander sogenaamde natuurrampe ervaar. Daar is min mense wat nie met Moses se stelling sal saamstem nie dat ons 70 of 80 jaar vol “moeite en verdriet” is.—Psalm 90:10.
Deel van God se voorneme?
Is hierdie volgehoue lyding nie dalk, soos party beweer, deel van die een of ander onbegryplike voorneme van God nie? Moet ons nou ly om die lewe ‘in die hiernamaals’ te waardeer? Is dit waar, soos die Franse filosoof Teilhard de Chardin geglo het, dat die “lyding wat doodmaak en tot ontbinding laat oorgaan nodig is vir die mens om te kan lewe en gees te word”? (The Religion of Teilhard de Chardin; ons kursiveer.) Beslis nie!
Sou ’n bedagsame ontwerper opsetlik ’n dodelike omgewing skep en dan maak asof hy medelydend is wanneer hy mense van die gevolge daarvan red? Nouliks! Waarom sou ’n liefdevolle God so iets doen? Waarom laat God dan lyding toe? Sal lyding ooit tot ’n einde kom? Die volgende artikel sal hierdie vrae bespreek.
[Foto-erkenning op bladsy 3]
WHO photo by P. Almasy