Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 4/1 bl. 27-29
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Soortgelyke materiaal
  • Onthou jy?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Die prys van oneerlikheid
    Ontwaak!—1990
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1996
  • Seksuele teistering—’n wêreldwye probleem
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 4/1 bl. 27-29

Vrae van lesers

Wat moet ’n Christen doen wanneer hy gevra word om juriediens te doen?

In party lande gebruik die regstelsel juries wat uit lede van die publiek gekies is. Waar dit die geval is, moet ’n Christen besluit wat hy gaan doen wanneer hy gevra word om hom vir juriediens aan te meld. Baie Christene het met ’n skoon gewete die gevolgtrekking gemaak dat dit nie in stryd met Bybelbeginsels is nie, net soos Sadrag, Mesag en Abednego gehoor gegee het aan die versoek van die Babiloniese regering om in die dal Dura te verskyn en soos Josef en Maria na Betlehem gegaan het op bevel van die Romeinse owerheid (Daniël 3:1-12; Lukas 2:1-4). Daar is egter faktore wat opregte Christene in ag kan neem.

Juries word nie in alle wêrelddele gebruik nie. In party lande beslis ’n professionele regter of ’n paneel van regters privaatregtelike en strafsake. Elders geld wat bekend staan as gemene reg, en juries is deel van die regsproses. Die meeste mense het egter net ’n vae begrip van hoe juries gekies word en wat hulle doen. Dit sal dus nuttig wees om ’n oorsig hiervan te kry, ongeag of jy opgeroep word vir juriediens of nie.

God se volk erken Jehovah as die Opperregter (Jesaja 33:22). In eertydse Israel het ervare manne wat eerlik en onpartydig was as regters gedien om geskille op te los en regskwessies te beslis (Exodus 18:13-22; Levitikus 19:15; Deuteronomium 21:18-21). Teen die tyd wat Jesus op die aarde was, het die Sanhedrin, die Joodse hoër hof, die regterlike funksie vervul (Markus 15:1; Handelinge 5:27-34). Daar was geen voorsiening vir die gewone Jood om in ’n siviele jurie te dien nie.

Ander lande het juries gebruik wat uit burgers bestaan het. Sokrates is deur 501 jurielede verhoor. Jurieverhore het ook in die Romeinse Republiek bestaan, maar onder die keisers is dit afgeskaf. Later het koning Hendrik III van Engeland bepaal dat die beskuldigde deur sy bure verhoor moet word. Aangesien hulle die beskuldigde geken het, is daar gemeen dat hulle oordeel regverdiger sou wees as prosedures waarin hy sy onskuld moes probeer bewys deur ’n tweegeveg of ’n ander toets te oorleef. Mettertyd het die juriestelsel in ’n reëling verander waarvolgens ’n groep burgers ’n saak sou aanhoor en op grond van die getuienis oor die uitspraak sou besluit. ’n Professionele regter het hulle van raad bedien wat die getuienis betref.

Daar is verskille wat die soort juries betref asook die aantal jurielede en wat daarby betrokke is om oor ’n uitspraak te besluit. In die Verenigde State besluit ’n groot jurie van 12 tot 23 lede byvoorbeeld of daar genoeg getuienis is om iemand van ’n misdaad aan te kla; dit bepaal nie skuld of onskuld nie. Die jurie wat tydens ’n geregtelike doodsondersoek teenwoordig is, oorweeg insgelyks die getuienis om te bepaal of ’n misdaad gepleeg is.

Wanneer die meeste mense aan ’n jurie dink, dink hulle aan ’n paneel van 12 burgers by ’n verhoor—hetsy ’n privaatregtelike geskil of ’n strafsaak—wat getuienis aanhoor om skuld of onskuld te bepaal. Dit is ’n verhoorjurie en verskil dus van die groot jurie. Gewoonlik stuur die hof kennisgewings aan individue wat gekies is van lyste van kiesers, houers van rybewyse, ensovoorts om vir juriediens te verskyn. Party word dalk outomaties onbevoeg verklaar, soos veroordeelde misdadigers en diegene wat verstandelik onbevoeg is. Na gelang van die plaaslike wet, kan ander—soos dokters, geestelikes, regsgeleerdes of eienaars van klein sakeondernemings—vra om vrygestel te word. (Ander kan vrygestel word omdat hulle sterk gewetensbesware teen juriediens het.) Maar vrystellings word al hoe meer deur owerhede uitgeskakel sodat almal verplig is om hulle vir juriediens aan te meld, miskien herhaaldelik oor die jare.

Nie almal wat vir juriediens aanmeld, dien noodwendig as jurielede in ’n verhoor nie. Uit ’n groot groep mense wat vir juriediens opgeroep word, word party lukraak as moontlike jurielede vir ’n bepaalde saak gekies. Dan identifiseer die regter die partye en hulle prokureurs en beskryf hy die aard van die saak. Hy en die prokureurs ondervra elke potensiële jurielid. Nou is die tyd om jou saak te stel as jy ’n gewetensbeswaar daarteen het om in die jurie te dien weens die aard van daardie saak.

Die groep moet verklein word tot die getal wat werklik gedurende die verhoor van daardie saak gaan dien. Die regter sal enigiemand afwys wie se onpartydigheid bevraagteken kan word weens moontlike belang by die saak. Die prokureurs van elke party het ook die reg om ’n paar jurielede af te wys. Enigiemand wat ontslaan word van daardie juriepaneel is weer beskikbaar om vir ander sake gekies te word. Sommige Christene wat in hierdie situasie was, het die tyd gebruik om informele getuieniswerk te doen. Ná ’n aantal dae is ’n persoon se juriediens voltooi, ongeag of hy as ’n jurielid gedien het of nie.

Christene streef daarna ‘om hulle met hulle eie sake te bemoei’, en raak nie by “ander mense se sake” betrokke nie (1 Tessalonisense 4:11; 1 Petrus 4:15). Toe ’n Jood vir Jesus gevra het om ’n saak oor ’n erfenis te beslis, het hy geantwoord: “Mens, wie het my as regter of deler oor julle aangestel?” (Lukas 12:13, 14). Jesus het gekom om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig, nie om regsake te beslis nie (Lukas 4:18, 43). Jesus se antwoord het die man dalk beweeg om die metode te gebruik wat in God se Wet uiteengesit is om geskille op te los (Deuteronomium 1:16, 17). Hierdie punte is wel geldig, maar om op ’n versoek te reageer om jou vir juriediens aan te meld, is anders as om jou met ander mense se sake te bemoei. Dit is meer soos die situasie van Daniël se drie metgeselle. Die Babiloniese regering het hulle beveel om na die dal Dura te gaan, en deur dit te doen, het hulle nie God se Wet verbreek nie. Wat hulle daarna gedoen het, was ’n ander saak, soos die Bybel toon.—Daniël 3:16-18.

Nadat God se knegte nie meer onder die Mosaiese Wet was nie, moes hulle voor sekulêre howe in verskillende lande verskyn. Die apostel Paulus het “heiliges” in Korinte aangespoor om binne die gemeente hulle geskille op te los. Hoewel Paulus na die regbank van sekulêre howe as “onregverdiges” verwys het, het hy nie ontken dat hulle ’n plek in die hantering van sekulêre sake het nie (1 Korintiërs 6:1). Hy het hom binne die konteks van die Romeinse regstelsel verdedig, en het selfs sy saak na Caesar geappelleer. Dit is nie asof sekulêre howe fundamenteel verkeerd is nie.—Handelinge 24:10; 25:10, 11.

Sekulêre howe is ’n funksie van “die hoër owerhede”. Hulle “is deur God in hulle relatiewe posisies geplaas”, en hulle maak wette en pas dit toe. Paulus het geskryf: “Hy is God se dienaar vir jou, tot jou beswil. Maar as jy doen wat sleg is, vrees dan: want dit is nie verniet dat hy die swaard dra nie; want hy is God se dienaar, ’n wreker om gramskap te bring oor die een wat beoefen wat sleg is.” Christene ‘staan nie die owerheid teë’ terwyl dit sulke geregtelike funksies vervul nie, want hulle wil nie ‘stelling daarteen inneem’ en ’n oordeel ontvang nie.—Romeine 13:1-4; Titus 3:1.

Wanneer Christene faktore teen mekaar opweeg, moet hulle oorweeg of hulle kan toegee aan sekere eise wat deur Caesar gestel word. Paulus het gemaan: “Gee aan almal [die hoër owerhede] wat hulle toekom: aan hom wat die belasting verlang, die belasting; aan hom wat die skatting verlang, die skatting; aan hom wat vrees verlang, sulke vrees” (Romeine 13:7). Dit is reguit raad wat geldelike belasting betref (Matteus 22:17-21). As Caesar sê dat burgers van hulle tyd en krag moet gee om paaie skoon te maak of ander werk te doen wat deel van Caesar se funksies is, moet elke Christen besluit of hy dit sal doen.—Matteus 5:41.

Sommige Christene het juriediens beskou as die betaling aan Caesar wat aan Caesar behoort (Lukas 20:25). Met juriediens is die taak om getuienis aan te hoor en ’n eerlike mening oor feite of regspunte te gee. In ’n groot jurie beslis die jurielede byvoorbeeld of die getuienis regverdig dat iemand voor die hof gebring word; hulle bepaal nie skuld nie. Wat van ’n gewone verhoor? In ’n privaatregtelike saak kan die jurie skadevergoeding of skadeloosstelling toeken. In ’n strafsaak moet hulle vasstel of die getuienis ’n skuldigbevinding steun. Soms stel hulle voor watter straf, soos deur die wet voorgeskryf, opgelê moet word. Dan gebruik die regering sy gesag “om gramskap te bring oor die een wat beoefen wat sleg is” of “om boosdoeners te straf”.—1 Petrus 2:14.

Gestel ’n Christen meen dat sy gewete hom nie toelaat om op ’n sekere jurie te dien nie. Aangesien die Bybel nie juriediens noem nie, kan hy nie sê: ‘Dit is teen my godsdiens om in enige jurie te dien’ nie. Na gelang van die saak kan hy sê dat dit teen sy gewete is om in die jurie vir ’n sekere saak te dien. Dit kan die geval wees as ’n saak geslagsonsedelikheid, aborsie, manslag of ’n ander geskil behels waaroor sy denke deur Bybelkennis gevorm is, en nie deur blote sekulêre wette nie. In werklikheid is dit egter heel moontlik dat sulke geskille nie betrokke is by die verhoor waarvoor hy gekies word nie.

’n Ryp Christen sal ook daaroor nadink of hy deel van die verantwoordelikheid sal dra vir die vonnis wat deur die regters opgelê word. (Vergelyk Genesis 39:17-20; 1 Timoteus 5:22.) Sal ’n Christen in die jurie bloedskuldig wees as ’n skuldigbevinding foutief is en die doodstraf opgelê word? (Exodus 22:2; Deuteronomium 21:8; 22:8; Jeremia 2:34; Matteus 23:35; Handelinge 18:6). By Jesus se verhoor wou Pilatus “onskuldig aan die bloed van hierdie man” wees. Die Jode het geredelik gesê: “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom.”—Matteus 27:24, 25.

Indien ’n Christen sou aanmeld vir juriediens, soos deur die regering versoek, maar as gevolg van sy gewete weier om op ’n sekere saak te dien ten spyte van die feit dat die regter daarop aandring, moet die Christen bereid wees om die gevolge te aanvaar—hetsy dit ’n boete of gevangenisstraf is.—1 Petrus 2:19.

Uiteindelik moet elke Christen wat voor juriediens te staan kom op grond van sy begrip van die Bybel en sy eie gewete besluit watter weg om te volg. Party Christene het vir juriediens aangemeld en in sekere juries gedien. Ander het gevoel dat hulle dit moet weier selfs al sou hulle gestraf word. Elke Christen moet self besluit wat hy gaan doen, en ander moenie sy besluit kritiseer nie.—Galasiërs 6:5.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel