Die verspreiding van fundamentalisme
FUNDAMENTALISME—net ’n paar dekades gelede was dit niks meer as ’n minderheidsbeweging in die Protestantisme nie. Hoe het die situasie tog nie verander nie! Bruce B. Lawrence, ’n godsdienskommentator, het geskryf dat min mense 30 jaar gelede verwag het dat fundamentalismea teen die einde van die 20ste eeu so ’n belangrike en selfs obsessiewe tema vir die massamedia en universiteitsnavorsing sou word.
Tog is dit wat gebeur het. Koerantberigte oor gewelddadige straatbetogings, moorde, anti-aborsie-bewegings, politieke optrede deur godsdiensdrukgroepe en die openbare verbranding van boeke wat as godslasterlik beskou word, is voortdurende herinneringe aan die bedrywighede van fundamentaliste. Die Italiaanse finansiële weekblad Mondo Economico het gesê dat fundamentalisme omtrent oral “in die naam van God aanvalle rig”.
Fundamentaliste word dikwels as ekstremisties en fanaties uitgebeeld, as mense wat sameswerings smee en terroristeaanvalle loods. Mense is verontrus deur die groei van groepe soos Comunione e Liberazione in Rooms-Katolisisme, Goesj Emoenim in Judaïsme en die Christenkoalisie in Noord-Amerikaanse Protestantisme. Waarom versprei fundamentalisme? Wat is die krag wat dit aandryf? Is dit miskien “die wraak van God”, soos die Franse sosioloog Gilles Kepel aan die hand doen?
[Voetnoot]
a ’n Fundamentalis is iemand wat streng hou by tradisionele, konserwatiewe godsdienswaardes. Die betekenis van “fundamentalisme” sal in die volgende artikel breedvoeriger bespreek word.
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Nina Berman/Sipa Press