Fundamentalisme wat is dit?
WAAR het fundamentalisme begin? Teen die einde van die vorige eeu het liberale teoloë hulle beskouings begin verander om aan te pas by hoër kritiek op die Bybel en wetenskaplike teorieë, soos evolusie. As gevolg hiervan is mense se vertroue in die Bybel geskok. Konserwatiewe godsdiensleiers in die Verenigde State het hierop gereageer deur wat hulle die fundamentele beginsels van geloof genoem het neer te lê.a Vroeg in die 20ste eeu het hulle ’n bespreking van hierdie fundamentele beginsels gepubliseer in ’n reeks boekdele met die titel The Fundamentals: A Testimony to the Truth. Die woord “fundamentalisme” is van hierdie titel afgelei.
Gedurende die eerste helfte van die 20ste eeu het fundamentalisme van tyd tot tyd in die nuus gekom. In 1925 het godsdiensfundamentaliste ’n onderwyser met die naam John Scopes van Tennessee, VSA, byvoorbeeld voor die hof gedaag in wat bekend geword het as die Scopes-verhoor. Sy misdaad? Hy het evolusie geleer, en dit was teen die staatswet. In daardie dae het sommige gemeen dat fundamentalisme nie lank sou bestaan nie. In 1926 het Christian Century, ’n Protestantse tydskrif, gesê dat dit “hol en kunsmatig” is en “glad nie die eienskappe het wat nodig is om iets positiefs te bereik of om voort te bestaan nie”. Hoe verkeerd was daardie beskouing tog!
Sedert die sewentigerjare is fundamentalisme gedurigdeur in die nuus. Professor Miroslav Volf, van die Fuller- teologiese kweekskool, Kalifornië, VSA, sê: “Fundamentalisme het nie net bly voortbestaan nie, maar ook gefloreer.” Vandag verwys die woord “fundamentalisme” nie net na Protestantse bewegings nie, maar ook na bewegings in ander godsdienste, soos Katolisisme, Islam, Judaïsme en Hindoeïsme.
’n Reaksie op ons tye
Waarom versprei fundamentalisme? Volgens diegene wat dit bestudeer, is dit ten minste ten dele toe te skryf aan die sedelike en godsdienstige onsekerheid van ons tye. Vroeër jare het die meeste gemeenskappe in ’n atmosfeer van sedelike sekerheid gelewe wat op tradisionele opvattings gegrond was. Nou word daardie opvattings betwis of verwerp. Baie intellektuele beweer dat daar nie ’n God is nie en dat die mens alleen is in ’n onverskillige heelal. Baie wetenskaplikes leer dat die mensdom die gevolg is van toevallige evolusie, nie die handewerk van ’n liefdevolle Skepper nie. ’n Permissiewe geestesgesteldheid is aan die orde van die dag. Die wêreld word geteister deur ’n gebrek aan sedelike waardes op alle vlakke van die samelewing.—2 Timoteus 3:4, 5, 13.
Fundamentaliste hunker na die ou sekerhede, en party van hulle probeer hulle gemeenskappe en nasies terugbring na wat hulle meen gepaste sedelike en leerstellige grondslae is. Hulle doen alles in hulle vermoë om ander te dwing om volgens ’n “korrekte” sedelike kode en stelsel van leerstellige opvattings te lewe. ’n Fundamentalis is sterk daarvan oortuig dat hy reg en ander verkeerd is. Professor James Barr sê in sy boek Fundamentalism dat fundamentalisme “dikwels as ’n vyandige en beledigende woord beskou word wat engheid, bekrompenheid, verkramptheid en kleingeestigheid te kenne gee”.
Aangesien niemand daarvan hou om eng, bekrompe of kleingeestig genoem te word nie, stem nie almal saam oor wie fundamentaliste is en wie nie is nie. Daar is egter sekere eienskappe wat kenmerkend is van godsdiensfundamentalisme.
Hoe om ’n fundamentalis te identifiseer
Godsdiensfundamentalisme is gewoonlik ’n poging om dít te bewaar wat beskou word as die oorspronklike tradisies of godsdiensopvattings van ’n kultuur en om die dinge teë te staan wat beskou word as die sekulêre gees van die wêreld. Dit beteken nie dat fundamentaliste gekant is teen alles wat modern is nie. Sommige gebruik moderne kommunikasiemiddele baie doeltreffend om hulle beskouings te bevorder. Maar hulle stry teen die sekularisasie van die samelewing.b
Sommige fundamentaliste is vasbeslote om nie net ’n tradisionele struktuur van leerstellings of ’n tradisionele lewenswyse vir hulleself te bewaar nie, maar om dit aan ander op te dwing, om maatskaplike strukture te verander sodat dit met die fundamentaliste se opvattings ooreenstem. Dit sal dus nie vir die Katolieke fundamentalis genoeg wees om aborsie te verwerp nie. Hy sal waarskynlik druk op die wetgewers van sy land uitoefen om wette deur te voer wat aborsie onwettig maak. Volgens die koerant La Repubblica het die Katolieke Kerk in Pole “’n ‘oorlog’ [gevoer] waarin dit al sy mag en invloed gebruik het” sodat ’n anti-aborsie-wet goedgekeur sou word. Deur dit te doen, het die kerkowerheid baie soos fundamentaliste opgetree. Die Protestantse Christenkoalisie in die Verenigde State voer soortgelyke “oorloë”.
Fundamentaliste word bowenal gekenmerk deur hulle diepgewortelde godsdiensopvattings. ’n Protestantse fundamentalis sal dus ’n oortuigde voorstander van die letterlike interpretasie van die Bybel wees, wat waarskynlik die beskouing insluit dat die aarde in ses letterlike dae geskep is. By ’n Katolieke fundamentalis bestaan daar geen twyfel oor die onfeilbaarheid van die pous nie.
Dit is dus verstaanbaar waarom die woord “fundamentalisme” ’n beeld van onredelike fanatisme wek en waarom diegene wat nie fundamentaliste is nie, verontrus is wanneer hulle sien dat fundamentalisme versprei. As individue verskil ons moontlik met fundamentaliste en raak ons dalk ontsteld oor hulle politieke bedrywighede en dade wat soms gewelddadig is. Trouens, fundamentaliste van een godsdiens is moontlik geskok deur wat fundamentaliste van ’n ander godsdiens doen! Tog is baie denkende mense bekommerd oor die dinge wat tot die verspreiding van fundamentalisme aanleiding gee—die toenemende sedelike laksheid, die gebrek aan geloof en die verwerping van geestelikheid in die hedendaagse samelewing.
Is fundamentalisme die enigste reaksie op hierdie neigings? Indien nie, wat is die alternatief?
[Voetnote]
a Die so genoemde Vyf Punte van Fundamentalisme, wat omskryf is in 1895, is “(1) die algehele inspirasie en onfeilbaarheid van die Skrif; (2) die goddelikheid van Jesus Christus; (3) die maagdelike geboorte van Christus; (4) die plaasvervangende versoening van Christus aan die kruis; (5) die liggaamlike opstanding en die persoonlike en fisiese wederkoms van Christus op aarde”.—Studi di teologia (Teologiese studies).
b “Sekularisasie” verwys na die beklemtoning van sekulêre dinge, in teenstelling met die geestelike of heilige. Sekulêre dinge is dít wat niks met godsdiens of godsdiensopvattings te doen het nie.
[Lokteks op bladsy 5]
In 1926 het ’n Protestantse tydskrif fundamentalisme as “hol en kunsmatig” beskryf en gesê dat dit “glad nie die eienskappe het wat nodig is om iets positiefs te bereik of om voort te bestaan nie”